
Nelson Mandela (© John Mathew Smith 2001, CC BY-SA 2.0) en FW de Klerk (Library Am Guisanplatz (de), Collection Rutishauser, CC BY-SA 4.0)
...
Saam het hulle ons land, wat in daardie stadium deur burgerlike konflik, haat en wantroue geteister is, verhef tot ’n voorbeeld van ’n modelstaat wat op gesonde grondwetlike boustene gegrond is. En so die deure oor die wêreld heen vir Suid-Afrika wawyd oopgemaak.
...
In 2024 vier ons 30 jaar van ons demokrasie. Miljoene mense het in 1994 vir die eerste keer die geleentheid gekry om vir ’n nuwe demokratiese regering aan bewind te stem. Dit was die gevolg van die visioenêre leierskap van twee van die mees gewaardeerde politieke leiers van ons tyd, wyle presidente Nelson Mandela en FW de Klerk. Albei het besef dat Suid-Afrika nie meer met sy rasgebaseerde stelsel van uitsluiting, kortom apartheid, kon voortgaan nie, ’n stelsel wat gekenmerk is deur marginalisering, ontneming, gedwonge verskuiwings, werkreservering en militarisering van die staat, veral teen sy swart burgers.
De Klerk, eertydse leier van die Nasionale Party, en Mandela, leier van die ANC, het ’n groot aandeel daaraan gehad om ’n stewige grondslag te lê vir die vestiging van ’n vrye en demokratiese Suid-Afrika deur die ontbanning van die ANC, die aftakeling van apartheidswette en die onderhandeling van ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika. Saam het hulle ons land, wat in daardie stadium deur burgerlike konflik, haat en wantroue geteister is, verhef tot ’n voorbeeld van ’n modelstaat wat op gesonde grondwetlike boustene gegrond is. En so die deure oor die wêreld heen vir Suid-Afrika wawyd oopgemaak.
Dit het onder andere die volgende behels:
- die vestiging van ’n grondwetlike demokrasie
- ’n program gemik op nasiebou om die verdeeldheid van die verlede te genees
- die skep van ’n samelewing gebaseer op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en basiese menseregte
- die grondslag lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin die regering gegrond is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die wet beskerm word
- die verhoging van die lewensgehalte van alle burgers
- ontsluiting van die potensiaal van elke mens
- die bou van ’n verenigde en demokratiese Suid-Afrika wat sy regmatige plek as soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.
Suid-Afrikaners het in hul miljoene opgedaag om te stem en ’n nuwe demokratiese bedeling is ingelui op grond van ’n indrukwekkende stel waardes, ideale en regte wat in ons nasionale Grondwet ingebed is. ’n Era van konflik tussen swart en wit het tot ’n einde gekom. Ook ’n einde aan Suid-Afrika se pariastatus in die oë van die internasionale gemeenskap en die einde van ’n era van sanksies wat Suid-Afrika se handel met die res van die wêreld en direkte buitelandse beleggings ondermyn het.
Die landbousektor was gereed vir die geweldige groei wat oor die afgelope dertig jaar plaasgevind het. Inderdaad ’n prestasie wat gevier en vereer moet word. Proaktiewe stappe is ná 1994 gedoen om handel te liberaliseer en Suid-Afrikaanse produsente se integrasie in globale voedselwaardekettings te verdiep, internasionale markte aktief na te streef, landboupraktyke te moderniseer en ’n inklusiewe en groeiende sektor te bou. Landboubemarkingsrade en die enkele bemarkingstelsel wat produsente voorheen gedwing het om met magtige internasionale supermarkte te onderhandel, is uitgefaseer.
Handelsliberalisering het egter ook gelei tot die uitfasering van tariefbeskerming aan Suid-Afrikaanse boere en verdere afname in landbousubsidiëring. As gevolg van laasgenoemde het die steun aan Suid-Afrikaanse produsente tot sowat 3% gekrimp – ver onder die 20%-gemiddeld van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO). Ondersteuning aan produsente in Suid-Afrika het 4,5% van die bruto landbou-ontvangste in 2020–2022 bedra. Die meeste direkte betalings word verskaf as insetsubsidies (terugbetaling van brandstofbelasting) of as beleggingsubsidies wat op kleinskaalse boerdery gerig is.
Ten spyte van al hierdie veranderinge het die waarde van landbouproduksie jaarliks dramaties toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van die toename in waardes van veldgewasse, tuinbouprodukte en diereprodukte. Agritoerisme, insluitend professionele jag- en verwante bedrywe, het ook mettertyd geweldige groei beleef.
Die varsvrugtebedryf in Suid-Afrika word nou beskou as die grootste bydraer tot die landbou-uitvoersektor (volgens waarde) en ’n belangrike bron van indiensneming. Vandag maak varsvrugte ongeveer 35% van Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere uit. Vrugte wat uitgevoer word, sluit in sitrusvrugte, kernvrugte, steenvrugte, tafeldruiwe, subtropiese vrugte, bessies en ander eksotiese vrugte – na meer as 100 bestemmings uitgevoer. Ook groente word uit Suid-Afrika uitgevoer. Die ekonomiese waarde wat uit hierdie uitvoere gegenereer word, bedra meer as $3,3 miljard per jaar.
Die avokadobedryf het van sowat 13 000 hektaar in 2010 tot byna 19 000 hektaar tot op hede uitgebrei. Volume sal na verwagting teen 2028/2029 tot 250 000–300 000 ton groei. Appel- en peeruitvoervolumes het van 2010 tot 2019 onderskeidelik met 41,81% en 16,70% gegroei. Dit het saamgeval met ’n groei in perske- en nektarienuitvoere wat die afgelope dekade sterk groei in volume en waarde getoon het. Die aantal uitvoerkartonne was 55% meer in 2019 as in 2010, aangedryf deur die vraag na nektariens.
Met ’n totale waarde van meer as R60 miljard wat vir 2029 geprojekteer word, sal buitelandse inkomste na verwagting 70,14% van die gesamentlike algehele verdienste in die sitrus-, tafeldruif-, kern- en steenvrugbedrywe bydra.

FW de Klerk en Nelson Mandela by Wêreld Ekonomiese Forum se jaarvergadering in Davos. (Kopiereg: World Economic Forum (www.weforum.org), CC BY-SA 2.0)
Die verhaal van die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf word beskou as een van die grootste suksesse ten opsigte van ’n geteikende invoervervangingsprogram met ’n gemeenskaplike visie wat deur die regering en private sektor nagestreef word. Twintig jaar gelede het Suid-Afrika slegs 220 000 ton sojabone geproduseer, terwyl die jongste skatting vir die 2023-seisoen op ’n produksie van 2,8 miljoen ton dui. In wese het ’n gunstige beleggingsomgewing tesame met duidelike beleidsmandate deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC) in die vroeë 2010’s die privaatsektor gemobiliseer om die maalkapasiteit in die sojaboonbedryf tot 2 miljoen ton uit te brei. Hierdie beleggings, in kombinasie met ekstensiewe kultivarproewe en die instelling van die tegnologieheffing om saadmaatskappye aan te spoor om Suid-Afrikaanse produsente toegang tot die nuutste saadtegnologie te bied, het die vinnige uitbreiding in produksie tot gevolg gehad.
Wat die professionele, verantwoordelike en etiese jagbedryf betref, dui navorsing daarop dat die benaderde bydrae van trofeejag tot die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat VSA$180 miljoen (R3,4 miljard) bedra. Talle entiteite, soos regeringsliggame wat jaglisensies en -permitte uitreik, personeel wat professionele jagters ondersteun met opsporing, oprigting van kampe, verblyf en ander veldpersoneel is óf direk óf indirek betrokke en baat daarby. Daar is ook die jaghuise (kokke, skoonmakers, mense wat na die veld en die wild omsien, die professionele jagters, ens); taksidermisbedryf (sake-eienaars en indiensneming); plaaslike toerisme (sake-eienaars en indiensneming); slaghuise (besigheidseienaars en indiensneming) en vele ander wat regdeur die professionele jagwaardeketting betrokke is. Maar die belangrikste van alles is die buitelandse valuta wat Suid-Afrika in die proses verdien.
...
Die heldhaftige en visioenêre leierskap deur Nelson Mandela en FW de Klerk het ’n stewige basis vir hierdie groei gelê. Maar dit was onder leiding van oudpresident Thabo Mbeki en Trevor Manuel, eertydse minister van finansies, dat ekonomiese groei in Suid-Afrika uitgebreide momentum gekry het.
...
Die heldhaftige en visioenêre leierskap deur Nelson Mandela en FW de Klerk het ’n stewige basis vir hierdie groei gelê. Maar dit was onder leiding van oudpresident Thabo Mbeki en Trevor Manuel, eertydse minister van finansies, dat ekonomiese groei in Suid-Afrika uitgebreide momentum gekry het. Tydens hul termyne het die Suid-Afrikaanse ekonomie teen ’n gemiddelde koers van 3,5% per jaar gegroei. Demokratiese Suid-Afrika het in 1994 ’n skuld-tot-BBP-verhouding van 42,7% geërf, wat relatief stabiel gebly het gedurende die vormingsjare onder Nelson Mandela. Dit het in 2008 aansienlik verminder, tot 23,5%, weens die omsigtige fiskale beleid wat tydens beki se ampstermyn aanvaar is en die implementering van gesonde finansiële bestuur deur Trevor Manuel en sy span.
Die termyne van Mbeki en Manuel het egter ongelukkig skielik tot ’n einde gekom toe Mbeki deur president Jacob Zuma vervang is tydens die 52ste nasionale konferensie van die African National Congress (ANC) wat van 16 tot 20 Desember 2007 in Polokwane, Limpopo, gehou is. ’n Meer populistiese rigting is deur die ANC ingeslaan en gevolglik het staatsbesteding dramaties begin toeneem, terwyl staatsinkomste as gevolg van ’n stagnerende ekonomie begin afneem het. Terwyl die lippe van soberheid onder leiding van Thabo Mbeki gesuiwer gebly het, het dit vinnig verander in ’n monster met kake wyd oop om die staat deur korrupsie, wanbestuur en politieke patronaatskap te kaap.
Vandag staar Suid-Afrika groot uitdagings in die gesig. Ons het ons hoop op president Ramaphosa gevestig om Suid-Afrika uit hierdie donker afgrond van staatsmislukking, swak dienslewering, hoë werkloosheid, korrupsie, gebrek aan wet en orde, gebrek aan aanspreeklikheid, politieke boewery en populisme te lei. Ongelukkig, het sy oppervlakkige benadering om komplekse uitdagings op te los, onvermoë om kabinetslede tot verantwoording te roep en besluiteloosheid die sosiale, ekonomiese en politieke teëspoed wat ons land in die gesig staar, versnel. Beleggings is besig om ander bestemmings te vind, invoere begin uitvoere oorskry, en buitelandse skuld neem toe, wat die betalingsbalans ondermyn het. Valutadevaluasie is gevolglik verhaas.
Suid-Afrika staar ook ernstige fiskale probleme in die gesig. Staatsbesteding oortref staatsinkomste. Die prioritisering van maatskaplike uitgawes teenoor ekonomiese uitgawes het daartoe gelei dat staatsbeheerde ondernemings openbare dienste nie meer effektief kan lewer en kragsentrales, spoornetwerke, hawens, paaie en waterinfrastruktuur in stand kan hou nie. Suid-Afrika se ekonomie is vinnig besig om uit te hol, die bronne van groei raak uitgeput, produktiwiteit is besig om die kreeftegang te gaan.
Werkloosheid, armoede en ongelykheid is op rekordvlakke. Hierdie agteruitgang en uithol van die ekonomie is die gevolg van die beleide van ’n ANC wat vasgevang is in uitgediende ideologiese en rasgebaseerde denke, insluitend kaderontplooiing, ’n kultuur van gebrekkige aanspreeklikheid, en ’n gebrek aan bekwame mense en visioenêre en diensgeoriënteerde leierskap. Vir die man op straat is daar min om oor opgewonde te wees op die vooraand van ons 30ste jaar van demokratiese regering, aangesien gewone burgers die ekonomiese agteruitgang direk aan hul bas voel.
Die mag om die koers van Suid-Afrika te verander, weg van vernietiging na heropbou, is in die hande van gewone mense en visioenêre leiers wat nie selfdienend is nie, maar wat hulself as dienaars van die land sien. Die verkiesing in 2024 bied ’n geleentheid om so ’n politieke leierskap te kies, ’n politieke leierskap wat verstaan dat state wat die beste presteer, veiligheid, goeie bestuur, hoër welvaart en maatskaplike welsyn aan alle gemeenskappe bied. State wat die swakste presteer, misluk ten opsigte van al hierdie maatreëls.
Die voorspelling is dat Suid-Afrika ’n era van koalisiepolitiek betree. Daar is beslis hoop as ’n politieke koalisie uit eendersdenkende politieke leiers en partylede bestaan. Dit is noodsaaklik vir vertroue, samewerking en doeltreffende dienslewering. ’n Koalisie bestaande uit opponerende politieke partye met teenstrydige waardes en beleidstandpunte het egter reeds in baie plaaslike regerings gelei tot binnegevegte, swak dienslewering en in sommige gevalle ’n groot mate van die ineenstorting van infrastruktuur.
Suid-Afrikaners kan egter nie op hul louere rus nie, maar moet groter eienaarskap van ons demokratiese bestel neem. En onsself en ons openbare leiers deurlopend tot verantwoording roep. Dit is in die bevordering, beoefening en verdediging van die waardes en ideale wat in ons nasionale Grondwet vervat is dat ons Suid-Afrika daarvan kan red om ’n mislukte staat te word. Daardie verpligting rus op elke burger en almal in die res van die wêreld wat ’n belang by die toekoms van Suid-Afrika het. Laat ons nie net ambassadeurs van ons nasionale Grondwet wees nie, maar laat ons dit in ons gedagtes en dade eer. Elke positiewe bydrae, hoe klein of groot ook al, sal help om die wonderwerk wat ons almal in 1994 ervaar het, toe ons vreedsaam en vol hoop ons nuutgestigte demokrasie ingelui het, te herstel. Laat die onlangse Wêreldrugbykampioenskapsoorwinning deur die Springbokke as resep dien om Suid-Afrika weer in ’n wennasie te verander. Elke dorp moet sy eie Springbokspan begin vestig om die vele uitdagings op dorpsvlak aan te spreek. Die waardes en ideale soos aan die begin van hierdie toespraak verwoord, dien as basis waarop ’n beter en inklusiewe toekoms vir alle inwoners op plaaslike vlak gebou kan word. Ons is dit aan FW de Klerk en Nelson Mandela verskuldig!
Ek wil afsluit met die woorde van wyle president Nelson Mandela:
We slaughter one another in our words and attitudes. We slaughter one another in the stereotypes and mistrust that linger in our heads, and the words of hate we spew from our lips. We slaughter one another in the responses that some of us give to efforts aimed at bettering the lives of the poor. We slaughter one another and our country by the manner in which we exaggerate its weaknesses to the wider world, heroes of the gab who astound their foreign associates by their self-flagellation. This must come to an end. For, indeed, those who thrive on hatred, destroy their own capacity to make a positive contribution. (President Nelson Mandela, parlementsopening, 1999)
- Toespraak gelewer by ’n Bonnievale-sakekamerbyeenkoms
Lees ook:
Die kreatiewe aanbieding van kultuurelemente binne Afrikanerbesienswaardighede


Kommentaar
Iemand het die anderdag op 'n belangrike punt gewys. Die persoon sê dat met die uitsondering van Mapimpi, wat nie in die finaal gespeel het nie, was daar nie 'n enkele Springbok wat nie in 'n gegoede voorstedelike skool gematrikuleer het nie. Is die Springbokke dus werklik so verteenwoordigend van Suid-Afrika? Die deursnee Suid-Afrikaner was nie in 'n gegoede skool nie. Alle internasionale sport is so. Dit is daar vir die welgesteldes se vermaak. Rykes se kinders haal die spanne. Daarmee skiet ek nie sport af nie. Ek sien dit net vir wat dit is: vermaak.
Die artikel is 'n contradictio in terminis. Dit begin deur Suid-Afrika te beskryf as 'n "modelstaat" en eindig by beskrywinge soos "rekordvlakke" van armoede, werkloosheid en ongelykheid. Asook 'n infrastruktuur wat besig is om te vergaan en die "gebrek aan wet en orde".
Jare gelede sou ek heelwat van u sentimente gedeel het, maar nie meer nie. Ek dink nie 'n mens moet, soos die sogenaamde "verregse" Afrikaner, vir De Klerk alleen uitsonder en demoniseer nie. Maar 'n held is De Klerk ook beslis nie. En ek neem so bietjie aanstoot teen die algemene trant van u artikel, wat oorkom as 'n lofrede vir en van De Klerk. De Klerk was wel 'n goeie en uiters suksesvolle politikus. Hy het die hoogste sport bereik as politikus: President van Suid-Afrika. Maar 'n leier vir sy land en mense was hy beslis nie. Hy het die grootste deel van sy politieke loopbaan apartheid gesteun. Die veranderinge wat toe gebeur het in die 1990's was onafwendbaar, en De Klerk en sy ministers (met die klem op EN sy ministers) het hulle gaping geslaan, en het met valse beloftes, en die korrekte benaming is eintlik leuens, het hulle hulle ondersteuners mislei. Laat ons maar nie doekies daaroor omdraai nie. Van al die wigte en teenwigte het dadels gekom. Daar is toe inderdaad geen meer Afrikaanse universiteit oor nie (behalwe nou Akademia), en volgende wat verder gaan verkrummel is Afrikaanse skole.
Wat ons bring by die BELA wet. Maar eintlik meer by hoe die wetgewer in die algemeen werk. Openbare deelnameprosesse is 'n klug in Suid-Afrika, en die kaders in die wetgewer sit maar net daar rond en voer die voorafbepaalde koukusbesluite uit. Dit is tiranie van die meerderheid, en weens ons Grondwet se sentraliserende beginsels (sentralisering van mag in Pretoria), is die gewone Jan Publiek se hande afgekap.
Terug by De Klerk en sy ministers. Behalwe vir die leuenagtige maniere waarop die Nasionale Party hulle ondersteuners mislei het, het nie een van De Klerk of sy ministers ooit ook waarlik pa gestaan vir apartheid nie, en is daar tot uiterstes gegaan om blaam te verskuif, skuld te ontken, en het De Klerk trouens tot sy einde eintlik maar in ontkenning geleef. Die voormalige direkteur van De Klerk se stigting, Theuns Eloff, het selfs bedank as gevolg van De Klerk se ontkenning dat apartheid 'n misdaad was.
Die idee dat daar hoop is in nóg 'n eleksie, is 'n verdere mistasting.
In 'n artikel in The Daily Maverick waarsku doktor Pali Lehohla dat die verkiesing van 2024 niks gaan oplos nie. Hy gaan sover om te sê dit sal moontlik beter wees indien die verkiesing uitgestel word, omdat die politici eenvoudig die ordes van patronaatskappe gaan heropstel en dit selfs sal laat verstewig en verdiep. Lees gerus die artikel by die volgende skakel: https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-12-19-next-years-elections-should-be-postponed-says-former-statistician-general-pali-lehohla-part-one/
In sy artikel probeer Lehohla ook nog om Mbeki en Mandela as goeie leiers voor te hou. Skynbaar in 'n laaste poging om die leser nog bietjie geloofwaardigheid aan die gefaalde demokrasie te gee. Daar bestaan egter ook teen hierdie twee voormalige presidente goeie kritiek, waarop ek nie hier wil ingaan nie. Dit is al tot vervelens toe bespreek en gedokumenteer elders in boeke en artikels, wat enige mens kan gaan lees.
Mandela word veral deur baie jongmense nie meer as 'n held beskou nie. 'n Paar sessies op TikTok is genoeg om die feit te laat uitkristaliseer.
Net soos met internasionale sport, moet politici dans na die pype van ryk mense. Dit word vandag redelik algemeen aanvaar dat presidentskappe in Suid-Afrika bepaal word deur bruin koeverte vol note wat hande verwissel buite oop kattebakke.
Daar is nie enige oplossings in die formele politiek nie. Slegs deur middel van burgerregteorganisasies, kan gewone mense darem nog 'n impak he.
Die Grondwet is nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie. Ons moet waak daarteen om politici so blindweg te bewonder. Dit is 'n groot deel van die probleem in Suid-Afrika.
Daar is maar min mense wat ooghare het vir FW de Klerk. En Nelson Mandela het geweet dat die oormag een of ander tyd die oorhand kry. Die NP-regering van De Klerk was net wat nodig was om oor die regime te stoomroller. Om die twee nou te wil ophemel, is misplaas. As ek kyk na hoe SA nou daar uit sien, nou ja. Dan was alles wat die twee here gedoen het, gegrond op gruwelike oordeelsfoute. Dis miskien net 'n paar veter(h)ane wat nog vir FW de K onthou.