Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

  • 0

Christo van der Rheede (foto: Naomi Bruwer)

ATR, Jakes Gerwel-gespreksreeks – Suidoosterfees – 28 April 2018

Christo van der Rheede

’n Taal sonder toekomswaarde is ’n dooie taal. Niemand praat dit meer nie en niemand gee daarvoor om nie! Dit is nie die geval met Afrikaans nie. Afrikaans is ’n lewende taal wat deur sy miljoene sprekers daagliks lewend gehou word. Dis ’n taal wat op velerlei terreine waarde bied. Dis ’n drywer vir die skeppende kunste. Mense sing, dig, skryf en speel toneel in Afrikaans. Talle beoefen ook ’n beroep, byvoorbeeld as onderwyser, omroeper of joernalis, in Afrikaans. Vele produkte, soos koerante, tydskrifte, CD’s en films word in Afrikaans geskep, en dit hou weer direkte en indirekte ekonomiese voordele in vir die mense wat hul kreatiwiteit ontsluit om sulke produkte te skep. Die ontwikkeling van slimtegnologie bring ook nuwe moontlikhede vir Afrikaans na vore en die benutting daarvan om nuwe produkte en dienste te ontsluit. Die Afrikaanse mark is ’n veerkragtige en vermoënde mark en uiters ontvanklik vir iets nuuts in Afrikaans. Daarom bied die vele Afrikaanse kunstefeeste ’n ongelooflike platform vir kunstenaars om hul talente ten toon te stel.

Afrikaans is dus nie net ʼn kommunikasiemedium nie, maar is ook die hoof ekonomiese bestanddeel van ʼn wye verskeidenheid taalkommoditeite of taalprodukte en -dienste wat deur velerlei sektore bemark word. Onder andere behels dit sektore soos die kennisekonomie, kommunikasie, onderwys en opleiding, tweedetaalonderrig, publikasie, advertering, televisie, film, radio, musiek, toerisme, inheemse kruie, kunstefeeste, tradisionele drag en argitektuur, inheemse kookkuns, kommunikasiepatalogie, versekering, kontaksentrums, uitvoerende kunste, ontwerp, taaldienste, sagteware, kunsvlyt, visuele kunste, kultuurgeriewe en erfenis. Die wye verskeidenheid dienste en produkte wat deur hierdie sektore na die mark gebring word, benut taal en kultuur as primêre hulpbronne, mediums van ontwikkeling of bronne van kreatiewe inspirasie.

Die uitbou, handhawing en kreatiewe aanwending van Afrikaans is dus van kritieke belang, daarom moet almal wat werk en welvaart in Afrikaans skep, saamstaan vir die behoud van Afrikaans as ʼn onderrigtaal op skool asook op naskoolse vlak. Sonder taal en ʼn aanvraag na taalkommoditeite sal die kultuurbedryf en daarmee saam die kopieregbedryf nie kan voortbestaan nie. Erger nog in die afwesigheid van ʼn broeikas waarin kreatiwiteit en nuwe denke neerslag vind, sal ook die kennisekonomie nie in Suid-Afrika kan gedy nie en sal groot dele van taalgemeenskappe net verbruikers bly terwyl die geleenthede vir welvaartskepping in die kennisekonomie by hulle verby glip.

Die ongelooflike geleenthede vir werk en welvaart waar taal as drywer aangewend word om verskillende bedrywe te vestig, is egter legio. Produktiwiteit en kreatiwiteit in en deur Afrikaans en ons inheemse tale kan dus nie langer geïgnoreer word nie en het ’n rol te speel in die omdraai van Suid-Afrika se lae groeikoers en die bekamping van velerlei ekonomiese uitdagings wat dit tot gevolg het.

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Conrad Steenkamp

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top