LitNet Akademies: “Groot kuns” as objet trouvé

  • 0

Volgens Kerneels Breytenbach in sy onverbeterlike stuk op Litnet "Zeph, oftewel, Oer-Zef, en veertien dinge wat jy moet check, my china" was 1959 ’n waterskeiding vir die begrip zef. Ek gaan vir die oomblik vergeet dat dit my geboortejaar was, maar ek kan onthou, soos ek grootgeword het, het die generasies karre waarna hy verwys deel van my pa en ooms se gesprekke en begeertes uitgemaak, dat ek as kind in heelparty van daardie karre gery het. Dit wil my dus voorkom of ek uit ’n heel zef agtergrond kom. Dit is iets wat ek in terapie sal moet verwerk.

Vir my as volwassene (en een met zero belangstelling in karre) het zef gewoon beteken agterlik, of bietjie common, in swak smaak, of afkomstig van sekere voorstede in Pretoria. Later het ek besef dat die begrip vermeng geraak het met dié van kitsch en camp, en daarmee saam het die konsep én die zefs kontoer en diskoers gekry. Dit beteken onder meer dat zef baie te make het met konteks. En dat daar verskillende soorte zef is.

Ek sou graag wou sê dat Die Antwoord se sukses te make het met savvy, maar ek dink dis eerder ’n kombinasie van toevallig die regte tydsberekening en dumb luck – om mee te begin. Met al die media hype het hulle nou onvermydelik ’n beter begrip van zef en van hoe hulle persepteer word en probeer hulle die spel met zef ook meer gesofistikeerd maak. Hulle appropriasie van byvoorbeeld Roger Ballen se foto’s van agterlikes en agtergelatenes, of Jane Alexander se Butcher Boys, is bewys hiervan. Of hulle verstaan wat hulle doen, is nie belangrik nie, en ek het my bedenkinge.
  
Wat onbegryplik is, is dat Alexander prokureurs inspan om visuele verwysing na haar werk te probeer stopsit. Sy is ’n kunstenaar wat immers haar kunsgeskiedenis moet kén en behoort te weet dat sy ’n stryd met windmeulens aangeknoop het. Duchamp het in sy werk LHOOQ (in Frans uitgespreek as  "Elle a chaud au cul"), ’n pun wat sowel "sy het ’n warm agterstewe" as "daar is vuur daaronder" beteken, nie net van die glansryke Mona Lisa ’n goedkoop poskaart gemaak nie, maar die arme Lisa boonop ’n snor en bokbaardjie gegee ook.

 

Duchamp se LHOOQ

Of die meer kontroversiële geval van Sherrie Levine wat bekendheid verwerf het met haar 1980-solo-uitstalling After Walker Evans, waarin sy beroemde foto's van Walker Evans hérfotografeer het uit Evans se uitstallingskatalogus en dit toe sonder enige manipulasie van die foto's aangebied het as haar eie werk. Ek wonder of Alexander meen dat Duchamp en Levine daarmee ook die “integriteit” van die oorspronklike kunswerke aangetas het. Wat beteken die “integriteit” van die kunswerk in elk geval? Dis só ’n vae term dat mens enigiets daarin kan lees.

En waarom het Alexander geen probleem gehad daarmee toe drie figure opgemaak soos die Butcher Boys in 2007 oor die dak van die Lookout-sentrum in Khayelitsha gesluip het as deel van die CAPE ’07 verrigtinge met ‘n groot internasionale verteenwoordiging nie? Dalk omdat dit highbrow genoeg was? Maar verwys die Butcher Boys nie dalk júis en ironies na die low-brow/zef geledere waaruit die drie “boys” gekom het en wat so verteenwoordigend geword het van die gruwels waartoe mense in staat is nie? Is dit onregverdig om van Alexander konsekwentheid te verwag? Mens kan nie selektief bepaal wie mag en wie mag nié met jou kunswerk in interaksie tree nie, of die vorm wat die interaksie aanneem probeer manipuleer en beheer nie.
 

  CAPE '07: Drie figure opgemaak soos die Butcher Boys sluip oor die dak van die Lookout-sentrum in Khayelitsha

Alexander se Butcher Boys is ikonies, en ikoniese werke noop telkens nuwe generasies om daarmee in gesprek te tree, dit te kritiseer, op te stuur, te parodieer. Ikoniese kunswerke, stérk kunswerke, lok hierdie soort hérwaardering uit, en oorleef dit ook telkens, en beteken vir elke generasie iets anders. Die "integriteit" van die kunswerk is nie iets wat onveranderlik en onaantasbaar is nie. Niks is heilig nie. En dis nie asof Alexander se Butcher Boys sélf op oorspronklikheid aanspraak kan maak nie. Daar is enige aantal kunswerke en mitiese, behoringde wesens waarop haar werk sinspeel.

Hierdie interaksie gee nuwe geldigheid aan ’n kunswerk en hou dit in sirkulasie. Hoe Alexander as kunstenaar dié proses kan wil stopsit, gaan die verstand te bowe. En sy sal dit gewoon ook nie regkry nie. Sy kan die gebruik van die werk sélf beheer, byvoorbeeld die opname van foto’s daarvan in publikasies (hoewel ook hiér die saak nie so eenvoudig sal wees nie; enigeen kan dit gaan afneem en dan berus die kopiereg van die foto by die fotograaf, nie by die kunstenaar nie). Wat betref verwysings daarna, visueel al dan nie, dit kan sy nie beheer of belet nie. Die Antwoord gebruik nie videoskote van haar werk nie, hulle herskep die drie figure deur grimering, met ander woorde hulle verplaas dit alreeds in ‘n ander medium. Ek sou sê Ballen staan ’n beter kans, aangesien Die Antwoord sy foto’s gebruik.

My geld is op Die Antwoord, en hoewel ek nie ’n fan is van hulle soort platvloersheid nie, glo ek dit het ’n plek en ’n funksie. Oor wát die boodskap is, gaan ek my nie uitlaat nie. Of dit Alexander se Butcher Boys ver-zef? Beslis nie. Net so min as Duchamp se snor die oorspronklike Mona Lisa ver-zef het. En wie't gesê dat mens in jou reaksie op kuns dit móét verhéf eerder as ver-zef?

Die Antwoord gebruik nie die Butcher Boys of die ontstemmende foto’s van Roger Ballen om op ’n sekere segment van die bevolking neer te sien nie. Niks wat hulle doen, het dit as oogpunt nie. Wat hulle wél bereik, is om eerder juis dié deel van die samelewing meer sigbaar maak. En zef is nie noodwendig tot ’n sekere sosiale klas beperk nie. Nes kitsch kom dit op alle vlakke van die samelewing voor, en wat zef/kitsch/common is, wissel met die tyd. Dis nie staties nie, eerder vloeibaar. Wat vandag kitsch is, is môre kuns. Die Briels mag dalk op ’n tyd zef gewees het, maar nou is hulle eerder ’n vorm van high camp. Dis die soort ding wat met zef kan gebeur.

 

Bronne

Sue Williamson. ARTTHROB. Beskikbaar by http://www.artthrob.co.za/index_07apr.html.

Wikipedia. “Sherrie Levine”. Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Sherrie_Levine.

Wikipedia. "LHOOQ" Beskikbaar by http://en.wikipedia.org/wiki/L.H.O.O.Q.

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top