LitNet Akademies-resensie-essay: 'n Hunkering se grein deur Johann de Lange

  • 1

Foto van Johann de Lange: johanndelange.blogspot.com

'n Hunkering se grein
Johann de Lange
Humann & Rousseau
ISBN: 9780798172998

1. 'n Bundel van paradigmas

As 'n mens Johann de Lange se digkuns wil tipeer, is dit onmoontlik om weg te kom van die konstante ontwikkeling van paradigmas. In sosiale sin is paradigmas groepe wat bymekaar hoort, of bepaalde gewoontes wat 'n sekere groep mense tipeer. In 'n enger sin kan 'n mens praat van persoonlike paradigmas wat 'n individu se optrede of taalgebruik aandui.

In die fisiese wetenskappe is daar talle paradigmas wat wetenskaplike insigte en feite onderskeibaar maak van kenmerke wat weer 'n ander stel waarnemings ondersteun. In die taalkundige sin is ‘n paradigma enersyds 'n grammatiese konsep, andersyds patrone binne die taal. Die taalkundige siening van die paradigma is na alle waarskynlikheid die oorspronklike beskouing van hierdie verskynsel. In ouer grammatikas soos Latyn en Grieks bepaal stelle verbuigings, soos die verbuigings van selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde, of die vervoegings van werkwoorde, die aard van die paradigma. Ook kleiner groeperings word as paradigmas beskou: enkelvoud teenoor meervoud; stelle antonieme of sinonieme; of tydsbegrippe soos die presens, imperfektum en voorverlede tyd. In literêre sin, dus ook taalkundige sin, kan woorde paradigmas vorm wat 'n belangrike rol in die interpretasie van die teks (kan) speel.

Naas die rol van paradigmas is die sentrale kenmerk van De Lange se werk die digter se intense aanvoeling vir ‘n woord en die woord se betekenis. Dit klink asof dit 'n veralgemenende stelling is, want is alle digters nie met die woord en die sin besig nie? Dit is waar, maar by De Lange is dit feitlik 'n "beheptheid" met, 'n verknogtheid aan, die woord.

DJ Opperman (bron: wikipedia)

In DJ Opperman se grootse gedig, "Kroniek van Kristien", is die sentrale paradigma die papajabos en vorm die papaja 'n verband met klippe, in al hulle vorme, met die turksvy, die geel son, die brood en die liggaam as 'n kuil vol sproete en word dit 'n voltooide sirkel van die mens wat getransformeer word tot gees. Die slot van die gedig loop tot 'n zeropunt:

 "O allersoetste
liggaam," en sy begin haar lede soen,
"my bediendes wat gehoorsaam alles doen
net wat ek vra, berei jul vir die bruidegom
nou voor wat uiteindelik na Sy bruid toe kom:
papajas, klippe ... Was en soek skoon linne,
Hy tree alreeds die ledemate binne."
Sy sukkel na die orrel, blaastrappe knars
en dreun oor alles uit: die groot troumars. (Blom en baaierd)

2. Woord

Jou woord jou woord jou dessit woord
wie werk met jou sosit bewoort
ek gooi hom hier ek gooi hom daar
ek gooi my woorde deurmekaar
olsaitsymsait onnerstebo ... (Boerneef: Palissandryne)

Boerneef (bron: wikipedia)

Die taaljuffrou en die samestellers van die Afrikaanse woordelys en spelreëls sal hieroor nie sonder meer gelukkig wees nie, maat dit is wat die ware digter doen, sonder apologie. Soos ek eendag, as jong dosent op Stellenbosch, bystaan toe die taalkenner Willem Kempen vir die digter DJ Opperman sê: “Dirk, jy spel daardie woord verkeerd; neem jy nie kennis van die Woordelys en spelreëls nie?” En DJO hom antwoord: "Ek as digter skep die taal, julle as taalkundiges kan net opteken wat ek doen." In speelse gees gesê, maar met 'n groot element van waarheid. Jare gelede het die Nederlandse taalkundige Anton Reichling geskryf dat die taal sy eie intrinsieke wette het, nie net grammaties aktief nie, maar 'n dissipline wat die taal skep om sy wesenlike aard te beskerm (Het Woord). Slegs as die digter die taal te veel buig, sodat sy skeppings heeltemal onverstaanbaar word, oortree die digter hierdie inherente norme.

Die volgende vers van Johann de Lange vat hierdie saak binne sy digkuns keurig saam:

"Taal is 'n boom"

my taal is 'n ou boom
herfskleure diep & ryk
winters val die blare

bruin leestekens bevry
tot net die gebeente
van segging weerbaar staan. (57)

Die een metafoor loop oor in die volgende (ou boom = herfskleure = winters); dan beweeg die teks van die boom-metafoor na die taal-metafoor (bruin blare = bruin leestekens); dan gaan die taal oor na die mens (gebeente); en daarna gaan mens oor na gedig (segging) en behou die taal sy intrinsieke dissipline (segging = weerbaar). 'n Puik en kompakte illustrasie van De Lange se digkuns. Die natuur, en die natuurlike, in talle vorme, is aan die grond daarvan, maar dit beweeg daarvandaan na die mens en die menslike kondisie. Die bindende faktor wat sowel die middelpunt as die struktuur vorm, is die taal. Dit is terselfdertyd die sentrale paradigma of paradigmatiese bou van die gedig.

Dit spreek vanself dat die digter dikwels 'n spel met die taal en sy betekenis speel, soos byvoorbeeld hier:

"'n Uiltjie knip"

Ek gaan 'n uiltjie knip:
flink die penvere van droom dip
in ink, of die stertvere van die slaap
sprei, & só 'n uiltjie kaap.

'n Definisie van die uitdrukking in speelse trant, met die assosiasies van "uiltjie" as die stof vir die gedig: uiltjie > penvere > stertvere > uiltjie. Die woord "knip" dui op die beperking wat op die woord "uiltjie" gelê word, en dus word knip = kaap. Dit is oënskynlik net woordspel, maar "uiltjie" word metafoor vir "slaap", en dan kom die nuwe vorm "kaap" tot sy reg – met slaap kaap 'n mens die tyd. Die digter gee nuwe vryheid aan hierdie uitdrukking in Afrikaans. Die teks is 'n kwatryn met twee rymende koeplette. “Droom” dui op die vlug van die verbeelding; die penveer wat in ink gedip word, dui op skryf. Elke woord in hierdie kompakte kwatryn dra sy betekenis, en die geheel verryk die idioom van die taal.

Die bundel bevat heelwat kwatryne en bevestig De Lange as die voorste kwatryndigter in Afrikaans – hy is in baie opsigte 'n goeie opvolger van DJ Opperman, die meester van die Afrikaanse kwatryn.

NP Van Wyk Louw (bron: wikipedia)

De Lange gebruik 'n verskeidenheid digvorme in hierdie bundel: naas kwatryne ook onder meer etse, limerieke, spotgedigte en parodieë. Belangrik is egter om in hierdie bundel nie na besondere kenmerke van digsoorte te soek nie. Die teks is te spontaan, te ontdaan van enige pretensie of selfs die skyn van pretensie, te direk eerlik. Die digter word, in goeie sin, verlei deur die skep van paradigmas. Dit gee aan die bundel 'n besonder spontane aard, maar die dubbelkantigheid van die woord bly nie agter nie. Johann de Lange is 'n deurwinterde digter, maar in 'n Hunkering se grein kom 'n gemaklikheid met die woord na vore wat dui op 'n volwassenheid in die digter se verhouding met die taal soos geen van sy vorige werk nie. Om NP Van Wyk Louw na te praat: dit is asof die digter "in vreugde en spel die woord uit sy hand laat val". Die woorde volg mekaar op in reëlmatige verhouding, in diskante ritme of in betekenisspronge. 

"Boksgeveg"

In die kryt word twee vriende
volgens die reëls opponente.

Agterna sal elkeen alleen,
gehurk by sy sluitkas,

die geveg flits vir flits
nogmaals in sy gedagtes

laat afspeel, & besef: ánders
as 'n gebreekte neus,

of gekloofde oogbank,
is die steelhoue wat dieper kneus. (93)

Die gedig is in die vorm van vyf koeplette, en slegs die slotwoord van die vierde koeplet rym met die slotwoord van die vyfde koeplet: "neus" dui op die breekbare liggaam, "kneus" op die brose gees. Die geveg dui op 'n geordende sportsoort wat binne sy reëls beoefen word; nie alleen binne die sport se reëls nie, maar ook binne die beperkings van die toue van die kryt. Buite die kryt is die twee boksers oënskynlik vriende, maar in die kryt is hulle opponente. In die volgende drie koeplette word die leser ingelig oor die boksers se nadenke oor die geveg binne die intieme ruimte van die kleedkamer. In die laaste koeplet beweeg die gedig van die liggaamlike na die gees. Die steelhoue sluit nog volkome aan by die geheel van die boksgeveg, al is hierdie houe nie wat verwag word nie. Die titel is bloot 'n beginpunt om die gedig in 'n bepaalde rigting te stuur. Tot voor die laaste reël is daar geen rede om te dink dat die teks oor meer as die boksgeveg gaan nie – die aandag is tog bewustelik soontoe gelei deur die titel. Die woorde "dieper kneus" open tog metaforiese moontlikhede, en dit vra om 'n hersiene lees van die teks. Vriende en opponente vorm 'n ongelyke speelveld. Selfs ná die geveg, wanneer die reëls nie meer geld nie, is daar geen toenadering of sprake van dialoog nie; elkeen is in sy alleenheid gesluit. Die boksgeveg is nie 'n gebeurtenis as 't ware langs die pad nie, maar dit is 'n eindpunt. Dit word die kulminering van twee vriende wat 'n ervaring van 'n gebreekte neus en gekloofde oogbank agter die rug het. Met die stilte van die twee "vriende" word hulle "opponentskap" beklemtoon. Die steelhoue kneus nie die liggaam nie, maar die emosie, die "vriendskap". Dan val die gedig in patroon, en dui dit op die verlies wat 'n verlore houding bring. Eensaamheid neem oor van kameraderie, en dit word 'n gedig oor liefdesverlies, oor menslike broosheid. Die slotreël staan in direkte kontras tot die ruheid van 'n boksgeveg, en in hierdie kontras kry die gedig betekenis – 'n hele emosionele register word geopen. 'n Verhouding word 'n boksgeveg van flits op flits, woord op woord, tot op die punt van verraad. Op hierdie manier benut die digter telkens in hierdie merkwaardige bundel die dubbelkantigheid van die woord, en van die paradigma.

In die bundel word daar wel gewerk met die woord soos dit "bewoort". In 'n kwatryn getitel "Die behoud van eensaamheid" is daar 'n interessante wending:

Die tyd is 'n geil verwoester,
'n chimera wat alles verniel.
Ek sal my ontroosbaarheid koester
of in 'n vers bly soek na asiel.

Die denklyn is herkenbaar as die rus en veiligheid wat die woord en die gedig kan bied teen die geweld van die tyd wat alles verniel. Dit kan dui op die weerloosheid wat die ouderdom bring, of op die konstante onsekerheid wat ons lewe noem. Die gebruik van die woord "chimera" dui op 'n dubbelspel. Die woord is goed gevestig in poëtiese taal as die onwerklikheid van die droom- en gevoelswêreld, die valse troos wat dit meebring en 'n hersenskim wat buite die werklikheid vertoef. 'n Minder gebruiklike betekenis is egter dié van 'n vuurspuwende monster met die voorlyf van 'n leeu, die middellyf van 'n bok en die agterlyf van 'n slang. Dit skep gesamentlik 'n beeld van die tyd as meedoënlose monster, 'n valse wêreld en trouelose verraad. Binne die groter geheel van die bundel pas albei interpretasies: dié van oudword en verniel van die liggaam, en dié van verraad en die "steelhoue" in.

Die gevoelswêreld van die woord word goed verken sonder 'n sweem van sentimentaliteit. In 'n gedig wat binne die bundelraamwerk na Hennie Aucamp se dood verwys, kry die leser 'n voorbeeld van hoe pynlike gevoel binne hierdie gevoelswêreld van die woord verken word:

"Oortog"

Jy't gehoop om op die middaguur betrap te word,
of wou teen skemering gereed vir die oorgang wees
met die stadskom wat traag oopgaan soos 'n neonblom.
Jy het die nag met sy slaaploosheid & pyn gevrees
wanneer jy oor inkswart waters die boot sien kom. (116)

Die boot waarmee Charon die mens oor die Styx-rivier vervoer van hierdie lewe na die doderyk, is 'n bekende mitologiese gegewe. Die oorgang van die sterfling se begeertes in die eerste drie reëls spreek vanself, en is geanker in 'n duidelike toneel binne tyd en ruimte. Die sieke vrees die magteloosheid en die pyn wat die nag bring, dus is die middaguur of skemertyd aanneemlik voor die nag kom. Die skemering het die kleurryke voordeel van die neonligte wat oor die stadskom oopgaan. Maar toe kom die boot juis in die nag, en die tyd van vrees word die verlossing uit pyn en moedeloosheid. Die gedig is diep emosioneel, en roep die onverwagsheid op wat die dood maar altyd meebring. Die toon van die gedig dra die weemoed oor, die rustigheid van die ritme van die gedig is soos die beweging van die boot op die stilvloeiende rivier, een van nege riviere in die mitologie van die doderyk. Die water van die Styx is inkswart; dis 'n skrywer en digter wat die reis meemaak. Die verhouding tussen die boot wat die skrywer na die doderyk vervoer en die ontstellende inkswart waters openbaar die ontsteltenis van die digter wat agterbly en sterk emosie ervaar. Inderdaad word die gevoelswêreld van die woord in hierdie vers innig benut, beklemtoon deur die onvermydelike en onheilspellende vaart van die boot.

3. Teks en interteks

Ek is Gert Bok van die Sederberg
ek ken 'n ding en ek ken 'n dier
maar die mens is bo die vuurmaakplek
van lang Gert Bok van die Sederberg
nou soek ek 'n beter vuurmaakplek
waar die rook nie so in my oë trek
dit rook al hoe meer en dit word steeds later. (Boerneef: Palissandryne)

'n Hunkering se grein is in vyf afdelings ingedeel. Die afdelings is geensins waterdig afgemerk nie, en die temas loop oor mekaar. Die ooglopende tema is die afwisselende buie van die mens en sy emosionele wêrelde. Die natuur is dikwels die eerste trefpunt en daarvandaan word beweeg na die mens wat bo Gert Bok van die Sederberg se vuurmaakplek is. In De Lange se verse word die digterlike ongemak met die mens vanuit talle hoeke belig, maar nêrens word daar voorgegee dat die mens ooit "geken" kan word nie. Met die medium van woord en paradigma bekyk die digter die mens soms satiries, dan weer parodiërend, dan met weemoed, en ander kere met humor en begrip vir die mens en sy sondes. Die vyf afdelings gee slegs in breë terme 'n kategorie-indeling van die bundel weer. Regdeur die bundel loop 'n goue draad van intertekste, en die digterlike stemme wat saampraat, word op hulle beurt deel van die mense wat hierdie bundel bevolk.

“Die berggans het 'n veer laat val”duidelik verwys die woorde na Boerneef se bekende vers. Die algemene tema binne hierdie afdeling betrek die natuur as vertrekpunt, maar dit word telkens gelei na die mens, dikwels baie subtiel.

'n Kwatryn uit hierdie afdeling dien as goeie illustrasie:

"Weef"

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan wal. (18)

Op die oog af 'n bra tradisionele vers, maar die kontras tussen die vinkneste wat prekêr bo die water hang en die drome wat tydloos swerf, maak ook verdere moontlikhede oop. Vinkneste en drome beweeg albei, maar sou die vinknes val, beland dit in die water. Die beperking bly gelokaliseerd, maar die mens se drome gaan verby die lokale, die tyd en die ruimte. Tog is die mens se drome, sy gees, meer beperk as die vinkneste, want die mens bly geanker aan die wal. In fisiese sin is die vinknes minder geanker, vryer, as die mens, wat in sy gees oral kan beweeg, maar, anders as die vink, nie eers bo die watervlak kan opstyg nie. Die gedig word beeld van die mens in sy geestelike gevangenskap, en die paradigma van vinknes = watervlak = anker = wal trek saam tot 'n dam, 'n beperkte waterruimte waar die mens droom, 'n idilliese prentjie by die damwal. Alhoewel in geen opsig direkte interteks nie, roep dit die beeld op van Van Wyk Louw se gedig "Nog eenmaal wil ek in die skemeraand" (Nuwe verse) waar die klippie wat die seun (volwassene) met sy rekkie óp in die donker skiet, weer uit die donker in die donker water plof. Die idee dat die klippie nie verder kan beweeg as die water van die dam nie, sluit aan by die De Lange-vers. Die eerste afdeling kan gelees word as natuur- en metafisies gerig.

“Palissander" – 'n subtitel wat aansluit by Boerneef se bundel Palissandryne. Palissanderhout is 'n baie harde Brasiliaanse hout, en by Boerneef is "my blokfluit van palissanderhout" en dan word "palissander" die fluitspel: "My blokfluit is van palissanderhout/ daarom speel hy so palissander/ ... ek trek dit my nie in die minste aan/ as niemand palissandertaal verstaan." Boerneef ontwikkel sy eie paradigma rondom palissander: hout = fluit = fluitspel = taal = gedig.

By elke afdeling haal De Lange "motto’s" aan; by dié afdeling is dit 'n aanhaling van Robert Graves:

Love is a universal migraine,
A bright stain on the vision
Blotting out reason.

Hierdie afdeling wentel om die gebrek aan rasionaliteit as dit by die "skunnige" dinge kom. 'n Pittige voorbeeld is:

"Eros"

Dit stoot & beur in die skram, & gryp
handevol vlees, agternekke vasgeknyp
in die reet. Lense rek, & kykers, perpleks,
begryp sport is Eros sonder seks. (28)

Die speelse trant van hierdie kwatryn gee woorde aan wat baie in 'n ligte luim dink. Rugby is nou maar ten ene male 'n sportsoort wat besonder lyflik is. Dit is goed dat hier 'n keer gespot word met hierdie hoogheilige liefde van die rugbyliefhebbers. Regdeur De Lange se oeuvre speel die erotiese en meer direkte seksverse 'n groot rol. Enersyds dui dit op die openheid en volwassenheid wat in die Afrikaanse letterkunde binne hierdie genre bereik is; andersyds gee dit woorde aan die lyflike drange van die mens, 'n basiese drang by elke stukkie mens- en dierlewe. De Lange is, saam met Joan Hambidge en Hennie Aucamp, toonaangewend op hierdie terrein. Al hierdie digters/skrywers is geoefende woordkunstenaars en skram nie weg van die realiteit van taal in al sy vorme nie. Hulle hou egter binne beskaafde norme van taalgebruik en sonder om noodwendig eufemisties te skryf, is hulle werk hoegenaamd nie subtiel nie. As 'n mens die erotiese verwysings by die twee grotes, Opperman en Van Wyk Louw, lees, was daar 'n begryplike huiwering om meer brute terme te gebruik. Lees gerus weer die verkragtingstoneel in Opperman se "Brandaan-siklus", of talle verse in Louw se Tristia – groot poësie met pragtige beelde. De Lange en ander jongeres gee hulleself die vryheid van groter direktheid. By De Lange, soos by Aucamp, is die erotiese verse/verhale ingestel op manlike erotiek, of gay-temas. Hulle volg die voorbeeld van talle internasionale skrywers. Terwyl instansies soos die meeste hoofstroomkerke, ook die NG Kerk, steeds die menswaardigheid van gay mense ontken, het digters soos Johann de Lange hierdie menslike kondisie oopgeskryf. Soms effe brutaal, maar dit het die sosiale onreg sterker beklemtoon.

In "Twee vryverse vir Joan op 60" (39) gee die digter 'n inventaris van seksuele ervarings, digterlik kunstig en kundig verweef. Die leser maak kennis met onderwysers, predikante, ou ooms, 'n lugmagoffisier en dese en gene op allerlei plekke van urinale tot die kerkhof, wat gretig was vir die seksspel. Die gedig beklemtoon basiese drange by die mens; dit maak korte mette met skynheiligheid en verskansings. Blatant eerlik word dit sosiale kommentaar op die algehele prentjie van seks. Dit verwoes die houding wat Aucamp so raak gestel het in sy vers oor Raka waar die mens die seks geniet met al sy emosie, maar "trek jou dan blasé opsy". De Lange ruk die lakens af en bring in hierdie eerlikheid die mens gekonfronteer met homself.

III. “Vals bodems” – verdere gesprekke met digters. Die motto by afdeling III is van Roland Barthes: “Language is a skin”: "I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers at the tip of my words. My language trembles with desire." Woorde het ook 'n sensuele dimensie.

In hierdie afdeling word daar ook satiries en skepties gekyk na digters en hulle hebbelikhede. Die digkuns as 'n spel met die muse staan sterk voorop. Die spottende toon van die volgende gedig kom tuis onder die dubbelsinnige titel "Opsteek":

I.

Snags onder die Suidersterre wag ek
met papier & ink, gereed vir die bedryf:
sou die muse perdalks hier verbyswiep
pluk ek 'n lang stertveer uit & skryf.

dis tussen die wind & die veer
wat die vers gebeur.

Nog meer so vir die digter wat in die nag wag vir die muse om inspirasie te bring. Baie deftig onder die Suidersterre wat groot en wydse temas oproep, wag die digter vir die openbaring om die universum met die woord te ontsluit. Die noodsaaklike bestanddele vir skryf is gereed vir die digterlike bedryf wat 'n lewe in beslag neem. Maar dan wag die digter om maar slegs 'n stertveer te kan uitpluk en die woorde te laat rol.

TT Cloete (foto: Naomi Bruwer)

Die tweede deel van hierdie bekoorlike spotvers gee aan die gedig 'n erotiese kleur. Hierdie ontluisterende klein vers oor die waardigheid van die inspirasie om die horisonne onder die Suiderkruis en Suidersterre in grootse perspektief te bring, gebeur maar net tussen die wind en die veer met al die skunnige moontlikhede wat dít insluit! Opperman het dikwels gesê dat inspirasie maar 'n klein deeltjie van 'n gedig uitmaak; die werklikheid is perspirasie. In 'n bundel waar die intertekstuele gesprek tussen die digter en talle ander digters so spontaan voorkom soos in hierdie bundel, kan dit 'n leser ook laat dink aan Opperman se "Nagwag" wat begin met die reël: "Hy kom met flits en Suiderkruis ..." Hierdie gedig van Opperman het politieke ondertone, maar dit kan inderdaad ook dui op die digter wat die geweld van die gees moet oopskryf.

Hierdie afdeling bring ook deernisvolle hulde aan TT Cloete in "Plaasmiddag, Vredefort-distrik" waar die rustigheid van die plaas 'n soort “in memoriam” vir Cloete word. Ook bevat dit 'n parodie op en 'n hartseervers vir Boerneef:

"Boerneef Redux"

Die berg het 'n gansveer laat val
nié by Wuppertal, nóg die haai karoo
maar by 'n plek waar mense nie langer
aan sendelinge glo
ek stuur vir jou gans die veer
ek soek nie langer ganse
sonder verse nie
mits dese wil ek vir jou sê
hoe vlak my trane oor jou lê. (68)

'n Uitmuntende voorbeeld van poëtiese inversie. Die interteks is Boerneef se gedig "Die berggans het 'n veer laat val". Dié gedig dien reeds as 'n mottovers by die eerste afdeling. In die De Lange-vers word dit opgevolg in die derde afdeling waar dit die slotvers van die afdeling is. In die De Lange-teks is "die berg" die onderwerp of die agent; die ruimte skuif weg van Wuppertal en sy sendelingverlede, wat dan vir C Louis Leipoldt in die teks inbring, en die assosiasies beweeg weg van sendelinge en tradisionele geloof. Die gans (berggans) word die ontvanger, die ek (digter) is die versender, en die veer dien nie meer as liefdesbetuiging nie, maar as bewys van rou en hartseer. Die inversie begin deur die omkeer van die veronderstelde sintaksis, daarna beweeg dit van fisiese ruimte na 'n leë ruimte (ongeloof), en dan word die “jou” vir wie die gansveer bedoel is, die digter Boerneef. Die droefheid oor die woordwêreld van Boerneef bewys ook liefde, liefde vir die woord en die sensitiwiteit van die woord. Die rolle van die vermeende twee figure in die oorspronklike Boerneef-teks word nou De Lange en Boerneef, maar in inversie. Leipoldt word, soos Boerneef, betrek in 'n drieluik van digters wat praat met 'n sobere eenvoud en eerlikheid wat geen plek bied vir pretensie nie, wat die verwikkeldheid van die mens in eenvoudige en instinktiewe emosies probeer begryp.

Sheila Cusson (bron: sahistory.org.za)

Die inversie in hierdie gedig dui ook op die spontane intertekstualiteit by Johann de Lange. Die interteks is by hom 'n gegewe, en tekste kommunikeer gemaklik met mekaar. In die verruklike en groot tweedelige gedig "Nelson Mandela (1918–2013)" (89-90) skryf die digter oor hoe Mandela, byna sonblind, sy droom van vryheid en 'n inklusiewe demokrasie "moes vrykap uit metamorfiese klip", dit stelselmatig laat ontwikkel het. Dan lui die teks verder: "Soos die melaatses het hy hier gekap/ ook óngekaarte streke van die gees verken, ver en vry buite port." Heel spontaan korreleer hierdie gedig met Opperman se "Nagwaak by die ou man" (Negester oor Ninevé) waar 'n jongeling uit hom (die ou man) hom bevind voor bosse van 'n nuwe land, maar hy sal weet, soos sy voorvaders, "die streke van die gees bly ongekaart". So ook was vir Mandela die nuwe land wat sou volg, geensins planmatig bepaal nie, maar uit verskeie etniese groepe moes die nuwe streke van die gees verken word.

“Aansterflik”tegnologies en ruimtelik gerig. Die subtitel dui ook op sterflikheid, dinge wat verbygaan, en sinspeel ook op “aansteeklik”. Vooraf is daar twee motto-aanhalings: die een uit Sheila Cussons en die ander uit DJ Opperman.

Die Cussons-aanhaling bevat die titel van die bundel:

God vindloos vir die teleskoop
gee Hom aan die vinger oor
wat saggies soek oor 'n okkerneut
of 'n hunkering se grein.

In die gedig "Ramifikasie" word die verbeelde vinger van God gevolg soos dit oor die menslike gees beweeg:

Ek dag die gees is rein,
& wit soos 'n lelie
of soos linne, 'n evangelie
wat skyn van binne.

Onverdeelbaar. Maar wit
is veelvoud, 'n reënboog
van kleur, elk enig & een-
voudig. Klaar. (78)

Die titel dui op die versteuring van die verwagte beeld van volkome suiwerheid. Met die soeke na die mens se aard en sy gees is die vertrekpunt om die mens se grein noukeurig na te loop, met die hunkering na die wit, die skoonheid. Daar word gedink dat die gees so suiwer soos 'n blom sal wees, of so skoon soos wit linne. Maar linne suggereer ook die bed, en die bed suggereer slaap en seks. Die evangelie moet die suiwer boodskap van verlossing bring, vry van die gevangenskap van menswees en sy onsuiwere denke en dade. Die evangelie moet so skyn dat alles wat onsuiwer is, helder en oop sal word. Helaas, wit is egter nie maar 'n enkele kleur nie: wit is 'n verskeidenheid van kleure; wit is 'n "paradigma" van skakerings. Alles is verdeelbaar, en die suiwerheid van gees is onderworpe aan al die kleure met hulle reënboog van emosies en instinkte. Inderdaad 'n ramifikasie binne die grein, en die hunkering bly net ‘n hunkering.

De Lange se vers het 'n suiwer metafisiese onderbou. Die metafisika is oral in die bundel voelbaar, soms sigbaar, maar altyd subtiel. Alhoewel dit nie as 'n direkte interteks kan geld nie, is 'n kwatryn van Boerneef ter sake:

Hoe jy ook al prakseer en dink
om almelewe helder wyn te skink
die vaaljapie foeter al tussenin
dis frank en troewel wat mens drink. (Palissandryne)

Die Opperman-aanhaling by hierdie afdeling kom uit die gedig "Vigiti Magna":

... wie klippe in Sy mure pas
ken die rustelose borrel in die waterpas.

Hierdie beeld kan inderdaad van toepassing wees op De Lange se bundel. Ook in 'n Hunkering se grein is die woorde telkens waterpas. Maar die netjiese bouwerk is konstant bewus van die "rustelose borrel" in die waterpas. De Lange se bundel beweeg tussen die helderheid van die woord enersyds en die troebel waters andersyds. Dit is 'n bundel van en oor die woord, en vir en oor die mens. Vir die resensent is dit frustrerend dat 'n resensie nie die vryheid laat om noukeurig na elke gedig te kyk nie.

“Die swaartekrag van as” – die sentrale tema is verganklikheid. Met die verganklikheid stap hand aan hand die patos. Soos van die dood, ontkom die mens ook nie van sy patos nie. In hierdie afdeling is 'n pragtige toevoeging tot die Marilyn Monroe-tekste in Afrikaans, by name die verse van TT Cloete en Joan Hambidge; die Mandela-tweeluik; 'n aangrypende vers oor Michael Jackson; en een oor prinses Diana. "MM" (87) is een van die allermooiste poëtiese uitdrukkings van patos in Afrikaans:

"MM"

In twee rare filmgrepe onlangs opgediep,
proefskote vir 'n assuransiemaatskappy,
pruil Marilyn Monroe platinumblond
vir die lens wat gluipend inzoem op haar hals,

haar lag wat niks verklap:
in een greep dra sy 'n silwerwit rok,
in die ander 'n knalrooie
wat noupassend om

versekerde kurwes sluit.
In nabyskoot vermaan die mond, "Ek haat nalatige mans."
Los praatjies, briewe, minnaars wat vals
ontboesemings verkwansel, drie keer voor die kansel,

& die rooi dagboek wat haar swye verbreek,
haar geheime uitlap, haar leed.
Die outopsiefoto's aan die pers gelek,
stroop haar, vlekkig en indiskreet.

Marilyn Monroe (foto: wikipedia)

Die titel, bestaande uit net haar voorletters, stroop klaar die mens van haar naam. Sy word op drie maniere waargeneem: in twee filmgrepe bedoel as deel van 'n advertensie, in 'n nabyskoot, en op outopsiefoto's. Die gedig het op die oog af die vorm van 'n losse sonnetstyl, met vier kwatryne. Die eerste agt reëls konsentreer op haar voorkoms en die rokke wat sy dra. Die tweede kwatryn sluit nie in sigself nie, maar loop enjambementies oor na die derde kwatryn. Die rede is voor die hand liggend: dit lei die aandag na die noupassende sluit om die versekerde kurwes. Hierdie vrou is konsekwent gesien as 'n sekssimbool en met die oorgang van die tweede na die derde kwatryn word hierdie algemene siening saamgevat. Die enjambement verrig dié taak met woord en vorm. Die bekende Monroe-beelde is almal hier: pruil, platinumblond, die nousluitende en uitdagende rokke, en die versekerde kurwes. In die derde kwatryn word bespiegel oor haar houding oor mans, en word haar ervarings met mans in al hulle valsheid aangesny. Die woord "nalatig" word hier in 'n geassosieerde betekenis gebruik – dit sluit etlike oppervlakkige en vals optrede teenoor haar in. Tot op daardie punt in die gedig is Monroe die glansryke en begeerde vrou, maar ook reeds het die "vaaljapie" die suiwer wyn begin verdring, is die gees nie net wit nie. Die gedig lei die leser stap vir stap tot 'n beeld van Monroe as eintlik 'n eensame vrou, begeerlik én verwerpbaar. Sterk woorde met ewe sterk gevoelswaarde, soos “nalatig”, “verkwansel” en “vals” beweeg van die glansryke beeld oor na die patetiese beeld, eerder beeld van patos, weerloosheid. Die rooi dagboek lap haar geheime uit, verbreek haar swye en versterk die beeld van haar as 'n verdwaasde vrou. Die laaste twee reëls van die gedig, eintlik 'n slotkoeplet, bevestig haar uiteindelike patos. Outopsiefoto's neem alle glans weg; dit stroop ook menslikheid. Dit wys die vlekke op die mooi lyf, dit versteur alles wat haar gekenmerk het. Hierdie vers is perfek gekonstrueer en praat uiteindelik ook verby Monroe. Selfs die uitbeelding van Monroe se patos word 'n beeld van die verwese mens. Steeds bly sy geskei van individualiteit, van haar menswees. Dit is volkome ontbloting van die liggaam en die gees.

'n Kwatryn in dieselfde afdeling gee 'n indringende en feitlik pynlike beeld van gestrooptheid.

"Werf"

Hadidas skeur die rooidag
oop – skryn soos trokke
in 'n rangeerwerf
staal op staal, tot in die nerf. (91)

“Rust-mijn-ziel: 'n hartseerwals” – elegiese verse, veral oor Hennie Aucamp. Die afdeling bevat ook parodieë wat aan die hartseerwals sy humor besorg. Met 'n gedigtitel "Gewis is alles net 'n grap" (Eugène Marais) en met duidelike verwysings na Leipoldt word ouer digters deel van die gesprek in die bundel. Daar is ook 'n innige kwatryn oor die dood van Adam Small, en met aansluitings by Van Wyk Louw en ook weer Boerneef en Opperman, word die afdeling 'n soort heldeakker van groot digters. Die elegiese toon word deurgaans gehandhaaf, selfs in die humor.

"Twee blaaie geskeur uit Groot Verseboek"

met liefde & apologieë all round

I.

Die trilpoplier het 'n blaar laat val
van die hoogste tak bo jou balkon,
die wysters van die dag het stil gaan staan.
Ek hou vir my dié trilpoplier se blaar,
mits dese wil ek vir jou sê
hoe hoog en laag my liefde vir jou lê.

II.

Jy't weggedros & jy plak nou
in die murasie op Rust-mijn-ziel,
die vensters gaap nog elke nag
oor die leë werf & in die niet

die werf is tolbos en sand & wind
& peperboom & sand
& wintermiddags voer niemand meer die woord
woorde is maar sterre in 'n swart wind verskiet. (108)

Die eerste deel van die vers voltooi die Boerneef-verwysingsiklus in die bundel. Die toneel verskuif egter van die hoogste punt by Wuppertal na 'n stadsbalkon, en die berggans en sy veer word vervang met 'n trilpoplier en sy blaar. Die poplier (populier) het 'n gelaaide simboolwaarde: populier is die vox populi en ook onder meer 'n boom van lewe en van heiligheid. Met die dood gaan staan die wysters van die dag, maar die aarde en sy seisoenswisselinge gaan onverstoorbaar voort. Maar die populierblaar word nie gestuur nie, maar gehou, en word teken van 'n diep liefde wat nou stol in die tyd.

Die tweede deel van die gedig speel in op Van Wyk Louw se "Jy't weggegaan en jy bewoon 'n silwer herberg in die sneeu" uit Tristia. Die Louw-gedig dui op 'n verlore liefde en vertoon 'n ritme van verdriet en verlatenheid. By De Lange het die gestorwene gedros en plak nou in die murasie op die familieplaas. Liefdesverlies het oorgegaan in doodsverlies. Oënskynlik is daar verwyt oor die weggaan van die dooie, en woorde soos “dros” en “plak” is oënskynlik ongevoelig. Maar dan keer die weemoed terug, en “die vensters gaap nog elke nag oor die leë werf”. By die Louw-gedig is daar die romantiese toon van die leë blink vensters van die geliefde se vertrek, maar die dood het geen romantiek nie. Hierdie vensters kyk nie net oor die plein nie, maar in die niet. By Louw is die plein beeld van troosteloosheid en is die plein "boom en wind en boom en wind en wind/ en wintermiddag voer daar iemand die meeue krummels teen die wind". By De Lange word dit 'n Karootoneel met wind, sand en peperboom. Ook hier is daar geen romantiese klank nie, maar die woorde is self beeld van 'n geharde en fundamentele wêreld. Die plein is harde plaaswêreld, werf. Daar is ook nie die beeld van vereensaming in die “iemand” nie, maar die ruwe werklikheid van “niemand”. Hierdie niemand voer ook nie meer die woord nie, want woorde verskiet soos sterre in die wind van die dood. Waar die Louw-vers romantiese weemoed oproep, bring De Lange die ruheid van die dood en verganklikheid tuis. Dit maak die vers selfs nog meer aangrypend, sterk aards in die voldongenheid van dood.

4. Nulpunt

Hierdie bundel verloop nie siklies nie. Die fyn woord, die spot en die nostalgiese loop eenlynig. Uit die woord, die beeld, die gesprekke met veral gestorwenes gaan alles na 'n nulpunt. Die bundel is geensins nihilisties nie; daarvoor is die mag en die skoonheid van die woord te universeel; ook die pyn van menswees te geldig, te wesenlik. In Van Wyk Louw se woorde:

Ringmure wit om wingerde
ons hart bly soos 'n ring gesluit
maar oop en buite bakens is die pyn. (Tristia)

Uit die simbiose tussen woord, lewe, dood en metafisika vloei die paradigmas in hierdie uiters besonderse bundel, 'n ware kleinood in die Afrikaanse poësie. Die omslagontwerp bring Afrika en die Westerse wêreld bymekaar, die tipografie verbeeld keurigheid en liefde vir die woord en taal. Die gedig "Ikarus Redux" op bl 17 bring die sentrale temas van die bundel in perspektief:

"Ikarus Redux"

Erta Ale, Ethiopië

Die helikopter met kameraman
& ander lede van die span
sweefhang bo die krater:
'n gloeiende vurige pan
halfvol pruttende klip
wat ópklots teen die lip,
& geel rookpluime
wat uit skeure sis.

Dan stol die rotor & kantel –
die vliegmasjien stort neer
op die vloeiende vulkaanvloer.
Die staalblink naaldekoker
smelt weg sonder 'n klank,
terug na sy elementale moer.

Die mitologie, wat, volgens Borges, die begin en die einde van letterkunde is, word hier verbind met die moderne tegnologie. Volgens die legende is Daedalus en sy seun Ikarus  gevange gehou deur Minos, die koning van Krete. Die pa het vlerke ontwerp waarmee hulle kon ontsnap en wegvlieg. Ikarus het te na aan die son gekom, die was wat die vlerke vasgehou het, het gesmelt, en hy het neergestort in die Egeïese see. Daedalus word as die meester van vakmanskap beskou. Die titel bring drie wêrelde bymekaar: Afrika, die Klassieke wêreld en die kuns van ware vakmanskap. Die legendariese aard van die gegewe verteenwoordig die woord en die ritueel van verse maak. 'n Helikopter hang oor die aktiewe vulkaan in Ethiopië met onder meer 'n kameraman wat die toneel op film moet vaslê, "kuns" daarvan moet maak en aan die wêreld moet vertoon. Die krater is vuur en klip en rook, en dit sis onheilspellend. In sy geheel 'n ontstellende gesig, maar volkome aards, volkome deel van fundamentele Afrika. Deel van die land, soos die stof, die wind en die peperboom op Rust-mijn-ziel. Inherent is die vulkaanoppervlak gestroopte en gelouterde aarde, tegelyk lewe én dood.

Soos 'n naaldekoker oor 'n dam hang, maar ook heen en weer flits, so hang die mensgemaakte naaldekoker bo die gevaarlike vulkaan. Die beeld van die naaldekoker is een van brose natuur, die vulkaan een van die natuur in sy grofste gedaante. Die beeld breek soos 'n naaldekoker vinnig wegskiet, maar vir die helikopter met sy gebondenheid aan menslike vakmanskap is daar nie die bevryding wat eie is aan die naaldekoker nie, en die helikopter kantel en stort neer as sy rotor stol. Die mens en sy skepping het geen verweer teen die verwoestende mag van die natuur nie. Die ewewig en die prekêre kondisie van menswees is teen hierdie groter mag nie bestand nie. Die staalblink naaldekoker smelt weg soos die was aan Icarus se vlerke, sonder geluid, sonder die moontlikheid van 'n angskreet, heeltemal magteloos. Die helikopter – lees ook “mens” –  keer terug na sy elementale moer. “Moer” kan dui op 'n beginpunt, ook op 'n metaalblok, of afsaksel, droesem. Al hierdie betekenisse kan ter sake wees in hierdie vers, maar dit kan ook dui op die kras uitdrukking: "Gaan in jou moer", of die verbale gebruik: "Ek moer jou." Die elementale beperk egter die betekenis tot die begin of die einde van lewe. “Elementale” kan dui op die elemente waaruit die helikopter vervaardig is, maar eerder op die mens in sy weerlose toestand. Dan word dit meer as 'n ongeluk en die dood, maar verwys dit ook na die mens wat in sy vakmanskap en tegnologiese kennis nietig staan teenoor die natuur. In die loop van die bundel speel die natuur 'n beduidende rol om tot kennis van die self te kom, en 'n semantiese oorgang om tot by die volle konsep van gedig te ontwikkel, maar in hierdie vers is daar 'n inversie wat die teenoorgestelde suggereer. Alhoewel hierdie gedig 'n harde en selfs siniese aanslag het, is die kern ontstellend, apokalipties en elegies.

Vincent van Gogh (bron: wikipedia)

In "Vincent van Gogh, twee stoele" (65) het die eensaamheid van Van Gogh as kern. Sy vriend en gespreksgenoot "vat die pad" en Van Gogh skilder twee stoele: een wat wag vir sy lyf met die pyp reggesit, die ander stoel leeg, wat nie op 'n terugkeer wag nie:

Twee stoele, rug aan rug
of teenoor mekaar: beide swyg,
is uitgepraat, die een
het die ander afgeskryf
& stilte is soos 'n wig
tussen twee lewens ingedryf.

'n Hunkering se grein is 'n veelkantige bundel en plaas telkens die fokus op 'n verdere aspek van die mens en sy pyn en eensaamheid. Die bundel is ‘n viering van die kriptiese woord, maar ook van die gelaaide woord. Dit deel die taalspel met, en van, ander digters, maar is uiteindelik eg menslik en persoonlik. In een woord: 'n pragbundel.

As 'n naskrif van Boerneef:

Oom Jampie Bedroef is 'n neerslagtige mens
hulle sê hy was van kleinsaf so
'n stilweg man 'n eenkant ou
dink sy ding en hou hom innie mou
oom Jampie is 'n ompaarman
hy sê hy weet dikwerf g'n raad nie
daars te baie skemer te weinag lig
voor die mensekind se aangesig. (Palissandryne)

Henning Snyman

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Benita Hartman

    'n Ressensie wat my beslis die bundel sal laat gaan uitsnuffel - gestroopte verse waaraan betekenis swanger aan elke woord hang ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top