As die woorde begin droom: ’n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel
Saamgestel deur Johann de Lange
Uitgewer: Bel Monte Uitgewers
ISBN: 0620486880
Prys: R170.00
Op die agterflap van dié mooi versamelbundel beweer Gerrit Komrij: “Voor mij is hij een van de indrukwekkendste Zuid-Afrikaanse dichters uit de tweede helft van de twintigste eeu … een dichter als Knobel laat je niet los, je keert steeds opnieuw naar zijn werk terug.”
Die digter Wilhelm Knobel is in 1974 op die jeugdige ouderdom van 38 jaar oorlede. In As die woorde begin droom vestig die samesteller, Johann de Lange, weer opnuut die fokus op Knobel as digterlike herout van Sestig.
Naas ’n oorsig uit sy reeds verskene bundels, naamlik I. Bloedsteen (1966), II. Mure van mos (1970) en III. Nagelate gedigte (1976), word sy oeuvre verruim deur IV. Onversamelde Verse (1956-1972) en V. Vertalings / Translations. In laasgenoemde val die soeklig op Knobel as veelsydige woordkunstenaar en vertaler van sy eie gedigte, asook dié van veral sy gunsteling-digter, Jules Supervielle.
Reeds in I. Bloedsteen kom temas van aftakeling, psigologiese pyn, “outsider-wees” en eksistensiële nood aan die bod. In die eerste drie gedigte, “Stellenbosch”, “Voorskrif vir ’n alleenloper” en “Verhaal”, word strate gebruik as ’n bevrydende en tegelyk beklemmende metafoor van die soekende self. Die vlug na buite eindig weer in ’n retoriese inkeer na ’n gekwelde binnelewe: “altyd loop ek rond in myself”. Die self-ironiserende “Elegie” vertel van ’n liefdesteleurstelling, terwyl “Donker en skerp lig”, ’n gedig aan sy moeder, op ’n parallelle toespeling tussen Maria, Jesus en moeder en seun kan dui. In “Brief vir Breyten” voer die digter ’n intertekstuele gesprek met Breyten Breytenbach – ’n tema wat later herhaal word – en wat Louise Viljoen tereg “voorwerk” noem binne die tradisie van spanning en vernuwing binne die Sestigers.
Knobel was ’n visioenêre digter wat nie gehuiwer het om te eksperimenteer nie. “Triptiek” en “Bloedsteen” suggereer amper ’n psalmagtige onderbou: ná ’n katarsis met die self (of Syn) breek die hoop/lig/Lig deur aan die einde. Knobel se poësie flankeer ook met die mistieke as hy Latynse kantasies uit ’n dodemis aanhaal (vergelyk “Bloedsteen”: kreatiwiteit word geput uit ’n bloedsteen wat hy aan ’n ring dra, ’n metafoor van skryf as selfbevrydende en tegelykertyd selfvernietigende proses). Die goddelike impuls om te skep word dan onder meer die vonk/Vonk in die bloedsteen, asook die digter se (eie) bloed in laasgenoemde steen.
Feitlik dwarsdeur Knobel se werk figureer insekte, veral motte (teen ’n ruit) en termiete as ’n amper magiese voorloper van die dood en aftakeling, byvoorbeeld “Bloedsteen III.3” en die aangrypende “Termietprinses”.
Knobel beskik ook oor ’n fyn humorsin en (bitter) ironie. In die laaste deel van die eerste afdeling lig die oorheersend somber atmosfeer en beweeg in die rigting van die satiriese in “Absalom”, “Vroegaand Clifton” en veral “Glo jy aan swem op Sondag?”.
In II. Mure van mos is die gedigte minder prosa-agtig en uitgesponne. Natuurbeelde, byvoorbeeld bome, vrugte, mossels, die see, ’n okkerneut, voëltjies en die geboorteproses, word draers van temas rondom verwording, die spanning tussen lewe en dood, verwagting teenoor teleurstelling en volkomenheid teenoor verlies. (Sentraal in die meeste van Knobel se werk staan binêre opposisies: hy dig selde eendimensioneel; eerder multidimensioneel.) Die mistieke toon in dié afdeling is meer geslaagd en subtieler as in deel I, wat soms skril aandoen. In “legende” word die Ou-Testamentiese verhale rondom Noag se ark en Jona in die vis se maag gejukstaponeer en verwring as fabels in die moderne konteks as ’n dagblad daaroor berig. In ’n ongetitelde gedig op bladsy 64 beleef die verteller ’n verhoogde en surreële bewussyn as hy uitgelag word deur sy broers as Josef die dromer – na aanleiding van ’n moderne en “groen” besorgdheid oor die onnodige uitkap van bome. Reeds in die bundeltitel, Mure van mos, word inperking en die kwesbaarheid (van emosies, of binnelewe in die skadu’s) gesuggereer. Beelde uit die skemer seelewe gee dan ook gestalte aan temas van aftakeling en dood (“Mossel”, “vliese van die onbewuste skei” en die bekende “Elegie”). Mos word eindelik ’n simbool van ingeperkte liefde en vrees om uiting te gee aan liefde, maar eerder eensaamheid te verkies – “jy bou ’n kamer om my”. In “Sprokie” word die siklus van liefde en lewe in die gedaante van ’n mitiese, ontsterflike vrug geskets.
Die metafisiese bewussyn van die digter is in dié afdeling (II) duideliker omlyn as in die vorige een. In die sterk “’n Man staan op die land” ervaar ’n boer iets van ’n kosmiese eenwording; in “hy raak verdwaal in dié land van rots en dissels” gee die fatalistiese landskap uiting aan die spreker se eie gevoel van futiliteit, terwyl pyn en dood opgehef word tot ’n ontsterflike jeug in die mooi “jou oë is hoe lank al toe”.
In III. Nagelate gedigte en IV. Onversamelde verse word die bemoeienis met gees(tespyn) voortgesit. “Vroeë liefde” is ’n meditasie oor die liefde wat uitloop op ’n makabere doodserotiek as die geliefdes (met hulle hoofdoeke) nie in die dood gesteur word nie. “Herskepping” herinner aan Jonker se “Ontvlugting” as ’n geliefde deur ’n droom (goddelike impuls) geskep word uit die wind en weer tot niet gaan. Naas briewe, sketse en anekdotes dig Knobel graag oor kunswerke (“Portret” en “By ’n skildery van Anna Vorster”.) In tandem met laasgenoemde werke is die digter se waarneming ook fyn en impressionisties.
“Verjaardagbrief aan ’n vader” getuig van ’n antagonistiese verhouding tussen pa en seun: “Na dertig jaar selfs kan ons nie saam/ van die ryk bron sonder verdeeldheid drink nie/ ek bly smag na die moederbors van elke vrou/ wat jy my altyd nog misgun.” Ook in “Wat sal ek skryf oor biesmelk?” word die erotiese hunkering na ’n vrouebors eindelik ’n infantiele een, en parallel daarmee, ’n afkeer van biesmelk.
As digter was Knobel in ’n geringer mate polities betrokke. “Mnr. X se donker dag” is ’n wrang satire oor mnr X (’n Afrikanerman) se kleindogter wat selfmoord pleeg oor haar onseker (Negroïede) herkoms, ’n tragedie wat mnr X as een van God se wonderlike weë vertolk.
Veral in IV. Onversamelde Verse kom daar verskeie indruksgedigte en korter kamees oor die leegheid van die alledaagse lewe voor, byvoorbeeld “oorgang”, “Besluit”, “Inertia” en “Hartklop”. Ongelukkig bring dié deel geen vernuwing binne Knobel se oeuvre nie, terwyl die omdigtings in V. Vertalings / Translations van veral Supervielle na Afrikaans deur Knobel self beïndruk.
Die oogmerk van dié bundel was om die oorlede digter se 75ste geboortedag verlede jaar te gedenk; om sy stem, wat effens in die vergetelheid geraak het, weer te laat hoor en sy plek binne die Sestigers en die literêre kanon te herdefinieer. Broer Deon Knobel en samesteller Johann de Lange het hulle goed van hul taak gekwyt. As die woorde begin droom is ’n bundel vir die poësieliefhebber en versamelaar. Daarbenewens is dit ook ’n aanwins vir enige leser/student wat ernstig soek na die sin/syn/waarheid in al sy fasette, maar in veral die skadukant daarvan.
- Bestel As die woorde begin droom by Bel Monte Uitgewers:
Deon Knobel: 021 423 3661 / 082 465 3429