Japie Helpmekaar-gedenklesing: opbouende aktivisme broodnodig

  • 0

 

Die Helpmekaar-beweging is gebore uit die nood van landgenote wat na die rebellie van 1914 deur armlastigheid in die gesig gestaar is. Hierdie vorm van medemenslikheid (wat vandag ook as ubuntu bekend staan) het stukrag verkry toe JE de Villiers van die Paarl, later bekend as oom Japie Helpmekaar, ₤500 beloof het as nog 500 honderdponders hul deel bydra. Die landwye insameling is gebruik om die rebelle se boetes en skadevergoedingseise te betaal, en die restant is tussen die destydse vier provinsies verdeel om vir opvoedkundige doeleindes aangewend te word. Vandaar die ontstaan van die Kaaplandse Helpmekaar Studiefonds, waarby die Natalse Helpmekaar mettertyd ingelyf is. Die Helpmekaar-studiefonds het in 2016 sy eeufees gevier en bied sedert daardie jaar ook elke jaar 'n Japie Helpmekaar-gedenklesing aan. Vanjaar se gedenklesing is deur Christo van der Rheede gelewer en hy deel dit hier met LitNet se lesers.

Ons leef in ’n voortdurend veranderende wêreld. Sedert die aarde se vorming 4,54 miljard jaar gelede is dit en al die lewe wat dit huisves in ‘n konstante staat van verandering. Dit geld ook vir die heelal wat uit die aarde en sowat 30 miljard triljoen ander hemelliggame bestaan. Niks en niemand kan verandering ontsnap nie! Dit vergestalt op allerlei wyses en in allerlei vorme.

Heraklitus, ʼn Griekse filosoof, het reeds in 500 vC opgemerk dat die enigste konstante ding in die lewe verandering is. Verandering vereis dat alle vorme van lewe voortdurend moet aanpas. Die mens in reaksie op voortdurende veranderinge in die omgewings waarin hy hom bevind, is ‘n eindproduk van meer as 300 000 jaar se evolusionêre aanpassing.

Die mens se uitsonderlike intellektuele vermoëns het egter nie net daartoe gelei dat die mens voortdurend by veranderinge in die omgewing aanpas nie. Dit het óók daartoe gelei dat die mens die omgewing begin aanpas het om te kan oorleef.

Hierdie pogings om die omgewing aan te pas om te oorleef, het sowat 8 000 vC begin posvat toe die Mesopotamiërs nedersettings gevestig en landbou begin beoefen het. Aanpassings van die omgewing om op deurlopende basis in die mens se voedselbehoeftes te voorsien hou tot vandag toe verreikende implikasies vir alles en almal in.

Die ontwikkeling van landbou het die antieke samelewings stelselmatig begin verander, veral hul kultuur en die sosiale, ekonomiese en politieke strukture en organisasie wat hulle oor eeue heen tot stand gebring en gehandhaaf het. Van die belangrikste veranderinge wat later tydens die landbou-era plaasgevind het, was die opkoms van georganiseerde godsdiens, die ontwikkeling van skrif, lees en numeriese vaardighede. Dit behels ook ’n verskeidenheid van instellings, die uitbreiding van handel, die ontwikkeling van geld as ruilmiddel en die opkoms van state en ryke.

Die vermoë van die mens om landbou- en ander produkte volhoubaar te produseer het gevolglik ’n groeiende en voltydse ekonomiese aktiwiteit geword. Dit het op sy beurt tot gevolg gehad dat dienste uitgebrei is. Mense se vaardighede is ontwikkel om ’n bepaalde amp te vervul en mense is voltyds in diens geneem. Handel het gehelp om stede en samelewings met mekaar te verbind en om produkte en idees te ruil.

Handel op ’n globale skaal is verder vergemaklik deur handelsooreenkomste, vrye handel, die afname in vervoer- en kommunikasiekoste en die ontwikkeling en benutting van tegnologie. Dit het daartoe gelei dat die afgelope halwe eeu ’n tydperk van buitengewone groei vir die wêreldekonomie was. Die meeste burgers in die meeste lande is vandag baie beter af as in die na-oorlogse jare. Die pas van tegnologiese verandering was en bly steeds merkwaardig. Globalisering het enorme voordele meegebring. En daar is sterk redes om te verwag dat hierdie proses sal voortduur

Die maatskaplike gevolge wat egter uit die globale kulturele interaksie en ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling voortspruit, het sedert die vroegste tye die behoefte laat ontstaan om die staat se kapasiteit uit te bou. En die rede was om die komplekse ekonomiese en nie-ekonomiese verhoudings tussen burgers en tussen aangrensende gemeenskappe en state te reguleer. Ook om wet en orde te handhaaf.

In baie gevalle was en is die staat se rol nog steeds nié net beperk tot om te reguleer óf om wet en orde te handhaaf nié. Maar dit is deur die eeue heen deur sommiges gemanipuleer om politieke en ekonomiese mag om een of ander duistere rede te bekom. Misbruik van politieke, kulturele, godsdienstige en ekonomiese mag is tot vandag toe ‘n veranderlike wat ’n uiters verwoestende impak het. Op die aarde, alles wat daarop leef en ook op gemeenskappe.

Dit lei onder andere tot oorloë, geweld, verwoesting, onderdrukking, gruweldade, uitwissing van diere- en plantspesies, grootskaalse besoedeling, ineenstorting van biodiversiteit en klimaatsverandering. En terwyl polarisasie, korrupsie, misdaad, menseregteskendings en vele ander uitdagings hoogty vier, lei onskuldige mense en ook die natuur daaronder. In baie state het dit verval, verarming en ongekende lyding meegebring.

Die mens het egter nog nooit misbruik van mag, menseregteskendings, verval, agteruitgang en onregverdigheid gelate aanvaar nie! Deur middel van nuwe idees en opbouende aktivisme kon die mens deur die eeue heen positiewe verandering teweeg bring. Diegene wat mag vir eie gewin misbruik, is nog altyd getroef deur hulle wat die mag van nuwe idees en aktivisme ter wille van ’n beter toekoms vir almal wou ontsluit. En dit is op elke liewe lewensterrein die geval.

Op die politieke terrein was daar staatsmanne soos Abraham Lincoln wat slawerny in Amerika help beëindig het, Winston Churchill wat Hitler in sy spore gestuit het. En ‘n Nelson Mandela en FW de Klerk wat apartheid tot ’n einde gebring het. Hulle het die grondslag vir Suid-Afrika se demokratiese bestel gelê.

Op die terrein van die wetenskappe was daar Galileo Galilei, Charles Darwin, Isaac Newton, Albert Einstein en Katherine Johnson. Laasgenoemde was 'n Afro-Amerikaanse wiskundige en Nasa-werknemer wie se berekeninge van orbitale meganika van kritieke belang was vir die sukses van die eerste en daaropvolgende Amerikaanse bemande ruimtevlugte.

Op die maatskaplike terrein het aktiviste soos Mahatma Gandhi, Martin Luther King, Moeder Teresa, Helen Keller en vele ander ’n ongelooflike rol gespeel om bewustheid oor ’n bepaalde kwessie te bevorder. Óf om stelsels te beveg wat mense se menswaardigheid op een of ander wyse gruwelik aangetas het. Deur hul aktivisme kon hulle sosiale kwessies en onregte blootlê, massasteun mobiliseer en verandering bewerkstellig.

Toonaangewende kundiges op ekonomiese gebied, soos Steve Jobs, Bill Gates, Aliko Dangote, Patrice Motsepe, Magda Wierzycka, Koos Bekker en vele ander het met nuwe tegnologie- en besigheidsidees ’n radikale omwenteling in die manier waarop mense kommunikeer en handel dryf, teweeg gebring.

Volgens Klaus Schwab, stigter en uitvoerende voorsitter van die Wêreld- Ekonomiese Forum, sal dié radikale ekonomiese en politieke omwenteling vir die voorsienbare toekoms voortduur. Dit staan ook bekend as die Vierde Industriële Revolusie. En dit is besig om ’n nuwe ekonomie en 'n andersoortige vorm van globalisering in te lei.

Hierdie ontwikkelinge vereis nuwe vorme van oorsig om die openbare belang te beskerm. Of dit tot die mens se voordeel sal strek, hang af van korporatiewe, plaaslike, nasionale en internasionale openbare instellings se begrip van die veranderinge wat die vierde industriële revolusie tot gevolg sal hê en of dit betyds daarby sal aanpas. In dié verband het jongmense met nuwe idees en hul opbouende aktivisme ’n reuserol te vervul.

Ons het egter nie hier met ’n unieke situasie te doen nie. Die eerste industriële revolusie het in 1765 met stoomenjins afgeskop. Die tweede het in 1870 met grootskaalse opwekking van elektrisiteit ’n aanvang geneem. En die derde het met die ontwikkeling van rekenaars in 1969 momentum gekry. Dit het tot grootskaalse verandering, ontwrigting en aanpassing vir die ganse mensdom gelei.

Dit is gedurende die tydperk van die tweede industriële revolusie dat Jacob de Villiers, ook bekend as Japie Helpmekaar, uitvoering aan die idee van ’n Helpmekaarbeweging gegee het. Hy het die gemeenskap uitgedaag dat hy 500 pond sou bydra indien 500 mense elk 100 pond sou bydra. Deur hierdie edele inisiatief kon die afgelope eeu derduisende lenings en beurse aan verdienstelike studente toegeken word – met een doel voor oë: om studente te bemagtig sodat hulle ’n beduidende rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika moet speel.

Suid-Afrika het egter sedert die stigting van die Helpmekaarbeweging enorme verandering op vele terreine ondergaan. Veral op die politieke terrein. Sedert 1994 is ‘n grondwetlike demokratiese bestel ingevoer. Die nasionale Grondwet wat dit onderlê, waarborg vir alle Suid-Afrikaners menswaardigheid, nierassigheid en nieseksisme, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.

Ons grondwetlike demokrasie word egter uit alle oorde bedreig. En ons nasionale Grondwet is onder beleg. Staatskaping, korrupsie, misdaad, vertrapping van menseregte, swak dienslewering, ekonomiese verval en politieke vuilspel is aan die orde van die dag. Die gevolg is verdere verdeeldheid en polarisasie gegrond op ras en klas.

Daar rus daarom ’n groot verantwoordelikheid op alle Suid-Afrikaners om seker te maak dat al hierdie waarborge wel verwesenlik sal word. Die meeste Suid-Afrikaners bly toegewyd tot die bereiking van hierdie ideaal. Dit gee hoop midde die misbruik van politieke mag om die staat vir eie gewin en selfverryking te kaap. Wat ’n geweldige terugslag is dit nie vir ons grondwetlike bestel en die nasiebouprojek wat in 1994 van stapel gestuur is nie.

Die letsels is duidelik sigbaar! Die afgelope nasionale verkiesing se uitslae dui daarop dat Suid-Afrikaners se vertroue in politici en die demokratiese bestel ’n groot knou weg het. Ongeveer 18 miljoen Suid-Afrikaners het verkies het om nie te gaan stem nie. Indien die onbetrokke getal kiesers voortgaan om toe te neem, hou dit uiters negatiewe implikasies vir goeie regering en demokrasie in Suid-Afrika in!

Wie van ons jong mense is vandag bereid om, soos die vele leiers, denkers en aktiviste van ouds, die misbruik van mag in Suid-Afrika te troef? En dit is om die mag van nuwe idees en opbouende aktivisme ter wille van ’n beter toekoms in belang van al ons mense te ontsluit.

Die politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat Suid-Afrika nou in die gesig staar, is niks nuuts nie. Dieselfde uitdagings het ook vir Japie Helpmekaar en sy tydgenote meer as 100 jaar gelede in die gesig gestaar. Wat was die Helpmekaarbeweging se antwoord daarop? Om wanhopig te raak, tou op te gee en op ’n ashoop te gaan sit? Nee, allesbehalwe dit! Dié uitdagings is met nuwe idees en opbouende aktivisme getroef. Vandag, meer as 100 jaar later, pluk ons jongmense nog steeds die vrugte van ’n visie wat die toets van die tye weerstaan. Dit het nie verkrummel nie.

’n Tydsgewrig wat gekenmerk word deur snelle verandering, ontwrigting, politieke magsmisbruik en wanhoop, vra dringend vir nuwe idees en opbouende aktivisme. In die gees van die Helpmekaarbeweging, kom ons help ons jongmense om deur middel van hierdie boublokke ’n beter toekoms in belang van alle Suid-Afrikaners en ook vir hul nageslag te help vestig. Oor verandering het ons weinig beheer; oor hoe ons daarop reageer, het ons wel!

 

Voorsittersrede by die Helpmekaar-studiefonds se eeufees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top