Is verengelsing die Bela-wet se skuld?

  • 0

Foto: Pexels

President Cyril Ramaphosa het die Bela-wysigingswetsontwerp, behoudens die twee omstrede klousules oor taal en toelating, onderteken.

Hy wys hiermee hoe jy nie noodwendig meer as helfte van die stemme hoef te trek om seges te behaal nie. Jy hoef net die grootste te wees terwyl die ander in ’n warboel verkeer. Daar sal nou beraadslaag word voordat ’n besluit oor hierdie klousules geneem sal word. So asof daar nie reeds genoeg tyd was om dit te bespreek of te wag vir hierdie beraadslaging om afgehandel te word voor hy dit teken nie. Ramaphosa het egter reeds wat sy ondersteuners betref, ’n sege behaal. Soos ’n goeie vakbondonderhandelaar het hy vir meer gevra as wat hy oorspronklik wou gehad het, gekry wat hy eintlik wou hê, en kantlyn toe geskop vir die oorblywende dele.

..........
Maar om te Bela of nie te Bela nie is eintlik nie ter sake nie. Dit lewer dalk lekker nuus op, maar die lot van Afrikaans as voertaal in skole hang van meer af as net een wet. Bela is ’n strydkreet vir rolspelers aan albei kante van die geveg, maar ook ’n skuifmeul vir veel meer prosaïese maar harde werklikhede.
.............

Maar om te Bela of nie te Bela nie is eintlik nie ter sake nie. Dit lewer dalk lekker nuus op, maar die lot van Afrikaans as voertaal in skole hang van meer af as net een wet. Bela is ’n strydkreet vir rolspelers aan albei kante van die geveg, maar ook ’n skuifmeul vir veel meer prosaïese maar harde werklikhede.

Demografie se angel 

Ek was in twee hoërskole aan die Wes-Rand. Ek was eintlik net avontuurlustig toe ek van skole wou verander, maar my ouers het my ook nie teengegaan nie en selfs voorstelle gemaak vir ’n volgende skool. Ek het goeie vriende in beide my skole gehad en nog ontmoet toe ek geskuif het. Dus wou ek nie na skole ver weg van die huis en vriende gaan nie.

Daar was toe steeds talle goeie enkelmedium Afrikaanse opsies net op die Wes-Rand. Dubbelmedium ook. Vandag kan jy hulle op jou een hand tel. Skole soos Hoërskool Noordheuwel het daarby gebaat deurdat hulle hul getalle en finansies kon konsolideer deur kinders uit ’n wyer gebied te trek. Vandag is hulle byvoorbeeld ’n top 20-rugbyskool wat selfs soms bo die naburige Hoërskool Monument op ranglyste pryk. Dit was ondenkbaar 20 jaar gelede.

Maar verreweg die meeste skole het verengels. Die hoofrede? Demografie. Die demografiese omgewing rondom hierdie openbare skole het dermate verander dat hulle net eenvoudig nie as Afrikaanse skole kon bly voortbestaan nie. Hoërskool Noordheuwel is die uitsondering, omdat dit in ’n welgestelde Afrikaanse omgewing geleë is. Skole nader aan die sakekerne van Roodepoort en Krugersdorp het almal verengels, terwyl hulle egter nog die oorspronklike Afrikaanse name behou. Dit het alles gebeur sonder die Bela-wet.

Dit is die storie van honderde Afrikaanse skole regoor die land sedert 1994. In stedelike provinsies soos Gauteng het Afrikaanssprekendes minder kinders gekry en uit sekere gebiede getrek (na elders of die buiteland), maar is hulle nog sterk in sekere gebiede verteenwoordig, terwyl ryk en arm mense uit ander bevolkingsgroepe by die duisende intrek op soek na dienste soos onderwys. Daar is dus dubbele druk op Afrikaanse skole, maar ook ’n voortdurende proses van konsolidasie aan die gang. Die platteland is buitendien meer yl bevolk, en alle groepe, maar veral Afrikaners, het sedert 1994 daaruit weggetrek. Dit verklaar hoekom daar slegs enkele enkelmedium Afrikaanse skole in Mpumalanga en Limpopo oor is. Daar moet ook nie uit die oog verloor word dat baie Afrikaanssprekendes gekies het om hul kinders na Engelse skole te stuur nie. Of dat hulle hul kinders tuis onderrig en/of na kleiner onafhanklike skole stuur. Soos met die Afrikaanse kerke is die roete van samesmelting met skole ook gevolg om oorlewing op beide die platteland en die stede te verseker. Dit het egter nie altyd die probleem opgelos nie.    

........
Wat word dan van die minder gegoede Afrikaanse kinders wat ook in hul moedertaal wil leer? Met straks die Wes- en Noord-Kaap as uitsonderings is ’n swakkerige Engelse skool en later ’n Engelse werksomgewing hul voorland.
........

Daar is natuurlik uitsonderings, en soms kan parallel-/dubbelmedium volhoubaar werk, maar weliswaar slegs as daar geld, tradisie en prestige betrokke is. En die skole lank reeds bestaan en resultate lewer. As dit nie reeds in die vroeë ’90’s privaat geraak het nie, sou Hoërskool Helpmekaar net nog ’n Parktown Boys’ High School gewees het as gevolg van die gebied van Johannesburg waarin dit geleë is. Hoërskool Monument se nis, sport (veral rugby), en puik akademie, maak dit ’n elite skool wat, anders as ander, naby geleë skole, as ’n oorwegend Afrikaanse skool kan bly voortbestaan. Hoër Jongenskool en Meisieskool (oftewel onderskeidelik Paarl Boys’ High en Paarl Girls’ High), sowel as Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl is ou dubbelmedium skole. Ditto Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Hulle is ook elite skole wat sport en akademie betref en is reg geleë. Hierdie skole se skoolgelde weerspieël hul aansien en prestasies, en jou kind kry nie goedsmoeds toelating tot hulle nie. Dit verklaar ook hoekom soveel Afrikaanse skole in die ooste van Pretoria en Centurion oorleef en floreer, maar nie in die weste en selfs noorde van Pretoria nie.

Dit laat noodwendig die vraag ontstaan: Wat word dan van die minder gegoede Afrikaanse kinders wat ook in hul moedertaal wil leer? Met straks die Wes- en Noord-Kaap as uitsonderings is ’n swakkerige Engelse skool en later ’n Engelse werksomgewing hul voorland. Afrikaans as huistaal sal waarskynlik op die duur hieronder ly. Sterk tekens hiervan is reeds in die bruin gemeenskap te bespeur. Die politieke druk sal tewens mettertyd oplaai op die oorblywende Afrikaanse (veral enkelmedium) skole wat nog oor genoeg hulpbronne beskik om doeltreffende onderrig te lewer.

Bela gaan oor meer as net taal 

Terwyl veral die Afrikaanse media amper miopies en onafwendbaar op die gewraakte taal- en toelatingsaspekte van die Bela-wetsontwerp gefokus het, is dit nie al waaroor dit gaan nie. Sekere ander aspekte daarvan kan inderwaarheid Afrikaanse skole tot voordeel strek, terwyl ander edel maar in die praktyk onuitvoerbaar of kosmeties is. Vat byvoorbeeld die vereiste dat graad R nou verpligtend is. Dit sal die Afrikaanse skole dwing om te verseker dat hulle oor meer kinders jaarliks beskik, derhalwe hul kapasiteit ten volle benut, en hul infrastruktuur kan uitbrei soos die behoefte ontstaan.

Onder andere tronkstraf vir ouers wat hul kinders nie laat skoolgaan nie, is ’n oorvereenvoudigde oplossing vir ’n probleem wat veel groter en komplekser is. Bowendien klink dit amper so kranksinnig en onprakties soos die MK Party se voorstel om ongehude ma’s en hul kinders se pa’s na Robbeneiland te stuur. Hier doem die vraag op: Het die onderskeie provinsiale onderwysdepartemente en ander owerhede, soos die howe, werklik die vermoë om aandag aan alles te gee? Ek twyfel, maar dit maak ook nie nou saak nie. Voorts geld die verbod op lyfstraf al vir ’n wyle en Bela is net ’n rubberstempel.

Amptelike oorsig van tuisonderrig is iets wat ek op sigself versigtig verwelkom. Hoewel ek nie ’n voorstander van staatsinmenging in gesinne se lewens is nie en tuisonderrig baie keer ten minste goeie skolastiese resultate oplewer, het ek ook al gesien hoe hierdie praktyk skeefloop omdat ouers hul eie vermoëns oorskat. Heelwat kinders wat later wel begin skool bywoon, moet eers agterstande uitwis of jare herhaal om op peil te kom. Die laaste ding wat ek enige kind toewens, is dat daar bedenkinge oor hul skoolonderrig hang as hulle skool moet verlaat om te werk of verder te studeer. Hierdie ouers is ook tot ’n groot mate gekant teen stem in verkiesings, omdat “sake van die staat” en die politiek kwansuis vir hulle irrelevant is. Wel, die politiek het nou by hul voordeur opgedaag en nou huil hulle hard op sosiale media. Dalk moet hulle hulself net vergewis van wat in wetgewing soos Bela staan voordat hulle met trots weier om te stem.

Oplossings en hardnekkige uitdagings

Private Afrikaanse skole is seker een deel van die oplossing, maar selfs dit het sy eie slaggate. Eerstens is dit kapitaalintensief om sonder staatshulp op te rig, en duur om te bedryf, en die gelde sal desnoods hoog wees. Dit moet sakesin maak en op skaalbesparings berus, en sal dus beperk word tot slegs sekere gebiede binne stede. Dit is dus nie ’n oplossing vir die hele Afrikaanse gemeenskap nie, altans nie in die afsienbare toekoms nie. Die Joodse gemeenskap het onder andere lank reeds die King David-groep van private skole vir hul gemeenskap in Johannesburg opgerig en bied die volle leerervaring van voorskool tot hoërskool op verskillende kampusse. Die model is egter al meer as 70 jaar oud en die Afrikaanse gemeenskap is dus ver agter om so iets te vermag.   

Om wetgewing soos Bela in die howe te beveg is goed, maar het ook wesenlike tekortkominge. Dit los nie die probleem van toegang en die gepaardgaande politiek op nie. Die feit is daar word veral in Gauteng te min skole gebou, en te veel openbare skole is disfunksioneel. Dit het te make met die ANC se onbevoegdheid (of is dit deel van hul plan?) en hul vakbondvennote se militante ingesteldheid. Solank Afrikaanse skole eilande van uitnemendheid is in ’n see van treurigheid en verval, sal die politieke druk voortduur en selfs in felheid toeneem. Die ANC en ideologies verwante partye sal letterlik op hierdie enkele kwessie verlore steun kan terugwen by die stembus soos die DA lyk soos ’n party wat (grootliks wit) taalregte bo (grootliks swart) toegang steun. Dit sal hulle ’n 20–25%-party laat bly en een wat nooit die finale woord oor sulke kwessies kan spreek nie.

Die omstrede Bela-klousules sal die DA se standvastigheid hieroor toets, en dit was ’n meesterskuif om dié party se Siviwe Gwarube as minister van basiese onderwys in die RNE aan te wys. As die onderskeie rolspelers mekaar nog nie ná drie maande kan vind oor die omstrede artikels nie (wat waarskynlik is), sal sy, ondanks instruksies deur haar party om dit te alle tye teen te staan, alles wat dan besluit word, in werking moet stel. Indien nie, kan Ramaphosa haar verwyder. Daarbenewens is dit sterk te betwyfel of Gwarube, ’n alumnus van ’n Engelse skool en universiteit in die Oos-Kaap, en John Steenhuisen, wat aan Northwood High School in Durban gematrikuleer het, werklik oor Afrikaanse onderrig sou omgee as hulle politieke loopbane nie daarvan afgehang het nie. Albei sou eerder op die regruk van alle skole en vermeerdering van onderwysers wou fokus, maar Ramaphosa het Bela nou hul grootste toets gemaak.   

Die probleem van toegang en taal het politieke, grondwetlike en demografiese wortels wat uiteindelik nie deur hofsake opgelos kan word nie. Artikel 29 in die Grondwet se Handves van Regte sal getoets moet word. Subartikel 2 hiervan bepaal dat enigiemand die reg het om onderrig in die taal van hul keuse te ontvang en dat “die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings moet oorweeg” (eie klem bygevoeg). Dit moet egter geskied met inagneming van billikheid, doenlikheid en “die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel”.

Subartikel 3 bepaal daarna die volgende: “Elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou.” Sulke instellings mag egter nie op grond van ras diskrimineer nie, hulle moet by die staat geregistreer wees en “standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is vergeleke met standaarde by vergelykbare openbare onderwysinstellings nie”. Eersgenoemde subartikel plaas baie hedendaagse openbare Afrikaanse skole in ’n prekêre posisie wat – soos vroeër aangedui – reeds honderde Afrikaanse skole se einde beteken het, selfs sonder Bela of hofsake.

Die Wes-Kaap (en selfs die Noord-Kaap) se taallandskap, demografie en politiek plaas dit egter in ’n veel gunstiger posisie as ander provinsies wat Afrikaanse openbare skole betref – selfs Gauteng. Die kwessies van doenlikheid, billikheid en behoefte rondom regstelling is makliker indien die meerderheid in ’n betrokke gebied voorheen (én steeds tans) benadeeld is, maar ten minste ook Afrikaans magtig is. Daar is nie iets soos ’n Afrikaner-skool in die Wes-Kaap nie. Dis bloot Afrikaanse skole, en hulle sal Afrikaans kan handhaaf, selfs al word Bela in sy huidige gedaante van krag. Dis seker hoekom Bela ’n kwessie van geen belang in die Wes-Kaap is nie.  

........
 Die stryd téén Bela of vír moedertaalonderrig moet geensins slegs deur wit Afrikaners geveg word nie, want anders is dit futiel en sal dit slegs klein en tydelike toegewings en skynseges oplewer.
........

Kortom, die volhoubaarheid van my kinders se gehalte en aard van onderrig is ’n groot rede hoekom ek Pretoria vir die Boland verruil het. Hoewel ek myself steeds as ’n Afrikaner ag, gaan dit vir my bloot oor moedertaalonderrig en die breë kultuur wat daarmee gepaard gaan. Ek het geen erg aan ’n spesifieke identiteit of eng en verskuilde agendas wat daaraan gekoppel word nie. In my Afrikaanse tent is almal welkom, en trouens verwelkom ek dit dat enige kind in Afrikaans onderrig word. Dit verseker samehorigheid tussen alle Afrikaanssprekendes, ’n breë front as die taal wel bedreig word, en versterk die taal sodat dit nie net in beperkte ruimtes soos skole gebruik word nie. Die stryd téén Bela of vír moedertaalonderrig moet geensins slegs deur wit Afrikaners geveg word nie, want anders is dit futiel en sal dit slegs klein en tydelike toegewings en skynseges oplewer. Ek erken ook hiermee dat minstens sommige Afrikaanse skole in die noorde meer divers geword het, maar die politieke en demografiese druk daar is toenemend ongunstig vir Afrikaans, omdat die meeste swart ouers en leerlinge en die provinsiale regerings maklik Engels bo Afrikaans kies as daar ’n keuse gemaak moet word.  

Ewenwel, subartikel 3 skep egter heelwat ruimte vir private inisiatief, al skep die koste en praktiese doenlikheid daarvan ’n hoë hekkie om oor te spring. Dit is die mees vermoeiende en as’t ware die enigste lewensvatbare pad vir Afrikaanse enkelmedium skole in die noorde en sentrale dele van die land op die lang duur. En as dit eers opgerig is, sal dit ook à la openbare skole beskerm moet word.          

Bela se uiteinde oor die twee omstrede artikels sal waarskynlik ’n kompromis wees dat taalbeleide gesamentlike deur die departemente en beheerliggame bepaal word, gegrond op demografiese faktore (wat deurentyd verander). Netwerk24 het onlangs berig dat die Gautengse departement reeds druk toepas op beheerliggame om meer kinders per klas in Afrikaanse skole in die Moot in Pretoria in te neem omdat die demografie van die gebied besig is om te verander. Baie Afrikaanse skole daar het al verengels of na dubbelmedium oorgeskakel. Die status quo gaan dus allig heers, net met meer gebiedende oorsig en druk deur die staat. Dit is nie slegs wat in die howe en politiek gaan gebeur wat saak maak nie.       

Lees ook:

Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank "redelikerwys doenlik"

BELA-wetgewing en Afrikaans op skool: Merlyn van der Rheede gee haar mening

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

Internasionale moedertaaldag 2024 en die belang van moedertaalonderrig

Die BELA-konsepwet is aanvaar: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Regering van Nasionale Eenheid se toekoms in gedrang oor Bela-wet

Die land gis of die Bela-wet die RNA gaan kelder

BELA-wetsontwerp: Gaan Afrikaanse skole bly of gly?

BELAB: ’n onderhoud met Jaco Deacon

The Basic Education Laws Amendment Bill (BELAB): what parents should know

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top