Voorsittersrede by die Helpmekaar-studiefonds se eeufees

  • 2

  • Klik op hierdie skakel om nog bydraes in LitNet se voortgaande universiteitseminaar te lees.

Die Helpmekaar-studiefonds vier vanjaar sy eeufees. Ebbe Dommisse deel sy voorsittersrede by dié fonds se eeufeesviering op Vrydag die 29ste Julie 2016.

Ebbe Dommisse (foto: Naomi Bruwer)

Helpmekaar-eeufees, La Garonne, 29 Julie 2016

Vanjaar is dit presies 100 jaar dat die Helpmekaarvereniging van die Kaapprovinsie, die voorloper van die Helpmekaar-studiefonds, in Kaapstad gestig is.

Die Helpmekaar-beweging is gebore uit die nood van landgenote wat na die rebellie van 1914 deur armlastigheid in die gesig gestaar is. Hierdie vorm van medemenslikheid (wat vandag ook as ubuntu bekend staan) het stukrag verkry toe JE de Villiers van die Paarl, later bekend as oom Japie Helpmekaar, ₤500 beloof het as nog 500 honderdponders hul deel bydra. Die landwye insameling is gebruik om die rebelle se boetes en skadevergoedingseise te betaal, en die restant is tussen die destydse vier provinsies verdeel om vir opvoedkundige doeleindes aangewend te word. Vandaar die ontstaan van die Kaaplandse Helpmekaar Studiefonds, waarby die Natalse Helpmekaar mettertyd ingelyf is.

Die eeufeesviering vind vanaand plaas op La Garonne, die plaas wat vroeër Waterval genoem is en aan oom Japie Helpmekaar behoort het. Ons is hier byeen danksy die welwillendheid van Johann Rupert, wie se groep ‘n lang verbintenis met die Helpmekaar het. Dr Rupert sal vanaand ook die eerste Japie Helpmekaar Gedenklesing hou.

Prestasies

Die Helpmekaar-studiefonds (HSF) is een van die weinige instellings wat in die grootste moontlike mate in die finansiële behoeftes van Afrikaanse studente voorsien, met geen diskriminasie op grond van ras, geslag of godsdienstige oriëntasie nie.

Vanjaar is lenings wat deur die HSF geadministreer word, aan 1 650 studente toegeken. Ons kapitaaluitleg aan studente – wat ons grootste bate is – raak aan R120 miljoen.

Die afgelope 100 jaar is lenings aan honderde studente toegeken om hulle in staat te stel om tersiêre kwalifikasies te verwerf. Onder hulle tel groot geeste wat ‘n betekenisvolle voetspoor op die Suid-Afrikaanse landskap gelaat het - bekendes soos die hartsjirurg-broers Chris en Marius Barnard en die immunoloog MC Botha van die eerste hartoorplantingspan, ‘n president van die Reserwebank, MH de Kock, die bekroonde digter Breyten Breytenbach, die politieke leier Frederik van Zyl Slabbert, die satirikus Pieter-Dirk Uys, die geestelike leier Allan Boesak, die sanger Arno Carstens en CGW Schumann, stigter en dekaan van die Fakulteit Handelswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. ‘n Onlangse wenner van die Helpmekaar-medalje vir prestasie, Kaliefie Gildenhuys, het haar doktorsgraad met ‘n baanbrekerstudie oor malariamedikasie verwerf.

Nuwe uitdagings

In ons 100ste jaar is daar nuwe uitdagings. Groot nuwe ontwikkelinge wag op die onderwysstelsel in die volgende paar dekades, veral weens die eksponensiële uitbreiding van tegnologie. Sommige futuroloë praat van die Vierde Nywerheidsrevolusie, waarin sagteware en bedryfsplatforms binne die volgende dekade die meeste tradisionele nywerhede gaan ontwrig. Volgens hierdie beskouings kan tot 70% van bestaande beroepe en werkgeleenthede in die volgende twee dekades verdwyn. Daar sal baie nuwe vorme van werk wees, maar waarskynlik nie genoeg om die bestaandes te vervang nie. Dit verg aangepaste onderrigbenaderings.

Afrikaans

Nog ‘n wesenlike probleem is die politieke aanslag teen Afrikaanse skole en die aftakeling van Afrikaans as onderrigtaal aan instellings vir tersiêre onderrig.

Daar is tans 2 016 openbare skole waar Afrikaans die taal van onderrig is. Van dié skole is 1 309 (65%) in die Wes-Kaap. Hierdie skole het in 2015 'n slaagsyfer van 93% gehad teenoor die land se gemiddeld van 70,7%. Afrikaanstalige matriekkandidate maak nasionaal die meerderheid uit van leerders wat meer as 80% in wiskunde en fisiese wetenskappe behaal en hulle lewer ‘n groot bydrae om die skaars vaardigheidsbehoeftes van ons land aan te vul.

Die aanslag teen Afrikaans geskied ondanks die bewese voordele van moedertaalonderrig, wat noodsaaklik vir konseptuele begrip asook vir die ontwikkeling van abstrakte denke op tersiêre vlak is. Dit gebeur ook ondanks omvangryke teenstand teen hierdie aftakeling en briljante pleidooie vir die behoud en verdere ontwikkeling van Afrikaans deur vooraanstaande denkers soos die Hertzog-pryswenners Marlene van Niekerk en Breyten Breytenbach, twee van die mees begaafde intellektuele in die geskiedenis van die land. En dit gebeur ondanks die feit dat Afrikaans as medium van onderrig deur die Minister van Hoër Onderwys as ‘n “nasionale bate” beskryf word. Die Minister steun op skrif die behoud van Afrikaans as medium van akademiese uitdrukking en kommunikasie in hoër onderwys, en hy het hom daartoe verbind om toe te sien dat die vermoë van Afrikaans om te funksioneer as ‘n medium nie geërodeer word nie.

Desondanks skakel sommige tersiêre instellings Afrikaans summier uit, ander erodeer dit stadiger, sommige loop hulle vas in die howe. Deurgaans blyk egter ‘n deurlopende tema wat die taal en kultuur van Afrikaanstaliges in al hul variante as minderwaardig beskou en daardeur hul menswaardigheid minag.

Die omvang van die probleem wat gebrekkige moedertaalonderrig veroorsaak, blyk uit navorsing van die Universiteit van Kaapstad oor disfunksionele skole waar moedertaalonderrig slegs tot gr 4 aangebied word. Wanneer sulke leerders gr 12 bereik, het hulle gemiddeld ‘n agterstand van vyf jaar teenoor hul medestudente wat moedertaalonderrig tot matriek het. Vyf jaar is ‘n halwe skoolloopbaan! Dit is ‘n deel van die verklaring waarom die druipsyfer aan universiteite so skrikwekkend hoog is.

Hierby moet ingereken word die staat se sukkelende finansies, ‘n probleem wat deur korrupte, eerlose politici vererger word. Subsidies aan universiteite is die laaste jare voortdurend verminder, met die gevolg dat sommige op die rand van bankrotskap staan, boonop terwyl radikale studente met hul veldtog van #FeesMustFall op gratis onderwys aandring. Die studente-opstande was in elk geval waarskynlik maar net die begin van wat afrikanisering en dekolonisering van kampusse en leerplanne genoem word.

In omstandighede soos hierdie is dit vir ‘n instansie soos die Helpmekaar in sy eeufeesjaar opnuut nodig om ernstig oor sy doelstellings te besin.

As die staat en staatsuniversiteite die jeug in die steek laat, is daar eintlik net een uitweg, en dit is private inisiatief. In hierdie verband word in die gedenkboek wat ons gaste vanaand ontvang, verwys na die Chinese spreuk dat elke ramp ook ‘n geleentheid is – soos destyds in 1916, so vandag in 2016. Private inisiatief was immers die dryfkrag vir die Helpmekaar se grootse poging met sy stigting om mense in nood by te staan.

Vandag word private universiteite gereken onder die voorstes ter wêreld, byvoorbeeld in die VSA. Ook elders in Afrika gaan daar binnekort meer private universiteite as die openbare instellings wees, volgens die sekretaris-generaal van die Association of African Universities. In Suid-Afrika self is daar reeds byna 90 private instellings teenoor die 26 staatsuniversiteite.

In alle gevalle is dit belangrik dat ‘n gemeenskapsgerigte universiteit ‘n krag vir die ontwikkeling van sy gemeenskap moet wees, een wat selfs in die sogenaamde basiese wetenskappe iets moet doen aan die insig, begrip en wysheid van samelewings. Ware opvoeding streef na wysheid, nie blote kennis of tegniese vaardigheid nie, sodat goeie samelewings gebou kan word – en daarin staan moedertaalonderrig sentraal.

Die uitdagings wat wag, bied dus ook geleenthede. In die lig hiervan beskik ons by die Helpmekaar gelukkig oor die kundige dienste van direkteure en lede, sonder dat hulle enige vergoeding daarvoor ontvang, asook ‘n lojale en toegewyde personeel wat ons studente deurlopend bystaan.

Steeds help ons mekaar en ander in die gees van die Helpmekaar. Ons sien uit na die uitdagende geleenthede van die volgende 100 jaar!

Ebbe Dommisse

Voorsitter

 

  • 2

Kommentaar

  • Die filantroop wie se lof in die eerste gedeelte van die psalm besing word, se standpunte by dieselfde geleentheid staan in skrille kontras met wat verder hierin betoog word. Die jeug is bekommerd oor kwessies anders as taal, soos hul loopbane, sê hy. Geld het hom armgeestig gemaak. Ek wonder wat diegene wat destyds baklei het, toe daar nog geen "mark" vir Afrikaans was nie, om dit steeds as hoër onderrig taal te vestig, hieroor te sê sou hê.

  • Johannes Comestor

    Die Burger het Johann Rupert se nogal negatiewe opmerkings oor Afrikaans prominent gepubliseer maar wat Ebbe Dommisse by dieselfde geleentheid gesê het heeltemal geïgnoreer. Ek is dankbaar dat Dommisse sy teks op LitNet gepubliseer het en dank hom vir wat hy ten behoewe van Afrikaans doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top