Van al die uitdagings wat Suid-Afrikaners tans in die gesig staar, is die onbetwisbare mislukking van ons onderwysstelsel sekerlik die mees verwoestende een, gegewe die domino-effek daarvan. Volgens internasionale ranglyste is ons onderwysstelsel een van die swakstes ter wêreld.
Die onlangs aangekondigde besnoeiing aan die onderwysbegroting wat die afskaffing van duisende onderwysposte in 2025 behels, sal die bestaande werklading en frustrasie van onderwysers verder verhoog. Soos altyd sal dit die mees benadeelde kinders wees wat verder benadeel word, omdat arm gemeenskappe nie beheerliggaam-betaalde onderwysers kan bekostig nie.
......
Die onlangs aangekondigde besnoeiing aan die onderwysbegroting wat die afskaffing van duisende onderwysposte in 2025 behels, sal die bestaande werklading en frustrasie van onderwysers verder verhoog. Soos altyd sal dit die mees benadeelde kinders wees wat verder benadeel word, omdat arm gemeenskappe nie beheerliggaam-betaalde onderwysers kan bekostig nie.
.........
Die huidige krisis waarin onderwys in Suid-Afrika verkeer, kan egter nie toegeskryf word aan ’n historiese onderbesteding aan onderwys nie. Die verrassende feit is dat die deel van staatsbesteding vir 2022/23 hoër was vir onderwys as vir enige ander portefeulje – ’n yslike 19,9%, altesaam R429,7 miljard. Om dit in perspektief te stel: Suid-Afrika , bestee proporsioneel meer van sy begroting aan onderwys as ontwikkelde lande soos Frankryk, die VK en Australië en byna dubbel dié van Spanje.
Toewysing van fondse aan onderwys word dus deur die regering geprioritiseer, en tog lewer die belegging in ons kinders, relatief tot ander lande, ’n power opbrengs in terme van opvoedkundige uitkomste.
Hoe power?
- Slegs 20% van die land se 25 000 openbare skole bied goeiegehalte-onderwys; 80% is disfunksioneel.
- Slegs 18% van graad 4-leerlinge kan lees vir betekenis.
- Dit is moontlik om matriek met 40% in twee van ses vakke en 30% in drie ander te slaag. ’n Matrieksertifikaat kan nie meer beskou word as bewys van gereedheid vir tersiêre opleiding of om die arbeidsmark te betree nie.
- Skole is nie naastenby voldoende toegerus nie: 69% sit sonder ’n biblioteek, 80,1% sonder ’n laboratorium, 58,2% sonder rekenaarfasiliteite en 43,1% sonder sportgeriewe.
- Minder as die helfte van die leerlinge wat in 2010 met graad 1 begin het, het matriek in 2021 geslaag.
- Die swak fondament wat tydens hul skooljare gelê word, veroorsaak dat slegs 1 uit 5 hoëronderwysstudente in openbare instellings hul voorgraadse sertifikaat, diploma of graad voltooi.
Indien onderwys die kragtigste wapen is om die wêreld mee te verander (om Nelson Mandela se woorde te gebruik), is daar min hoop op ’n beter toekoms vir ons kinders. Die mislukking van die onderwysstelsel spoel oor na alle fasette van die samelewing en dreig om die land verder in armoede te dompel. Tensy drastiese hervormings bedink en deurgevoer kan word, sal die land se ekonomie aanhou stagneer, met hemelhoë werkloosheidsvlakke, armoede wat voortduur, aspirasies wat verpletter word en waardigheid wat vernietig word. Miskien is dit tyd dat die minister van basiese onderwys aanspreeklikheid aanvaar en die stand van sake as ’n krisis sien en hanteer. Iets werk duidelik nie. En daardie iets moet met ’n slopingsbal platgeslaan word sodat dit plek kan maak vir iets wat wel werk.
Die Jaarlikse Nasionale Assessering wat meet in watter mate die onderwysstelsel sekere gestelde doelwitte bereik, het bevind dat die blaam vir die mislukking voor die deur gelê moet word van swak onderwysers, swak werksetiek, gebrek aan gemeenskaps- en ouerondersteuning, swak beheer deur onderwysowerhede, swak ondersteuning vir onderwysers en baie lae vlakke van aanspreeklikheid.
...........
Die vraag kan egter gevra word of ons nie dalk probeer om die verkeerde ding reg te doen nie – of al bogenoemde "redes" nie bloot simptome van ’n dieper liggende probleem is nie. Wat sou dit kon wees? Die k-woord, natuurlik.
..............
Die vraag kan egter gevra word of ons nie dalk probeer om die verkeerde ding reg te doen nie – of al bogenoemde "redes" nie bloot simptome van ’n dieper liggende probleem is nie. Wat sou dit kon wees? Die k-woord, natuurlik.
Kolonialisasie het ’n skolestelsel na Suid-Afrika ingevoer wat kontekstueel ontoereikend is omdat dit elders ontwikkel is vir ander omstandighede wat totaal van ons s’n verskil. Ons het nie ’n homogene samelewing soos dié van Engeland, Nederland, Portugal of Frankryk nie. Ons is saamgelap uit verskillende kulture, oortuigings, waardes, gebruike en gedragskodes. Hoe kan ’n stelsel wat ontwerp is vir leerlinge wat dieselfde taal praat, ooit in ’n land met twaalf amptelike tale werk?
Volgens Unesco (en omtrent elke ander navorsing in die verband) is moedertaalonderrig deurslaggewend vir ’n leerling se identiteit, selfvertroue, begrip en leertempo. Die Grondwet bepaal wel dat “elkeen die reg het om onderwys in die amptelike taal of tale van hul keuse te ontvang in openbare onderwysinstellings waar daardie onderwys redelikerwys uitvoerbaar is”. Die vraag is wat as "redelik uitvoerbaar" beskou kan word.
Aangesien die aantal Engelse eerstetaalsprekers slegs die vierde hoogste van al die taalgroepe in Suid-Afrika is, volg dit dat die meerderheid kinders in die land onderrig word in 'n taal wat nie hul moedertaal is nie. Hulle leer dikwels deur te memoriseer eerder as te verstaan.
Skoolvakke in Suid-Afrika word óf in Engels onderrig vanaf graad 1 tot in matriek, óf die eerste drie jaar van onderwys word in die kinders se eerste taal aangebied voordat die onderrigtaal na Engels verskuif in graad 4. Die praktyk is algemeen ten spyte daarvan dat navorsing van regoor die wêreld getoon het dat dit langer as drie jaar neem om ’n taal ten volle aan te leer en daar aanbeveel word dat kinders die eerste ses jaar op skool in hul eerste taal onderrig word. Engels kan gedurende hierdie jare as 'n addisionele taal aangebied word wat geleidelik as mede-onderrigmedium gebruik word. Dit gee kinders die beste van twee wêrelde.
Die verskoning kan met reg gemaak word dat dit prakties onrealisties is om onderwysers in elke landstaal op te lei, om ’n akademiese woordeskat in sommige van die tale te ontwikkel en om die beskikbaarheid van hulpbronne soos handboeke in alle tale te verseker. Wat die oplossing ook al is, sal dit dus in staat moet wees om hierdie praktiese probleme te oorkom.
Behalwe die feit dat ons nie homogeen is in terme van taal en kultuur nie, het ons ook nie ’n redelik groot middelklas nie – die gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, is een van die grootstes ter wêreld. Ons beste skole vergelyk met die beste ter wêreld, met die disfunksionele 80% wêrelde verwyder daarvan. Uitgebreide navorsing het afdoende getoon dat kinders se sosiale klas een van die belangrikste voorspellers is – indien nie die enkele belangrikste voorspeller nie – van hul opvoedkundige sukses en dat dié wat met ’n agterstand begin, agter bly – hulle is selde in staat om die agterstand in te haal. Die oplossing sal dus ook die sosio-ekonomiese speelveld baie meer gelyk moet maak.
Gedurende die middel-2000's, toe ek hoof van ’n Cambridge-geakkrediteerde privaatskool was, het ons tradisionele sowel as afstandsonderrig aangebied. Vir laasgenoemde het ons lesse wat die handboeke moes aanvul, self geskep. Die potensiaal wat digitale toepassings inhou, het my toe reeds laat droom van ’n nuwe soort onderwys. Die tyd daarvoor was egter nie ryp nie. Meer onlangs het ek, met die oog daarop om opleiding te ontwikkel binne die bedryf waarin ek tans as rekenmeester werk, vir ’n kursus ingeskryf wat ’n mens toerus met die praktiese vaardighede om KI naatloos te integreer in elke stadium van die ontwerp en ontplooiing van leermateriaal. En ek het besef dat die tyd nou ryp is.
Die oplossing wat ek in wat volg aan die hand wil doen, sal ’n massiewe kopskuif verg waarvoor ons dalk nie gereed voel nie, maar daar is waarskynlik niemand wat meer gereed is om ’n sprong te waag as iemand wat van ’n sinkende skip wil afkom nie.
............
Die oplossing wat ek in wat volg aan die hand wil doen, sal ’n massiewe kopskuif verg waarvoor ons dalk nie gereed voel nie, maar daar is waarskynlik niemand wat meer gereed is om ’n sprong te waag as iemand wat van ’n sinkende skip wil afkom nie.
.............
Ek praat nie net van digitale onderwys nie, maar ook van kunsmatige intelligensie.
Die algemene sentiment jeens KI is dat dit nie die sagte vaardighede van die onderwyser in die klaskamer kan vervang nie. Soos egter reeds genoem, staan onderwysers dalk juis in die pad van leerlinge se vordering en moet daar dalk herbesin word oor die rol van die onderwyser in die klaskamer. Gestel dat KI-ondersteunde digitale lesse die oordra van kennis kan oorneem terwyl die onderwyser herontplooi word as toesighouer of fasiliteerder wat opgelei word om die basiese tegnologie genoegsaam te verstaan om leerlinge met die gebruik daarvan by te staan, dit wil sê om leerlinge aan die gang te kry en aan die gang te hou binne ’n gedissiplineerde en uitkomsgedrewe klaskamer.
Leerlinge sal elk toegang hê tot ’n rekenaar en lesse sal digitaal beskikbaar wees in videoformaat, aangebied deur ’n vakkundige en aangevul deur verskeie KI-toepassings soos hier onder verduidelik.
Die hoofvoordeel van KI-gebaseerde onderwys binne ’n Suid-Afrikaanse konteks is die vermoë van KI om moedertaalvertalings van byna enige leermateriaal parallel met Engels aan te bied sodat elke leerder ook in sy/haar moedertaal onderrig kan word. Teks kan selfs na spraak vertaal word sodat ’n leerling kan kies om die lesmateriaal in sy/haar eie taal te lees of net daarna te luister. Die les, aangebied as ’n video, kan onderskrifte vertoon wat die dialoog of narratief vertaal in die gekose taal van ’n leerling. Dit sou selfs moontlik wees om die dialoog oor te klank.
Wat verhoogde inklusiwiteit betref, bemoontlik KI-gebaseerde digitale onderwys byvoorbeeld die volgende:
- die standaardisering van lesinhoud en -aanbieding wat aan alle leerlinge, ongeag hul onderskeie sosio-ekonomiese agtergronde, toegang sal gee tot dieselfde wêreldgehalte-onderrig met boeiende inhoud met ’n gevolglike vernouing van die gaping tussen “goeie” en “swak” skole
- die oorbrugging van beperkings soos geografiese ligging en fisieke gestremdheid
- die omskakeling van teks na spraak vir gesiggestremdes en diegene met leergestremdhede soos outisme.
KI se aanspraak op roem is natuurlik die individualisering van inhoud. Hier kan ons dink aan:
- pasgemaakte ondersteuning en leiding met inagneming van unieke leervoorkeure, -style en -tekortkominge wat lei tot verbeterde leeruitkomste
- leerlingspesifieke toetse en uitdagings wat die gapings in insig en kennis van elke leerder vasstel met geskikte voorstelle vir verbeterings
- die deurlopend geoutomatiseerde assessering en evaluering van elke student se vordering met intydse terugvoer.
Verdere maniere waarop KI die gehalte van aanlyn lesse kan verhoog, sluit in:
- multimedia-integrasie wat die leerervaring verryk en meer dinamies en boeiend maak – hier kan gedink word aan die bykans onuitputlike videobronne op die internet
- virtuele gassprekersessies wat studente blootstel aan kundiges in verskillende velde en wat klaskamerlesse aan werklike toepassings kan koppel
- virtuele assistente, kletsbotte en virtuele gesprekke wat studente bystaan
- interaktiewe lesse wat meer aandag en betrokkenheid van leerlinge verg
- lesse wat herhaal kan word indien leerlinge dit nodig vind
- blootstelling aan die standaardaksent van die taal van onderrig
- groepsbesprekings en -projekte tussen leerders binne dieselfde klas of selfs van verskillende skole met die klem op samewerking, kreatiwiteit en die deel van inligting
- integrasie van tegnologie in die klaskamer en die digitale geletterdheid wat studente van alle ekonomiese agtergronde spontaan sal ontwikkel.
Nie net leerlinge nie, maar ook die Departement van Onderwys sal die vrugte kan pluk van so ’n digitale onderwysstelsel. Voorbeelde hiervan sluit in:
- outomatiese gradering en rubriekgebaseerde evaluering wat konsekwentheid verseker en baie tyd en administrasie bespaar
- die afhanklikheid van vakkundiges wat drasties sal verminder met die gepaardgaande besnoeiing aan salarisse en opleiding
- lesinhoud wat maklik bygewerk kan word sonder dat dit nodig is om nuwe handboeke uit te gee of addisionele opleiding aan onderwysers te verskaf
- die duisende e-boeke waartoe skole wat nie biblioteke van hul eie het nie, toegang sal hê
- die beëindiging van die rompslomp verbonde aan die omslagtige en vertragende verkryging en verspreiding van handboeke
- die wegdoen met papier (handboeke), wat sal bydra tot omgewingsbewaring.
So ’n oorskakeling sal natuurlik ook uitdagings van sy eie inhou:
- Die mees voor die hand liggende hiervan is die verlies aan tradisionele onderwysposte. Indien ’n nuwe stelsel egter die belofte inhou om die wa deur die drif te trek, behoort korttermynoorwegings nie die rede te wees om dit nie te implementeer nie. Die wêreld word toenemend tegnologies en dit is net ’n kwessie van tyd voordat die tradisionele klaskamer in elk geval onherkenbaar sal verander. Onderwysers kan in ieder geval heropgelei word as fasiliteerders of om oproepsentrums te beman wat leerders bystaan.
- ’n Digitale klaskamer sal afhanklik wees van tegnologie en die internet. Dit moet egter onthou word dat meer as die helfte van Suid-Afrika se bevolking alreeds aanlyn is, en dat dit vir die meeste mense net so belangrik is om ’n slimfoon te hê as elektrisiteit. Vir skole wat nie 24/7 aanlyn is nie, is daar ander oplossings. Snapplify se Snappbox kan byvoorbeeld vooraf gelaai word met digitale inhoud wat plaaslik afgelaai kan word in stede van deur die internet. Studente kan lesmateriaal of huiswerk boonop aflaai en vanlyn gebruik.
- Die aanvanklike implementering van so ’n stelsel en die instandhouding daarna sal duur wees. Hierdie kostes sal egter verdwerg word deur besparings op dinge soos salarisse, handboeke en die grootskaalse opleiding van onderwysers.
- Digitale interaksie kan die leerervaring koud en onpersoonlik laat voel. Met die tyd wat bespaar word om self lesse aan te bied, kan fasiliteerders egter daarop fokus om leerlinge emosioneel by te staan en op hul sagte vaardighede te fokus. Nie alle vakke en aktiwiteite leen hulle in elk geval tot volledig gedigitaliseerde lesse nie (dink aan kuns, musiek, sport, en dies meer), wat beteken dat daar wel geleentheid sal wees vir menslike interaksie en dat daar meer tyd sal wees (omdat leerders nie langer van klaskamer na klaskamer sal piekel nie) om nie-akademiese vaardighede te ontwikkel. Nuwe vakke wat menslike insig verg, kan boonop ontwikkel word om leerders meer afgerond te maak – dink aan filosofie wat aspekte soos etiek kan dek.
- Die uitrol van ’n model wat so totaal van die huidige verskil, sal tydsaam en ontwrigtend wees. Hierdie uitrol kan egter geleidelik en in fases geskied, beginnende met enkele tale, vakke, grade of skole. In die proses kan probleme betyds geïdentifiseer word en die nodige regstellings gemaak word, kan leerders en fasiliteerders vertroud gemaak word met die model, en kan groeipyne in die algemeen geminimaliseer word.
Dit sou naïef wees om te dink dat KI so ’n projek relatief vinnig en sonder die insig, kennis of kreatiwiteit van sagteware-ontwerpers, vakkundiges en ander belanghebbendes kan voltooi. Aan die ander kant is die leerplanne reeds ontwikkel en die teks in handboeke as ’n vertrekpunt beskikbaar. Daar is ook ’n magdom reeds bestaande KI-gereedskap wat integreerbaar is. Hier kan ons dink aan OpenAI, Codex en AlphaCode wat vaardig geword het in die skep van kode teen ’n spoed en doeltreffendheid wat die menslike programmeerder verbysteek. KI kan dus die donkiewerk doen terwyl die redigering, verbeterings en afronding aan menslike insig en kreatiwiteit toevertrou kan word.
Om maar ’n handjievol van die beskikbare gereedskap te noem:
- Dall-E: omskep teks na beeld
- Quilbot, ZeroGPT en ZeroGPT: spoor plagiaat op
- ElevenLabs en FreeTTS: omskep teks na spraak (129 tale)
- IO: vertaal video’s na 125 tale
- App: skep interaktiewe inhoud van notas af
- Slides AI: skep skyfievertonings
- Heygen: omskep teks in woordvoerdervideo's met behulp van ’n avatar
- AI Summariser: maak opsommings van enige teks
- Slay School, Riviser en Quizlet: skakel lesnotas om in flitskaarte, vasvrae of speletjies
- Video to blog: skakel YouTube-video's om in kragtige blogs.
Natuurlik moet die omvang van so ’n projek nie onderspeel word nie, maar dit kan nietemin met die nodige moed en kundigheid (wat ons het) aangepak en suksesvol deurgevoer word.
Beter befondsing, meer wette of nuwe beleide gaan nie die haas uit die hoed trek as ons met die verkeerde model werk nie. Om van die sinkende skip van een koloniale onderwysstelsel te probeer ontsnap deur na 'n ander een te spring, is nie die antwoord nie. Met behulp van KI hoef ons nie te spring nie; ons kan vlieg. Ons sal aanvanklik opstyg en val en weer opstyg en weer val, maar in die val sal ons uiteindelik leer om ons vlerke oop te vou, om met ons eie vlerke te vlieg en die vergane era van koloniale onderwys agter te laat.
Bronne
Institute of Race Relations: Hard truth about the education crisis in South Africa
https://irr.org.za/fan/media/hard-truth-about-the-education-crisis-in-south-africa#
Mother-tongue education in South-Africa deur Andrew Foley
https://teachenglishtoday.org/index.php/2010/06/mother-tongue-education-in-south-africa-2
World Economic Forum: The future of learning: How AI is revolutionizing education 4.0
https://www.weforum.org/agenda/2024/04/future-learning-ai-revolutionizing-education-4-0
Mail & Guardian: AI as a beacon of hope for education reform deur James Maisiri
https://mg.co.za/thought-leader/opinion/2024-04-09-ai-as-a-beacon-of-hope-for-education-reform
Lees ook:
Deus ex machina: Animation, artists and solving the generative AI problem
Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Gaan kunsmatige intelligensie oorneem?
Seen elsewhere: Marking undergraduate essays in the age of ChatGPT
LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat