Is jy gereed vir jou KI?

  • 4

Ek het onlangs ’n nuusberig gelees oor hoe Naspers KI gaan inspan.

Hier in ons geweste is KI iets heel anders. Of is dit?

Ons hoor daarvan en sien dit oral, maar, my liewe maat, voor jy jou nog mooi kon voorberei op hierdie nuwe verskynsel, staan jy in ’n kopklamp vir jou eerste toediening.

Dit is aanvanklik ’n bietjie ongemaklik, en as jy gespanne is, kan dit selfs moeilik en baie ongemaklik wees. Jou daaglikse bestaan word geleidelik anders.

Die soekenjin Google en sosialemedia-platform YouTube het ’n nuweling met die naam van ChatGPT. Jou buurvrou stel jou gerus en bied selfs aan om te help as jy sukkel. Sy verseker jou dat jou eerste KI die moeilikste sal wees en dat dit mettertyd makliker sal raak. Jy moet net ontspan en die instruksies volg. Jy raak nogal opgewonde oor die uitkoms van KI en sien die veranderinge aan jou eie lyf. Dit bly ’n ongemaklike gedoente, maar jy wil darem ook bydra tot die kudde. (Terloops, dit is nogal ’n woord wat na die mensdom verwys. Klink kudde-immuniteit dalk bekend?)

Jy bevind jou tussen diegene wat ook ge-KI is.

Algaande word jy gewoond aan die aanvanklike ongemak en kan nie wag om jou produk te lewer nie. As jy soos ek is, gaan dit maar moeilik met die eerste geboorte.

Ek spring gewoonlik pens en pootjies in ’n ding en probeer op my eie mamparra-manier te navigeer totdat daar ’n produk of uitkoms is. Dit gaan by tye baie moeilik, maar met hulp en versterkings wat ingeroep word, is daar ’n yslike baba. Sy lyk amper na jou, maar sy is slim verby. Jy voel in jou skik met hierdie poging en voel heeltemal anders oor die saak. Dit word normaal om in dié drukgang te staan en jy sit sommer self jou kop in die klamp. So word dit deel van jou bestaan. Jy kry by tye mastitis en melkkoors wat vinnig reggesien word met raad en doepas wat jy op die internet kry. Jy is blitsvinnig deel van die KI-kudde en deel graag jou kennis met nuwelinge.

Soos die meeste dinge in die lewe kan dit jou help, of laat stry teen die gevaar. Dit is als in jou eie hande en jy het die reg om dit te beproef op jou eie tyd.

Vereenselwig jou met KI en maak seker jy weet van die gevare en voordele van hierdie praktyk. Dit kan jou leefwêreld vergemaklik as jy weet hoe om die gevaar te systap. So bly jy altyd een stappie voor die man in sy groen oorpak en wit waterstewels; een hand met ’n pipet aan die einde van ’n katoeter en die ander in ’n koddige lang plastiek handskoen.

Wees veel eerder ingelig voordat jy jou in ’n nou drukgang bevind met jou kop in ’n klamp waarvoor jy nie kans sien nie.

  • 4

Kommentaar

  • Inderdaad. Dieselfde geld vir kriptoe. Dis belangrike tegnologie. Meer belangrik as wat baie nog besef.

  • Chris Erasmus

    Met my beperkte kennis van KI (Kunsmatige Intelligensie) dink ek my gevolgtrekking is naby genoeg. Ek weet, het kennis van Kunsmatige Inseminasie. Die twee KI's het iets in gemeen. Dit is ver van die regte ding verwyderd.

  • Loop maar lig. KI is niks anders nie as 'n baie komplekse masjien wat jou presies net dit gee wat sy programmeerders dink jy mag weet. As dit linkse propaganda verbloem agter mooi woordjies is, kan dit sosialistiese propaganda-slafies van jou kinders maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top