Bela is nou wet

  • 2

...
Die sentralisering van mag in die hande van ’n onderwysminister en ’n provinsiale onderwyshoof het nog nooit iets goeds ingehou nie. Dink jou in wat sou gebeur indien die landbousektor instem om kosproduksie in die hande van ’n landbouminister te plaas.
...

Ná maande se armdrukkery is die Bela-wetgewing in sy geheel deur die President afgeteken en nou is dit wet.

Ek is egter nié so seker of die uitrol van dié wet die gehalte van onderwys in ons land gaan verbeter nie. Diegene wat gaande is oor die wet, moet hul koppe laat lees. Dit gaan nié die gehalte van onderwys in skole wat oorwegend deur arm bruin en swart kinders bygewoon word, verbeter nie.

As oudonderwyser en voormalige prinsipaal van ’n laer- en hoërskool het ek eerstehandse ervaring van die vernietigende impak van die sluiting van onderwyskolleges, die instelling van uitkomsgebaseerde onderwys en hoe die gesag van prinsipale ondermyn is.

Hiervoor moet die ANC pa staan. As regerende party was hulle die afgelope 30 jaar daarvoor verantwoordelik om gehalte-onderwys aan alle leerders te voorsien, maar het ongelukkig daarin gefaal om ons mense se lewensgehalte te verhoog en die potensiaal van almal deur gehalte-onderwys te ontsluit.

Die Grondwet en die Handves van Menseregte is baie duidelik daaroor dat elke kind in ons land toegang moet hê tot die beste onderwys op sy of haar voorstoep! Om druk uit te oefen op ’n paar Afrikaanse skole om dubbelmediumonderwys in te stel, gaan nié die uitdagings in ons onderwysstelsel oplos nie.

Wat is die basiese boublokke wat in plek moet wees om dié uitdagings te oorkom?

  • ’n Hoogs kundige en visionêre prinsipaal en top-onderwysers wat die gesag het om dissipline uit te oefen. In baie gesprekke met vriende wat in die onderwys is, wentel die gesels dikwels om van hul kollegas wat gereeld op een of ander verlof is, wat maak en breek soos hul lus het, kinders wie se gedrag veel te wense oorlaat en allerlei skollie-elemente wat die skool stuk-stuk wegdra. Die leierskap in die onderwysdistrikskantore het dikwels nie die kundigheid óf die wil nie, en nog minder die begrip, om hul voet dwars neer te sit om die prinsipaal en sy senior leierskap by te staan sodat die belhamels vasgevat kan word! Die groot vraag is: Gaan Bela die prinsipaal se hand in dié verband sterk óf gaan hierdie onverkwiklike situasie tot in ewigheid voortduur?
  • Gehalte-moedertaalonderrig is ’n volgende boublok. Die uwe en wyle Neville Alexander het ons destyds vir moedertaalonderrig beywer. Baie van ons vertoë het hul weg na LitNet gevind. Van die artikels is in akademiese tydskrifte en boeke opgeneem. Die kern van my argument is nog steeds dat ons inheemse tale se kulturele, opvoedkundige en ekonomiese potensiaal deur middel van moedertaalonderrig ontsluit moet word. Dit bied nié net ’n intellektuele voorsprong nie, maar dryf ook ekonomiese waardekettings in die uitgewerswese, musiek, opvoedkunde, kunstefeeste en vele ander bedrywe wat werkskepping teweegbring.
  • ’n Volgende boublok hou verband met ’n aktiewe en ondersteunende skoolbeheerliggaam wat sorg dra dat daar netjiese infrastruktuur soos klaskamers, toilette, ’n skoolsaal en sportvelde is en wat deur ’n aktiewe ouergemeenskap onderhou word. Dit moet aangevul word deur genoegsame handboeke, skryfbenodigdhede, rekenaars, ’n goeie internetverbinding en ’n veilige omgewing. As Bela dít teweeg kan bring, dan is ek meer as bereid om my woorde te sluk. Maar ek twyfel, want ons onderwys word te dikwels as politieke speelbal deur politici, politieke partye en self burgerlike bewegings misbruik. Die kind se belange en so ook die land se belange word eenkant toe geskuif om goedkoop politieke punte aan te teken.

Die aftakeling van gesag en die skep van ’n kultuur waarin enige vorm van verantwoordbaarheid teengestaan word, het die norm geword. So ook korrupsie en allerlei wanpraktyke wat skole in toksiese instellings omskep het.

Vandag is die eindresultaat skole met oorvol klasse, sommige onderwysers wat maak en breek soos hulle lus het, kinders wat geen agting het vir onderwysers nie, en vervalle infrastruktuur. Noem maar op. Dit is die nalatenskap van die ANC en hul vennote.

...
Terselfdertyd moet organisasies soos Solidariteit, AfriForum en andere hul hande diep in eie boesem steek en hulself afvra of hul aksies hierdie persepsies versterk eerder as om dit om te draai.
...

Die sentralisering van mag in die hande van ’n onderwysminister en ’n provinsiale onderwyshoof het nog nooit iets goeds ingehou nie. Dink jou in wat sou gebeur indien die landbousektor instem om kosproduksie in die hande van ’n landbouminister te plaas.

Ouers het die reg om groter beheer op skole uit te oefen. Dit is hul demokratiese reg. Geen Afrikaanse skole hou leerders uit nie! Daarvan kan ek getuig, en waar demografiese verandering dit vereis en Afrikaanse skole leegloop, het daardie skole uit vrye wil dubbelmedium ingestel.

Ek stem saam daar is geen plek vir eng etniese nasionalisme in ons openbare skole nie! Nasiebou en ’n kultuur wat dienooreenkomstig daarop gerig is om die land se waardes te bevorder, soos vervat in ons nasionale Grondwet, moet die etos van ’n skool rig! En dit is jammer dat Afrikaans in skole en op universiteite dikwels die slagoffer is van diegene wat dit met alle mag wil vernietig omdat dit volgens hulle die taal van apartheid is. Terselfdertyd moet organisasies soos Solidariteit, AfriForum en andere hul hande diep in eie boesem steek en hulself afvra of hul aksies hierdie persepsies versterk eerder as om dit om te draai.

Afrikaans se toekoms lê in die rol wat die taal speel in die verwesenliking van ons grondwetlike waardes en ideale, in hande neem met skole in arm gebiede, welwillendheid, die deel van kundigheid en nasiebou. Dit vind reeds op vele terreine plaas. Deur oor Bela arm te druk en te tob, verval ons in slagofferskap eerder as om te fokus op nasieskap.

Lees ook:

Taal is die sleutel tot die kennisekonomie

Die ekonomiese waarde van die moedertaal

Persverklaring – BELA-wet: SAAWK spreek kommer uit oor bedreiging vir moedertaalonderrig

Kaaps in fokus-referaat: Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps

Japie Helpmekaar-gedenklesing: opbouende aktivisme broodnodig

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Christo ja, presies 'n jaar gelede het jy 'n vreeslike lang artikel ter ere van FW "wigte en teenwigte" De Klerk geskryf.

    https://www.litnet.co.za/fw-de-klerk-en-nelson-mandela-se-nalatenskap-het-die-deure-vir-suid-afrika-wawyd-oopgemaak-daarvoor-moet-ons-hulle-eer/

    Daarin besing jy De Klerk se bydrae tot die sukses van Suid-Afrika se landbou. Hoewel ek groot agting vir jou kennis en insig in landbousake het, kon ek gladnie die kloutjie by die oor bring nie. De Klerk was self nooit minister van landbou nie. Hy was wel minister van onderwys. Sy regering het die Afrikaners belowe daar sal altyd Afrikaanse skole wees. Sy regering het gelieg. Hy en al sy ministers. BELA is 'n breuk met die 1994 - 1996 ooreenkoms en dit bevestig dat die sogenaamde "regses" nie so ver uit die kol was nie.

    BELA gaan nie net Afrikaans verwoes nie. Dit gaan die laaste funksionerende skole verwoes. Moedertaal is die enigste manier waarop die gemiddelde leerder ook noemenswaardig gehelp word om nuwe inligting te bemeester. Oor drie dekades sal die professore en doktore en lektore seker proefskrifte oor BELA skryf aan hulle Engelse universiteite. Wanneer dit te laat is.

    BELA gaan nie onderwys verbeter nie. Dit sal eerder die onderwys in lyn bring met die Departement van Onderwys se eie standaarde. Gaan kyk gerus so bietjie wat vang die Departement van Onderwys aan in Noord-kaap, in Gauteng, die een skandaal na die ander.

    En die verengelsing van ons skole gebeur alles onder die leuse van ons land "diverse mense verenig". Ons kan dit nou maar verander na: Diverse mense verengels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top