Godsdiens in skole: Wat sê die Grondwet?

  • 6

Ons regsgeleerdes dink miskien te maklik dat die reg alle probleme in die samelewing kan oplos. En as die reëlings soos dit nou geld, nie genoegsaam is nie, dat hulle aangepas of gewysig kan word. Soms is hierdie samelewingsprobleme egter so verwikkeld en kompleks dat hulle buite die draagwydte van die reg val.

Soos die kwessie van godsdiens in skole.

Grondwetlik is die hele kwessie oënskynlik nie so moeilik nie. Volgens ons Grondwet mag openbare skole wel godsdiensonderrig toelaat, op voorwaarde dat sulke onderrig volgens publieke riglyne geskied, dat dit op gelyke grondslag uitgevoer word en dat bywoning daarvan vry en na eie diskresie moet wees. Die Skolewet en nasionale beleid van 2003 lê sulke riglyne neer en bevestig beheerrade se mag om godsdiensbeleid in openbare skole te bepaal, met herhaling van die vereiste dat godsdiensonderrig en -praktyke in die skole vry en volgens eie keuse moet wees.

Voorstanders van ’n bepaalde godsdienstige etos en onderrig in skole doen die eenvoudige oplossing aan die hand dat leerders en ouers wat nie daarmee tevrede is nie, óf na ander meer godsdiensneutrale skole óf na skole met ’n meer aanvaarbare godsdienskarakter kan gaan, volgens hul vrye keuse. So eenvoudig is die saak egter nie. Sê maar die ouers en leerders verkies om in die besondere skool te bly omdat die skool ’n uitstekende reputasie het en die alternatiewe skole nie deselfde standaarde handhaaf nie? Of dat daar nie die moontlikheid van sulke alternatiewe skole in hul nabyheid is nie? Of dat die alternatiewe skole onbekostigbaar duurder is, of dat sulke alternatiewe skole moedertaalonderrig afskeep? Onthou moet word dat daar ook baie gelowige ouers is wat verkies dat godsdiensonderrig tuis en in hul kerke beoefen moet word en nie in die skool nie.

Ondersteuners van die huidige sal dan bloot sê dat sulke ongelukkige ouers en leerders met die situasie moet vrede maak en vir hul kinders aansê om nie aan die godsdienspraktyke en -onderrig deel te neem nie. Wat grondwetlik hul goeie reg is.

Weer eens is die saak egter nie so eenvoudig nie. Daar is baie getuienis dat leerders wat verkies om nie aan sodanige onderrig of praktyke deel te neem nie, op die vreeslikste maniere deur medeleerders en onderwysers benadeel en uitgekryt word. Die inslag van die Grondwet is juis dat die belange van die kind (in hierdie geval die leerders) te alle tye voorrang moet geniet. Stigmatisering van ouers en leerders met “afwykende” voorkeure is beslis nie in die belang van die leerders nie en is in werklikheid ’n aantasting van hul menswaardigheid.

Watter moontlikhede bied die reg om hierdie dilemma die hoof te bied?

  •   Die skynbaar eenvoudigste en mees drastiese is om godsdienspraktyke en -onderrig in openbare skole geheel en al af te skaf en dat ’n moontlikheid gelaat word om dit na-uurs aan leerlinge op ’n vrywillige basis aan te bied. ’n Byna onoorbrugbare praktiese probleem is dat so ’n stap ’n tweederde-meerderheid- Grondwetwysiging nodig sal hê en dit in vandag se tyd ondenkbaar is dat die parlement dié wysiging sal kan of wil deurvoer. Dit is eweneens te betwyfel of so ’n stap vir die meerderheid kerkgenootskappe, sowel as ouers, onderwysers en leerders aanvaarbaar sou wees. Vir godsdiensvoorstanders sou so ’n neutrale onderwysbeleid niks anders wees as ’n direkte aantasting van hul godsdiensvryheid en die skepping van ’n teelaarde van godloosheid nie. Beheerrade sal voel dat die fundamentele karakter van hul skole ondermyn word. Op ’n praktiese vlak beteken dit dat onderwysers wat reeds oorbelaai is met na-uurse aktiwiteite, beslis in verset gaan kom. Leerders sal eweneens beswaard voel dat daar inbreuk op hul na-uurse vryhede gedoen word.
  • ’n Tweede opsie is dat ’n wet aangeneem word wat vereis dat godsdiensonderrig en -praktyke in openbare skole aan owerheidsgoedkeuring onderhewig is; met ander woorde dat wanneer ’n skool ’n bepaalde godsdiens wil beoefen en bevorder, daar aansoek gedoen moet word en goedkeuring van die owerheid verkry moet word. In die aansoek moet verduidelik word waarom die bepaalde godsdiens beoefen moet word en watter maatreëls aangewend sal word om onwillige leerders teen diskriminasie deur onderwysers en medeleerders te beskerm. So ’n wet sou beslis ’n beperking op die algemene bepaling van godsdiensvryheid in die Grondwet wees. Die Grondwet laat wel beperkings op fundamentele regte toe, maar dan moet die beperkings in ’n algemene wet vervat wees en die doelstelling duidelik omskrewe wees. Van die uiterste belang is dat ’n beperking wel aanvaarbaar in ’n oop en demokratiese gemeenskap moet wees. Owerheidsbeheer oor godsdiensuitoefening is totaal onaanvaarbaar in ’n oop en demokratiese gemeenskap wat op menslike waardigheid, vryheid en gelykheid gegrondves is. Dit is presies wat in die voormalige Oos-Europese kommunistiese diktature gebeur het toe godsdiensbeoefening aan owerheidsbeheer onderwerp is en dit daartoe gelei het dat godsdiensvryheid versmoor en onderdruk is. Hierdie tweede opsie van owerheidsreëling van godsdiens in skole is dus nie alleen onaanvaarbaar nie, maar gevaarlik.

Hoe nou gemaak as die reg geen antwoord bied op die vraag van godsdiens in skole nie?

Die enigste uitweg is dat alle belanghebbendes by ’n bepaalde skool – die beheerraad, hoof, onderwysers, ouers en leerders – bymekaar kom en ’n onderwysbeleid en strategie vir so ’n skool vasstel, met ’n volledige erkenning van die reg van meningsvryheid, die bewaring van menswaardigheid en opvoedkundige vereistes om die belang van leerders die belangrikste te ag. So ’n proses van beraadslaging sal sekerlik nie oornag kan plaasvind nie en sal behoorlik administreer moet word om ideologiese wanbeelde en vooroordele te oorkom en wedersydse aanvaarding van verskille te bewerkstellig.

Die huidige kontrovers is hoofsaaklik teen skole met ’n Christelike inslag en etos gerig. Hierdie skole gaan hul Christelike karakter groot skade aandoen met ’n hooghartige houding van “basta; aanvaar ons soos ons is en as julle nie daarvan hou nie, loop soek ’n ander skool.” Hulle sou egter wel ’n toonbeeld van Christelike waardes wees as hul in ’n oop proses van beraadslaging met andersdenkendes geraak en gesamentlik ’n versoenende oplossing vind.

 

  • 6

Kommentaar

  • Op die web is daar statistieke waarvolgens 73% (2007) van die bevolking aan een of ander Christelike kerk behoort.Volgens dieselfde statistieke is sleg 8% ongelowig, terwyl die res 'n ander vorm van godsdiens soos bv 15 % 'African Religion" beoefen.

    Ek gaan my nie oor die korrektheid van die statistieke uitlaat nie, maar kom wel tot die gevolgtrekking indien hul waar sou wees is die stert (8%ongelowig) besig om die hond (88% gelowig in een of ander vorm)  te swaai.

    Dalk moet die demokratiese beginsel ook hier geld ,nl dat die meerderheid beslis wat die beleid moet wees en dan plek daarin vir die minderheid maak.

  • Mnr Boot, as jy daardie teorie wil voorhou, sien ek groot ongelukkigheid kom vir Wit, Afrikaans, Engels, San, en vele ander "sterte" wat tans aan die Suid-Afrika gedierte hang en wie uitsluitlik op die Grondwet staatmaak om hierdie "sterte" te beskerm. U siening is dus selfsugtig en eiegeregtig, net soos wat die godsdiens "stert" tans probeer om in die Grondwethof te regverdig tov Christenskap. Laat die howe daaroor beslis en hoop dat die uitslag regverdig sal wees vir beide die hond en sy stert, want dis belangrik vir die ander minderheidsgroeperinge wat beskerm wil voel.

  • Beste Amos

    Waarom die saak in die hof beslis? Indien die gemeenskap waarin die skool funksioneer hoofsaaklik Christelike waardes ondersteun, moet 'n ouer wat sy kind daar wil plaas tog kennis daarvan neem.

    Dit geld vir alle gemeenskappe.Dus as 'n Christen-ouer sy kind wil plaas in 'n skool waar die gemeenskap oorwegend die Moslemgeloof beoefen moet so'n ouer tevrede wees dat sy Christenkind 'n minderheid is wat deur die meerdeheid geakkommodeer moet word en dat die Moslemgeloof en tradisie voorkeur bo syne sal geniet.

    Dit geld vir alle gelowe in alle gemeenskappe. Diesefde geld vir moedertaal-onderrig.Waarom ouers kinders in 'n skool wil sit waar die voertaal anders as die huistaal is van die meerderheid van die gemeenskap, is nog 'n saak waaroor  ek redelik sterk voel.

    In 'n demokrasie behoort die meerderheid die rigting te bepaal en nie die hof nie.

    Waarom alles in 'n hof beslis moet word is vir my nie duidelik nie.

  • Charl le Roux

    Dit is eienaardig dat die beskerming van minderheidsregte vir sommige mense so `n moeilike begrip is om te bemeester.  Ja, in `n demokrasie kies die meerderheid van kiesers die regering van die dag en daardie regering maak die wette.  So `n sisteem is egter slegs volhoubaar as minderheidsregte verskans word.  Sou ons byvoorbeeld die minderheid se stemreg ontneem, stort ons demokrasie in duie.  Sou ons die minderheid se reg tot vryheid van spraak wegneem,  word die demokrasie ernstig ontwrig, want demokrasie kan slegs binne `n ingeligte samelewing funksioneer.  Sou ons die minderheid onteien, stort eiendomsreg en die markstelsel ineen.  Dit is duidelik dat sekere fundamentele regte binne `n grondwet verskans moet word teen uitbuiting deur die meerderheid.  Die oomblik wat sommige beginsellose mense egter aan `n meerderheidsgroep behoort, minag hulle hierdie verskansings en probeer hulle die meerderheidsposisie misbruik om hulle groep te bevoordeel.  Amos (hier bo) is heeltemal geoorloof om sulke optrede as selfsugtig en eiegeregtig uit te wys.

     
    Een van hierdie verskansings in ons nasionale konstitusie spreek die kwessie van vryheid van oortuiging aan.  Dit gee aan elkeen, insluitende meerderhede en minderhede, die vryheid om sy of haar geloofsoortuigings te huldig en op `n gelyke basis sonder diskriminasie binne die limiete van die wet uit te leef.  Dis moeilik om `n meer redelike reëling voor te stel.  Dit is egter alleenlik moontlik om daardie gelykheid te handhaaf indien die staat neutraal staan in kwessies van geloofsoortuiging.  Om daardie rede het die skeiding tussen staat en kerk algemene praktyk in Westerse beskawings geword.  Die uitbuiting van minderheidsgelowe in (veral) Islamitiese teokrasieë dien as `n skril waarskuwing.
     
    Dit is die doel van ons skole om kinders te onderrig.  Ek het geen beswaar daarteen dat kinders in staatskole geleer word wat die onderskeie dogmas van die vernaamste geloofsgroepe of filosofieë is nie.  Daar is egter geen rede waarom hierdie dogmas op skool beoefen hoef te word nie.  Daar is `n vername verskil tussen seks-onderrig en dit beoefen.  Dieselfde geld vir godsdiens.  Om te bid het niks te doen met die verspreiding van kennis nie.  Om daardie rede huldig ek die mening dat godsdiens nie op staatskole beoefen behoort te word nie.
     
    Die hofoptrede wat tans deur Ogod van stapel gestuur word ondersteun nie my posisie nie.  Hulle poog nie om die beoefening van godsdiens op skole te staak nie, maar slegs om dit op gelyke voet te bring.  Ongelukkig is dit al wat hulle moontlik sal kan vermag.  Dit is jammerlik ontoereikend.
      
  • Marinus Wiechers

    Dankie vir die kommentaar op my artikel oor godsdiens in die skole. Snaaks hoe party mense iets lees sonder om dit heeltemal te begryp. Dit was juis my punt dat die huidige Grondwetbepaling geen kans het om deur die parlement gewysig te word nie omdat christelike oortuigings veral by die meerderheid so sterk en ingewortel is. En verder dat ek juis bepleit dat die meerderheid met oorleg en begrip ook vir die minderheid moet ruimte skep of soos die kommentaar aanvoer dat daar “plek vir die minderheid gemaak moet word”.

  • Demokrasie beteken nie bloot dat die meerderheid regeer nie. Bv selfs al stem die meerdheid van die bevolking dat slawerny oor 'n sekere groep mense goedgekeur moet word (soos dit was in die verlede, wêreldwyd) dan kan dit nie gebeur nie. Nie eers met 'n 99% meerderheid stem nie. Dis waarvoor die grondwet is; om minderheids groepe en individue te beskerm.Dit is dus 'n grondwetlike saak. Die manier om grondwetlike sake op te klaar is via die konstitusionele hof. Daar is 'n verskil oor die interpretasie en implementering van die grondwet. 'n Hofsaak behoort voordiehandliggend noodsaaklik te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top