Openbare skole se finansies: hoekom ouers in Oktober oor die geldsake van hul kinders se skole moet praat

  • 0

Riaan van der Bergh (foto: verskaf)

Riaan van der Bergh is Fedsas se adjunk- uitvoerende hoof en hoof van Fedsas se Sentrum vir Finansies en Risikobestuur. Hy praat met Naomi Meyer oor waarom ouers nou moet praat oor die finansies van die openbare skole waar hulle kinders skoolgaan.

Riaan, ek het al dikwels met Jaco Deacon oor skoolsake gepraat en in die besonder oor wetgewing. Die aspek van skole wat op die oomblik wel in die besonder in die nuus is, is skole se finansies. Behalwe dat onderwysbesnoeiings onder die loep is, en die Departement van Onderwys se geldelike tekorte, waarom behoort ons juis nou oor finansies en begrotings van openbare skole te praat?

...........
Dit is belangrik om die makroprentjie in die onderwyslandskap te verstaan. Daar is 22 511 openbare gewone skole, waarvan slegs 2 950 kwintiel 4- en 5-skole nog gelde hef. Dit is die skole waar die ouers by ’n begrotingsvergadering oor die skoolfonds stem. Hierdie fondse vul nie net die befondsing van die staat aan nie, maar in die meeste gevalle is die staat se toewysing ’n baie klein persentasie van die skool se totale begroting.
..............

Dit is belangrik om die makroprentjie in die onderwyslandskap te verstaan. Daar is 22 511 openbare gewone skole, waarvan slegs 2 950 kwintiel 4- en 5-skole nog gelde hef. Dit is die skole waar die ouers by ’n begrotingsvergadering oor die skoolfonds stem. Hierdie fondse vul nie net die befondsing van die staat aan nie, maar in die meeste gevalle is die staat se toewysing ’n baie klein persentasie van die skool se totale begroting. Skole kry staatsbefondsing op grond van die kwintielstelsel. Kwintiel 1–3-skole se toewysing is R1 672 per leerder in 2024, terwyl ’n kwintiel 5-skool se toewysing R289 is en ’n kwintiel 4-skool R838 per leerder kry.

Elke skool kry ook ’n toedeling van poste vir onderwysers en nie-onderwysers op grond van die aantal leerders. Hierdie poste word deur die staat befonds. Die koste van personeel en die toewysing per leerder is dus ’n enorme bedrag en koste vir die fiskus. Benewens die staat se koste dra ouers in skoolgeldheffende skole die las vir eerstens die verskil tussen die kwintieltoedeling, maar tweedens ook die addisionele koste om die gehalte van onderwys te verhoog met aanvulling van die staat se fondse. Dit is ’n verwagting van artikel 36 van die SA Skolewet. Ons navorsing toon dat die grootste gedeelte van skole se begrotings aan addisionele personeel bestee word. Dit verskil van skool tot skool, maar vorm nagenoeg 60% van skole se begrotings.

Ouers stem dus by die skool se algemene jaarvergadering vir die begroting om die inkomste van staatsweë aan te vul sodat die gehalte van die onderwys by die skool kan verbeter. Skole wat gelde hef, het ook ’n groot las van onderhoud aan die perseel, sowel as die koste van munisipale dienste.

..........
Met dit alles in ag geneem, behoort skole baie noukeurig te begroot om seker te maak die beperkte hulpbronne word optimaal benut, en om verder te verseker dat hulle nie die ouergemeenskap wat die gelde betaal, oordadig belas met ’n onbekostigbare verhoging nie.
.............

Met dit alles in ag geneem, behoort skole baie noukeurig te begroot om seker te maak die beperkte hulpbronne word optimaal benut, en om verder te verseker dat hulle nie die ouergemeenskap wat die gelde betaal, oordadig belas met ’n onbekostigbare verhoging nie.

Net om dalk met die makroblik af te sluit: Die besnoeiings het ’n radikale impak in die sektor en te meer op die leerders en die gehalte van onderwys. In die geen-gelde-skole (nagenoeg 80%) is die toewysing van fondse en onderwysers die enigste hulpbronne wat onderwys bewillig. Dit is reeds op die been, en om daaraan te sny het ’n groot impak. In fooiheffende skole betaal ouers vir die tekort, en vir elke pos wat verloor word, moet die ouers kollektief nog ’n salaris befonds bo en behalwe die gelde wat reeds betaal word. Verder groei munisipale dienste se koste teen hoër koerse as inflasie en die geboue verouder, wat dus jaarliks meer onderhoud benodig.

Gaaf, so ouers moet nou in Oktober die openbare skole se finansies by begrotingsvergaderings goedkeur. My gevoel is die meeste ouers laat baie aspekte van hierdie soort finansiële beplanning van hul kinders se skole doodgewoon aan die beheerliggame oor. Hoekom moet ouers dan hierby betrokke wees – en hoe kán hulle betrokke wees?

Eienaarskap en verantwoordelikheid. Die “openbare” aard van ons skole plaas die eienaarskap van ons skole in die gemeenskap, en die model van samewerkende beheer deur die beheerliggaam versterk dit. ’n Skool met betrokke ouers het ’n baie groot voordeel. Ongelukkig laat baie mense dit wel oor aan die “skool” (asof hulle net verbruikers is) en verwag dat ander ouers die leiding moet neem en die las moet dra. Dit speel uit in betrokkenheid, deelname, bydrae en selfs tot by oninbare fooie weens vrystelling en wanbetaling.

Ons benadering is dat ouers eienaarskap moet neem en werklik gestalte moet gee aan die openbare-skool-aard van ons skole. Ons moet nie net agteroorsit en wag vir die regerings om die skool te lei nie. Ons het nie “staatskole” in Suid-Afrika nie en het dus die voorreg, reg en verpligting om deel te wees van ons kinders se onderwysreis. Ouers het die verantwoordelikheid om by die skool betrokke te raak vir hulle eie kinders en ook die gemeenskap se kinders se voordeel.

..........
Ons sien maklik die “koste van” skoolfonds, maar ons moet dalk die narratief verander na die “belegging in” skoolfonds. ’n Belegging het ’n ander geur, want daar is toekomstige voordeel daaraan, terwyl koste maklik gesien word as ’n korttermynuitgawe.
.............

Ons sien maklik die “koste van” skoolfonds, maar ons moet dalk die narratief verander na die “belegging in” skoolfonds. ’n Belegging het ’n ander geur, want daar is toekomstige voordeel daaraan, terwyl koste maklik gesien word as ’n korttermynuitgawe.

Ouers kan betrokke raak deur beskikbaar te wees as kandidate vir die beheerliggaam en komitees van die beheerliggaam. Ouers behoort die verkiesing te ondersteun deur te stem. Ouers moet die begroting bestudeer om ingeligte besluite te neem tydens die begrotingsvergadering, wat hulle ook moet bywoon.

Dit is jou geld en dit is jou kind of kinders. Onbetrokkenheid is nie ’n opsie nie.

Elke skool sal sy eie finansiële behoeftes hê. Wat is na jou gevoel universele behoeftes waarvoor alle skole geld in hul beplanning behoort in te sluit? Ononderhandelbare gelde wat toegeken moet word?

Dit is krities belangrik dat die skool sal gaan kyk na sy kernbesigheid. Dit is onderwys van die leerplan, maar ook om ons leerders voor te berei vir die wêreld van werk nadat hulle skool of die universiteit verlaat. Die skool moet geld spandeer om onderwys van gehalte aan te bied en aan te vul. Addisionele onderwysers kry oor die algemeen ’n groot fokus.

Addisionele onderwysers: Dit beteken kleiner klasse, meer kapasiteit.

Goeie bestuur en beheer: Skole stel addisionele administrasie- en finansiespersone aan.

Terrein: Skool en onderwys vind plaas op ’n terrein en binne geboue. Addisionele terreinamptenare en konstante onderhoud aan geboue verseker die veiligheid van leerders en ’n veilige leeromgewing.

Buitemuurse aktiwiteite: Die beheerliggaam bepaal buitemuurse aktiwiteite wat die leerders addisionele ontwikkelingsgeleenthede bied.

Akademiese ontwikkeling en vooruitgang: Tegnologie in die klaskamer, nuwe vakke en leergereedskap soos kodering en robotika, leesprogramme en beroepsvoorligtinghulpmiddele.

Munisipale dienste: Die ligte moet bly brand en die water moet bly spoel.

Wat is unieke gelde binne verskillende skoolomgewings waarvoor skole voorsiening moet maak? Sal ’n skool byvoorbeeld geld opsy moet sit vir kinders wat nie kos het nie, om kospakkies te voorsien, of sal die ouers dalk intern gevra kan word om hiermee te help? En dan, wat van verrykende soort uitstappies vir kinders van alle agtergronde, om hulle te leer van kuns of kultuur of erfenis – is dit iets waarvoor ouers in die skool se beplanning kan besin? Voorgeskrewe boeke, nuwe boeke vir die biblioteek, funksionerende badkamers of opknappingswerk en ’n nuwe voorkoms van ’n voorportaal ... Waarheen moet die geld gaan as dit by ekstras kom?

...........
Elke skool moet sy gemeenskap dien. Konteks is van kardinale belang wanneer dit kom by die aanwending van hulpbronne.
.............

Elke skool moet sy gemeenskap dien. Konteks is van kardinale belang wanneer dit kom by die aanwending van hulpbronne. Om die voorbeeld dalk om te gooi: Dink ons dit is belangriker vir skole om toilette te hê as tablette? Tablette kan later kom, maar kry eers die basiese in posisie. Die skool moet sy gemeenskap ken en bedien.

Unieke geld moet definitief unieke probleme aanspreek. Kospakkies en broodjies word daagliks by baie skole aangebied waar daar nie ’n skoolvoedingskema is nie. Terloops, 9,7 miljoen leerders kry daagliks by die skool kos as deel van die skoolvoedingskema (NSNP). Daar is nagenoeg 13 miljoen leerders op skool. Dit kleur dalk die ekonomiese prentjie verder in.

Die tipe buitemuurse aktiwiteite wat skole aanbied, mag verskil. Skole het fokus op verskillende aktiwiteite. Dit sluit sport en kultuuraktiwiteite in. Toere en uitstappies verskil van skool tot skool. Baie van hierdie aktiwiteite is vrywillig en ouerbefonds, maar skole doen ook sekere instappies en uitstappies om aan alle leerders blootstelling te gee.

Verder mag een skool dalk ’n eie bus benodig en ander skole huur busse. Sommige skole bou ’n kunsgrashokkieveld en ander rus dalk ’n rekenaarsentrum toe. Dit verskil van skool tot skool, maar die beginsel bly dat elke skool sy unieke konteks moet verstaan en bestuur.

Die unieke gelde moet die skool se bestaansrede en visie ondersteun. Unieke gelde moet die basiese behoeftes aanspreek, maar ook die unieke aard van die skool, die kultuur en identiteit.

Wat is die belangrikste rede waarom ouers nou oor finansies moet praat – en vir ouers om betrokke te wees by hul kinders se skole, ook in finansiële opsigte?

.......
Die skole-ekonomie is onder druk. Die stert of skaduwee van die grendelstaat tref die makro-ekonomie hard en dit tref die skole. Met die ekonomiese druk en die besnoeiings in staatsbesteding is Fedsas se benadering dat “elke sent tel”.
............

Die skole-ekonomie is onder druk. Die stert of skaduwee van die grendelstaat tref die makro-ekonomie hard en dit tref die skole. Met die ekonomiese druk en die besnoeiings in staatsbesteding is Fedsas se benadering dat “elke sent tel”. Daar was eintlik geen tyd in die verlede om nie ernstig na die finansiële aspekte van skole te kyk nie, maar die akute aard van die huidige omstandighede noodsaak dat ons nou die kollig daarop plaas. Die uitdaging vir skole is om die bekostigbaarheid van skoolfonds te balanseer met waarde-vir-geld-onderwys. Ons navorsing wys dat oninbare skoolfonds skerp groei en dat die volhoubaarheid van skole onder druk is. Verder is dit nie maklik om buitensporige verhogings in skoolfonds te regverdig nie, maar sekere insetkoste styg met meer as inflasie, terwyl onderwysposte gesny word.

Die aanhef tot die Grondwet begin met die woorde “Ons die mense ...” Ons as ouers en burgers moet eienaarskap neem en betrokke wees by die openbare skool waar ons kinders leer en leef. Ons kan nie terugstaan en wag vir “hulle, die ander” nie. “Die ander” kan die regering of staat wees, ’n ander politieke party, ’n groot besigheid, dalk iemand in die buiteland of selfs ’n klein groepie ouers van die skool. Ouers moet nou besef wat hulle het in ’n goeie openbare skool, want die alternatiewe is nie rooskleurig nie. Dit is óf baie duur óf minder funksioneel. As geld die wêreld laat draai, is dit skoolfonds wat die skoolklok laat swaai.

Lees ook:

SA Skoleseminaar: Besnoeiing van onderwysbefondsing

Krisis in die onderwys: ’n onderhoud met Hanlie Dippenaar

Is verengelsing die Bela-wet se skuld?

BELAB onderteken: ’n onderhoud met Jaco Deacon

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top