Geagte minister Gwarube
Vergun my die geleentheid om u geluk te wens met u aanstelling as minister van basiese onderwys. Dit gaan vir seker nie ’n maklike taak wees nie. Ek het u nog nooit persoonlik ontmoet nie, maar u reputasie as ’n energieke en hardwerkende politikus loop u vooruit. Dit tesame met die President se vertroue in u spreek boekdele.
Liewe Minister, u aanstelling binne die regering van nasionale eenheid (RNE) is ’n belangrike oomblik in ons land se demokrasie. Vir die eerste keer sal die Departement van Basiese Onderwys bestuur word deur iemand wat nie van die ANC is nie. Dit bied die ideale geleentheid om onderwys in ons land te hernu en herbedink, wat nodig is.
Daar is egter baie werk om ons onderwys weer op die vlak te kry waar ons met trots kan saampraat met die bestes in die wêreld. Ek neem derhalwe die vrymoedigheid om u aandag te vestig op van die grootste uitdagings wat onderwys in ons land in die gesig staar.
1. Oorvol skole
Alvorens enige effektiewe onderwys kan plaasvind, is dit belangrik dat die fisiese omgewing bevorderlik is vir leer. Vir die meeste leerlinge in Suid-Afrika is dít egter slegs ’n droom. Sedert demokrasiewording het ek elke moontlike platform gebruik om oorvol skole onder die regering en onderwysowerhede se aandag te bring, sonder enige sukses. Volgens u CV het u aan die Kingsridge High School for Girls in King William's Town gematrikuleer. U was dus self nooit in ’n oorvol skool nie. Wel, ék was in so ’n skool, en ek het vir baie jare in oorvol skole klas gegee. Ek was ’n skoolhoof van so ’n skool. Ek kan u verseker dat dit bitter moeilik is om so ’n klomp leerlinge te kry net om stil te sit en aandag te gee. Laat staan nog effektiewe onderwys gee. Ek het talle skole in u grootwordprovinsie, die Oos-Kaap, besoek waar ek tot 136 leerlinge in een klas gesien het! Dit is ’n krisis wat u onmiddellike aandag verdien.
Daar moet onmiddellik begin word om meer skole te bou vir ons groeiende leerlingtal wat elke dekade met een miljoen toeneem. Teen 1 000 leerlinge per skool is dit 1 000 skole elke 10 jaar. Na al die korrupsie is geld skaars, maar ’n afspraak met minister Godongwana is u eerste prioriteit. Ons skoolbouprogram is só ver agter dat dit waarskynlik nog 30 jaar gaan neem om die agterstand uit te wis. Dit kan terselfdertyd dien as werkskepping!
2. Puttoilette
Die gebruik van puttoilette is ’n euwel wat géén plek het in ’n moderne samelewing nie. Geen mens of kind se menswaardigheid durf so misken word nie. Ruimte laat my nie toe om u daarop te wys hoeveel kinders al in sulke toilette verdrink het nie. Ek sal u die aaklige besonderhede spaar met die hoop dat dié euwel uitgeroei sal word.
3. Leesbegrip
Dit is alombekend dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se leerlinge nie kan lees nie, of ten minste met begrip kan lees nie. Die skokkende PIRLS-uitslae toon dat slegs een uit vyf graad 4-leerlinge met begrip kan lees. Dit is ’n aanduiding dat ons op ’n dwaalspoor is wat betref die onderrig van lees. Dit benodig ’n kopskuif. Ek stel voor dat u eers op die onderwysers fokus alvorens almal weer met ’n nuwe leesmetode op die leerlinge toesak. Daar is talle maniere om ’n kind te leer lees. Die probleem is dat die helfte van alle onderwysers nie weet hóé om leerlinge te leer lees nie, want hulle word nie daarvoor opgelei nie. Dis iets wat u in samewerking met die nuwe minister van hoër onderwys moet opneem. Dit is duidelik dat die meeste universiteite hul plig in dié opsig versaak.
Die ander helfte van alle onderwysers dink steeds dit is die graad 1-juffrou se plig om ’n kind te leer lees. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ek sal dit so op prys stel as die DBO ’n veldtog van stapel sal stuur wat lui: “Elke onderwyser moet ’n kind leer lees.” Oor die besonderhede daarvan kan ons later praat, maar as ons werklik ons status as die land wat die swakste in die PIRLS-toetse gevaar het, wil verander, moet elke onderwyser sy plig nakom.
4. Kurrikulum
Liewe minister Gwarube, as ’n jongmens is u terdeë bewus van die eise van die moderne lewe en wat dit van die nuwe generasie verwag as hulle ’n werk in hierdie land wil kry. U sou meer as een keer in u eie studies besef het dat ons skoolkurrikulum oudmodies en uitgedien is en die jeug van vandag nie toerus vir die wêreld van werk nie. My aanbeveling is dat die totale onderwysstelsel herbedink word om in pas te kom met die 21ste eeu. Vakke soos robotika, rekenaarwetenskap, kodering en entrepreneurskap het ’n vereiste geword. Ons land se werkloosheidsyfer onder die jeug is al meer as 50%; met ander woorde, meer as die helfte van ons jeug is werkloos, wat niks goed vir die land se toekoms en die stabiliteit voorspel nie.
5. Vakbonde
Dit is belangrik vir ’n nuwe minister van onderwys om gesonde verhoudinge met die vakbonde te handhaaf. U sou dus kennis geneem het van SADOU se vyandige houding jeens u as synde ’n minister uit DA-geledere. Dit is kommerwekkend. Ek wil egter ’n beroep op u doen om u nie van stryk te laat bring nie. Daar is baie werk om te doen, baie hiervan weens SADOU se toedoen, en hulle moet leer om die groter prentjie te sien. My raad aan u is om die onderwysvakbonde medeverantwoordelik te maak vir basiese onderwys. Daar is baie kritiek van alle kante, maar die dae van kritiseer vanaf die kantlyn is verby. Ons moet almal moue oprol en help bou/herbou aan ’n onderwysstelsel waarby alle kinders in ons land sal baat. Dit is waar dat die RNE ’n brose eenheid is. My aanbeveling is dat die onderhandelinge aan die President oorgelaat word sodat u op u taak, naamlik gehalteonderrig vir almal, kan fokus. ’n Werkende onderwysstelsel bevorder ook nasiebou.
6. Afwesige onderwysers
Minister Gwarube, die een uitdaging waarmee alle ervare onderwysers sukkel, is om na die stem van die jeug te luister. Toe leerlinge in ’n onlangse opname gevra is om hul belangrikste uitdaging in die onderwys te identifiseer, was die afwesigheid van onderwysers heel boaan hul lys. Tot dusver het die onderwysowerhede óf die probleem geïgnoreer óf geweier om die probleem aan te spreek. Ek is van mening dat die gebrek aan aksie eerder uit vrees vir die reaksie van onderwysvakbonde was. Dit is nóg ’n aspek wat u kan aanspreek deur vakbonde medeverantwoordelik te maak.
7. Die Bela-wetgewing
Geagte Minister, ek sou my plig versuim indien ek nie oor die Basiese Wysigingswetsontwerp vir Onderwys (die Bela-wet) praat nie. In sy huidige vorm gee die Bela-wet die DBO die finale sê oor ’n skool se toelatings- en taalbeleid. Vir sommige beheerliggame, asook vir u party, die DA, kom dit neer op ’n stroping van beheerliggame se magte. Ek wil daarmee verskil.
Ons het 23 000 skole, waarvan die meeste nie oor individue beskik met die vaardighede om finansiële state, begrotings en beleidstukke op te stel nie. Wat niemand sê nie, is dat dit niks nuut is dat beleidstukke aan die Departement voorgelê word nie. Ek moes dit doen toe ek skoolhoof was, en toe ek ’n kringbestuurder was in die Wes-Kaap, moes skoolhoofde hul beleide by my indien. Dit is niks ongewoons of ’n stroping van magte nie. Dit is eerder goeie bestuur wat die omstandighede van die meeste skole in ag neem. Kontrole is ook nodig om te verseker dat geen kind benadeel word nie. In die verlede was daar sulke voorbeelde wat selfs in die hof gedraai het.
As ons dus oor die Bela-wetgewing debatteer, Minister, moet die fokus op die groter prentjie wees. Ons moet ons afvra hoe dit vir elke kind ’n sitplek in die skool sal verseker. ’n Kind wat nie op skool is nie, is ’n risiko vir almal. Dit help nie dat ons ons kinders afsonder onder die dekmantel van ’n toelatingsbeleid terwyl die meeste kinders buitestanders in hul eie land is nie. Hoe meer kinders op straat, hoe groter is die kans dat hulle by onwettige bedrywighede betrokke sal raak wat almal negatief beïnvloed.
Daar word tans net gefokus op die toelatings- en taalbeleid. Die Bela-wet is baie meer as dit. Altesaam is 18 artikels aangepas wat, as dit toegepas word, sou kon dien as die beginsels en waardes van die nuwe onderwysbedeling wat ons nou nodig het. Dit sluit in dat graad R verpligtend word (iets wat opvoedkundiges lankal bepleit), die vervolging van ouers wat versuim om hul kinders by die skool te besorg, en die samesmelting van skole op die platteland wat leeggeloop het weens verstedeliking.
Die wetgewing is reeds deur die parlement en die raad van provinsies aanvaar, maar die President het dit nog nie onderteken nie. My pleidooi is dat u binne die raamwerk wat die RNE bied, geleentheid gee vir alle vir partye om nog een keer om ’n tafel te sit en saam te besin oor die Bela-wet totdat almal tevrede is dat dit is wat ons wil hê vir onderwys in Suid-Afrika.
Hierdie is slegs enkele brandpunte in die onderwys. Daar is baie ander, maar ons het eenvoudig nie genoeg ruimte en tyd om alles hier te bespreek nie. Dit was nog nooit ’n skande om te vra as mens iets nie weet nie of onseker is oor iets. Daarom wil ek glo dat u sal put uit die ervaring van ander onderwyskundiges (onder wie u federale leier by die DA, Helen Zille, onder wie ek destyds gewerk het as kringbestuurder toe sy minister van onderwys in die Wes-Kaap was. ’n Klein (asseblief!) advieskomitee kan ook sake vergemaklik. Sterkte!
Michael le Cordeur is visedekaan Leer en Onderrig, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch
Lees ook:
An open letter to the Pemmy Majodina, new minister of water and sanitation
Kommentaar
Michael
Dis 'n mooi brief van jou en ek waardeer veral die manier hoe jy die vraagstuk van die Bela-wetgewing op genuanseerde manier aanraak. Jy maak belangrike punte en baie daarvan stem ooreen met my eie sieninge, maar ek wil ook net die volgende noem. Hoewel ek geen ervaring in die onderwys het nie (behalwe die klein bietjie wat ek opgedoen het tydens my studie vir my onderwyskwalifikasie) het ek wel ervaring van 'n bepaalde provinsiale onderwysdepartement. Dit klink asof jy goeie ervaringe het van die Wes-Kaapse provinsiale onderwysdepartement. Die amptenare daar skyn heel bekwaam te wees met baie kennis. Dit is skynbaar ook waar ten opsigte van haas elke provinsiale department in die Wes-Kaap maar dit is gewis nie die geval in die ander provinsies nie. Inteendeel. Daar is provinsies wat nogal heel disfunksioneel is. Ek noem nie name nie. Dit is algemene kennis.
Die Bela-wetgewing bly dus 'n bedreging. Daar is geen rede hoekom die finale gesag nie by die skool kan bly nie. Dit beteken nie daar sal geen skakeling en konsultasie wees met die provinsiale administrasie nie. Dit beteken gewoon die skool hou die finale besluit. Die feit dat baie van ons skole nog funksioneer, is te danke aan die verskynsel dat die skole nog nie gesentraliseer is soos so baie ander funksies wat ten gronde gegaan het onder die nasionale en provinsiale regerings nie. Ons moet as land wegbeweeg van sentrale kommunistiese regerings. Dit werk gewoon nie.
Dis presies dieselfde situasie in die kerke. Die sinodes kan nie, en moet nooit die plaaslike gemeente kan voorskryf oor hulle sake nie. Mense ken hulle eie belange. Deur magte te sentraliseer, laat jy die besluit oor aan 'n amptenaar in 'n kantoor doer ver in die hoofstad, wat nie die belange van die gemeenskap ken, verstaan of op die hart dra nie.
Ná 30 jaar in die onderwys sien ek die leemtes. Daar moet gekyk word na 'n skoolstelsel waar ons leerders wat nie akademies vorder nie ook geakkommodeer word. In die laerskool moet leerders reeds vaardigheidsvakke, handvaardighede en 'n aangepaste taal- en Wiskunde-kurrikulum volg. Nadat 'n leerder reeds twee fases herhaal het, is dit nodig dat 'n ander kurrikulum gevolg word. Leerders met kognitiewe agterstande het hoop nodig. Sulke leerders wil ook sukses ervaar. Ons huidige kurrikulum maak net voorsiening vir leerders wat met sukses matriek kan slaag. Te veel leerders val vroeg uit die skool uit. Sonder enige vaardighede. Sonder werk.
Jare word op die skoolbanke gemors net om aangeskuif te word na die volgende graad waar daar weer niks geleer word nie. Daar ís baie leerders met kognitiewe agterstande wat geen ander opsie het as om maar net in die hoofstroom te bly nie. Mag iemand met die nodige insig 'n kurrikulum voorsien aan leerders met kognitiewe agterstande. Ons misdaadsyfer sal daal. Kyk na Duitsland se skoolstelsel. Daar word voorsiening vir elkeen gemaak.