Eksamenwenke aan ouers en leerders: Faeed Amardien, ’n opvoeder, gee raad

  • 0

Foto van Faeed Amardien: verskaf; foto van klaskamer: Taken op Pixabay

............
As jy konsekwent was met jou huiswerk tydens die kwartaal, is die helfte van die leerwerk reeds gedoen. Leerders besef nie hoe belangrik notas in hulle werkboeke, en huiswerk, is nie. Leerders studeer alreeds as hulle vrae vir huiswerk beantwoord.
................

Faeed Amardien, ’n opvoeder by ’n skool op die Kaapse Vlakte, deel ’n paar eksamenwenke met ouers en leerders.

Faeed, ek het al vantevore op LitNet met jou gepraat, maar sal jy asseblief vertel wat jou agtergrond is en ook jou beroep?

Ek het grootgeword in Parkwood. Klein suburb op die Kaapse Vlaktes. Ek verwerf my graad in opvoedkunde by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie in 2020. Daarna het ek besluit om my honneurs in opvoedkunde by die Universiteit van die Wes-Kaap te voltooi, met ’n fokus op taal en letterkunde. Hierdie besluit om in opvoeding in te gaan berus op my jare as leerder op skool, ’n skool op die Kaapse Vlaktes wat toegerus was met baie min, of geen hulpbronne nie, hetsy dit dataprojektors, handboeke of selfs onderwysers was. Ek glo elke kind het potensiaal en die kapasiteit om grotendeels by te dra tot die samelewing. Die onderwyser is in ’n baie sleutelposisie, in die sin dat dit help om die potensiaal van die leerder te ontsluit. Jy dra by tot of die progressie of regressie van die leerder. Ek wil glo dat ek in die eersgenoemde kategorie val.

Jy is nou al ’n paar jaar in die onderwys en daar is sekerlik baie ervarings wat jy van jou kant van die lessenaar af kan deel. Wat is vir jou die belangrikste wenke wat jy in die eksamentyd vir leerders kan gee?

Ongeveer vir drie jaar is ek ’n onderwyser by Hoёrskool Plumstead. Veral met die eksamentyd is daar vele dinge wat baie kommerwekkend is. Ek deel dus die volgende wenke:

  1. ’n Studierooster is van kardinale belang. Dit is belangrik dat jy onderskei tussen meer en minder belangrike vakke. Hiermee bedoel ek dat leerders besluit watter vak(inhoud) meer dinkwerk verg. Te veel kere sien ek dat leerders vir die heel eerste keer hul boeke oopmaak die oggend as hulle die vak skryf. Ek kan dié aflei as ’n leerder vra: “What must we study?”
  2. Breinkaarte. Leerders besef nie die erns van breinkaarte en hoe dit die studies vergemaklik nie. Leerders gee hulself onnodige stres as hulle hulself bombardeer met al die notas, pakkette en aktiwiteitbladsye. ’n Breinkaart help om die lading te verminder en die gevoel van oorweldiging te verwyder.
  3. Moenie net herlees nie, maar studeer! Begryp en konseptualiseer die inligting.
  4. Ons kom almal van verskillende agtergronde, maar maak seker jou brein kry die nodige gesonde voedsel. Om ’n klomp koppies swart koffie te gaan staan en drink ’n aand voor die toets help niks. Waak hierteen. Water doen gewoonlik die trick.
.............
Breinkaarte. Leerders besef nie die erns van breinkaarte en hoe dit die studies vergemaklik nie. Leerders gee hulself onnodige stres as hulle hulself bombardeer met al die notas, pakkette en aktiwiteitbladsye. ’n Breinkaart help om die lading te verminder en die gevoel van oorweldiging te verwyder.
..............

Dink jy leerders kan op dieselfde manier vir verskillende vakke voorberei? Ek besef jy kan jou net oor jou eie vakgebied uitspreek, maar is daar iets wat jy raaksien wat sekere leerders wat goed presteer doen om goeie punte te behaal?

Ongelukkig is ons brein nie geprogrammeer om dieselfde metodes vir dieselfde vakgebied te gebruik nie. As dit werk, dan is dit wonderlik. Na aanleiding van wat ek waarneem met die leerders, is daar byvoorbeeld ’n tradisionele en konvensionele manier van studeer. Hulle lees ’n sin drie tot vier keer om dit uiteindelike te kan memoriseer. Dit werk nie altyd nie. Ek neem ’n vak soos aardrykskunde wat verskeie elemente bevat. Kaartwerk gaan op ’n ander manier benader word as die teorie. Een verg byvoorbeeld visuele geletterdheid en die ander is meer daarop gemik om die kognisie te prikkel. Leerders moet van ’n baie vroeë stadium kies wat vir hulle werk en wat nie. Maar in die algemeen kyk leerders na die memorisering van die inhoud en nie konseptualisering nie. Dis waar die fout lê.

Stres in die eksamen. ’n Goeie ding, ’n slegte ding? Wat dink jy?

Baie sal sê dat stres goed is. Dit “hou jou op jou tone”. Na my mening het dit egter verskeie nadelige gevolge. Ek sien baie gevalle waar leerders angsaanvalle kry tydens eksamen. Dit hoef nie hierdie punt te bereik nie. Ek is dalk subjektief, maar ek knak onder druk. Die stres verhoed die brein om inligting te absorbeer, want daar is eksterne faktore wat ’n rol speel. Gebruik my bietjie raad, en selfs kenners wat spesialiseer in hierdie veld. Maar dit bly heel eenvoudig as jy daarna kyk. Prioritiseer wat belangrik is en nie, want van uitstel kom afstel.

Hoe belangrik is punte regtig? Mens kan preek tot jy blou is, maar ’n kind kan ook net binne sy vermoë presteer en nie beter nie. Of hoe?

Die Onderwysdepartement maak punte geweldig belangrik. Dit kan regverdig word, want uiteindelik word hierdie punte gebruik om aansoek te doen by universiteite en kolleges. Dit spoel oor na die onderwyser wat leerders toerus met die inhoud, in die meeste gevalle net “genoeg” sodat hulle kan slaag. Met ander woorde, hulle werk met inligting wat getoets gaan word. Ek dink dis om hierdie rede dat die Onderwysdepartement die standaardpersentasie om te slaag verlaag het. Leerders se breinkapasiteite is verskillend. Dis vir my ietwat paradoksaal, want die slaagsyfer word verlaag en aangepas om leerders tegemoet te kom, maar die kurrikulum nie.

............
Leerders se breinkapasiteite is verskillend. Dis vir my ietwat paradoksaal, want die slaagsyfer word verlaag en aangepas om leerders tegemoet te kom, maar die kurrikulum nie.
.............

Die kinders in jou skool kom uit verskillende en uiteenlopende omstandighede – is ek reg? Hoe kan mens eksamentyd kinders wat dalk snags bang is as die krag af is en daar is misdaad op straat, help om rustiger te voel voor die eksamen? Dalk is hierdie vraag een aan ouers?

Dit is doodreg. Leerders kom uit verskillende agtergronde. Die een huishouding kan ’n “inverter” bekostig om die leerproses vir hulle kinders beter te maak, en die ander nie. Dis waar skole inkom. Hulle is ’n mikrokosmos van die samelewing. Skole kan dus programme skep waar daar studieruimte vir leerders gemaak word (en ek weet van skole wat dit alreeds doen). Hulle het die spasie en fasiliteite om leerders te akkommodeer. Leerders kan dus hierdie tyd gebruik om by ’n tafel te sit en studeer – iets wat sommige van hulle nie tot hul beskikking het nie. Die Wes-Kaap is in die proses om ’n beurtkragpakket aan matrikulante in minderbevoorregte gemeenskappe bekend te stel. Dit sluit toerusting in om die leerproses sover moontlik te vergemaklik. Dit is ’n absoluut wonderlike en puik inisiatief. Kinders verdien om gehoor en raakgesien te word, veral diegene wat slagoffers van hul omstandighede is.

Enige ander eksamengedagtes van jou af?

As jy konsekwent was met jou huiswerk tydens die kwartaal, is die helfte van die leerwerk reeds gedoen. Leerders besef nie hoe belangrik notas in hulle werkboeke, en huiswerk, is nie. Leerders studeer alreeds as hulle vrae vir huiswerk beantwoord.

Laastens, jy weet reeds waarom jy elke dag vroeg opstaan en skool toe kom. Hou aan met hierdie narratief. Dit is nie tevergeefs nie. Ignoreer die geraas rondom jou. Jy het die vermoë om sukses te behaal.

Alle sterkte aan elke leerder wat die Junie-eksamen binnekort gaan begin skryf.

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Eksamenwenke aan ouers en leerders: Renette Symington, ’n opvoeder, gee raad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top