Op 21 Februarie word Moedertaaldag wêreldwyd gevier. PEN Afrikaans het by ’n paar mense gaan aanklop om te hoor wat volgens hulle die belang van moedertaal is en waarom dit gevier behoort te word.
Christien Neser, spraakterapeut en skrywer, beantwoord ’n paar vrae oor moedertaal, meertaligheid en taaldiversiteit.
Hoekom is ’n moedertaal iets om te vier?
Taal is ’n uniek menslike funksie, ’n absolute wonderwerk. Die taal wat jy al voor geboorte het, laat jou hartjie op twee maande vinniger klop wanneer jy dit hoor. Wanneer ’n ma in haar moedertaal met haar baba praat, styg haar stemtoon. Die term daarvoor is “motherese.” Dit geld vir al 7099 tale wat wêreldwyd gepraat word. Net 23 van hierdie tale het ’n beduidende sprekertal. Die data tot ons beskikking sê dat die tien tale met die meeste moedertaalsprekers die volgende is: Chinees, Spaans, Engels, Hindi, Arabies, Portugees, Bengaals, Russies, Japannees en Punjabi. Hoekom sou mens minderheidstale enigsins vier? Ek sou reken dat dit die diversiteit van die mensdom simboliseer. Ek glo dat die diversiteit van tale so kosbaar is as die diversiteit in die natuur. Hoekom anders sal ons so hard werk om die renoster te bewaar? In Europa word na Engels verwys as “the killer language” omdat dit hand aan hand met globalisasie gaan. Selfs Frans, Duits en Spaans voel bedreig.
Gesprekke oor moedertaal loop hand aan hand met meertaligheid. Hoe voel jy oor die status van meertaligheid in ons land?
In Suid-Afrika, soos in groot dele van die wêreld, is gebroke Engels die lingua franca. Wat hartseer is, is dat baie ouers met inheemse moedertale die kinders in hierdie einste gebroke Engels grootmaak. So gaan die inheemse taal verlore en die gebroke Engels oorleef. Daar is ’n konsep wat ouers nie verstaan nie: dit is amper onmoontlik vir kinders om nie Engels in ons land aan te leer nie, maar slegs ’n ouer (ma, pa, ouma, oupa…) kan vir die kind ’n moedertaal aanleer. Die plastisiteit van kinders se breine gee hulle die unieke voordeel dat hulle taalkodes uit die omgewing kan absorbeer. Die taalkundiges glo: “Language is caught, not taught”. Wanneer ouers dus hul moedertaal vir die kind aanleer, verseker hulle dat hy of sy later meertalig gaan wees. Want Engels gaan hy leer praat, kom wat wil. Dit is ook belangrik dat hulle verseker dat die kind ’n goeie kwaliteit Engels geleer word. ’n Kind wat ten minste tweetalig is, het ’n aktiewer taal-area in die brein as ’n eentalige. Die vertalingsfunksie in die brein hou nooit weer op nie: dit is lewenslange breingimnastiek. Neuroloë beweer dat meertaliges se breine langer fiks bly. Meer nog, meertaliges se uitkyk op die wêreld verbreed. Hulle het meer empatie met die sprekers van die tale wat hulle magtig is.
Is taalaktivisme belangrik?
As aktivisme gelykstaan aan reklame, dan is ek ten gunste daarvan. Projekte soos redenaarskompetisies, leesprojekte, kunstefeeste, uitreikaksies en dies meer, is alles lofwaardig. As aktivisme gelykstaan aan ’n eng en aggressiewe projeksie van die taal, is ek daar teen. Ek sal nie in strate wil loop met baniere nie. Ek sal eerder ’n boek skryf met ’n lekker storie in of gaan voorlees by ’n skool. Soos jou geloof, glo ek dat jy jou taal nie in ander se kele moet afdruk nie.
Hoe kan taaldiversiteit bydra tot volhoubare ontwikkeling?
Hierdie vraag is bokant my vuurmaakplek. Ek voel egter dat moedertaalonderrig op skoolvlak ten alle koste behou moet word. ’n Kind wat die geleentheid gehad het om onbevange in sy moedertaal skool te gaan en in die proses meertalig te raak, is per definisie ’n beter landsburger as iemand wat voel dat hy teen wil en dank sy taal moes versaak. Daar moet arms oopgemaak word om meer inheemse kinders by ons eie suksesvolle skole te betrek. Hulle is uiteraard gewoonlik reeds meertalig. Afrikaans as nuwe taal sal gewoonlik baie vinnig aangeleer word. Dit kan tog net beter verhoudinge in ons land bewerkstellig.
Op ’n persoonlike noot: ons het twee Sotho-sprekende kinders help grootmaak. Die oudste het in 2009 by Pretoria Hoër Meisieskool gematrikuleer en by Noord-Wes Universiteit gegradueer in 2015. Die jongste is nou in graad 8 by Pretoria Hoër Seunskool. Hulle is albei vlot viertalig, maar lees en skryf net Afrikaans en Engels. Die gemak waarmee hulle tussen en binne kultuurgroepe beweeg, is die beste getuigskrif vir meertaligheid.
Ek is Frans magtig en gesels graag in parkeerterreine met motorwagte uit die Demokratiese Republiek van die Kongo. Dit is vir my hartseer dat ek dit nie ook in Sotho en Zoeloe kan doen nie.
Theo du Plessis, professor by die Eenheid vir Taalfasilitering en -Bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat, beantwoord dieselfde vrae.
Hoekom is ’n moedertaal iets om te vier?
Moedertaal is iets om te vier omdat dit jou sleutel is tot uitnemendheid in ’n land waar middelmatigheid nagestreef word. Hierdie middelmatigheid kom tot stand as gevolg van ons huidige leierskap se onbeholpenheid met die hopelose prestasie van skoolgangers wat nie onderrig in hulle moedertaal ontvang nie. Kyk maar na Suid-Afrika se patetiese uitslae wat skoolgeletterheid betref om te probeer verstaan hoe jy benadeel kan word deur te glo Engels is die allerantwoord vir nie-moedertaalsprekers. Ons transformasie-gedrewe leierskap se oplossing: ‘equal misery to all’; almal wat nie Engels as moedertaal het nie moet mekaar op die sogenaamde middelgrond ontmoet en dan maar saam ewe vrot probeer voortsukkel. Afrikaanssprekendes (en hulle moedertaal-Engelssprekende eweknieë) se moedertaal stel hulle egter in staat om bo hierdie middelmatigheid uit te styg en saam te kan praat met die bestes in die wêreld. Die bestes van die wêreld in byvoorbeeld Israel, Nederland, Duitsland, Japan en Amerika geniet die onbetwiste voordele van moedertaalonderrig. Afrikaanse moedertaalonderrig plaas ons op dieselfde platform as hierdie presterendes. En buitendien, vanweë die rasgedrewe wyse waarop regstellende aksie in Suid-Afrika toegepas word, help dit jou nie eintlik om met Engels te probeer as jou velkleur nie reg is nie. So, waarom jouself benadeel en afsluit van ’n groter, presterende wêreld waar die moedertaal die grondslag van uitnemendheid vorm?
Gesprekke oor Moedertaaldag gaan hand aan hand met gesprekke oor meertaligheid. Hoe voel jy oor die status van meertaligheid in ons land?
Die land is meertaligheid, of besluitnemers dit nou wil weet of nie. Alles hang af van wat ons daarmee maak. My verstaan van die grondwetlike reëlings rondom taal is om toe te voeg, nie om weg te neem nie. Dit is dus ’n dwaling wat tans in die land aan die gebeur is, naamlik dat ons maar liefs alles in Engels moet doen en so ons taalprobleme oplos. Na my mening is ons veronderstel om institusionele meertaligheid in werking te stel ter uitbreiding van die institusionele tweetaligheid wat ons gehad het. Waarom grondwetlike bepalings omtrent ampstale hê indien die oplossing tog maar in Engels lê? Wie flous wie en wie mors wie se tyd?
Is taalaktivisme belangrik?
Absoluut, veral vir die Afrikaanssprekende gemeenskap wat as gevolg van staatshervorming aan verworwe regte moet inboet, wat sekerlik nie die bedoeling was met die aanvaarding van ’n politieke skikking in 1993 nie. Staatshervorming het ook byvoorbeeld die Franssprekende minderheid van Kanada sleg getref maar hulle het opgestaan en ’n verskeidenheid aktivistiese instrumente ingespan om ’n mate van outonomie vir die gemeenskap terug te win. Afrikaanssprekendes word ongelukkig weens ’n toenemend kolonialiserende en vergrypende staat genoodsaak om dieselfde weg op te gaan. Ek twyfel of mooipraatjies die tirannie van die meerderheid gaan hokslaan.
Hoe kan taaldiversiteit bydra tot volhoubare ontwikkeling?
Taaldiversiteit kan slegs iets bydra indien dit nie ’n mooiklinkende maar abstrakte begrip bly nie. Met ander woorde, die vraag gaan wesenlik oor hoe om taaldiversiteit tot voordeel van ontwikkeling aan te wend, met ander woorde as bate en nie as probleem nie. Ons kan hierdie voordeel benut deur te begin om ons Suid-Afrikaanse taaldiversiteit aan burgerskap te koppel, met ander woorde om ’n nuwe vorm van ‘linguistiese burgerskap’ te help vorm. Voor 1993 het ons linguistiese burgerskap aan tweetaligheid in Afrikaans en Engels gekoppel. Goed of sleg, linguistiese burgerskap was konkreet. Ons uitdaging nou is om ’n nuwe konkrete vorm van taalburgerskap te vorm; een wat ons taaldiversiteit sal erken. Ons kan dit byvoorbeeld doen deur Suid-Afrikaanse burgerskap te koppel aan drietaligheid – alle burgers moet drietalig wees. Oorlede Neville Alexander het ’n formule hieromtrent voorgestel wat ons kan oorweeg of modifiseer (wat ek reeds hier doen): moedertaal plus ’n streekstaal (wat nie jou moedertaal is nie) plus ’n verkeerstaal (wat ook nie jou moedertaal is nie – daar bestaan vier erkende verkeerstale in Suid-Afrika, te wete Suid-Sotho, Zoeloe, Afrikaans en Engels). So ’n tipe benadering verseker dat almal skoolonderrig kry in hulle moedertaal (met voordele vir maksimale kognitiewe ontwikkeling) maar dat hulle twee ander tale op verskillende stadia byleer as tweede- en derdetaal. Ten minste die streekstaal behoort so vroeg as moontlik as tweedetaal ingevoer te word maar die verkeerstaal as derdetaal kan waarskynlik eers vanaf die sekondêre fase ingevoer word. Die formule gaan daarvan uit dat nuwe taalvaardigheid op bewese taalvaardigheid bou om so vir ons veel beter resultate op te lewer as wat die triestige huidige (mislukte) stelsel kan hoop om te bied. Ons kan dan begin praat van ware ontwikkeling.
Matthias Brenzinger, direkteur van die Sentrum vir Afrika-taal Diversiteit aan die Universiteit Kaapstad, meen dit is op persoonlike en sosiale vlak voordelig om voorouerlike tale as moedertale te bevorder:
Wêreldwyd word ’n verswakking van gemeenskapsbande waargeneem, hoofsaaklik weens ondertrouery, migrasie en mobiliteit. Hierdie ontwikkelings is van die bedreigings vir die instandhouding van voorouerlike tale. Gemeenskapsbande kan herbevestig word deur die bevordering van hierdie tale as moedertale. Zuckermann en Walsh (2016: 94) meld ’n positiewe verband tussen taalherwinning en ’n verhoogde sin van identiteit en doel, sowel as verminderde gevalle van depressie. Veral by uitgebuite en gemarginaliseerde gemeenskappe speel die instandhouding van voorouerlike tale ’n deurslaggewende rol in die oorkoming van diskriminasie en in die diskoers oor ’n beter toekoms vir individue sowel as gemeenskappe.1
YOMA, ’n Afrikaanse kletsrymer, stel op Moedertaaldag haar eerste album genaamd Moedertaal bekend. Hier is haar indrukke oor moedertaal op dié dag:
Afrikaans is so mooi en divers. Dit is die enigste taal wat my hart keer op keer steel! Ek is dankbaar dat ek met hierdie pragtige taal opgegroei het en nou my eerste konsepalbum Moedertaal op Moedertaaldag kan vrystel.
Afrikaans het die vermoë om mense oombliklik aan mekaar te heg. Ek noem iets uit my kinderdae as ’n voorbeeld: "Sê gou ambulans?" Duisende mense sal vandag nog weet wat daarop volg.
Daar is min dinge so soet as om myself in Afrikaans in kletsrym uit te druk. My beker loop oor! #Moedertaal #YOMAISAFRIKAANS
Nomfundo Mali is Wes-Kaapse provinsiale bestuurder van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSALB), ’n grondwetlike liggaam wat op die erkenning en bevordering van Suid-Afrika se amptelike tale gemik is. Vir haar is die viering van moedertale goed, maar dit behoort net die eerste stap te wees.
Dit is belangrik om moedertale te vier, want dit is deel van wie ons is; dit is deel van ons erfenis. Ons behoort mense aan te moedig om in hul moedertaal te praat en te skryf, maar ek glo dit moet ook verder as dit gaan. Mense wat in hul moedertaal praat en skryf, skep tasbare produkte soos boeke of ander kunswerke, en daardie produkte moet gevier en aangewend word, nie net die taal self nie. Ons behoort die ekonomiese waarde van moedertale en moedertaalprodukte te bevorder. Dit stel sprekers van ’n taal in staat om ekonomiese voordeel uit die gebruik van hul moedertaal te trek en om ’n loopbaan te bou. Ons moet moedertale vier én ophef, ook in ’n ekonomiese sin.2
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), dink aan Koos Kombuis se “Atlantis in jou lyf” en aan Afrikaans soos klei.
Wanneer die debat oor Afrikaans en moedertaalonderrig opvlam, dink ek altyd onwillekeurig aan die lirieke van Koos Kombuis se liedjie “Atlantis in jou lyf”:
“Daar’s ’n roos in elke doring, en ’n leuen in elke feëverhaal. Hierdie oomblikke van waarheid glim soos neon deur my taal. Ek weet jy is hier iewers in die klei van Afrikaans, maar ek ken nog nie jou naam nie …”
Afrikaans is vir my, en behoort te wees, soos klei. Dit is ’n taal wat kan aanpas en wat omvorm kan word. Dit is ’n taal wat bevry is van sogenaamde “standaarde”, maar tog kwaliteit omarm. Dit klink en proe soos wat jy haar praat. Maar dit is ook ’n taal wat geweldig gebuk gaan onder haar verlede en reputasie. ’n Deel hiervan is beslis wanneer aangedring word op Afrikaanssprekendes se sogenaamde “reg” tot moedertaalonderrig.
Natuurlik is moedertaalonderrig die ideaal, maar in die afwesigheid van moedertaalonderrig in die konteks van veeltaligheid, veg ons vir die behoud van bestaande onregte. Afrikaans is beter as dit. Ons is ’n jonger geslag wat trots Afrikaans is en geweldig lief is vir ons taal, maar ons wil Afrikaans diensbaar maak. Ons wil in diens wees van ons land en die beswil van alle Suid-Afrikaners. En ons is bereid om opofferinge te maak in belang van die groter prentjie. Die groter prentjie is dat ons as jong Afrikaanssprekendes baie het om by te dra in terme van inhoud en idees. Dit is vir ons ’n voorreg om dit in Afrikaans te kan doen. Nie ’n reg nie.
Terug by Koos Kombuis: “Jy’s die voodoo wat my vashou, jy’s die vloek wat my laat skryf, die Sahara is in jou oë, en Atlantis in jou lyf…”
Alta Engelbrecht skryf handboeke en werkboeke vir skool- en tersiêre opleiding en doseer kurrikulumstudies aan die Universiteit van Pretoria. Hier is haar gedagtes oor moedertaal op Moedertaaldag.
Die musiekgroep Kaleidoskoop besing Afrikaans as ons moedersmelk. Moedertaal is ’n eenwoord definisie van wie ons werklik is. Wanneer al die lae van ons identiteit afgeskil word, is dit die kern wat oorbly. Die ironie is dat die fokus op moedertaalonderrig en -gebruik net op een manier aan die wenkant is: wanneer die fokus gelyktydig ook op meertaligheid is.
Dit is altyd vir my skreiend wanneer iemand (veral van die Afrikatale) met ons Afrikaans praat as ’n gebaar van wellewendheid en ons dit nie kan terugdoen nie. Dit openbaar tog ’n sekere arrogansie of minstens ’n gebrek aan wedersydse respek. Wanneer ’n mens die taal van ’n ander groep aanleer, leer jy onwillekeurig die groep se kultuur ook ken. Daarom is taal so ’n kragtige medium tot versoening in veral Suid-Afrika met sy multitalige verskeidenheid.
Die linguis Thomas Markey het al in 1987 die kenmerke van ’n sterwende taal geïdentifiseer.
- Die reëls van ’n sterwende taal raak onaanpasbaar en minder algemeen;
- By ’n groeiende (dus lewende) taal is daar weer veralgemening van reëls, wat wys dat die taal ontwikkel en aanpas.
Om dus puristies aan te dring op perfekte en korrekte uitspraak en uitdrukking, berei die weg voor vir ’n taal wat nie kan aanpas en sy stem kan vind buite sy Europese wortels nie. Laat ons op Moedertaaldag ons taal se uitsonderlike aanpassing en oorlewing vier. Afrikaans is immers ’n Afrikataal, wat uit Afrikabodem ontwikkel het.
Eindnotas
1 All over the world we observed the weakening of community bonds mainly due to intermarriage, migration and mobility.Among others these developments pose serious threats to the maintenance of ancestral languages. Community bonds can be reaffirmed through the promotion of these languages as mother tongues. Zuckermann and Walsh (2016: 94) state that “there is a positive correlation between language reclamation and increased personal empowerment, improved sense of identity and purpose as well as reduced cases of depression”. Especially with exploited and marginalised communities, the maintenance of ancestral languages plays a crucial role in overcoming discrimination and in the discourse on a better future for individuals as well as for the communities.
2 Celebrating mother languages is important because it is part of who we are; it is part of our heritage. We should encourage people to speak and write in their mother language, yes, but I believe it should go further than that. People speaking and writing in their mother language produce tangible products, like books or other artworks, and those tangible products should be celebrated and utilised, not just the language itself. We need to promote the economic value of mother languages and the products thereof. This enables speakers of a language to reap economic benefit from using their mother language and to build a career. We should go beyond celebration to elevation of mother languages, also in an economic sense.