Die LitNet-redaksie het aan Faeed Amardien gevra: Hoe gaan ons die onderwyskrisis oplos? Elke jaar wanneer die matriekpunte kom, sê dieselfde mense dieselfde goed. As jy die minister van onderwys kon raadgee, wat sou dit wees?
Volgens Supertaal word die woord krisis gedefinieer as ’n noodsituasie waar die funksionering van ’n stelsel ernstig gestrem is. In die konteks van die opvoedkunde, en gegewe die data wat ons jaarliks in die gesig staar, kan ’n mens byna die gevolgtrekking maak dat Suid-Afrika en sy onderwysstelsel akademies gestrem is.
Is dit problematies?
Die afleiding berus op wat kenners die retensiekoers noem. Bygevoeg is die feit dat daar ’n besluit geneem is dat 30% ’n aanvaarbare slaagsyfer is. Wat die idee rondom “akademiese gestremdheid” vererger, is leerders se onvermoë om selfs daardie 30% te behaal. Dis kommerwekkend.
’n Goeie uitgangspunt en basis vir die res van my reeks “oplossings” is die gesprek oor die huidige kurrikulum. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe dit as katalisator dien vir die “kwessies” wat ons jaarliks moet aanspreek nie. Die volgende stel ek dus voor:
a) Hoe prakties is die kurrikulum tog? Praktiese oplossings vereis dat iets partykeer prakties van aard moet wees. Dit klink amper verregaande as jy daaraan dink. Binne die raamwerk van die beleid (KABV) moet daar ruimte geskep word vir praktiese werk in elke vak, nie net in vakke soos verbruikerstudies of gasvryheidstudies Leerders is tegnologies en progressief ingestel, dus is daar hierdie “diskonneksie” tussen die verwagtinge van die kurrikulum en wat “leerders eintlik ken”. Is dit werklik ’n kognitiewe hindernis, of kan leerders hulself eenvoudig nie meer vereenselwig met die inhoud wat verouderd, en tot ’n mate “nie belangrik is vir na skool” nie? Leerders wil gesprekke voer, en didakties is dit net nie prakties nie.
b) Die relevansie van tekste, veral in taalkunde (Huistaal of Addisioneel) spreek nie tot die huidige groep leerders nie. Die debat rondom byvoorbeeld Shakespeare se werk in klaskamers laat veel te wense oor. Daar is ’n wanbalans ten opsigte van die gebruik van dialekte wat binne Suid-Afrikaanse klaskamers plaasvind. Die nuutste digitale toepassings soos TikTok bring ’n revolusie mee in die narratief rondom onderwys en sy benadering, en dis hoe neologismes ontstaan, tog word dit misgekyk.
........
Om die krisis aan te spreek, moet daar heelwat verbetering wees in die gelyke verspreiding van byvoorbeeld toerusting en hulpbronne.
........
c) Hulpbronne binne alle skole is van kardinale belang. Dit speel ’n pertinente rol vir akademiese prestasie. Hierdie aspek vorm deel van waarom die onderwysstelsel steeds in chaos Hoe prioritiseer ons die begroting vir onderwys? Wie en wat kry voorkeur? Is die onderwysdepartement tog daarvan bewus dat leerders – in ’n postdemokratiese Suid-Afrika – die skool verlaat omdat daar nie skryfbehoeftes is nie? Dis nou vyf jaar later en mense praat nog steeds oor hoe Covid onmin gesaai het, maar belangriker, ook die realiteit van ’n werkersklaskind blootgestel het. Om die krisis aan te spreek, moet daar heelwat verbetering wees in die gelyke verspreiding van byvoorbeeld toerusting en hulpbronne.
d) Die uitrol van data (lugtyd) vir skole, vir leerders. Hierdie aspek kan grotendeels help om klaskamers meer omgewingsvriendelik te maak. Hiermee bedoel ek dat, omdat byna alles gedigitaliseer word, dit onderwysers die geleentheid bied om hul pedagogiese kennis toe te pas. Leerders kan, onder toesig van onderwysers, hulle selfone gebruik sodat optimale leer geskied. Hulle kies byvoorbeeld Google classroom om werk te laai indien hulle afwesig is, om enige agterstand van inhoud te vermy. Of interaktiewe toepassings soos Quizlet, Kahoot ens deel van die lesings te maak om opwinding te skep, en dit sodoende te vergemaklik vir leerders om inhoud te begryp.
e) Tyd is nog ’n kwessie wat om praktiese redes oorweging moet kry. Gebrek aan tyd kniehalter klaskamers in terme van kreatiwiteit, groepwerk (konstruktivistiese teorie) en, baie belangrik, geleentheid vir leerders om hulle menings te verwoord, want in die meeste gevalle voel leerders weens die tydfaktor verstrengel binne ’n ruimte wat veronderstel is om pret en leersaam te wees. Sielkundig is dit bewys dat leerders inhoud verskillend prosesseer as gevolg van hul breinkapasiteit. Dis onmoontlik om te verwag dat ’n leerder vir ongeveer 55 minute moet stilsit en met inligting gebombardeer word. Dis uiteraard onprakties. Boonop is daar ’n magdom huiswerk vir ongeveer sewe vakke, vir vyf dae. Dis genoeg om enige kind weg van die skool te dryf, stokkies te laat draai, of by onwettige dinge betrokke te laat raak. Net om intellektueel af te skakel. ’n Mens sou kon argumenteer dat daar biblioteke, bordspeletjies, swembaddens is, of om met jou ouer te kommunikeer, maar weer eens ontstaan die vraag: Hoe lyk dit vir ’n werkersklaskind?
........
Weerspieël uitslae werklik nét leerders se insette, of moet daar ook na onderwysers se werksetiek gekyk word? Dis ’n ongemaklike gesprek, maar tog nodig om uitmuntende uitslae te bewerkstellig. Hoe goed berei universiteite onderwysstudente voor om in die klaskamer te staan?
........
f) Opleiding van onderwysers in wording, selfs huidige onderwysers, is ’n bron van kommer. Ek sê dit nie ligtelik nie. Weerspieёl uitslae werklik nét leerders se insette, of moet daar ook na onderwysers se werksetiek gekyk word? Dis ’n ongemaklike gesprek, maar tog nodig om uitmuntende uitslae te bewerkstellig. Hoe goed berei universiteite onderwysstudente voor om in die klaskamer te staan?
Hierdie oorwegings kan hopelik tot die algehele prentjie bydra as ons die bul optimaal en pragmaties by die horings wil pak. Dit verg ’n daadwerklike poging, van letterlik elke belanghebbende binne die onderwysstelsel.
Laastens moet elke onderwyser, ouer, en veral die onderwysdepartement en regering, ’n duidelike visie en missie hê om die samelewing in ’n beter toestand te laat as die toestand waarin hulle dit gevind het. Dis hoe ons ’n nasie bou, Dit kan geskied slegs as alle betrokkenes hul energie en passie inspan om elke leerder te “sien” vir wie hulle is, wat hulle besondere talente en behoeftes is, en hulle enorme unieke potensiaal ontwikkel. Dit kan slegs geskied as onderwysers die nodige ondersteuning en hulp kry van die owerhede wat veronderstel is om die beskermer van gehalteonderwys vir elke kind in Suid-Afrika te wees. Dit kan nie geskied as onderwysers met oorvol klasse oorrompel word nie. Laat ons as onderwysers asseblief toe om ons passie vir onderwys na die beste van ons vermoë uit te leef.
Lees en kyk ook:
Eksamenwenke aan ouers en leerders: Faeed Amardien, ’n opvoeder, gee raad
Afrikaans Huistaal se voorgeskrewe gedigte vir matrieks: Faeed Amardien se mening
Waarom KI in die klaskamer aanwend? ’n Onderhoud met Riaan van der Bergh
"Onderwys in syfers"-verslag: ’n onderhoud met Riaan van der Bergh