...........
BELA is nie die antwoord op die onderwysprobleme nie. Die staat moet hulle rol vervul deur voldoende skole te bou en vir ’n stabiele onderwysomgewing te sorg.
..............
Jaco Deacon beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die BELA-wetsontwerp en wat ouers en ander gewone Suid-Afrikaners te doen staan.
Jaco, wat het nou met die BELA-wetsontwerp gebeur?
Die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys het hulle werk afgehandel en die konsepwet is aanvaar. Die wetsontwerp moet nou deur die Nasionale Vergadering (NV) gedebatteer en aanvaar word. Die wetsontwerp moet daarna deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar word voordat dit na die President vir ondertekening gestuur word voordat dit ’n wet sal wees.
Hoe beïnvloed dit ons almal, as ouers – alle ouers – in hierdie land?
Die konsepwet raak ouers op verskillende maniere. Ouers is in die meerderheid op ’n skool se beheerliggaam en die struktuur neem belangrike besluite, soos oor taal, toelating en godsdiensbeleide. Die konsepwet wil beheerliggame se magte oor taal en toelating inperk deur die finale besluit in die hande van ’n provinsiale onderwyshoof te plaas.
Daar is ook strafbepalings indien ouers vals inligting aan die skool verskaf .
Ouers wat kies om hulle leerders tuis te onderrig, sal aan strenger vereistes moet voldoen indien die konsepwet aanvaar word.
Taal en toegang en geleenthede – dis so belangrik dat kinders in goeie skole kan wees en goeie landsburgers kan word. Kan die BELA-wetgewing nie hiermee help nie?
Geen van die bepalings in BELA gaan sorg vir goeie skole of goeie landsburgers nie. Die teendeel kan eerder gebeur, naamlik dat die staat goeie skole se taalbeleide kan verander of goeie skole oorvol kan maak met beheer oor toelatings.
...........
Geen van die bepalings in BELA gaan sorg vir goeie skole of goeie landsburgers nie. Die teendeel kan eerder gebeur, naamlik dat die staat goeie skole se taalbeleide kan verander of goeie skole oorvol kan maak met beheer oor toelatings.
...........
’n Deel van die antwoord is dat die staat genoeg skole moet bou, goeie opvoeders moet voorsien en moet seker maak dat goeie onderrig daar plaasvind. Ons het tot ’n groot mate voldoende wette, regulasies en beleid, maar ons skiet te kort by uitvoering.
............
Alle navorsing wys op die voordele van moedertaalonderrig en die Minister het self nou die motivering om dit ’n werklikheid te maak, maar dan moet daar voldoende hulpbronne voorsien word. Daar moet voldoende opvoeders toegerus en opgelei wees en goeie leermateriaal moet beskikbaar wees.
.............
Alle navorsing wys op die voordele van moedertaalonderrig en die Minister het self nou die motivering om dit ’n werklikheid te maak, maar dan moet daar voldoende hulpbronne voorsien word. Daar moet voldoende opvoeders toegerus en opgelei wees en goeie leermateriaal moet beskikbaar wees. Ek voorsien egter dat burokrate eerder hulle moontlike magte in BELAB sal gebruik om Engels op almal af te dwing.
Is dit werklik Afrikaans wat in die spervuur is, of is dit net mense se persepsies dat dit so is?
As daar geluister word na die opmerkings van lede van die portefeuljekomitee, is dit duidelik dat baie lede Afrikaanse skole beskou as instelling wat diskrimineer. Panyaza Lesufi se standpunte oor Afrikaans is ook bekend en ek dink die Afrikaanse gemeenskap is met rede bekommerd. Ons het oor die jare te veel gesien hoe Afrikaanse skole verdwyn, en dit was nie net weens ’n afname in die getal Afrikaanse leerders nie. Daar is steeds ’n persepsie dat daar baie oop plekke in Afrikaanse skole is, en dis eenvoudig nie die geval nie.
Wat kan ons doen, en sou dit enige verskil maak?
BELA is nie die antwoord op die onderwysprobleme nie. Die staat moet hulle rol vervul deur voldoende skole te bou en vir ’n stabiele onderwysomgewing te sorg. Ons het goeie skoolhoofde nodig met genoegsame bevoegdheid om swak prestasie aan te spreek, en ons moet ons passievolle jong opvoeders behou en loopbaangeleenthede skep. Ons het betrokke skoolgemeenskappe nodig met ouers wat die skool ondersteun en betrokke is by die onderrig van hulle kinders. Alle skoolgemeenskappe moet eienaarskap van hulle skole neem en seker maak dat daar goeie onderrig is, die fasiliteite nie net opgepas word nie, maar ontwikkel word. Ons het goeie ouers nodig wat op die skool se beheerliggaam sal dien en gratis hulle tyd en kundigheid in die beste belang van die skool beskikbaar sal stel. Ons moenie moed verloor nie – ons het steeds baie goeie skole en goeie voorbeelde van wat gedoen kan word as ons saamstaan.
Lees ook:
FEDSAS-persverklaring oor BELA: Is die koeël deur die kerk vir onderwys?
Skoleseminaar en die Wysigingswetsontwerp: Lesufi is die brein agter Afrikaans se verkragting
Khawufane ucinge SA schools seminar: Mphuthumi Ntabeni responds