
Sidney Gilroy skryf op Facebook:
Johann het groot bewondering gehad vir die werk van CM van den Heever. Ek ook. Daar is iets omtrent die grein van die plaasroman wat geneties in die Afrikaanssprekende ingekodeer is.
Johann het natuurlik daai essensie geneem en dit sy eie gemaak deur sy werk, dit oopgeskryf – die versluierde taboes wat intrinsiek deel is van die feodale ruimte (die hiërargies gestruktureerde, die patronaatopset), uitgedaag en op skrif gesit vir ons almal om te kan lees. En hy het dit so bliksems goed gedoen. Ek het sy werk as jongman verslind. Veral die kortverhale.
Johann het vir my as nuwe skrywer gewys dat dit oukei is om oor die “ander” te skryf. Dié onderwerpe en karakters wat die res liefs vermy het omdat “dit nie sal verkoop nie” en “mense nog nie gereed is daarvoor nie”. Ek skram nie weg van sulke karakters nie, want daar was Johann se boeke wat my voorafgegaan het en die aweregse, die uitgeworpene, die uiteindelike wreedmooi, die werklike, die rou en die diep menslike aanvaarbaar gemaak het.
Dankie, Johann. Soos jou broer tereg noem: Gaan neem nou daai plek op in die konstellasie van die grotes. RIV.

