ATKV-Woordveertjies vir poësie, drama en taalgidse

  • 0

In ’n tyd waar sosiale interaksie aan bande gelê is deur die Covid-19-pandemie, het boeke die ideale geselskap geword.

Ongeag ’n uitdagende jaar het die uitgewersbedryf daarin geslaag om puik boeke die lig te laat sien.

“Dit is vir die ATKV ’n voorreg om uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Die voorafgaande kalenderjaar is een wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word en ons glo dat die wenners van die ATKV-Woordveertjies bygedra het om ’n moeilike tyd meer draaglik te maak,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.

“Die Amerikaanse skrywer Jhumpa Lahiri sê ‘Boeke laat jou reis sonder dat jy voete hoef te beweeg’, en hoe waar was dit nie, veral in 2020.

“Die ATKV is dankbaar vir elke skrywer wat vir Afrikaanse lesers die geleentheid te gee om hul horisonne te verbreed al was dit net met reise op die rusbank. Baie geluk aan elke wenner.”

Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen het die Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Die meeste sterre is lankal dood – Johann de Lange (Human & Rousseau).

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor dié wenbundel:

Sover dit sy vers-tegniese vaardighede as digter aanbetref, is talle kritici dit eens dat Johann de Lange nie sy gelyke in Afrikaans het nie. 

In Die meeste sterre is lankal dood word ’n ouer wordende, eenkanterige fynkyker se blik op dinge en gebeure vertolk. ’n Omvattende, noodwendig samehangende visie op die (onoorsienbare) werklikheid word nie voorgegee nie; slegs “inskaduwings van die lig” (titel van die openingsafdeling) binne vervlietende of reeds vervloë besonderhede daaruit kan aan die leser voorgehou word.

’n Uitgebreide taalregister en omvangryke verwysingsveld word betrek in die strewe om die vervlieting tot beskouing te stuit, om trefsekerheid en sprankeling te behaal met teks en konteks, met woordbetekenis en -klank, met beelding en versvormgewing.

Verrukking en melankolie gaan hand aan hand in hierdie uitstaande digprestasie deur De Lange. Die bundel getuig nogmaals van De Lange se sonderlinge vernuf om komplekse onderwerpe laag vir laag te stroop en opnuut helder te laat weerklink.

Marina Griebenow, Theo Kemp en Ilse Oppelt was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Droomwerk – Pieter Odendaal.

Foto's: Menán van Heerden

Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor hierdie drama:

Droomwerk is die tipe teks wat oënskynlik soomloos vloei tussen wydsbeen wêrelde: die intens-persoonlike en die universele, vlae verledes en die hede; waansin en waarheid, droom en werklikheid; Afro- en Eurosentrisme. Die drama sluit aan by ’n brandende hedendaags Suid-Afrikaanse diskoers waaroor ons nog nie naastenby uitgepraat is nie, naamlik ons begrip van ons kollektiewe (en individuele) verlede en aandadigheid om ons hier-en-nou te verstaan.

Komplekse en omstrede kwessies soos magsvergrype, bevoorregting, diskriminasie op grond van ras, geslag en seksualiteit word op ’n manier aangebied wat jou gewete prik en jou noop om hand in eie boesem te steek. Tog is Droomwerk geensins pedanties of voorskriftelik en vervelig nie.

Odendaal se gebruik van taal fassineer deurgaans. Die Afrikaans wat hy in die monde van sy karakters plaas dek ’n wye spektrum van die taal, maar wys terselfdertyd dat Afrikaans nie gepraat kan word sonder die invloed van al sy gemeenskappe en ander tale nie.

Droomwerk se klimaks is groot en teatraal en laat ’n mens selfs by die lees van die teks met ’n beklemdheid wat jou nog dae lank agtervolg en onrustig laat. Dis ’n gesofistikeerde drama wat smeek om opgevoer te word.

Die rol van woordboeke en taalgidse kan nie onderskat word nie en daarom bekroon die ATKV elke jaar een van die boeke.

Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse het bestaan uit: Willem Botha, Rufus Gouws en Marné Pienaar.

Vanjaar gaan die Woordwystoekenning aan: Eleanor Cornelius vir Gewone Taal: ’n Oorsig (2020). Uitgegee deur: SUN PReSS.

Afrikaans beskik oor verskeie bronne wat leiding oor praktiese taalgebruik bied. Prof. Eleanor Cornelius se boek vul egter ’n spesifieke leemte in die mark en illustreer hoe ingewikkelde tekste in gewone taal omskryf kan word sodat dit verstaanbaar is vir die gewone leser.

’n Wye verskeidenheid lees- en skryfprobleme word bespreek. Moeilik verstaanbare bewoording wat byvoorbeeld deur banke gebruik word, dien as voorbeelde met duidelike aanduidings hoe hierdie bewoording vereenvoudig kan word om dit maklik leesbaar en verstaanbaar te maak. Met hierdie nuwe fokus, uitstekende inhoud en die verklaring van die begrip, gewone taal, is ’n broodnodige, praktiese handleiding geskep wat die versameling taalhandleidings vir Afrikaans vernuwend verryk.

Lees ook:

Fanie Olivier resenseer Die meeste sterre is lankal dood deur Johann de Lange

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top