.............
Innoverende planne om moedertaalonderrig vir privaat Afrikaanse skole in Suid-Afrika te bevorder het die afgelope week ’n nuwe fase betree. Miljoene rand gaan gewerf word vir ’n netwerk enkelmedium onafhanklike Afrikaanse skole regoor die land.
..................
Innoverende planne om moedertaalonderrig vir privaat Afrikaanse skole in Suid-Afrika te bevorder het die afgelope week ’n nuwe fase betree. Miljoene rand gaan gewerf word vir ’n netwerk enkelmedium onafhanklike Afrikaanse skole regoor die land.
Die MOS-inisiatief, ’n onafhanklike skolenetwerk wat gehalte en toekomsgerigte Afrikaanse onderwys verskaf, wil R100 miljoen insamel om die bestaande MOS-netwerk van Afrikaanse privaatskole wat moedertaalonderrig aanbied, verder uit te brei.
Die MOS-inisiatief is gevorm in reaksie op die dalende toegang tot Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika. Die groep het reeds 10 skole en beplan vele meer oor die volgende 10 jaar.
Planne om gewone beleggers deel te maak van die groep se toekomsplanne en nuwe beleggers te lok, is die afgelope week in Stellenbosch bekendgestel nadat dit vroeër die maand ook in Pretoria bekendgestel is.
..............
Afrikaanse openbare skole verkeer onder aansienlike druk. Die omstrede Bela-wetsontwerp wat tans in die parlement oorweeg word, kan volgens die MOS-inisiatief ’n drastiese vermindering in die 1 200 openbare skole wat nog in Afrikaans onderrig gee, tot gevolg hê. Dit kan baie Afrikaanssprekendes dwing om in hul tweede taal skool te gaan.
................
Afrikaanse openbare skole verkeer onder aansienlike druk. Die omstrede Bela-wetsontwerp wat tans in die parlement oorweeg word, kan volgens die MOS-inisiatief ’n drastiese vermindering in die 1 200 openbare skole wat nog in Afrikaans onderrig gee, tot gevolg hê. Dit kan baie Afrikaanssprekendes dwing om in hul tweede taal skool te gaan.
Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) het in 2019 besluit om die MOS-inisiatief te begin. Dit is ’n private maatskappy wat daarop fokus om oplossings vir gesonde en relevante moedertaalonderrig in Suid-Afrika te vind.
Die MOS-inisiatief is tans besig om 'n landwye netwerk van Afrikaanse privaatskole te vestig wat kwaliteit- Afrikaanse onderwys verskaf en bestuur vanaf die ouderdom van ses maande tot graad 12. MOS-skole is toekomsgerig en wil leerders toerus om te floreer met die eienskappe en vaardighede wat deur die vierde industriële revolusie in die werkplek vereis word.
Om meer privaat Afrikaanse skole te koop of te bou is egter ’n duur kapitaalintensiewe proses. Alhoewel die MOS-inisiatief ’n baie sterk besigheidsmodel het wat danksy die toepassing van moderne tegnologie glad werk, is daar besluit om die tempo te versnel deur ook kapitaal by ondersteuners en beleggers te werf.
Beleggers wat die gedagte van moedertaalonderrig steun en daarin wil belê, kan tot 26 April deel word van die volgehoue strewe na moedertaalonderrig. MOS stel vir die volgende twee weke effekte aan beleggers beskikbaar teen ’n gewaarborgde jaarlikse opbrengs van Prima+2% op beleggers se geld deur middel van blokkettingtegnologie.
Die ekonoom Dawie Roodt, wat deel is van die MOS-inisiatief, sê eenvoudig gestel is dit ’n finansiële instrument wat uitgereik word en waarop daar rente betaal word. “In hierdie geval betaal ons 2% bokant die primarentekoers. Soos markrentekoerse styg sal dié rentekoers natuurlik ook styg.”
Teen so min as R5 000 kan beleggers tot 26 April van hierdie sogenaamde slimeffekte bekom en deel word van hierdie unieke beleggingsplan van Mesh.trade, 'n digitale kapitaalmarkplatform vir die uitreiking, handel en bestuur van slim- finansiële bates.
Roodt sê hoewel daar ook groot beleggers sal wees wat hierdie effekte sal wil koop, is daar besluit om dit ook vir die man op straat moontlik te maak om in te belê en deel te wees van hierdie inisiatief. Daarom is die minimumbeleggingsbedrag slegs R5 000.
Mesh.trade is in Nederland gebaseer en het sakebelange in Suid-Afrika. Die maatskappy het uitgebreide kennis van finansiële markte en produkte, en robuuste tegnologiese infrastruktuur om die MOS-slimeffek se sukses te verseker. Die beoogde slimeffekte sal ’n eerste vir Afrika wees, sê Connie Bloem, medestigter en besturende direkteur van Mesh.trade.
.............
Een van die voordele vir beleggers van hierdie nuwe vorm van slim bate is dat dit in kleiner kontrakgroottes verhandel as tradisionele effekte. Dit maak hierdie unieke bateklas meer toeganklik en bekostigbaar vir 'n groter verskeidenheid beleggers.
...................
Een van die voordele vir beleggers van hierdie nuwe vorm van slim bate is dat dit in kleiner kontrakgroottes verhandel as tradisionele effekte. Dit maak hierdie unieke bateklas meer toeganklik en bekostigbaar vir 'n groter verskeidenheid beleggers.
Die MOS-slimeffekte word ten volle deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis (deel van die Dagbreek Trust-familie) onderskryf en gewaarborg ten einde die doelwit van R100 miljoen te bereik, sê die voorsitter van die MOS-inisiatief se direksie, Theuns Eloff, wat ook voorsitter is van die Dagbreek Trust.
Die hoofdoelwit van die trust is die bevordering en behoud van die Afrikaanse kuns, kultuur en gebruike. Die trust het ’n waarborg uitgereik ten gunste van alle houers van die slimeffekte ingevolge waarvan dit al die verpligtinge van die maatskappy teenoor die beleggers sal beskerm.
Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS-inisiatief, sê in ’n land waar die oorblywende 1 200 skole wat Afrikaanse moedertaal-onderrig bied, onder druk is om na Engels oor te skakel, moet die MOS-inisiatief sy pogings verdubbel om sy hoogs suksesvolle netwerk van Afrikaanse privaat skole uit te brei.
“Dit het dadelik sin gemaak dat ons Mesh.trade gebruik om ’n korporatiewe effek as ’n slimkontrak uit te reik en só die R100 miljoen te werf wat ons nodig het om ons netwerk uit te brei. Mesh.trade se uitgebreide finansiële kennis en veilige en deursigtige digitale mark wat die nodige regulatoriese goedkeuring het, bied die perfekte omstandighede vir ons om vinnig en kostedoeltreffend kapitaal te werf, direk van ons ondersteuners,” sê Van der Westhuizen.
“Die MOS-inisiatief verwys na die Moedertaal in Onafhanklike Skole-beweging. MOS verwys ook na die mosplantjie wat orals groei en met min vogtigheid floreer. Natuurlik vorm mos ook ’n integrale deel van die wynmaakproses – wat een van Suid-Afrika se trotse uitvoerprodukte is. Benewens hierdie simboliek, word die naam MOS ook lekker geassosieer met die unieke Afrikaanse woordjie ‘mos’. Soos in: Dis mos slim!,” het Van der Westhuizen tydens die afgelope week se funksie buite Stellenbosch gesê.
Van der Westhuizen, wat ’n geoktrooieerde rekenmeester en entrepreneur met ’n passie vir Afrikaanse onderwys is, sê die kernrede vir MOS se bestaan is om ’n netwerk van volhoubare enkelmedium onafhanklike skole regoor Suid-Afrika te bedryf. “Die skole moet oop wees vir almal en bekostigbaar met hoë standaarde en innoverende leer. Hierdie skole sal preprimêre, primêre, en sekondêre fases insluit. MOS se fokus lê dus dáár waar voldoende Afrikaanse skole met kwaliteitonderrig ontbreek, het Van der Westhuizen gesê.
Die groep is byna vyf jaar gelede op 5 Julie 2019 gestig met die visie en doelwit vir die bou van 'n Afrikaanse skoolnetwerk waardeur kwaliteit- Afrikaanse onderwys kan verskaf word om ook die toekoms van die taal te verseker. Van der Westhuizen sê die gedagte is om in Afrikaans ’n innoverende, inklusiewe, toeganklike, volhoubare en toekomsgerigte leerstelsel te bou, waar kinders so verlief raak op leer dat hulle lewenslange leerders sal wees en verby die vierde nywerheidsrevolusie sal floreer.
Die direksie bestaan uit Theuns Eloff (voorsitter), Eric Wasserman (finansiële kundige, voorheen van Absa), Debra Meyer (adjunkvisekanselier: Onderrig en Leer by Sol Plaatje Universiteit), Verna Stuurman (onderwyskenner) en Roedolf van der Westhuizen CA (SA), (uitvoerende hoof).
Die eerste 100%-aandeel in 'n skool genaamd Kleinhoewe Kleuterskool is op 1 November 2019 verkry. Dié skool het sy perseel aanvanklik van ’n derde party gehuur, maar het in Desember 2023 na ’n nuwe perseel verhuis wat 100% deur die groep besit word.
Kleinhoewe Kleuterskool bedien kinders in Rustenburg in Noordwes, vanaf babas tot graad RR.
Futurum Akademie is op 1 Maart 2020 verkry. Die skool word 100% deur die groep besit, met 50,2% van die skool se eiendom wat deur die groep besit word. Futurum Akademie bedien leerders in die Vaalhartsskema vanaf graad R tot graad 12.
Na die grendelstaat het dit 'n rukkie geneem om momentum te herwin in die fisiese skoolomgewing. Knikkie Knakkie Kleuterskool was die volgende skool en eiendom wat 100% verkry is, op 16 Junie 2021.
Dié kleuterskool bedien leerders in Wonderboom, Pretoria, in Gauteng van babas tot graad RR. Twee derdes van die eiendom is geoormerk vir die ontwikkeling van 'n hoërskool gebaseer op die leerskool model.
Karos Akademie is 'n hoërskoolleerskool in Beaufort-Wes in die Wes-Kaap wat op 19 Januarie 2022 begin het en dien leerders van graad 8 tot graad 12.
Gedurende die 2022-kalenderjaar het verskeie nuwe skole bygekom, onder andere Abra Kedabra Crèche en sy eiendom in Bellville, wat leerders van babas tot graad RR bedien, Linden Akademie en sy eiendom in Linden, Johannesburg, wat leerders van babas tot graad R bedien, asook ander skole waar die groep ’n minderheidsaandeel het.
Bo en behalwe die bestaande skole is daar reeds verskeie beoogde nuwe skole in die pyplyn, asook bestaande skole wat verkry gaan word. Die groep sê hulle is ingestel op eksponensiële groei in die volgende 10 jaar, met die doel om die groep op so 'n wyse te vestig dat dit kan verseker dat Afrikaanse onderwys uitgebrei word.
https://www.facebook.com/diemosinisiatief/videos/943385177410444/
- Besoek die MOS-inisiatief se webwerf hier vir meer inligting oor die inisiatief en hoe om van die sogenaamde slimeffekte te bekom.
Lees ook:
’n Pyplyn vir Afrikaans: Roedolf van der Westhuizen praat oor die MOS-inisiatief
LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat
Internasionale moedertaaldag 2024 en die belang van moedertaalonderrig
Verander die regering hulle deuntjie oor die Bela-wetgewing?
BELAB and mother tongue education: an interview with Mphuthumi Ntabeni
BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona
Verslag oor die Hoerikwaggo Indaba: ’n suksesvolle byeenkoms
Moedertaalonderrig is van kardinale belang in Suid-Afrika; dis ononderhandelbaar