Daar bestaan ’n dringende behoefte aan vernuwing wat betref nuwe onderwysmetodes en oplossings om onderwys se toekoms te verseker.
’n Groep deskundiges en opvoeders het verlede Donderdagaand tydens ’n gesprek wat deur die Vriende van Afrikaans (VVA) en die Afrikaanse Onderwysnetwerk aangebied is, besin oor moontlike kopskuiwe wat nodig is om die noodsaaklike vernuwing binne die onderwysstelsel ’n werklikheid te maak.
Die gesprek, wat by die Middelvlei-wynlandgoed in Stellenbosch plaasgevind het, se tema was: die kopskuif om onderwys se toekoms te verseker.
Die Vriende van Afrikaans is ’n groep mense onder die vaandel van die ATKV wat vir Afrikaans werk. Hulle bied elke jaar ’n Ommietafelgesprek aan waar daar oor aktuele sake koppe bymekaargesit word, veral rakende Afrikaans.
Die gespreksleier was René Arendse, motiveringsafrigter, opvoeder en entrepreneur. Die paneel het bestaan uit Jevonn Cloete, ’n bekroonde leerondersteuningspesialis, Ashric Don, ’n senior kurrikulumbeplanner: robotika en kodering, Shireen Crotz, ATKV-VVA-projekorganiseerder, en George Jonker, finalejaaropvoedkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch.
Die paneel was dit eens dat die kopskuif in onderwys by die onderwysers moet begin. Dit is egter nie net onderwysers wat ’n kopskuif sal moet maak nie. Ouers en leerders moet ook ’n kopskuif maak ten opsigte van nuwe onderwysmetodes en moontlike oplossings vir veral die leesuitdagings waaroor daar tans groot kommer heers.
Ashric Don sê die siening dat Suid-Afrika ver agter die res van die wêreld is ten opsigte van sy onderwysers se potensiaal, is nie korrek nie. Hy sê daar is ’n groot vraag na Suid-Afrikaanse onderwysers in die buiteland. Dit word volgens hom onder meer toegeskryf aan Suid-Afrikaners se vermoë om gemaklik met verskillende tale en kulture te kan meng.
Don, ’n graad 7-onderwyser by Laerskool Klapmuts, sê ten opsigte van robotika bestaan daar nie nog so ’n kurrikulum in die wêreld soos wat hier in Suid-Afrika is nie. Hy bestempel dit as ’n “game changer” in die onderwys.
Robotika hou sig besig met die ontwikkeling van robotte wat verskeie funksies kan verrig, insluitend industriële prosesse, mediese chirurgie, ruimte-eksplorasie, rehabilitasie van mense met gestremdhede, huishoudelike take, en selfs kunsmatige intelligensie.
Hierdie veld oorbrug die dissiplines van meganika, elektronika, sagteware-ontwerp, beeldverwerking, kunsmatige intelligensie en nog baie meer.
Die doel van robotika is om menslike arbeid te outomatiseer, nuwe oplossings vir probleme te vind, en die potensiaal van masjiene te benut om die samelewing te verbeter en te vernuwe.
Don sê sy doelwit het verskuif van om net sy klas te ondersteun na ondersteuning aan soveel leerders, ouers en onderwysers as moontlik in Suid-Afrika.
Sy advies aan onderwysers is om die belangrikheid van e-leer te besef.
E-leer, of elektroniese leer, of aanlyn leer, is ’n onderwysbenadering waarin leerinhoud en onderrigaktiwiteite deur elektroniese middels en tegnologieë aangebied en gelewer word. Dit maak gebruik van digitale platforms, die internet, sagteware, en ander tegnologiese hulpmiddels om leerders toegang tot lesmateriaal, interaktiewe lesings, oefeninge, assesserings, en ander leergeleenthede te gee.
E-leer het die voordeel dat dit leerders die geleentheid bied om in hul eie tyd en teen hulle eie tempo te studeer en leer, ongeag hul ligging. Dit maak afstandsonderrig en opleiding moontlik en is veral nuttig vir mense wat nie fisies by ’n skool, universiteit of opleidingsinstelling teenwoordig kan wees nie.
Die vorme van e-leer kan wissel van interaktiewe aanlyn kursusse tot videogebaseerde onderrig, virtuele klasomgewings, webgebaseerde selfstudiemodules, en nog baie meer. Hierdie benadering tot leer het veral gewild geword tydens die Covid-pandemie en die toenemende beskikbaarheid van tegnologie en internetverbinding.
Don sê onderwysers het gedurende die Covid-pandemie aansienlike vaardighede ontwikkel ten opsigte van e-leer.
.....
Moderne tegnologie kan ’n groot rol speel in die onderwysproses. Dit kan die aandag van leerders vasvang en hulle leer om meer interaktief en betrokke te maak. Dit kan ook gebruik word om leesvaardighede aan te moedig deur digitale boeke, leesapps en interaktiewe lesings.
.....
Moderne tegnologie kan ’n groot rol speel in die onderwysproses. Dit kan die aandag van leerders vasvang en hulle leer om meer interaktief en betrokke te maak. Dit kan ook gebruik word om leesvaardighede aan te moedig deur digitale boeke, leesapps en interaktiewe lesings.
Dit is lekker om te sien hoe kinders dit geniet om op hierdie manier nuwe vaardighede aan te leer, sê Don. Hy sê Vrydae is joldag in sy klas. “Dit is ’n vreugde om te sien hoe geniet die kinders dit wanneer hulle aandag geboei word met iets waarvan hulle hou. Ek is ’n entertainer in my klas en kan nie net daar stilstaan soos ’n dominee nie.”
Die leesuitdaging in skole is een van die groot uitdagings waarmee die onderwys in Suid-Afrika gekonfronteer word.
Dit is ’n komplekse uitdaging en vereis ’n holistiese benadering met die samewerking van onderwysers, ouers, gemeenskappe en beleidmakers om te verseker dat leerders toegerus word met die leesvaardighede wat hulle vir die toekoms benodig.
Shireen Crotz, wat as projekorganiseerder van die ATKV se Vriende van Afrikaans dikwels skole besoek om projekte bekend te stel, sê daar moet in gedagte gehou word dat die leeslandskap ontsettend verander het.
“Die nuwe generasie het skerms. Skermtyd het baie van die fisiese lees oorgeneem. Dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar daar moet ’n balans wees tussen die aktiwiteite van die linker- en regterbrein, sê Shireen. Sowat 82% van Suid-Afrika se graad 10-leerders kan nie behoorlik met begrip lees nie.
Onderwysdepartemente probeer hul bes om kinders weer met begrip te laat lees sodat hulle kan verstaan wat hulle lees.
Crotz sê elke kind behoort toegang tot geskikte lekkerleesboeke te hê. Sowat 58% van Suid-Afrikaanse huishouding het nie ’n boek in die huis om te lees nie.
Sy sê sommige onderwysers het ’n persepsie dat dit net die taalonderwyser se taak is om kinders met begrip te leer lees. “As iemand nie met begrip kan lees nie, kan so ’n persoon ook nie enige ander vak se vrae met begrip verstaan nie.”
Dit is nie net onderwysers wat moet help om kinders te leer lees nie. Ouers se betrokkenheid is net so belangrik. Samewerking met ouers en voogde is noodsaaklik om leesvaardighede buite die skool om te bevorder. Ouers kan ’n ondersteunende omgewing skep deur kinders aan te moedig om te lees, vir hulle voor te lees en gesprekke oor boeke te voer.
.....
“Die onderwysprofessie is die skepper van alle ander professies. Dit moet kinders motiveer om te word wat hulle graag wil wees en nie net dit wat hulle ouers as moontlikhede beskou nie,” sê George Jonker, finalejaaropvoedkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch
.....
Skole kan help om ’n literêre kultuur te bevorder deur boeke beskikbaar te stel en toeganklik te maak deur boekklubs en voorlesings aan te bied. Die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek, waar hulle boeke by kleuter- en laerskole versprei, is ’n lig in die donker vir baie kinders wat nie toegang tot boeke het nie.
George Jonker sê wat hom betref is daar ’n tekort aan goeie-gehalte-onderwysers wat graag daar wil wees teenoor ander wat bloot daar móét wees.
Hy sê in sy tyd op skool was daar nie genoeg ondersteuning vir leerders om te wees wat hulle graag wil wees nie. As onderwyser wil hy graag ’n verskil maak in ’n kind se lewe, ongeag of dit net een of tien of baie kinders se lewens is.
Jonker sê daar moet ’n persoonlike dryfkrag by elke onderwyser wees om ’n verskil te wil maak in elke kind se lewe. “Die onderwysprofessie is die skepper van alle ander professies. Dit moet kinders motiveer om te word wat hulle graag wil wees en nie net dit wat hulle ouers as moontlikhede beskou nie.”
Jevonn Cloete se passie is kinders met leergestremdhede of leerstruikelblokke. Hy gee spesiale onderwys by Rusthof spesiale skool in die Strand en spesialiseer in onderrig vir leerders met ernstige leergestremdheid en outisme.
Volgens Cloete is leersagterstande en leergestremdheid struikelblokke met verskillende dimensies vir leerlinge wat spesiale onderwys nodig het.
Hy sê in die ideale model sou daar ’n skolestelsel wees waar daar voorsiening gemaak word vir al die verskillende leerstruikelblokke. In gewone hoofstroomskole is sulke ondersteuning egter laag. Daar bestaan ’n groot behoefte aan skole wat voorsiening maak vir leerders met spesiale behoeftes.
Die Wes-Kaap is volgens Cloete een van die bevoorregte provinsies waar daar ’n groot verskeidenheid spesiale skole is wat skole vir dowes, blindes en kinders met ander gestremdhede insluit. In die meeste ander provinsies is daar ’n enorme behoefte aan sulke skole.
Hy sê die identifisering van leerders met leerprobleme moet verkieslik vroegtydig plaasvind, en gepaste intervensies moet aangebied word om hul leervaardighede te versterk. Dit kan individuele of kleingroep-ondersteuning insluit.
.....
Differensiasie is noodsaaklik, waar onderwysers die vermoë het om hul onderrig aan te pas om in die individuele behoeftes van elke leerder te voorsien. Voeg daarby die ontwikkeling van kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede, met onderwysers wat leerders aanmoedig om vrae te vrae, te redeneer en hul eie gevolgtrekkings te maak en die land se onderwys is op die regte koers.
.....
Nog ’n kopskuif wat volgens Jonker moet plaasvind, is die fiksasie wat daar op vakke soos wiskunde en wetenskap is, asof die ander vakke nie ook belangrik is nie. Hy sê leerders moet geleer word een vak is nie belangriker as die res nie. Net soos wat wiskunde belangrik is, is die ander vakke ook belangrik en noodsaaklik.
Die paneelgesprek het dit duidelik gemaak dat een van die groot kopskuiwe wat nodig is in die onderwys, die besef is dat daar ’n verskeidenheid leerders is met verskillende leerstyle, vaardighede en behoeftes. Differensiasie is noodsaaklik, waar onderwysers die vermoë het om hul onderrig aan te pas om in die individuele behoeftes van elke leerder te voorsien.
Voeg daarby die ontwikkeling van kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede, met onderwysers wat leerders aanmoedig om vrae te vrae, te redeneer en hul eie gevolgtrekkings te maak en die land se onderwys is op die regte koers.
Al hierdie noodsaaklike kopskuwe benodig die gebruik van kreatiewe aktiwiteite, projekte en kontekstuele onderrig wat leerders se belangstelling sal prikkel en hulle leesbegrip sal verbeter.
Kommentaar
Wens ek kon daar wees!!!
Baie dankie aan al die lede wat hierdie gesprek moontlik gemaak het. Dit was 'n reusevoorreg om met mense te kon gesels wie weet dat daar 'n hele paar kopskuiwe nodig is in die onderwyswêreld.
Dit is wonderlik om te sien dat mense platforms skep om, toekomsgerig, die onderwys te dien. As daar al ooit 'n tyd was om hande te vat, dan is dit nou. Sommer trots op jou, George Jonker!