Die beste onderwysstelsels in die wêreld is sterk voorstanders van moedertaalonderrig. Finland word byvoorbeeld gereken as een van die wêreld se beste onderwysstelsels. Suid-Afrika kan gerus daar gaan kers opsteek.
Die Departement van Basiese Onderwys het onlangs uitsprake gelewer oor die belang van moedertaal onderrig in inheemse Afrikatale. Hierdie is nie ’n vreemde konsep vanuit die geledere van die departement nie, gegewe dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, verlede jaar in Junie reeds daaroor ’n toespraak gelewer het tydens ’n taalbeleidskonferensie in Johannesburg.
..............
Dit word universeel aanvaar dat onderrig in die moedertaal van ’n leerder ’n bemagtigingsinstrument is. Internasionale navorsing op verskeie vlakke bewys dat die basiese konsepte van enige vak eers in die moedertaal bemeester moet word voor meer komplekse begrippe in ’n ander taal bemeester kan word.
..............
Dit word universeel aanvaar dat onderrig in die moedertaal van ’n leerder ’n bemagtigingsinstrument is. Internasionale navorsing op verskeie vlakke bewys dat die basiese konsepte van enige vak eers in die moedertaal bemeester moet word voor meer komplekse begrippe in ’n ander taal bemeester kan word. In Suid-Afrika is moedertaalonderrig toenemend in die politieke visier. Die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig kan nie oorbeklemtoon word nie en dit wil nou voorkom asof die Departement van Basiese Onderwys dit byna herontdek het.
’n Internasionale organisasie soos die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco), ondersteun navorsing wat daarop dui dat moedertaalonderrig ondersteun moet word. Die organisasie skryf ’n minimum van ses jaar moedertaalonderrig voor alvorens ’n leerder in ’n ander taal, byvoorbeeld Engels, begin leer. (Lees ook hierdie ander artikel daaromtrent.) Hierdie norm stel egter ’n groot uitdaging aan lande waar hulpbronne en gehalte-onderwys skaars is. In hierdie lande skuif die tydperk vir moedertaalonderrig op na agt jaar. Dit kan verklaar waarom leerders in Suid-Afrika se lees- en begripsvermoё so laag toets. Die swak prestasie van baie leerders in die nasionale matriekeindeksamen kan direk toegeskryf word aan onder andere die gebrek aan moedertaalonderrig in die vormingsjare van kognitiewe ontwikkeling by leerders.
Die swak uitslae kan ook daaraan toegeskryf word dat leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie en dat onderwysers dikwels onderrig moet aanbied in ’n taal wat ook nie hul moedertaal is nie.
Reeds in 1953 het Unesco die belang van moedertaalonderrig as volg gestel:
Moedertaalonderrig behoort die beste manier te wees vir kinders om te leer, aangesien dit die gaping tussen huistaal en die taal van onderrig oorbrug … Daarom moet moedertaalonderrig so lank mootlik verleng word. Onderrig in ’n taal anders as die leerder se moedertaal, kan nooit ’n plaasvervanger vir moedertaalonderrig wees nie en dit moet uitgestel word totdat die kind sy moedertaal ten volle bemeester het.
Dit is dus duidelik dat Angie Motshekga ’n bewuswording van die belang van moedertaalonderrig gekry het. Sy noem in haar beleidstoespraak dat “English and Afrikaans have long served as mediums of instruction, but we recognise the importance of incorporating African languages as Laguages of Learning and Teaching. These languages hold within them a wealth of values, knowledge and skills that can accelerate the development of our nation and continent.”
Suid-Afrika sal moet inval by ’n internasionale bewustheid rakende die waarde van moedertaalonderrig. In Asië en in sommige Afrikastate, soos Ghana, Tanzanië en Zambië, word inheemse tale, eerder as koloniale tale, voorgestaan in die omskakeling van hul skoolstelsels. Hierdie lande se ervaring is dat die gebruik van koloniale tale soos Engels as onderrig- en omgangstaal tot laer geletterdheidsvlakke en hoё werkloosheid lei.
............
Suid-Afrika sal moet inval by ’n internasionale bewustheid rakende die waarde van moedertaalonderrig. In Asië en in sommige Afrikastate, soos Ghana, Tanzanië en Zambië, word inheemse tale, eerder as koloniale tale, voorgestaan in die omskakeling van hul skoolstelsels. Hierdie lande se ervaring is dat die gebruik van koloniale tale soos Engels as onderrig- en omgangstaal tot laer geletterdheidsvlakke en hoё werkloosheid lei.
..............
In Suid-Afrika, waar toegevoegde veeltaligheid voorgestaan word, kan dit slaag slegs as leerders die moedertaal deeglik bemeester het. Die afdwing van ’n koloniale taal, in hierdie geval Engels, kan etniese en kulturele verdeling bevorder. Die loodsprojek wat sedert 2012 in die Oos-Kaap geïmplementeer was, het tot op datum veel sukses opgelewer volgens die minister. Die fokus is op ’n strategie om wiskunde en wetenskap vanaf graad 4 in die moedertaal in te stel. Die onderrig in die leerders se moedertaal, in hierdie geval Xhosa, dra by tot die verbreding van die leerders se begrip van die vakinhoud, want onderrig word in die moedertaal ontvang, aldus die minister.
Sedert 2017 het die program uitgebrei tot 72 skole in Cofimvaba en later tot alle distrikte in die Oos-Kaap. Tot op datum het 2 015 skole die projek met groot sukses geïmplementeer. Hierdie inisiatief laat leerders toe om in hierdie skole die vakinhoud in hul moedertaal te ontvang tot in graad 8. Graad 9 word beplan as ’n volgende fase in 2023 om die Senior Fase af te sluit. Daar word groot gewag gemaak van die sukses van hierdie projek en die idee is om dit uit te rol na ander provinsies. Kan dit moontlik die rede wees vir die groot verbetering in die matriekuitslae van die Oos-Kaap in 2023?
’n Onlangse graad 5-analiseverslag oor die vordering van leerders wat onderrig in hul moedertaal ontvang het, vergeleke met leerders wat dit nie in hul moedertaal onvang het nie, het bewys dat hul prestasie beter was in wiskunde en die natuurwetenskappe. Dit het weer eens die belang van moedertaal bewys en herbevestig. Die Oos-Kaap se moedertaalonderrigprogram het bewys dat kennisoordrag aan leerders meer suksesvol is, want die onderwysers onderrig ook in ’n taal wat hul moedertaal is.
Die minister het erken dat leerders beter presteer as hulle in hul moedertaal onderrig word. Dit dra ook by tot beter kommunikasie tussen leerder en onderwyser en ook tot die algemene verbetering van hul akademiese prestasies. Die moedertaalprojek is ’n sukses. “Together we can revitalise our African languages, ensure their preservation and position South Africa as a leader in decolonising education on the African continent.”
Met hierdie woorde het die minister bevestig dat dit die beste opsie is om ’n kind in sy/haar moedertaal te onderrig – dit is ’n voldonge feit. ’n Beleid van toegevoegde veeltaligheid, soos wat tans deur die onderwysowerhede voorgestaan word, kan dus slaag slegs indien dit op deeglike begronding van die moedertaal gefundeer is. Moedertaalonderrig is dus allermins beperkend; trouens, wanneer dit hand aan hand gaan met die kundige onderrig van Engels, bied dit toegang tot die ryk belewenis wat kennis van ’n ander taal bied.
Die huidige dilemma waarin onderwys hom in Suid-Afrika bevind, is deels toe skryf aan die feit dat daar soveel leerders is wat nie in hul moedertaal onderrig ontvang nie. Dit word nou al hoe meer deur die onderwysowerhede besef en ons hoop dat die kwessie spoedig aangespreek sal word.
- Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter: DAK Netwerk
Lees ook:
Khawufane ucinge SA schools seminar: Mphuthumi Ntabeni responds
Moedertaalonderrig is van kardinale belang in Suid-Afrika; dis ononderhandelbaar
BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona
BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024
Internasionale Moedertaaldag: Wat is die belang van moedertaal?