Gulp: Kaapse paragrawe deur Johann de Lange: ’n resensie

  • 0

Gulp: Kaapse paragrawe
Johann de Lange

Uitgewer: Exlibris
ISBN: 9780994701329

Dit het Kersfeestyd geword in 1967. Elsabé Wessels, ’n kollega van my by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens se hoofkantoor in Kaapstad, kom ná ’n etensuur terug op kantoor. Sy is hoogs geamuseerd. Tussen die menigtes in die Goue Akker en met sielige musiek wat speel, beland sy agter twee netjiese jongmans met aktetasse. Bo die geraas hoor sy een vir die ander een vra: “So, how’s your sex life?”

Dis onder meer wat Johann de Lange opgeteken het in sy dagboeke vanaf 1993 tot 4 Oktober 1999: sy sekservarings as gay. Mans hou dikwels daarvan om oor seks te praat en te skryf. Jy herleef alles in kleur en geur. Jy spog miskien. Julle leer mekaar ken as julle dalk ook die “grille van wellus” bespréék, soos Johann dit stel.

Ook ander fasette van sy lewe kom in hierdie keur van uittreksels na vore. Die subtitel van die bundel, “Kaapse paragrawe”, dui ook moontlik op sy blogs.

Gulp het vier afdelings, waarin sekere lewensfases meer sentraal staan as elders.

Aanvanklik word veral die “destruktiewe verhouding” met Damon (nie sy regte naam nie) sterk en die volledigste uitgebeeld oor ’n paar afdelings heen.

Baie mans sal hulle eie verhoudingsprobleme herken in hierdie stryd teen voortdurende leuens of teen die onverskillige hantering van ’n MIV-status. Dan ook die voortdurende ambivalentheid: die wantroue én die hoop op versoening. ’n Mens ondersoek jouself: is jy nie skuldig nie? As jy net anders sou opgetree het?

’n Baie groot deel van die boek bestaan uit oorvloedige beskrywings van seks in gimnasiums se saunas, stoomkamers en storte, klubs se donkerkamers, kroeë en openbare toilette. Dikwels kies hy koers na die rotse en Kom-se-Bos by Sandy Bay. Seks in die opelug was destyds by Graaff se Poel beskikbaar. In ’n sekere sin hou hy meer van seks tuis of by ander se woonplekke.

In die derde afdeling is daar nog steeds die sekservarings, maar hier gee De Lange ook meer insae in sy eie skryfwerk, sy bydraes tot die boekbedryf en sy omgang met sy familie, vriende, medeskrywers en ’n sielkundige. In die laaste afdeling is tonele met dwelmgebruik – ’n aanloop tot sy prosawerk Tweede natuur (Homeros 2000).

Dit is van die begin af duidelik dat dit informele skryfwerk is. Soos wat ons “gewone” dagboekskrywers dit moontlik sal doen. Dit is korter inskrywings as byvoorbeeld Hennie Aucamp s’n wat telkens grens aan volwaardige letterkundige essays of verhale. Dis ook nie soos Tennessee Williams se Notebooks van 800 bladsye nie (Yale University Press 2006), deur ’n redakteur ná sy dood voorsien van foto’s, faksimilees en talle aantekeninge en indekse.

Maar gaandeweg het ek dit nie meer geniet om veral die sekstonele te lees nie – weens die enorme eenselwigheid deur die herhaling van situasies, woorde en sinne. Telkens die aantoon van die tyd, die weer en die lokaal. Oor en oor ’n beskrywing van die ander se hare, sy piel se grootte en voorkoms (besny of nie; die velkleur), die manier van “tos” en hoe en wanneer hulle “skiet”. Waarheen “swenk” die piel? Dan is daar die talle gevalle waar die spelendes moet ophou omdat ’n aankomeling dalk nie die toneel sal geniet nie. Die oorbekende kleur en verskil in digtheid van die semen word genoem. Op bl 63 is darem ’n waarneming wat nie so dikwels voorkom nie: “Hy’s nie een van die verskieters (sic) nie, eerder een van daardie wie se kom stadig uitpols soos tapioka wat oorkook. Dit stroom wit & dik & stadig oor sy vingers.”

Engels kom baie voor: nice, sexy, cruise, body language, stunning, lovers, cope, blow job, odd wankers, ens. ’n Mens besef dis hoe jy en vele ander dalk praat. Oor sommige woorde wonder jy of daar ooit Afrikaans voor bestaan en of dit in ’n bepaalde situasie oortuigend sal klink. Ook hier hinder die herhalings.

Maar hier is tog ook ander inhoude, byvoorbeeld oor sy jongmansjare, hoe ’n neef hom ingewy het in die gaylewe (vanaf bl 52). Sy eerste besoek aan ’n gayklub word boeiend gedramatiseer.

Vanaf bl 241 tot 247 gaan dit om ’n besoek saam met Hennie Aucamp aan ’n siener. Met hulle aankoms by Asbey House verwys Johann na ’n skrywer wat dalk ’n boodskap vir Hennie kan hê. Spanning ontstaan: Hennie beskou dit boos van Johann om dié jong skrywer te noem met wie Hennie ’n onsalige geskiedenis gehad het. Daarna word al die gebeurtenisse goed gedramatiseer, met al die dialoog opgeteken.

Nog ’n wonderlike dramatisering is op ble 76–8. Anna Jonker (Anna Bairos) bel Johann en gee voor sy wil Jan Rabie se telefoonnommer by hom kry. Dan begin sy hom aanval oor ’n leuen oor Ingrid Jonker se selfdood wat hy dan in ’n koerant sou verkondig het. Die daaropvolgende gesprek “verloop ... met kwalik ingehoue vyandigheid”. Dit word besonder goed weergegee.

Inhoudsopgawes verskyn nie in die boek nie. Dit is jammer. As ’n mens dan nie meer veel erg het aan die oormaat seksbeskrywings nie, sou jy die gedeeltes oor bekendes en oor sy eie skryfwerk makliker kon opspoor. Daar is byvoorbeeld humoristiese anekdotes oor Ina Rousseau, Lucas Malan en Ernst van Heerden (bv ble 198 en 204).

’n Paar keer duik ek ook op. Sy reaksie in 1995 op my kortverhale in Die Soft Rock Klub kry ek nou vir die eerste keer te lees (194). Ek is heel ingenome! In ’n volgende inskrywing vertel hy dat Rachelle Greeff my bundel gelees het en “dink dis aan die yl kant, nie ’n goeie wegspring nie”.

Ek word die meeste genoem in verband met ’n bloemlesing erotiese gedigte wat Johann saam met Antjie Krog saamgestel het en aan Tafelberg voorgelê het. Ek was die aangewese redakteur. In daardie stadium is dit Heterdaad genoem. Johann was volgens sy dagboek onder die indruk dat die bundel uit die staanspoor aanvaar is en hy het aangeneem dat Tafelberg vertroue in hulle oordeel gehad het. Bybelgedeeltes is ingesluit en later is aanhalings uit die Koran ook voorgestel. Johann was volgens Gulp (58) in ’n stadium ontsteld omdat Tafelberg onprofessioneel opgetree het deur sonder om hom en Antjie te raadpleeg, ’n paar digters te nader om te hoor hoe hulle sou voel oor die insluiting van Bybeltekste. Paniek en verdeeldheid sou ontstaan onder die digters. Die bundel waaraan hulle hard gewerk het, sou dalk nie meer verskyn het.

Toe ek Gulp lees, kon ek hoegenaamd nie onthou van so ’n rondbellery nie. Ek het begin lees in mý dagboek en dit nie opgespoor nie. Wel ander dinge. Antjie het my byvoorbeeld op 5 Mei per telefoon gevra of ’n arbiter nie aangestel kan word nie. So het die hoofbestuurder, JJ Labuschagne (Lappies), spoedig ná sy deurlees vir my kom sê dat hy nie “vrede met hulle keuse het nie”. Hierna is Lucas Malan as keurder gevra. Ná oorweging het hy ’n dag later ingestem. Aanvanklik was daar probleme met aflewering by hom via ons Johannesburgse kantoor. In my dagboek kan ek nie sien of hy wel ’n verslag gelewer het nie. Charles Fryer het daarna ook aan die bundel gelees. Op 11 Mei skryf ek ’n eerste verslag vir Lappies.

Volgens Gulp het Johann met Phil du Plessis onderhandel oor ’n kunswerk in sy besit vir Heterdaad se omslag. (’n Orgietoneel van Walter Battiss.) Maar Phil laat weet in ’n stadium vir Lappies dat ons darem die kunswerk kan gebruik, maar alleenlik indien van sy gedigte opgeneem word. Lappies het hom gerusgestel dat daar nog beplanning aan die gang is.

Ons ontwerpersafdeling het intussen die manuskrip vir die drukkers voorgelê vir ’n prysopgawe – ’n belangrike stap in die uitgeeproses. Ligdag op 20 Junie verneem ons die drukkers aanvaar nie die werk nie weens besware teen die inhoud. Dit was nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Vroeër, in die hoogbloei van sensuur, sou proeflesers soms kapsie maak teen sekere gedeeltes en was daar samesprekings en is versigtig toegewings deur skrywers en uitgewers gemaak. Met die goedkeuring van Lappies en Charles kon ek uiteindelik ’n verslag vir Johann en Antjie stuur. Charles het glo reeds ferm met Johann gepraat omdat hy dreig om die manuskrip weg te neem. Ek wonder hoeveel die samestellers van die uitgewersonderhandelinge verneem het.

Op 23 Junie (bl 81) teken Johann in sy dagboek aan: “Ek & Antjie het vandag amptelik die ms van Heterdaad by Tafelberg onttrek. Ons het gister ’n brief van Danie B gekry met heeltemal buitensporige eise. Hulle is duidelik te bang om die boek uit te gee soos ons hom saamgestel het.” Hulle het reeds “met H & R gesels, spesifiek met Kerneels (Breytenbach, DB), en hulle is geïnteresseerd om dit uit te gee. ... Al jammerte is dat dit nie nog vanjaar sal kan verskyn nie. Ek weet ook nie watter skade hierdie hele debakel aan my & Danie se vriendskap gaan doen nie.”

Oor die jare heen was daar verskeie versoenings tussen ons. Een van die bestes was in 1996. Ek kan nie onthou waaroor daar toe ’n verkilling tussen ons was nie. Sy bynaam vir my was/is Panda. Glo iets te doen met die donker kringe om my oë? ’n Bode kom lewer ’n kleuterprenteboek af: Ek sien ’n panda. Op elke klein bladsy rol daar oë. Geen inskripsie. Die gebaar het gewerk. Sien hier in 2017 hy’t ’n publikasie van H&R gekies!

My dagboekinskrywing op daardie Donderdag in Junie 1994 is soos volg: “Kry faks van Johann en Antjie: In die tye van mirakels in Suid-Afrika het hulle gehoop ons kan mekaar vind, maar aangesien in my brief alles wat anders is, afgekeur word, onttrek hulle die boek.”

In 1998 verskyn Heterdaad as Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde by H&R.

Voorste ontwerper Etienne van Duyker se bandontwerp vir Gulp is na ’n kunswerk van Zachari Logan. Gepraat van aantrekkingskrag. Ek het al so baie daarna gekyk. Die jong man staan voor ’n pisbak in ’n manstoilet met sy bene uitmekaar. Met sy rug na die kyker. Hy moes sy gulp oopgemaak het om sy “moerse voël” uit te haal met sy regterhand. Maar toe laat sak hy boonop sy broek sodat jy belustig kan raak oor daardie ferm boude en die donker spleet. Met so ’n prikkelende omslag kan mens maar wéét wat jy gaan te lese kry!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top