Bela onderteken: Wat gebeur volgende?

  • 0

........

"Die staat het weinig gedoen om enige inheemse taal te ontwikkel en het in effek Engels op almal afgedwing. Afrikaans is bloot verdra en in baie gevalle onderdruk. Alle studies dui op die voordele van moedertaalonderrig en die swak prestasies van Suid-Afrikaanse leerders in lees en wiskunde het besluitnemers laat regop sit en herbesin."

........

Die hele Wysigingswet op Basiese Onderwys (Bela) is op Vrydag 20 Desember 2024 bekragtig. Dit sluit in die taal- en toelatingsklousules waaroor daar omstredenheid geheers het.

Jaco Deacon, Fedsas se uitvoerende hoof, beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die bekragtiging van wetgewing en oor wat dit vir ouers van kinders in Suid-Afrikaanse openbare skole beteken.


Bela onderteken: Wat gebeur volgende?

Jaco, nadat daar baie maande lank oor die Bela (Basic Education Law Amendment), oftewel die Skolewysigingswet, geredeneer en verskil is, is dit nou bekragtig. Kom ons praat heel eerste oor wat dit beteken. As ’n wet bekragtig is, wat gebeur nou dadelik?

Die Grondwet handel in hoofstuk 4 met die funksies van die parlement en in artikels 73 tot 82 met die wetgewende proses. Wette word deur die parlement aanvaar, maar moet eers deur die President bekragtig en onderteken word. Sodra dit gebeur, is die wetsontwerp formeel ’n wet van die land. Die wet word dan gepubliseer en gewoonlik sal die datum waarop die wet in werking tree daarin bepaal word. In die geval van die Bela-wet is daar in artikel 54 bepaal dat die datum van inwerkingtreding deur middel van ’n proklamasie in die staatskoerant sal geskied.

Vir ’n wysigingswet om bekragtig te word, moes dit reeds ’n grondwetlikheidstoets geslaag het. Dit beteken die wet sou nie bekragtig kon word as die parlement nie bepaal het die wet is nie teenstrydig met die Grondwet nie. My vraag aan julle is of julle dink die Grondwetlike Hof sal nou genader word om te bepaal of die Bela inderdaad voldoen aan grondwetlike vereistes?

Die Grondwet bepaal in artikel 79 dat die President ’n wetsontwerp wat ingevolge hierdie hoofstuk aangeneem is óf bekragtig en onderteken óf, indien die President voorbehoude omtrent die grondwetlikheid van die wetsontwerp het, dit na die Nasionale Vergadering vir heroorweging terugverwys.

Indien ’n wetsontwerp, na heroorweging, ten volle aan die President se voorbehoude voldoen, moet die President die wetsontwerp bekragtig en onderteken; indien nie, moet die President óf die wetsontwerp bekragtig en onderteken, óf dit na die Konstitusionele Hof vir ’n beslissing oor die grondwetlikheid daarvan verwys.

Indien die Konstitusionele Hof beslis dat die wetsontwerp grondwetlik is, moet die President dit bekragtig en onderteken.

Dieselfde Grondwet skep ook die reg vir enige individu of organisasie om die grondwetlikheid van ’n wet of bepalings van die wet in die hof te toets. Daar was verskeie partye wat aangedui het dat hulle dié roete gaan volg. Ons sal nou moet wag en sien of dit gaan gebeur.

Ons regstelsel bepaal nog altyd dat ’n wet geskryf kan word en dat die interpretasie van die wet baie dikwels afhang van hofsake wat die wet interpreteer. Soms is daar wetgewing met ellipse/weglatings geskryf juis sodat die howe die wetgewing kon verfyn. In ’n ou hofsaak van 1986, Westinghouse Brake and Equipment (Pty) Ltd vs Bilger Engineering (Pty) Ltd, het die hofsaak gehandel oor kontrakte. Die wetgewing wat in die hofsaak ter sprake gekom het, is egter deur die uitspraak verfyn en duideliker uiteengesit. Dit was ’n ander era van ons land; dit was voor die Grondwet se bestaan. Maar tog is my punt dat hofsake wat nou uit die Skolewet of die Wysigingswet voortvloei, inderdaad die wetgewing sou kon verfyn. Is dit wat nou gaan gebeur?

Die regstelsel is nie ’n statiese stelsel nie en ontwikkel oor tyd. Kontraktereg is so oud soos die berge en dit word steeds deur wetgewing en regspraak verfyn. Onderwysreg is nog ’n baie jong veld in die reg en die howe het in die verlede ’n groot rol daarin gespeel om grondwetlike regte te beskerm, dit te laat realiseer en duidelikheid te gee oor die bepalings in en die toepassing van die Skolewet. Dit is juis belangrike hofuitsprake oor taal, toelating, lyfstraf en die regte van ongedokumenteerde leerders wat ’n belangrike rol daarin gespeel het om die Skolewet te wysig.

Ek wil byvoeg dat dit in die verlede die howe se taak was om te bepaal hoe ’n wet toegepas word. Hoewel dit steeds ’n groot rol speel – hofuitsprake om riglyne te verskaf ten opsigte van die toepassing van wetgewing – word daar nou aankondigings gemaak rondom die DA (in die gedaante van Siviwe Gwarube) se rol rondom die regulasies en norme en standaarde wat die wetgewing behels. Is dit inderdaad uit ’n wetlike oogpunt ’n goeie ding? Mense wat bekommerd is oor moedertaalonderrig kan nou weet dat die geskrewe wet dalk die breë raamwerk uitstippel, maar hoe dit sal neerslag vind en die toepassing hiervan, word nou ’n groter gespreksonderwerp wat nog nie afgehandel is nie. Dalk leer Jan Alleman en die doodgewone Suid-Afrikaanse burger in hierdie dae nogal heelwat oor die bekragtiging van wette en die verfyning daarvan.

Die bevoegdheid om regulasies uit te vaardig kom uit wetgewing en die Skolewet skep dit in artikel 61 (wat ook gewysig is). Wetgewing kan vergelyk word met die bene (geraamte) van ’n liggaam en regulasies as die spiere/vleis. Dit kan nie los van mekaar funksioneer nie en gee gestalte aan spesifieke sake. ’n Goeie voorbeeld van nuwe regulasies is byvoorbeeld regulasies oor die bepaling van kapasiteit in skole. Dit hou direk verband met toelatings omdat die beheerliggaam moet bepaal hoeveel plek in die skool is om te kan bepaal hoeveel leerders toegelaat moet word. Die voorgestelde regulasies gaan dus objektiewe kriteria bevat om die bepaling te kan doen. Regulasies is ondergeskikte wetgewing en kan (en behoort) nie wette te wysig nie, maar help om praktiese aspekte te hanteer.

Die Minister het bepaal dat daar ses maande gegee gaan word om aan nuwe (byvoorbeeld rakende graad R en kapasiteit) en bestaande regulasies (rakende toelating en taal) te werk. Dit gaan ook ’n proses van openbare deelname insluit en gewone burgers kry weer die geleentheid om deel ten neem.

As ’n mens oor regshermeneutiek praat, lees jy ’n wet nie net suiwer volgens die grammatikale betekenis van die woorde nie. Jy lees die regsbetekenis van ’n wet se woorde. Wat is ons land se algemene regstrewe, dink julle, as julle hierdie wet op ’n afstand beskou? Is hier ’n strewe dat die kinders van die land beter versorg word omdat die staat dit bepaal, of vat dit die beheer weg van beheerliggame? Is dit werklik wat gebeur?

Die antwoord is opgesluit in die Grondwet en in die aanhef word daar al verwys daarna om “die potensiaal van elke mens te ontsluit”, met baie spesifieke bepalings oor onderwys in artikel 29. Dit moet egter saam gelees word met al die ander bepalings in die Handves van Menseregte. Artikel 28(2) is egter baie eksplisiet: “’n Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak.”

In Witskrif 1, die voorloper vir die SA Skolewet, word daar gehandel met die regte van ouers:

Parents or guardians have the primary responsibility for the education of their children, and have the right to be consulted by State authorities with respect to the form that education should take and to take part in its governance. Parents have the inalienable right to choose the form of education which is best for their children, particularly in the early years of schooling, whether provided by the State or not, subject to reasonable safeguards which may be required by law. The parents’ right to choose includes choice of the language, cultural or religious foundation of the child’s education, with due respect to the rights of others and the rights of choice of the growing child.

Ons howe het in verskeie uitsprake die vennootskap tussen die Departement en die skool (lees ook beheerliggaam) beklemtoon, met elkeen wat ’n baie spesifieke rol het. Die beginsel van samewerkende regering staan sentraal.

Die veronderstelling van die wetgewing is dat dit moet uitvoering gee aan die oogmerke van die wet en in dié geval die Skolewet. Ek is nie oortuig daarvan dat elke wysiging dit doen nie. Die beste besluit word gewoonlik so na as moontlik aan grondvlak geneem omdat daardie besluitnemers die konteks, omstandighede en behoeftes van die gemeenskap die beste ken. Beheerliggame het steeds baie mag en verantwoordelikhede en sal dit ten volle moet opneem, anders gaan ’n amptenaar dit doen. Ongelukkig abdikeer baie gemeenskappe die verantwoordelikheid en dan word ’n openbare skool in effek ’n staatskool.

Ek verwys na ’n artikel wat ’n paar jaar gelede op LitNet verskyn het: https://www.litnet.co.za/godsdiens-in-skole-wat-s-die-grondwet/.

Wyle Marinus Wiechers het geskryf oor hoe godsdiens in skole uitgeleef kan word. Sy artikel kom daarop neer dat skoolgemeenskappe, in oorleg met beheerliggame, kan bepaal wat die godsdiensuitlewing binne ’n skool kan wees. Gestel die skool word bepaal Christelik te wees deur die grootste gedeelte van die skoolgemeenskap, staan dit die skool dan vry om Christelike praktyke te beoefen. Dit staan ook leerders wat nie Christelike godsdienstige oortuigings het nie, vry om die saal te verlaat as daar oor godsdiens gepraat word. Dis wat ’n demokrasie beteken. Dit geld alle godsdienste in alle skole. Dis soos wat ek dit verstaan. Sal die Bela-wet hierdie manier van doen ondermyn – as dit by taal en toegang tot ’n skool kom?

Die kort antwoord is nee. Solank skole vol is en daar voldoende leerders van ’n bepaalde taalgemeenskap is, sal hulle die reg hê om onderrig in hulle taal te ontvang. Dit word gewaarborg in artikel 29(2) van die Grondwet. Die uitdaging kom gewoonlik waar die skool nie vol is nie en daar ’n ander taalbehoefte in die gemeenskap is. Dit neem egter glad nie die staat en LUR se verantwoordelikheid weg om seker te maak dat daar voldoende skole in elke provinsie is nie (artikel 3 van die Skolewet).

Bela gaan geensins ’n einde bring aan toelatings- of taalkwessies nie en ek verwag dat ons nog baie litigasie hieroor gaan sien.

Is daar dalk ruimte binne hierdie bekragtigde wetgewing dat daar nou ook openbare skole tot stand sou kon kom wat kinders in hul eie taal kan bedien, of dit Zulu, Xhosa, Sotho, Tswana of enige ander landstaal ook al behels? Is hier dalk positiewe taal- en toegangsmoontlikhede vir al die kinders van die land?

Ek is van mening dat die onderdrukking van moedertaalonderrig die enkele grootste menseregteskending na 1994 was. Die staat het weinig gedoen om enige inheemse taal te ontwikkel en het in effek Engels op almal afgedwing. Afrikaans is bloot verdra en in baie gevalle onderdruk. Alle studies dui op die voordele van moedertaalonderrig en die swak prestasies van Suid-Afrikaanse leerders in lees en wiskunde het besluitnemers laat regop sit en herbesin. Daar was die afgelope paar jaar loodsprogramme in KwaZulu-Natal en in die Oos-Kaap waar leerders wesenlik beter presteer het sodra hulle onderrig en assessering in hulle moedertaal was.

Die hartseer is dat die Skolewet dit nog altyd vir ’n beheerliggaam moontlik gemaak het om besluite oor taal te neem, maar dat baie skole het dit nie gedoen nie. Finansies en beperkte hulpbronne het vir seker ’n rol gespeel, maar baie ouers beskou steeds Engels as ’n taal van geleenthede en verkies dit dat hulle kinders daarin onderrig moet word. Dit gaan dus baie meer as net ’n wetswysiging verg om ouers van die voordele te oortuig. Bela skep ’n konsultasieproses wat gemeenskappe betrek by die besluite oor taal, maar dit is natuurlik ook oop vir misbruik.

’n Mens kan op ’n afstand oor wette gesels, maar uiteindelik wil ouers weet wat met hulle kinders en die skole gaan gebeur. Ten slotte, oor Bela: Wat gebeur nou?

Die President het wel op 20 Desember aangekondig dat Bela met “onmiddellike effek” in werking tree, maar daar was tot 22 Desember nog geen promulgasie in die staatskoerant nie. Niks is dus in werking nie.

Die 2025-skooljaar gaan afskop soos in 2024 met bestaande toelatings- en taalbeleide. Ouers moet egter deel van hulle kinders se onderrig wees en betrokke wees by die skool.

Lees en kyk ook:

Bela is nou wet

Persverklaring – BELA-wet: SAAWK spreek kommer uit oor bedreiging vir moedertaalonderrig

Bela: Belegging of beleg?

Bela-wet: Op ’n heuwel daar ver

Kollig op akademikus Michael le Cordeur: Moedertaalonderrig en leesbegrip

SteedsDink met LitNet Akademies: Donovan Lawrence oor sy akademiese navorsing

Reguit met Robinson: Onderwyssektor onder beleg

Miljoene rand in pyplyn vir privaat Afrikaanse skole

"Onderwys in syfers"-verslag: ’n onderhoud met Riaan van der Bergh

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top