Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009
Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
Opsomming
Alle tale het ekonomiese waarde, sommige meer as andere. Op die kontinent van Afrika word Frans en Engels as gevolg van ’n lang en dikwels gewelddadige geskiedenis van onderwerping en linguistiese imperialisme met prestige, ekonomiese vooruitgang en nuwerwetsheid geassosieer. Daarteenoor is die gebruik van inheemse moedertale beperk tot sosiale interaksie en word dit in baie gevalle geassosieer met agterlikheid, ongeletterdheid en etnotradisionalisme. Hoe kan ons hierdie persepsies verander en die ekonomiese waarde van inheemse moedertale ontwikkel?
Inleiding
Suid-Afrika is ’n veeltalige land met 11 amptelike tale. Na dekades van koloniale en apartheidsbewind en die totale miskenning van ons inheemse tale, word die instrumentele rol daarvan in kulturele, opvoedkundige en ekonomiese bemagtiging en, belangriker nog, nasiebou, uiteindelik erken.
Daarby bied ons nasionale grondwet ’n beleids- en institusionele raamwerk vir die beskerming, handhawing en bevordering van al hierdie tale (Grondwet, 1996, hoofstuk 1). Daar rus dus ’n baie spesifieke grondwetlike verpligting op alle regeringsfere om ’n instaatstellende omgewing vir al hierdie tale te skep sodat dit ’n regmatige rol kan speel in die dryf van gemeenskapsontwikkeling en modernisering en die afbreek van vooroordele en onregverdighede van die verlede.
Hierdie verwagtinge bly na vyftien jaar van demokrasie steeds onvervuld. Inderwaarheid is ons nou by ’n kritieke stadium waar ’n behoorlike evaluering van die bydrae van taalbeleid en institusionele raamwerk in die vervulling van hierdie verwagtinge noodsaaklik is.
Navorsing deur toonaangewende Suid-Afrikaanse taalkundiges soos Neville Alexander, Vic Webb and David Mutasa bevestig die wye omvang en goeie bedoelings van die regering se taalbeleide, maar ook die gebrek aan politieke wil om daaraan uitvoering te gee en ’n versuim aan die kant van die institusionele raamwerk om hul mandaat, naamlik die regverdige en billike beskerming en bevordering van alle Suid-Afrikaners se taalbelange, uit te voer.
– In ’n artikel getiteld "Proper use of mother tongue the way forward" betoog Neville Alexander dat ons taalbeleid, alhoewel baie progressief op papier, toegelaat het dat Engels die "de facto sole official language" word, wat slegs die middelklas en elite in ons samelewing bevoordeel. Terselfdertyd word min gedoen om ons inheemse tale te transformeer tot kulturele kapitaal ten einde ook vir die werkersklas ’n beter lewe te skep (Alexander 2008:9).
– Die neiging na institusionele eentaligheid en die gebrek aan ondersteuning van openbare bestuurders vir ons 11 amptelike talebeleid is ook vir Vic Webb ’n bron van kommer. In ’n artikel getiteld Language policy development in South Africa huldig hy die mening dat ten einde die taalbedeling te bereik wat deur die Grondwet bedoel word, moet die magsrelasies tussen die amptelike tale gebalanseer word sodat voorheen bevoordeeldes nie steeds ’n onregverdige voordeel geniet nie (Webb 2006:11).
– In sy navorsing oor die taalbeleid van Suid-Afrika merk David Mutasa op:
The people do not see much value in African languages […] Authorities seem to be reluctant to ensure that African languages, by appropriate legal provisions, assume their rightful role as of official communication in public affairs, administrative and educational domains. No one seems to take African languages seriously. They seem to have nothing to offer except in everyday communication between members of families and informal conversation with friends and colleagues. (Mutasa 2003:6)
Hierdie besorgdheid oor die bevordering en beskerming van ons inheemse taalbelange is egter nie ’n Suid-Afrikaanse kwessie nie. Die verspreiding van Engels regoor die wêreld en die impak daarvan op die status van inheemse tale is ’n groot bron van kommer vir baie gemeenskappe en vakkundiges.
In Language policy and modernity in Southeast Asia word aandag geskenk aan die impak van Engels op die status van inheemse Suidoos-Asiatiese tale (Rappa et al 2006:5). Hoewel Engels in lande soos Maleisië, die Filippyne, Singapoer en Thailand as ’n etnies "neutrale" taal beskou word, word die wye gebruik daarvan in sekere domeine as problematies beskou. In ’n artikel getiteld "Acknowledging value of mother tongue" wat op die Brunei Times se webtuiste gepubliseer is, het die skrywer, Michael Tan, die volgende te sê:
We need a national language, no doubt, but the current policy is worrisome because it promotes English first, Filipino second – both at the expense of other mother languages. We should allow Filipinos to nurture their own mother language and share this with other Filipinos or even the world. As we begin to appreciate the rhythms and cadences, the humour and the wisdom, in each of our many languages, we just might be able to overcome our parochialism and regionalism and build a nation strong in its multicultural foundations. (Tan 2008)
Hoe skep ons ’n instaatstellende omgewing in Suid-Afrika waarin moedertaal gekoester en ten volle ontwikkel kan word, nie slegs vir sosiale en kulturele interaksie nie, maar ook vir akademiese en ekonomiese doeleindes?
Om hierdie ideaal te kan verwesenlik, is ’n grondige begrip van gemeenskapsontwikkelingsteorie, die rol van moedertaal in hierdie verband en ’n begrip van die noodsaak van so ’n instaatstellende omgewing nodig.
Gemeenskapsontwikkelingsteorie en moedertaal
Gemeenskapsontwikkelingsteorie en -praktyk fokus op die beplanning en bestuur van beleid, projekte, programme en prosesse wat verband hou met volhoubare ontwikkeling, armoedebekamping, werkloosheid, sosiale ongelykheid en die uitputting van natuurlike hulpbronne. Op ’n taktiese vlak verken, moniteer en evalueer dit die uitdagings met betrekking tot gemeenskapsdeelname, bemagtiging, kapasiteitsbou, volhoubare ontwikkeling, selfonderhoudendheid en die leerproses.
Volgens Davids is gemeenskapsontwikkelingsteorie en -praktyk ’n betreklik nuwe verskynsel wat as ’n dissipline skerp na vore getree het na die Tweede Wêreldoorlog. Ontwikkelingsteorie word in verskillende fases ingedeel. Die 1950’s en vroeë 1960’s is oorheers deur die teorieë van die Moderniseringskool. Gedurende die laat 1960’s en vroeë 1970’s was daar ’n sterk fokus op die teorieë van die Afhanklikheidskool, en sedert die 1980’s het die fokus verskuif vanaf die vorige makroteorieë tot die ontwikkeling van mikroteorieë of gemeenskapsgeoriënteerde ontwikkelingsteorieë (Davids 1998:1).
Die Moderniseringskool het voorveronderstel dat die praktyke van onderontwikkelde lande primitief was en dat Westerse ekonomiese praktyke en waardes die enigste resep was om gemeenskappe op ’n pad van ontwikkeling en welvaartskepping te plaas. ’n Klassieke voorbeeld is die veelvlakkige ekonomiesegroei-teorie wat in 1960 deur die Amerikaanse vakkundige Walt Rostow bekend gestel is. Hy het vyf vlakke vir die ontwikkeling van onderontwikkelde lande voorgestel. Dit behels die vervanging van inheemse en tradisionele stelsels met Westerse praktyke, die skep van ’n nuwe politieke elite, die sentralisering van politieke strukture en belyning van politieke, sosiale en institusionele entiteite met ekonomiese doelwitte, die ontwikkeling van mense se tegnologiese en entrepreneursvaardighede en die skep van meganismes en instellings wat hoë vlakke van massaverbruik en -besteding sou skep. Hierdie model is gekritiseer, hoofsaaklik weens die sterk koloniale aard daarvan, die afhanklikheid van Westerse kapitaal en die miskenning van inheemse tale, kultuur en kennis (Davids 1998:3-4).
Die 1960’s is ook gekenmerk deur die ontwikkeling van taalbeleid vir sosiale, politieke en opvoedkundige sisteme. Volgens Hartshorne in Mesthrie is die ontwikkeling van taalbeleid op die Afrika-kontinent beïnvloed deur, enersyds, die totale bevoordeling van koloniale tale op byna alle geïnstitusionaliseerde vlakke van die samelewing en, andersyds, die sterk begeerte deur akademici en skrywers om die moedertale as opvoedkundige en bemagtigingsinstrumente te gebruik ten einde hul lande van die koloniale juk te bevry. Hy som hierdie situasie soos volg op:
There has been a continuing tension in most African countries between these two tendencies accompanied by ambivalent attitudes towards English: on the one hand a recognition of its practical usefulness, on the other an uncomfortable frustration that Africans had little choice because of their subjection to a Western metropolitan culture. (Mesthrie 1995:307)
Volgens Hartshorne is hierdie spanning en ambivalensie gekompliseer deur die feit dat die nuwe politieke elite die akademici en skrywers wat ten gunste van die gebruik van die moedertaal geargumenteer het, totaal geïgnoreer het. Die koloniale taal het immers voorsien in die onmiddellike taalbehoeftes van die elite wat dit sonder behoorlike oorweging aanvaar het as die beste taalopsie vir politieke eenheid, internasionale kommunikasie, die oordrag van kennis en vaardigheid en kennismaking met Westerse waardesisteme.
Die opkoms van die Afhanklikheidskool en hul skerp kritiek teen die ontwikkelingsmetodologie van die Moderniseringskool het akademici en skrywers wat hulle vir die gebruik van die moedertaal beywer het, hernieude hoop gegee. Volgens Davids het die Afhanklikheidskool ook die idee gepropageer dat ontwikkeling nie noodwendig sinoniem is met verwestersing nie. Daarom is ontwikkelende lande aangemoedig om bande te verbreek met Westerse kapitalistiese lande en te streef na selfonderhoudendheid en onafhanklikheid. Kritici van die Afhanklikheidskool het geargumenteer dat dit soveel klem plaas op die identifisering van eksterne struikelblokke in die pad van ontwikkeling dat dit nie daarin slaag om bokant die vlak van retorika uit te styg en sinvolle en volhoubare ontwikkelingsinisiatiewe te bied nie (Davids 1998:12-14).
Tog, hoewel die intrinsieke waarde van die moedertaal vir volhoubare en selfstandige gemeenskapsontwikkeling deur Afhanklikheidsteoretici erken is, is min vordering gemaak met die invoer van die moedertaal op institusionele vlak, veral in Afrika. Die status quo van die koloniale taal is behou. Alexander beskryf hierdie situasie as volg:
The African elites who inherited the colonial kingdom from the ostensibly departing colonial overlords, for reasons of convenience and in order to maintain their grip on power, have made nominal gestures towards equipping the indigenous languages of the continent with the wherewithal for use in powerful and high-status contexts. (Alexander & Busch 2007)
Met die ontwikkeling van mikroteorieë of gemeenskapsgeoriënteerde ontwikkelingstrategieë gedurende die laat 1980’s en vroeë 1990’s het die fokus na ses belangrike gemeenskapsboublokke verskuif: gemeenskapsdeelname, kapasiteitsbou, bemagtiging, selfonderhoudendheid, volhoubaarheid en sosiale leer.
Hierdie mikroteorieë vind meer aanklank by hedendaagse ontwikkelingspraktisyns. Dit lê die basis vir ’n meer konteksspesifieke benadering tot ontwikkeling en beleidsformulering wat rekening hou met die unieke omstandighede, behoeftes, vaardighede, kennis en waardes van gemeenskappe en dit gebruik as ’n vertrekpunt om gemeenskappe ekonomies, kultureel, opvoedkundig, sosiaal en geestelik te ontwikkel (Burkey 1993:56-70). Dit beklemtoon ook die waarde van kulturele konstrukte, soos taal, kulturele praktyke en inheemse kennissisteme as ’n manier om gemeenskappe se eiewaarde te herstel:
The communitarian perspective attaches a higher value to human agency than either culturally or economically determinist views of social change. Culture and cultural constructions of reality, however, assume a central position in the communitarian perspectives. (Tehranian 1994:286 in Melkote en Steeves 2001:335)
Hierdie teorieë erken daarom dat ontwikkelingsinisiatiewe nie kan losstaan van die konteks waarin die betrokke gemeenskap hom bevind nie. Dit is binne ’n komplekse raamwerk van ervaringe, metafore, geloof, waardes, persepsies, verhoudinge, magstryde, ekonomiese aktiwiteite, taal, kulturele en landboupraktyke dat enige ontwikkelingsinisiatief betekenisvol word.
Gemeenskappe sal nie eienaarskap aanvaar van projekte waarmee hulle nie kan identifiseer of wat nie in hulle betekenisgewende konteks inpas nie. Want hulle konteks is immers die enigste een waarin hulle met selfvertroue kan identifiseer met projekte wat afgestem is om hul lewensomstandighede te verbeter. Dat hierdie gemeenskappe deur die radio, televisie, rekenaar, selfoon, verstedeliking, migrasie en globalisering ook aan ander kontekste blootgestel word, kan nie ontken word nie. Hierdie blootstelling is egter beperk tot die voorsiening van goedkoop arbeid in ruil vir lae lone wat kwalik in hul basiese behoeftes kan voorsien. Gevolglik bly hierdie gemeenskappe vasgevang in ’n spiraal van ontmagtiging, en geslag na geslag kan nie aan armoede, oningeligtheid en wanhoop ontkom nie.
Kotze stem saam en maak die volgende insiggewende opmerking:
The people’s meaning-giving context is the only framework within which they can relate to developers. It is the framework within which development initiatives obtain meaning. It will either permit or block development, depending whether there is a "fit" between development initiatives and context. People will not be steered, influenced or "taken with" unless the development initiative has positive meaning within their context. (Kotze en Kotze 1996:7)
Gegee hierdie agtergrond is dit noodsaaklik om die reikwydte en bedoeling van ons bestaande taalbeleide te bepaal, of dit in lyn is met die betekenisgewende konteks van die verskillende inheemse taalgemeenskappe en of dit, wanneer dit geïmplementeer word, ’n tasbare voordeel vir hierdie gemeenskappe sal bring.
Reikwydte en bedoeling van huidige taalbeleide
Twee belangrike beleide wat hier vermeld moet word, is die Nasionale Taalwet (National Language Policy Bill) wat in 2003 deur die Kabinet aanvaar is en die Inheemse Kennissisteme Beleid (Indigenous Knowledge Systems (IKS) Policy) wat in 2004 deur die Kabinet aanvaar is.
Die SA Talewet se strategiese doelwitte is:
- Om bemagtiging van die individu en nasionale ontwikkeling te fasiliteer.
- Om die Bantoetale te ontwikkel en bevorder.
- Om ’n regulatoriese raamwerk daar te stel vir die effektiewe bestuur van die amptelike tale as staatsdienstale.
- Om ekonomiese ontwikkeling via die bevordering van veeltaligheid te fasiliteer.
- Om die aanleer van verskillende Suid-Afrikaanse tale te versterk.
- Om die kapasiteit van die land se tale te ontwikkel, veral in die konteks van tegnologisering.
Die Inheemse Kennissisteme Beleid het ten doel om inheemse kennissisteme in Suid-Afrika te erken, bevestig, ontwikkel, bevorder en beskerm. Die hoofdrywers van hierdie beleid in:
- Die bevestiging van die kulturele waardes van Afrika in die konteks van globalisering – wat ’n duidelike imperatief is, gegee die behoefte om ’n positiewe Afrika-identiteit te bevorder.
- Praktiese maatreëls vir die ontwikkeling van dienste voorsien deur IK-draers en praktisyns, met ’n spesifieke fokus op tradisionele medisyne, maar wat ook areas soos landbou, inheemse tale en volksoorleweringe insluit.
- Die agterhaal van die bydrae van inheemse kennis tot die ekonomie – die rol van inheemse kennis in werkskepping en welvaartskepping.
- Skakeling met ander kennissisteme, byvoorbeeld die gebruik van inheemse kennis saam met moderne biotegnologie in die farmaseutiese en ander sektore om die tempo van innovering te verhoog (IKS-Beleid, 2004:9).
Gegee die reikwydte en bedoeling van die gemelde doelwitte soos uiteengesit in die SA Talewet, en die beleidsdrywers soos uiteengesit in die Inheemse Kennissisteme Beleid, is dit duidelik dat die sogenaamde "cultural constructions", soos ons inheemse tale en kennissisteme, ’n sentrale posisie inneem binne die mandaat van die verskillende departemente wat hierdie beleide ontwikkel het. Die pogings van die Departemente Kuns en Kultuur en Wetenskap en Tegnologie en hul medewerkers wat hierdie beleid ontwikkel het, verdien werklik lof. Hul visie en insig om ons inheemse tale en kennissisteme in soveel as moontlike verbeeldingryke omgewings te gebruik om ons verdeelde samelewing tot ’n mensgesentreerde samelewing te hervorm, kan egter jammerlik nie tot vervulling kom nie, weens ’n gebrek aan politieke wil om dit via die parlement in wetgewing gestalte te laat kry.
Mens vertrou dat die Zuma-administrasie hierdie kwessie binnekort in die parlement sal deurvoer. Want wetgewing in hierdie verband sal nie slegs alle vlakke van institusionele beheer en die privaatsektor dwing om veeltaligheid te bevorder nie, maar sal ook ’n reeks ekonomiese moontlikhede ontsluit.
Inheemse tale en hul ekonomiese moontlikhede
Ons bevind ons vandag op die drumpel van die 21ste eeu, ook bekend as die Inligtingsamelewing. Volgens die Wêreldberaad oor die Inligtingsamelewing wat in 2003 plaasgevind het, is ’n Inligtingsamelewing een waarin
everyone can create, utilise and share information and knowledge, enabling individuals, communities and people to achieve their full potential in promoting sustainable development and improving their quality of life … (World Summit on the Information Society 2003 in Wesso 2007)
Die Kennisekonomie is die ekonomiese komponent van die Inligtingsamelewing waarin inligting produktief en innoverend gebruik word om welvaart te skep.
Ons diverse inheemse tale-erfenis is ’n belangrike instaatstellende hulpbron om gemeenskappe te help om aktief deel te neem aan die Kennisekonomie en om welvaart te skep deur die generering van kennis. Die persepsie dat ons inheemse tale nie geskik is vir hierdie doel nie, is dwaas. Want dit verg bloot ’n kopskuif en toegewydheid deur die betrokke sprekers om ’n teenwoordigheid op die internet te skep, webtuistes te ontwerp en volhoubare produkte en dienste in die betrokke tale te ontwikkel.
In hierdie verband is daar veel te leer van Afrikaans en hoe dit as ’n instrument van akademiese voortreflikheid en kulturele uitwisseling gebruik word. Daarby is dit ook ’n vername drywer vir ’n verskeidenheid ekonomiese aktiwiteite. Hierdie ekonomiese aktiwiteite omvat die volgende industrieë: onderwys, radio, drama, kreatiewe skryf, poësie, joernalistiek, televisie, film, die taalpraktyk, advertensiewese, erfenis en toerisme, elektroniese media, tradisionele disse, mode, argitektuur, medisyne, die regswese, sosiale wetenskappe en ontwerp.
Die IsiZulu-mark is ook baie ontvanklik om die kennisekonomie te omarm. Isolezwe.co.za is die wêreld se eerste Zoeloe-nuustuiste. Dit dra dieselfde inhoud as Isolezwe, Suid-Afrika se voorste Zoeloe-koerant. Die tuiste se vernaamste teikengroep kom van die opkomende stadsgebaseerde, aspirerende en ingeligte Zoeloe-mark. Waar Zoeloe-lesers voorheen huiwerig was, of dit onmoontlik gevind het, om aanlyn te gaan, word hulle nou aangemoedig om die internet as ’n inligtingsinstrument te gebruik.
Die pad vorentoe
Suid-Afrika se verdelende en dikwels wrede verlede het ons gelaat met ’n taalerfenis wat neig om moedertaal gelyk te stel aan agterlikheid en tradisionalisme. Dit roep ook herinneringe op van ’n verdeelde verlede, substandaard-onderwys en stamgebondenheid. Sodanige nosies is heeltemal verstaanbaar, maar ons vergeet dikwels dat dit nie taal is wat konflik en haat onder mense veroorsaak nie, maar eerder die gebrek aan geleenthede en die vermoë om dit te baat te neem.
Vandag is Suid-Afrika ’n demokratiese staat met 11 amptelike tale. Waar ons vandaan kom, met verwysing na ons verdelende verlede, is ’n kwessie waarop ons altyd bedag behoort te wees. My belangrikste besorgdheid gaan egter oor die toekoms. Hoe skep ons ’n billike en regverdige gemeenskap en begin ons om die groter wordende gaping tussen ryk en arm te oorbrug? Dit is op sigself ’n tydbom wat wag om te ontplof.
Ek is oortuig dat die moedertaal in hierdie verband ’n rol kan speel. Daar is egter ’n paar stappe wat geïmplementeer behoort te word om ’n herhaling van ons taalerfenis van gister te verhoed. Dit behels die volgende:
– Die Nasionale Taalwet en Inheemse Kennissisteem-beleid moet in wetgewing beslag kry.
– Skole moet gehalte-moedertaalonderrig op primêre vlak en, waar moontlik, op senior vlak lewer en leerders moet ’n keuse hê om hul eindeksamens in óf hul moedertaal óf Engels te skryf.
– Universiteite in ’n bepaalde streek kan begin om, afhangende van die beskikbaarheid van lektore, sekere klasse en vertaaldienste in die inheemse tale aan te bied. Byvoorbeeld: UK, UWK, CPUT en US kan almal saamwerk om studente ’n keuse te bied om sekere modules in Engels, Afrikaans en IsiXhosa by te woon. Dit sal die noodsaak vir die vertaal of skryf van akademiese handboeke in ander tale stimuleer en terselfdertyd slaagsyfers verbeter.
– Die verskillende produkte en dienste wat deur die kultuurindustrie gebied word, moet in al die amptelike tale beskikbaar gestel word. Radio, musiek, boeke, leksikografie en selfs TV-reekse is alreeds beskikbaar in die meeste van die amptelike tale. Sodoende kan die kultuurindustrie ’n voorste werkverskaffingsindustrie en ’n hoofbydraer tot belasting in Suid-Afrika word.
– Die verskillende taaleenhede by ons universiteite moet meer industrie-gefokus word en potensiële kunstenaars, skrywers, musikante, joernaliste, ens vir die kulturele en verwante industrieë oplei.
Ten slotte
Suid-Afrika kan niks verloor as ons sterk stappe doen en ons inheemse tale begin posisioneer as hooftrajekte vir akademiese voortreflikheid en ekonomiese bemagtiging nie. Inteendeel, ons staan voor die geleentheid om veel te wen in terme van verbeterde akademiese prestasies, selftrots, selfonderhoudendheid, ’n meer verdraagsame samelewing, hoë vlakke van kreatiwiteit, gemeenskappe wat eienaarskap neem, meer ekonomiese geleenthede, ens.
Dit beteken nie dat ons die belangrikheid van Engels moet geringskat nie, want dit stel ons in staat om oor plaaslike en internasionale grense heen te kommunikeer. ’n Goeie verbale beheersing van Engels en die vermoë om dit redelik goed te kan skryf is nie onderhandelbaar nie.
’n Slegs-Engels-benadering gaan egter teen die letter en gees van ons nasionale grondwet in. Ons staan ook heelwat te verloor indien ons hierdie pad sou inslaan.
A people that loses its language or languages is a people that loses its words, and when a people loses its words, it loses its soul and vision of the world. When this happens the community in question become lodged in dependence that lasts until it recovers its words and begins to articulate its past, present and future, nationally and internationally. (Ndumbe III:39)
Bibliografie
Alexander, N. 2008. "Proper use of mother tongue the way forward. Cape Times, April 21, 2008. Suid-Afrika.
Alexander, N en B Busch. 2007. Literacy and Linguistic Diversity in a Global Perspective. An Intercultural Exchange with African Countries. Council of Europe. Strasbourg.
Burkey, S. 1993. People First. A Guide tot Self-Reliant Participatory Rural Development. Zed Books. Londen.
Davids, I. 1998. Development Theories: Past to Present. Skool vir Openbare Bestuur en Beplanning, Universiteit van Stellenbosch.
Kotze, DA en PMJ Kotze 1996. "What is Wrong in Development?" In Focus, Mei/Junie 1996. Unisa, Suid-Afrika.
Melkote, SR en HL Steeves. 2001. Communication for Development in the Third World. Theory and Practice for Empowerment. Sage Publication. New Delhi.
Mesthrie, R. 1995. Language Policy in Africa Education: a Background to the Future in Language and Social History. Studies in South African Sociolinguistics. David Philip, Kaapstad.
Mutasa, DE. 2003. The language policy of South Africa: what do people say? Unisa, Pretoria.
Ndumbe III, Prince K. 2007. Raising Citizen Awareness in the Learning Of African Languages: Approach and Experience of the Africavenir Foundation in Cameroon. In Alexander en Busch 2007.
Rappa, Al en L Wee. 2006. Language policy and modernity in Southeast Asia: Malaysia, the Philippines, Singapore, and Thailand. Springer.
Tan, M. 2008. Acknowledging value of mother tongue.The Brunei Times at http://www.bt.com.bn/en/analysis/
2008/02/21/acknowledging_value_of_mother_tongue.
Webb, V. 2006. Language policy development in South Africa. Centre of Research in the Politics of Language. Universiteit van Pretoria.
Wesso, H. 2007. Presentation on Digital Broadcasting: Opportunities For Local
Content Development and Multilingualism. ICT Policy Development: Departement van Kommunikasie, RSA.
Kommentaar is welkom. Stuur ’n brief aan webvoet@litnet.co.za vir publikasie op SêNet.