
Foto van Jaco Deacon: verskaf
...........
“Doen die dinge reg en wees ’n goeie skool vir elke kind in die skool.”
.........
Bela bly in die nuus en is steeds ’n vuurwarm politieke gesprek – nie net tussen die partye van die regering van nasionale eenheid nie, maar ook in die media en onder verskeie burgerlike organisasies.
Naomi Meyer praat met Jaco Deacon, Fedsas se uitvoerende hoof, oor die Bela-wetgewing en die onlangse optog teen die inwerkingtreding van klousule 4 en 5.
Jaco, ons weet dat die Bela-wet onderteken is. Praat asseblief met my oor die inwerkingtreding van die wet?
Artikel 54 van die wysigingswet bepaal dat die wet in werking tree op ’n datum wat deur die president deur ’n proklamasie in die Staatskoerant vasgestel sal word. Daar was nog geen proklamasie in dié verband nie en dus is geen van Bela se bepalings in werking nie.
Die Nasionale Departement van Basiese Onderwys het die fatale fout begaan om tydens hul eerste inligtingsessies te verklaar dat die wet by ondertekening in werking getree het en ons moes dringend intree om die regstelling te maak. Die departement moes toegee dat hulle dit verkeerd gehad het en het onderneem om die regstelling te maak en die amptenare dienooreenkomstig in te lig. Skole het veral verkeerde opdragte oor hierdie jaar se begrotingsvergaderings ontvang.
Wat is die wetgewing se posisie ten opsigte van toelatings en taal (klousules 4 en 5)?
Die president het aangekondig dat die inwerkingtreding van klousules 4 en 5 met drie maande uitgestel word om verdere geleentheid te gee om oor toelating en taal te besin. Hoewel Fedsas in April vanjaar aangedui het dat ons kan werk met die veranderinge wat in die Nasionale Raad van Provinsies aangebring is, het ons steeds insette gelewer oor hoe daardie klousules verbeter kan word om die vennootskapbeginsel en die beginsels van samewerkende regering te versterk. In Fedsas se petisie aan die president kort voor die ondertekening het ons sekere voorstelle oor die klousules gemaak. Ná die aankondiging en uitstel het Fedsas ook ons voorgestelde gewysigde bewoording aan van die politieke partye in die regering van nasionale eenheid gestuur.
Ons weet dat Fedsas ouerbetrokkenheid aanmoedig. Hoe sien julle die rol van burgerlike organisasies?
...........
Bela is lank nie meer net ’n onderwysaangeleentheid nie; dit is ’n politieke, ideologiese aangeleentheid. Die rol wat ander burgerlike organisasies speel, kan nie oorbeklemtoon word nie. Fedsas is deel van ’n onderwysnetwerk waar verskillende burgerlike organisasies betrokke is en waardevolle bydraes lewer om die twee klousules te verbeter.
............
Bela is lank nie meer net ’n onderwysaangeleentheid nie; dit is ’n politieke, ideologiese aangeleentheid. Die rol wat ander burgerlike organisasies speel, kan nie oorbeklemtoon word nie. Fedsas is deel van ’n onderwysnetwerk waar verskillende burgerlike organisasies betrokke is en waardevolle bydraes lewer om die twee klousules te verbeter. Sommige burgerlike organisasies is nie direk betrokke in die onderwyssektor nie en spreek bepaalde sake dus op ’n ander manier aan as rolspelers binne die sektor. Hierdie organisasies kan meer aktivisties optree en die onlangse Bela-optog is ’n goeie voorbeeld.
Fedsas het ’n ander rol en bied weer ’n perspektief gebaseer op ons ervaring, kundigheid en direkte betrokkenheid in die onderwyssektor. Die regspanne van die onderskeie organisasies skakel ook met mekaar. Hoewel ons dalk verskillende invalshoeke het, gaan dit uiteindelik oor die beste belang van ons kinders. Ons staan nie teenoor mekaar nie. Ons hoop dat hierdie verskillende prosesse kan lei tot ’n politieke skikking pleks van uitgerekte litigasie.
Daar was reeds berigte van verskillende vergaderings tussen politieke partye. Die partye in die regering van nasionale eenheid het ook vergader en ’n taakspan is aangestel om Bela verder te bespreek. Ek dink hierdie taakspan het net twee weke tyd ontvang om die uitstaande sake aan te spreek. Daar is egter nog geen formele aankondiging oor enige uitkomste in die gesprekke nie.
Wat is jou gedagtes oor die Bela-protesaksie wat op 5 November plaasgevind het?
Die Solidariteit-beweging het ’n Bela-protesaksie op 5 November in Pretoria gehou. Fedsas bedien diverse skoolgemeenskappe en het die besluit oor deelname aan beheerliggame oorgelaat. Beheerliggame is in die beste posisie om ’n goeie besluit oor deelname te neem. Ons het ’n beroep op beheerliggame gedoen om die skool se eie omstandighede in ag te neem en om duidelik met die ouergemeenskap te kommunikeer.
..........
Die LUR vir onderwys in Gauteng het Afrikaanse skole onlangs in ’n media-onderhoud openlik beskuldig en gedreig. Baie van ons lede in Gauteng funksioneer al etlike jare onder moeilike politieke omstandighede en die dreigement om Bela te gebruik om hierdie skole vas te vat is olie op die vuur.
..............
Die LUR vir onderwys in Gauteng het Afrikaanse skole onlangs in ’n media-onderhoud openlik beskuldig en gedreig. Baie van ons lede in Gauteng funksioneer al etlike jare onder moeilike politieke omstandighede en die dreigement om Bela te gebruik om hierdie skole vas te vat is olie op die vuur. Ons het ook reeds die minister van basiese onderwys versoek om teen die LUR op te tree.
Die wetgewing is kardinaal belangrik en bepalend vir die toekoms van Afrikaans en moedertaalonderrig in skole. Of hoe? Wat is Fedsas se houding en posisie hieromtrent?
Fedsas is verbind tot gehalteonderwys vir elke kind in Suid-Afrika en ons fokus is om dit deur goeie beheer en bestuur te laat realiseer. Ons beywer ons vir maksimum outonomiteit vir beheerliggame en glo dat die beste besluite op skoolvlak geneem moet word.
Ons was deel van elkeen van die 65 formele, openbare deelnameprosesse en voorleggings aan die parlement en het baie ure in vergaderings met die Nasionale Departement en politici spandeer om sinvolle wysigings te kry. Ons is steeds deel van prosesse en gesprekke om Bela te verbeter om die vennootskap tussen die staat en die skoolgemeenskap te versterk en uitvoering te gee aan die beginsels van samewerkende regering pleks van staatsdominering.
Ons glo aan samewerkende regering en oop dialoog met die staat en politici, maar ook in die oppergesag van die reg en dat ons met sekere vryhede, regte en verantwoordelikhede binne ons grondwetlike bedeling kan werk, die regte kan en mag opeis en, waar nodig, beskerm. Ons het in die verlede nie geskroom om die hof te nader om ons lede se belange te beskerm nie en sal dit weer in die toekoms doen.
.........
Beheerliggame en bestuurspanne moet egter seker maak dat hulle goed ingelig en toegerus is vir hul taak by die skool. Doen die dinge reg en wees ’n goeie skool vir elke kind in die skool.
.............
Beheerliggame en bestuurspanne moet egter seker maak dat hulle goed ingelig en toegerus is vir hul taak by die skool. Doen die dinge reg en wees ’n goeie skool vir elke kind in die skool.
Lees ook: