Eksamenwenke aan ouers en leerders: Renette Symington, ’n opvoeder, gee raad

  • 1

Foto van Renette Symington: verskaf; foto van klaskamer: Taken op Pixabay

Renette Symington, ’n opvoeder in ’n groot plattelandse dorp, deel ’n paar eksamenwenke met leerders en ouers.

Renette, sal jy asseblief vertel wat jou beroep is?

Ek is ’n Afrikaans Huistaal-, Addisionele Taal- en LO-onderwyseres vir graad 8 tot 12.

Jy is nou al ’n paar jaar in die onderwys en daar is sekerlik baie ervarings wat jy van jou kant van die lessenaar af kan deel. Wat is vir jou die belangrikste wenke wat jy in die eksamentyd vir leerders kan gee?

– Begin vroeg genoeg leer. Dit maak dat jy inligting langer na die tyd kan onthou eerder as om alles die nag voor die tyd te probeer inprop. 

– Werk ’n studierooster uit en hou daarby. Neem ook beurtkrag in ag, want dit beïnvloed jou studietyd en beplanning. 

– Goeie voorbereiding = minder stres. 

– Bêre jou selfoon baie ver weg wanneer jy leer. Sit by ’n werksarea en skryf. Moenie op jou bed lê, na die werk staar en verwag dit gaan self in jou kop klouter nie. 

– Hou jou werk en jou boeke op datum en goed georganiseerd. Dit is baie makliker om aan die leer te kom as alles klaar bymekaar is. 

Dink jy mense kan op dieselfde maniere vir verskillende vakke voorberei? Ek besef jy kan jou net oor jou eie vakgebied uitspreek, maar is daar iets wat jy raaksien wat sekere leerders wat goed presteer doen om goeie punte te behaal?

Jy moet bewus wees van hoe jy self optimaal leer. Ek glo in skryf, skryf en skryf. Dit is ’n direkte verbinding tussen jou hand en jou brein en dit help vir vaslegging. As jy weet hoe jy optimaal leer, sal jou leerproses vinniger en meer effektief wees. 

Sekere leerders som op om die hoeveelheid minder intimiderend te maak; ander praat hardop terwyl hulle leer; en ander werk weer met musiek, kleure, ens. Daar is nie ’n one-size-fits-all nie. 

Jy kan nie bloot na syfervakke kyk en dink jy ken dit nie. Jy moet soortgelyke probleme oefen om dit baas te raak. 

Ons bied studiemetodekursusse aan met die oog op die eksamen om ouers en leerders te help besef watter leermetodes die beste vir hulle sal werk. 

Stres in die eksamen: ’n goeie ding, ’n slegte ding? Wat dink jy?

Goeie voorbereiding en genoeg leertyd minimaliseer druk en dus ook stres. Leerders is dikwels min gepla voor die tyd en skrik dan op nommer 99 wakker. As jy vroeg genoeg begin, is dit nie so oorweldigend nie. Ek dink dus ’n gesonde hoeveelheid stres motiveer leerders om ’n bietjie skouer aan die wiel te sit. 

Ons kan egter nie miskyk dat baie jongmense deesdae oorweldig voel deur druk en verwagtinge nie. Skole (en ouers) moet baie versigtig wees om nie onrealistiese verwagtinge/doelwitte aan kinders te stel nie. 

Hoe belangrik is punte regtig? Mens kan preek tot jy blou is, maar ’n kind kan ook net binne sy vermoë presteer en nie beter nie. Of hoe?

Die probleem is dat leerders nié binne hulle vermoë presteer nie. Suid-Afrikaanse skole se slaagvereistes is so laag dat jy die minste moontlik kan doen en steeds met gemak kan slaag. Leerders weet dit, so as jy nie moeite hoef te doen om deur te kom nie, hoekom sal jy? 

Die belang van punte hang van jou lewensdoelwitte af. As jy graag verder wil studeer, moet jou punte natuurlik daarvan getuig dat dit die moeite werd is om jou te keur. As jy met jou hande wil werk of ’n ander rigting wil inslaan, maak punte seker minder saak. 

Die kinders in jou skool kom uit verskillende en uiteenlopende omstandighede – is ek reg? Hoe kan mens eksamentyd vir kinders wat dalk snags bang is as die krag af is en daar is misdaad op straat en ekstra spanning as hulle wil slaap, help om rustiger te voel voor die eksamen? Dalk is hierdie vraag eerder een aan ouers.

Daar is vir seker leerders in my skool wat hierdeur geraak sal word, maar daar is definitief leerders uit ander skole wat baie erger hierdeur geraak sal word as die gemiddelde leerder in my skool. 

Beurtkrag het beslis ’n reuse-uitwerking op ons almal. Die enigste manier om dit te oorbrug is om goed te beplan. Ons weet nou al die krag is dikwels saans af, daarom móét leerders daglig optimaal benut en saans eerder ’n bietjie rus as die krag af is. 

Ons skool is ook laat middae oop vir leerders wat in ’n klas sou wou sit en voorberei vir ’n volgende eksamensessie. Verder het ons ’n SOS-sisteem waar leerders kan aanmeld en met iemand gesels as dit nie met hulle goed gaan nie. 

Verder is dit ’n plan om vir leerders hanteringsvaardighede ("coping skills") te leer. Leer hulle asemhalingstegnieke of "grounding"-tegnieke om hulle rustig te maak as hulle oorweldig voel. 

Die krag en misdaad maak seker nie net spesifiek in eksamen saak nie? Dit is seker maar oor die algemeen ’n bekommernis en uitdaging vir leerders wat uit moeiliker omstandighede kom.

Enige ander eksamengedagtes van jou af?

Net soos jy nie een middag voor ’n marathon kan oefen en verwag om fiks te wees nie, so kan jy nie een dag voor ’n eksamen wakker skrik en verwag om 100% te kry nie. Eksamenuitslae is die produk van ’n deurlopende proses. Luister in die klas en probeer afwesigheid vermy, dan hoef jy nie so baie te leer nie en is die leerwerk nie net boeke vol nuwe inligting nie. 

...........
Net soos jy nie een middag voor ’n marathon kan oefen en verwag om fiks te wees nie, so kan jy nie een dag voor ’n eksamen wakker skrik en verwag om 100% te kry nie. Eksamenuitslae is die produk van ’n deurlopende proses. Luister in die klas en probeer afwesigheid vermy, dan hoef jy nie so baie te leer nie en is die leerwerk nie net boeke vol nuwe inligting nie. 
............

Punte is belangrik, maar nie die alfa en omega nie. Ons móét kinders druk om voor te berei en goed te presteer en sodoende vir hulle ’n blink toekoms verseker, maar geen punt is belangriker as hul gesondheid en welstand nie. 

Nie alle kinders is in staat om Einstein te wees nie. En dit is oukei. Dit is ewe belangrik om ’n goeie, gawe, eerlike, nederige mens te wees. ’n Goeie punt is nie sinoniem met ’n goeie mens en eerbare karakter nie. 

Ondersteun jou kind. Onderwysers het hulle deel in die kwartaal gedoen, nou moet ouers die aflosstokkie aanvat. Bemoedig, prys, help, maak koffie en troos as vraestelle nie verloop soos die kind gehoop het nie. 

Lees ook:

Eksamenwenke aan ouers en leerders: Faeed Amardien, ’n opvoeder, gee raad

Indeks: notas, toetse en vraestelle

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top