Die Bela-wet bly in die nuus. Jaco Deacon praat met Naomi Meyer oor die jongste verwikkelinge.
Jaco, ek praat dikwels met jou oor die Bela-wetgewing, wat ’n paar maande gelede onderteken is (met die uitsondering van klousules 4 en 5, wat oor taal en toegang handel). Ek lees dat daardie klousules nie nou binnekort in werking gestel sal word of outomaties van krag sal word nie. Wat van die res van die wetgewing wat onderteken is? Is daardie wetgewing reeds in werking?
Die Bela-wet was inderdaad die afgelope paar dae weer baie in die nuus na die “Nedlac-skikking" tussen Solidariteit en die regering. Daar is nou verskillende verklarings en menings van die partye in die media en die saak is duidelik nog ver van afgehandel.
Die President het die wet op 13 September 2024 onderteken en aangekondig dat daar ’n verdere drie maande tyd vir konsultasie oor klousules 4 en 5 toegelaat sou word. Daardie tyd loop nou vinnig uit. Artikel 54 van die wet bepaal: "Hierdie Wet heet die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys, 2024, en tree in werking op ’n datum deur die President by proklamasie in die Staatskoerant vasgestel." Daar was nog geen proklamasie nie en dus is nog geen bepalings van die wet in werking nie.
As ek so na die aard en inhoud van die Nedlac-ooreenkoms kyk, gaan die besprekings van klousules 4 en 5 en die voorstel dat dit deur regulasies hanteer moet word, ’n baie omslagtige proses wees wat verdere openbare deelname gaan verg. Die proses tussen die partye in die RNE is ook nog aan die gang onder die voorsitterskap van die adjunkpresident, Paul Mashatile, en die komitee wat met die gesprek getaak is, moet ook eersdaags terugvoer gee.
Die moontlikheid is ook nie uitgesluit dat slegs dele van die wet in werking gestel gaan word en sekere klousules se inwerkingtreding uitgestel gaan word nie. My verwagting is in elke geval dat die bepalings oor skoolpligtigheid uitgestel sal word, omdat die stelsel nie gereed is om ’n verpligte graad R te implementeer nie.
Goed, so dis van belang om te verstaan dat die wetgewing eers aanvaar moet word, dan deur die President onderteken moet word en dan ook nog in die Staatskoerant gepubliseer moet wees voordat dit van krag is. Nou is die volgende vraag hoe die Bela-wetgewing prakties geïmplementeer gaan word. Ek bedoel: Enige van die ander aspekte van die wet wat nou gewysig is?
Ek gaan eerste die Nedlac-skikking moet verduidelik.
Nedlac is die Engelse afkorting vir Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling- en Arbeidsraad (Neonar) en Neonar is die struktuur waardeur die regering, georganiseerde arbeid en georganiseerde besigheid poog om saam te werk, deur probleemoplossing en onderhandeling, oor ekonomiese, arbeids- en ontwikkelingskwessies en verwante uitdagings wat die land in die gesig staar. Dit is ook die struktuur wat toestemming moet verleen vir protesaksies oor sosio-ekonomiese sake, en Solidariteit het hulle geskil oor die Bela-wet daar verklaar en toestemming bekom vir die beskermde protesaksie by die Voortrekkermonument. Die skikking tussen Solidariteit en die regering kom in kort daarop neer dat die oorspronklike tydperk van drie maande om die twee klousules te bespreek in wese verleng is vir verder gesprekke. Die spesifieke ooreenkoms met die Minister skep ook moontlikhede van regulasies, en dit is ook nie ’n proses wat oornag afgehandel kan word sonder ’n behoorlike proses van deelname nie.
Daar is nog geensins aan die inhoud van die Bela-wet gewysig nie en dit sal ’n wysigingswetproses verg om dit te doen. Die ooreenkoms sal wel ’n invloed op die inwerkingtreding van die twee klousules hê indien daar wel ’n proklamasie gepubliseer word.
Ons wag ook nog op terugvoer vanuit die komitee van die partye in die RNE oor hierdie onderwerp.
Terug na die klousules waaroor die meeste ontsteltenis handel: Wat is nou onderhandel – slegs dat uitstel gegee word sodat daar nog meer onderhandel kan word? Of is daar reeds meer aspekte van die klousules verfyn? Sal jy asseblief daarop uitbrei?
........
Ek het in ’n vorige onderhoud gesê dat Bela lank nie meer ’n onderwysgesprek is nie en in ’n volskaalse politieke en ideologiese geveg ontaard het ... Menings staan lynreg teenoor mekaar en uit die reaksies is dit duidelik dat die ANC intern verdeel is, maar ook dat die regering uit verskillende monde praat.
........
Ek het in ’n vorige onderhoud gesê dat Bela lank nie meer ’n onderwysgesprek is nie en in ’n volskaalse politieke en ideologiese geveg ontaard het. Die afgelope week se mediaberigte, en veral die verskillende mediaverklarings wat uitgereik is, laat dit lyk of ons in ’n verkiesingstyd is. Menings staan lynreg teenoor mekaar en uit die reaksies is dit duidelik dat die ANC intern verdeel is, maar ook dat die regering uit verskillende monde praat. Ek het lanklaas soveel mediaverklarings in ’n kort tyd oor dieselfde onderwerp gesien en dan net daarna nóg ’n verklaring ontvang om iets te "verduidelik".
Die Nedlac-skikking wysig geensins die wet nie, maar skep ’n geleentheid dat dit wel sou kon plaasvind. Dit is ’n ooreenkoms met die regering, en die regering sal nou prosesse moet skep om uitvoering hieraan te gee.
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het die volgende in haar mediaverklaring na die ondertekening gesê: "The recommendations to be made by the Minister of Basic Education to the President in this regard will supplement any other recommendations to the President that the Minister considers necessary for the proper implementation of other parts of the BELA Act."
Dit is belangrik om kennis te neem dat die nuwe minister nie betrokke was by die prosesse en aanvaarding van die wet voor die verkiesing nie en dat haar politieke party, die DA, sterk teen die klousules gekant was. Dit is dus te verstane dat sy ook die geleentheid gaan gebruik om haar stempel af te druk en ook ander sake aan te spreek. Sy doen dit egter nie as ’n DA-lid nie, maar as lid van die regering en baie spesifiek as lid van die kabinet.
Die skikking is nie oral ewe goed ontvang nie en die Adjunkpresident het vinnig ’n eie mediaverklaring uitgereik waarin hy die regering se proses binne die klaringshuis van die regerende partye in die RNE uiteensit en ook verduidelik dat die Bela-komitee eersdaags hulle verslag moet lewer. Die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, het die ooreenkoms eenvoudig verwerp. Die meerderheidsonderwysvakbond Sadou, die vakbondfederasie Cosatu, en ander organisasies, soos Equal Education, het ook reeds hulle ontevredenheid met die uitstel van die inwerkingtreding van die klousules uitgespreek, en dit is duidelik dat die volgende ronde van gesprekke weer vuurwarm gaan wees. Die President se eie verklaring het ook nog meer verwarring geskep oor sy betrokkenheid.
Die geskille oor Bela is tans in verskillend forums en Solidariteit het gekies om die Nedlac-proses te gebruik, terwyl die politieke partye binne hulle eie geskilprosesse met mekaar in gesprek tree. Dit is uiteindelik ’n wetgewende proses waaroor die parlement en die president die finale seggenskap sal hê, maar waar die stem van verskillende organisasies en mense gehoor sal moet word as daar wysigings gaan kom.
..........
Die belangrike rol van die burgerlike samelewing kan nie genoeg beklemtoon word nie en ons kan maar net die hoop uitspreek dat die gesprekke tussen die politieke partye die beste belange van kinders op die hart sal dra.
.............
Die belangrike rol van die burgerlike samelewing kan nie genoeg beklemtoon word nie en ons kan maar net die hoop uitspreek dat die gesprekke tussen die politieke partye die beste belange van kinders op die hart sal dra.
Die skooljaar is nou ongeveer verby. Verwag jy nog veranderinge wat vanjaar gaan plaasvind, en hoe verander dit sake vir die nuwe skooljaar? Dit sluit ouers van kinders in openbare skole sowel as tuisskoolouers in.
Ek dink dit is baie onwaarskynlik dat daar vanjaar nog ’n proklamasie gaan wees, en verwag dat die gesprekke (en geskille) nog ’n geruime tyd gaan voortduur.
Enige ander gedagtes rondom die Bela-wetgewing op hierdie stadium? En wat van kinders wat ander landstale praat, nie net Afrikaans nie? Hoe affekteer Bela elke kind in die land? Gaan dit enigiets ten goede verander?
Wat taal betref, dink ek nie die Bela-wet gaan werklik die taalbehoeftes in die land dien nie. Inteendeel, swak besluite deur onderwyshoofde kan die stelsel verengels en nie regtig veeltaligheid bevorder nie. Daar is reeds die afgelope jaar baie gesprekke binne die Departement en sektor oor moedertaalonderrig, en daar is reeds goeie vordering in dié verband gemaak. Die vorige minister het in haar laaste jaar baie sterk voorspraak gedoen vir moederstaalonderrig, en senior amptenare in die DBO is getaak om verskillende planne op te stel. Die gesprekke duur voort. Daar is egter nog geen befondsingsmodel of behoorlike postevoorsieningsmodel in dié verband nie en die huidige model vir parallelmedium-onderwys is ontoereikend. ’n Organisasies soos Fedsas het al vir baie jare gevra vir die hersiening van die modelle om dit as ’n werkbare alternatief te kan stel, maar die politieke wil het ontbreek. Die huidige klimaat en aard van gesprekke beklemtoon die dringendheid van die gesprek.
........
Baie ouers glo steeds dat Engelse onderrig die beste medium vir hulle kinders is, en indien die boodskap van die sukses van moedertaalonderrig nie by die “besluitnemers” uitkom nie, gaan inheemse tale nooit ten volle tot hulle reg kom nie.
........
Die klousule oor taalbeleid het ’n bepaling wat die onderwyshoof magtig om, ná ’n bepaalde proses, die beheerliggaam opdrag te gee om die taalbeleid te wysig. Die gebiedende term opdrag druis in teen die beginsels van samewerkende regering en die vennootskapbeginsel in die Skolewet en wat die howe hieroor bepaal het. Hierdie aspek is nog nie behoorlik aangespreek nie en die partye in die RNE sal diep hieroor moet besin. Die realisering van moedertaalonderrig hang saam met politieke wil, en Bela gaan dit nie noodwendig laat gebeur nie.
..........
Die gebiedende term opdrag druis in teen die beginsels van samewerkende regering en die vennootskapbeginsel in die Skolewet en wat die howe hieroor bepaal het. Hierdie aspek is nog nie behoorlik aangespreek nie en die partye in die RNE sal diep hieroor moet besin. Die realisering van moedertaalonderrig hang saam met politieke wil, en Bela gaan dit nie noodwendig laat gebeur nie.
..............
Die voordele van moedertaalonderrig is goed gedokumenteer en die navorsing is oorweldigend, maar een van die struikelblokke is die manier waarop ouers hulle keuse van onderrigtaal uitoefen. Baie ouers glo steeds dat Engelse onderrig die beste medium vir hulle kinders is, en indien die boodskap van die sukses van moedertaalonderrig nie by die “besluitnemers” uitkom nie, gaan inheemse tale nooit ten volle tot hulle reg kom nie. Taalgemeenskappe van elke inheemse taal gaan hulle stem moet dik maak, skouer aan die wiel moet sit om die taal te bevorder en ouers te oortuig, en deelneem aan prosesse om moedertaalonderrig te laat realiseer.
Lees ook:
BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024
Kunsmatige intelligensie en die dekolonialisering van onderwys in Suid-Afrika