"Onderwys in syfers"-verslag: ’n onderhoud met Riaan van der Bergh

  • 1

Riaan van der Bergh, Fedsas se adjunk- uitvoerende hoof, praat met Naomi Meyer oor die “Onderwys in syfers”-projek en wat die syfers vir ouers, onderwysers en leerders beteken.

Riaan, die Bela-wet het die nuus die afgelope tyd oorheers. Ons weet hierdie week is daar baie gesprekke oor hierdie wetgewing aan die gang. Julle by Fedsas was egter ook besig met nog ’n ander belangrike skolesaak. Julle was verantwoordelik vir Fedsas se Onderwys in syfers-projek. Die verslag is lywig – wil jy ’n paar van die onderafdelings noem waarvan julle data ingesamel het.

Ons het ons ’n aantal jaar gelede tot datagedrewenheid verbind. Nie net binne Fedsas nie, maar ook ten opsigte van die werk in die onderwyssektor. Dus was een van die groot faktore eerstens DAT ons met data werk en WAT ons in die data raaksien. Ons het gekyk na die onderwyslandskap in drie fokusareas: leerders, skole en onderwysers. Tweedens het ons gewerk met interaktiewe kaarte en die skole op Google-kaarte gaan plaas om die aantal skole te visualiseer om nabyheid of digtheid, sektor (onafhanklik of openbaar), en taal van onderrig te weerspieël. Dan het ons ook gekyk na die begrotings van skole en die verspreiding van skoolfonds en leerdertal vir hoër- en laerskole.

...........
Hierdie oefening vind nie los plaas van Bela of enige ander sistemiese gesprek oor onderwys nie. Dit is jammer dat ons nie ’n Bela-gesprek op grond van data het nie.
..............

Hierdie oefening vind nie los plaas van Bela of enige ander sistemiese gesprek oor onderwys nie. Dit is jammer dat ons nie ’n Bela-gesprek op grond van data het nie.

Dis ’n omvattende verslag.

Laai die volledige verslag, soos beskikbaar op Fedsas se webwerf, ook hier af.

Hoe het julle te werk gegaan om die navorsing te doen en die syfers te bepaal?

Die grootste gedeelte van die werk was om die afgelope 14 jaar se data van die Departement van Onderwys (DBO) in een datastel in te trek. Die jaarlikse verslag van die DBO word “School realities” genoem, maar toon alle data van een jaar. Om tendense te bepaal en vergelykings te maak was dit nodig om dit alles in een databasis vas te vang. Verder het ons data vanuit ’n omgewingsanalise wat Fedsas onder lede gedoen het, gebruik en ook Sars- en StatsSA-inligting.

Die groot verskil met hierdie verslag is dat ons die data visueel wou voorstel eerder as met ’n magdom spreivelle van kolomme en syfers. Ons het dus die data omgeskakel in grafieke om die tendense duideliker te kan sien.

As mens die syfers het, kan mens datagedrewe navorsing doen en dus ook behoeftebepalings. Dis byvoorbeeld duidelik dat daar meer leerders in Gauteng en in die Wes-Kaap is as waarvoor daar skoolgeboue is. Daar is terselfdertyd in die Oos-Kaap skole wat leegloop. Hoe gemaak? 

Dit is seker die kruks van die gesprek. Data moet die storie vertel sodat ons die toekoms beter kan bestuur. Die data behoort die werklike narratief te skep eerder as die opinies en gevoelens van mense op openbare verhoë of om die braaivleisvuur. Verder moet die data meer duidelikheid gee oor spesifieke kwessies in spesifieke gebiede. Alles kan nie met nasionale gemiddelde bestuur word of met ’n steekproef van een insident nie.

.......
Data moet die storie vertel sodat ons die toekoms beter kan bestuur. Die data behoort die werklike narratief te skep eerder as die opinies en gevoelens van mense op openbare verhoë of om die braaivleisvuur.
...........

Gauteng het alreeds verskeie jaar gelede ’n invloei van leerders begin beleef en die oplossing van die departement was om reeds vol skole nog voller te maak. In stede van nuwe skole te bou op plekke waar die digtheid van mense toeneem, het hulle nuwe klaskamers gebou. Die bou van ’n aantal nuwe skole is met groot fanfare gevier tydens die opening, maar die realiteit is dat daar nie naastenby genoeg infrastruktuur geskep is nie. As dit nie was vir nagenoeg 325 onafhanklike skole wat oor die laaste 10 jaar (498 in 14 jaar) in die provinsie gevestig is nie, was die probleem nog groter.

Ons het dringend ’n infrastruktuurplan vir skole nodig wat saamgaan met die migrasie van mense. Ons het al op verskeie forums met die DBO gesprek gevoer oor die ontoereikendheid van ons aantal skole in veral Gauteng en Wes-Kaap. Stadsbeplanning en dorpsgebiedontwikkeling maak nie altyd voorsiening vir die beskikbaarheid van grond vir skole nie. Die koste van grond in ontwikkelde gebiede maak dit moeilik om nuwe persele te bekom, maar dit is nie ’n goeie verskoning vir die gebrek aan beplanning en vir stadige aflewering nie.

Meer leerders as sitplekke is ook nie net ’n probleem wat opgelos word met meer klasse nie. Toegangroetes tot skole is druk, met verkeer en parkering wat dit vir leerders wat te voet om skole beweeg, onveilig maak. Lang afstande wat leerders met private of publieke vervoer reis, eis sy tol of leerders se rus en angs, om nie te praat van die padongelukgevaar nie. Die ander effek is die verlies aan speel- en sportgronde wat toegebou word, en ook die druk op dienste soos krag, water en riool. Kleedkamers moet ook geskep word, en veilige ontruiming van geboue en persele moet verseker word. Dan is daar ook die moontlike sosiale effek van groot skole op leerders se ontwikkeling wat deelname, geleenthede, ontwikkeling, veiligheid en angs betref.

Mens kan sien dat ouers trek na omgewings waar daar meer werksgeleenthede is en die kinders trek natuurlik saam. Die kwessie is egter ook dat dit ’n groter storie is as net om aandag te gee aan genoeg skole in die omgewings waar daar meer ontwikkelings en geleenthede vir die ouers is. Dis ’n samelewingskwessie – daar moet byvoorbeeld (as ek dieselfde voorbeeld mag gebruik) aandag gegee word aan die sosio-ekonomiese omstandighede in die Oos-Kaap. Dít is egter nie iets waarmee Fedsas hom hoef te bemoei nie. Of is dit? Die beheerliggaam bestaan tog ook uit ouers en nie net opvoeders nie. My vraag is dus: Tot watter mate is die Onderwys in syfers-projek ’n weerspieëling van nie net hoe dit in die skole gaan nie, maar hoe dit in die land gaan?

Dit is ’n puik vraag. Skole is ’n segment van die samelewing en ’n weerspieëling van die samelewing. Ons kan nie skole en hulle gemeenskappe van mekaar skei nie. Ouers wil oor die algemeen die beste vir hulle kinders hê.

............
Skole is ’n segment van die samelewing en ’n weerspieëling van die samelewing. Ons kan nie skole en hulle gemeenskappe van mekaar skei nie. Ouers wil oor die algemeen die beste vir hulle kinders hê.
............

In die Oos-Kaap is dit uitdagend as die skoolfondsbetalings deur ouers afplat en verminder terwyl die provinsiale departement van onderwys nie skole ten volle befonds nie. Dit het ’n sneeubaleffek op soveel fasette wat deurvloei na die kwaliteit, of gebrek daaraan, van onderwys. Ons het juis die data gaan kruisverwys met die bevolkingsdigtheid en migrasie volgens StatsSA sowel as die grepe vir belastingbetalers in provinsies. Die vermoë van ouers om skoolfonds te betaal, die bekostigbaarheid van skole, en die staatsbefondsing van skole het ’n direkte impak op die volhoubaarheid van skole en dan ook gemeenskappe. Die groei in die aantal geen-fooi-skole is ’n rooiligaanwyser, omdat meer skole nou dieselfde hoeveelheid staatsbefondsingsgeld moet deel.

............
Ons standpunt is dat ouers en gemeenskappe ’n groot rol kan en moet speel en dus ’n mate van eienaarskap en verantwoordelikheid moet neem. ’n Ander negatiewe statistiek is die groot aantal ouers wat kwalifiseer vir vrystelling terwyl hulle nie noodwendig die onvermoë het om te betaal nie.
.............

Ons standpunt is dat ouers en gemeenskappe ’n groot rol kan en moet speel en dus ’n mate van eienaarskap en verantwoordelikheid moet neem. ’n Ander negatiewe statistiek is die groot aantal ouers wat kwalifiseer vir vrystelling terwyl hulle nie noodwendig die onvermoë het om te betaal nie.

Taal is ’n belangrike vraagstuk in skole. Hoeveel kinders in die land kan onderrig/opvoeding in hul moedertale ontvang? Watter tale is ter sprake? Tot op watter ouderdom kan kinders nog in al die landstale onderrig ontvang en waar verander dit?

...........
Moedertaalonderrig is internasionaal die norm vir leerders. Verskeie organisasies onderstreep dit. Die data van die departement is nie baie duidelik hieroor nie.
.................

Moedertaalonderrig is internasionaal die norm vir leerders. Verskeie organisasies onderstreep dit. Die data van die departement is nie baie duidelik hieroor nie. Ons kon egter die Afrikaanse data isoleer en het daaroor rapporteer. Volgens die mees onlangse data wat ons ontvang het, blyk dit dat 70% van die leerders in die land in Engels onderrig ontvang. Buiten die Afrikaanse onderrig is daar onderrig in Zoeloe vir 7% van leerders, in Xhosa vir 5% van leerders, Pedi en Sotho 3% elk, en die ander tale 1% of minder. Leerders kan oor die algemeen tot in graad 3 moedertaalonderrig ontvang en word dan in graad 4 in Engels met internasionale studies vergelyk vir lees met begrip. Afrikaanse leerders verkies moedertaalonderrig, maar die opsies en keuse vir die aanbieding daarvan kwyn, terwyl die skole wat dit aanbied, al hoe voller word.

Watter tendense het julle nog raakgesien wat aangespreek moet word? Wie kán dit aanspreek? 

Die grootste punt wat ons wil dryf, is dat beleid en moontlike verandering met data ondersteun word in belang van die kinders van ons land en nie politieke retoriek of populistiese praatjies nie. Sistemiese verandering is nodig in kwaliteitonderwys vir ’n groot deel van die bevolking.

Groot merkers of tendense sluit in:

  • die deurvloeikoers van graad 1-groepe na graad 12
  • die skerp afname in manlike leerders in graad 11 en 12
  • die feit dat 9,7 miljoen leerders daagliks by die skool kos ontvang
  • Gauteng-skole wat bykans twee maal so groot is soos die nasionale gemiddeld
  • die toename in onafhanklike skole nasionaal, maar veral in Gauteng
  • die groot styging in die aantal onderwys- en ander personeel wat deur beheerliggame befonds word – nagenoeg ’n verdubbeling in SBL-onderwyspersoneel oor 14 jaar
  • ’n 7%-groei in leerdertal met ’n 1%-groei in onderwysers
  • groei in skoolgrootte in Wes-Kaap oor die laaste vyf jaar
  • die geweldige groei in die aantal skole groter as 900 leerders en veral in die 1 500+ plus-leerders-kategorie.
  • Gauteng wat slegs vyf meer openbare skole het in 10 jaar
  • skerp toename in die wanbetaling van skoolfonds
  • fooibetalende kwintiel 4- en 5-skole onder 3 000
  • Afrikaans-enkelmedium-skole onder 1 000.

Watter tendense is positief, of doodgewoon verrassend?

Die grootste positief is dat alles nie orals dieselfde lyk nie. Dit wat soms in die media vertolk word as die probleme in onderwys is nie orals vir almal die probleem nie. Data wys dus veelvuldige aspekte uit en kan vinnig ’n ander prentjie wys as die media-opskrifte. Dit blyk ook dat die data in later jare meer volledig en akkuraat is, wat analise soos dié vergemaklik en verbeter.

’n Ander positiewe punt is die groei in aantal SBL-onderwysers en ook ander SBL-betaalde amptenare by skole. Ons gemeenskappe neem op baie plekke eienaarskap en staan in vir die tekortkominge wat ontstaan.

Het julle die verslag kon vergelyk met tendense in ander lande? Indien wel, wat het julle raakgesien?

Een van die datamerkers is die afname in manlike leerders in graad 11 en 12 wat korreleer met die tendens in ander lande suid van die Sahara. Ons het nog nie verder baie vergelyk nie.

Word hierdie verslag onder die regering se aandag gebring? 

Ons gebruik die data in konsultasies met die regering en op verskeie forums. Die verslag sal vroeg 2025 in Engels beskikbaar wees, waarna dit gedeel kan word.

Dis so dat statistieke mens op dinge kan wys wat aangespreek moet word en ook tot ’n mate voorspellings kan help beïnvloed. Hoe lyk die toekoms vir die land Suid-Afrika oor tien jaar, na aanleiding van wat hierdie verslag uitwys?

Fedsas se tema vir 2025 is “Opgewonde oor môre”. Die uitdagings in ons land skep ook geleenthede vir ons, en die verslag is nie net toerusting vir besluitneming en hulpbronaanwending nie, maar ook baie goeie materiaal vir debatte en dialoog oor die werklike kwessies om ons leerders te bevoordeel.

...............
Ons gaan moet begin om die werklike kwelpunte aan te spreek as ons die gety wil stuit. Ons moet skole bou waar mense bly; ons moet moedertaalonderrig bevorder; ons moet kyk na ons befondsingsmodelle vir skole; ons moet die vrystellings en wanbetalings omdraai; en ons moet gemeenskapsbetrokkenheid deur eienaarskap en verantwoordbaarheid verhoog.
................

Ons gaan moet begin om die werklike kwelpunte aan te spreek as ons die gety wil stuit. Ons moet skole bou waar mense bly; ons moet moedertaalonderrig bevorder; ons moet kyk na ons befondsingsmodelle vir skole; ons moet die vrystellings en wanbetalings omdraai; en ons moet gemeenskapsbetrokkenheid deur eienaarskap en verantwoordbaarheid verhoog.

Lees ook:

Bela-wet: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Bela-optog: ’n onderhoud met Michael le Cordeur

Bela-wet: Op ’n heuwel daar ver

Reguit met Robinson: Onderwyssektor onder beleg

  • 1

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    "... ons nie ’n Bela-gesprek op grond van data het nie" - Stem Solidariteit saam met hierdie stelling?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top