Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) neem met kommer kennis van die implementering van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) in sy geheel soos goedgekeur deur president Cyril Ramaphosa.
Die SAAWK waarsku dat hierdie wetgewing in sy huidige formaat ’n beduidende bedreiging vir moedertaalonderrig op basieseonderwysvlak inhou. Dit raak nie net Afrikaanse skole nie, maar enige gemeenskap wat sy grondwetlike reg op onderrig in die taal van sy keuse wil uitoefen.
Daar is oorweldigende navorsing wat die waarde van moedertaalonderrig vir hoë gehalte akademiese uitsette ondersteun. Indien ’n taal as onderrigtaal verskraal word, het dit ’n negatiewe effek op die wetenskapsbeoefening in daardie taal wat weer ’n uitwerking het op die ontwikkeling van ’n taal se vakterminologie en navorsingsuitsette in daardie taal.
Die SAAWK-kommissies en lede is deurlopend besig met diepgaande navorsing oor hierdie kwessies en sal voortgaan om navorsing van hoë gehalte te produseer om beste praktyke in moedertaalonderrig en onderwysbestuur te vestig.
Die SAAWK doen ook ’n dringende beroep op die regering om beginsels van samewerking en inspraak te respekteer, soos uiteengesit in demokratiese strukture. Skole en gemeenskappe moet volwaardige vennote bly in die onderwysstelsel.
Die SAAWK bly verbind tot die bevordering van moedertaalonderrig en die ontwikkeling van wetenskap en kuns in Afrikaans.