Streek (vir Judith Mason) deur Johann de Lange

  • 2

Hierdie gedig is by die gedenkdiens van Judith Mason voorgelees deur haar kleinseun, Simon Attwood, en ook op die gedenkbladsy afgedruk.

Streek
vir Judith Mason

1.

Onder die skamel kreupelhout
met die rifrug van die melkweg,
alleen in die wind en die weer,
teen die kreeftegang van die dood
het die jakkals sy streek verloor.

2.

Uit die bloedige desemberson
het ’n jakkals benerig & sku,
met my pen wat soos sy skadu volg,
oor die kaal ouwerf van wit papier
getrek & onder die kreupelbos
wat ek vir hom geskryf het inge-
kruip, hom opgekrul vir witbeentjie
maak, & sonder ’n geluid gevrek.

3. Droomséance

Uit die sterstilte van die vel papier
soos ’n ouijabord roep jy hulle op:
elke fabelagtige kreatuur
tree uit die skuilte van jou agterkop.

Johann de Lange

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top