Die MOS-inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole) is ’n privaat maatskappy wat pas deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is en wat uitnemende en onafhanklike Afrikaanse skole wil daarstel en uitbou. Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof, vertel vir Naomi Meyer van wat die MOS-inisiatief beoog.
Roedolf, jy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en nou die uitvoerende hoof van ’n nuwe netwerk Afrikaanse private skole, byeengebring onder die titel MOS (Moedertaal in Onafhanklike Skole). Baie geluk hiermee! Wat is die MOS-inisiatief?
Die MOS-inisiatief gaan van voor af ’n netwerk van volhoubare, enkelmedium, onafhanklike Afrikaanse skole skep wat regoor Suid-Afrika bedryf sal word – oop vir almal, gemeenskapsgerig, bekostigbaar en met hoë standaarde en innoverende leer. Hierdeur wil ons verseker dat Afrikaans as onderrigtaal, vanaf graad R tot 12, nie verlore gaan nie, en dat kinders die geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik.
Die naam MOS dui vir my daarop dat taal hier baie belangrik is. Watter tale is ter sprake?
Afrikaans is spesifiek die fokus.
Waarom is moedertaalonderrig volgens jou so belangrik?
Moedertaalonderrig is die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee, maar met Afrikaans in skole wat onder druk is, is so ’n inisiatief nodig.
Gaan die MOS-inisiatief dus privaatskole bou?
Ja, en wel privaatskole in Afrikaans.
Ek sien ’n sleutelkomponent van julle werk is steun aan enkelmedium, Afrikaanse, openbare skole. Kan staatskole ook van die MOS-inisiatief kennis neem?
Die ondersteuning van openbare skole is die verantwoordelikheid van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), ’n sustersmaatskappy van die MOS-initiatief. Die AON was ook deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig.
Afrikaans dra swaar aan politieke bagasie en daar sal sekerlik geluide opklink dat ’n organisasie wat hom blatant toespits op onder andere Afrikaanse moedertaalonderrig, ’n politieke agenda het. Wat is jou gedagtes hieroor, en oor die algemene opvatting dat die meerderheid Afrikaanssprekers wit is?
Ons agenda is om Afrikaans as onderigtaal uit te bou ten bate van alle Afrikaanssprekendes.
Wat is julle visie vir moedertaalonderrig vir al die tale in hierdie land, en is dit prakties - ook as mens dink aan jargon en vaktaal vir al die verskillende tale van die land?
Dit sal wonderlik wees as alle tale gelyke geleenthede gegun word om vir hulle moedertaalsprekers onderrig in elke moedertaal te verskaf.
Ek sien dat die MOS-inisiatief ’n visie het om by kleuterskole te begin, dan laerskool-, hoërskool-, tersiëre en nog verdere opvoedkundige befondsing te bewerkstellig. Verduidelik asseblief op praktiese vlak hoe dit sal werk, hoe en op watter maniere julle betrokke sal wees by moedertaal in opvoedingsinstansies.
Prakties is dit ’n baie moeilike taak om byvoorbeeld in ’n hoërskool te begin. ’n Mens begin as ’t ware van niks af nie en dadelik moet al vyf jaargroepe van jaar een af gevestig word. In die eerste jaar van so skool se bestaan, is dit waarskynlik wys om slegs ’n graad 8-groep in te neem en die eerste jaar te gebruik om graad 9 voor te berei, voor die huidige jaargroep die volgende jaar in graad 9 moet wees. Die proses word dan so voortgesit, ensovoorts! Totdat die skool van graad 8 tot graad 12 vol is. Net so sal ons stelselmatig ’n skoolpyplyn wil bou van kleuterskole af tot by graad twaalf.
Kan lede van die publiek julle nader vir befondsing van Afrikaanse projekte, of identifiseer julle self omgewings waar daar behoefte is hieraan?
Op die oomblik identifiseer ons self teikenskole.
Ek sien dat daar tot dusver ongeveer 100 openbare skole by die MOS-inisiatief aangesluit het.
Die honderd skole waarna verwys word is opgeteken by die AON, wat die sustersmaatskappy is en nie deel vorm van die MOS-inisiatief nie. Die ondersteuning van openbare skole is die verantwoordelikheid van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), ’n sustersmaatskappy van die MOS-initiatief. Die AON was ook deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig, soos vroeër genoem.
Moet skole wat belangstel om aan te sluit ’n spesifieke webtuiste besoek? Verskaf asseblief die nodige kontakbesonderhede.
Daan Potgieter is die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die AON en sy e-pos-adres is daanpotgieter.aon@gmail.com
Persverklaring ontvang vanaf Trust vir Afrikaanse onderwys: Gehalte-onderrig, bekostigbaar en volhoubaar... dit alles in Afrikaans!
Die MOS-inisiatief (Moedertaal in Onafhanklike Skole) is ’n privaat maatskappy wat pas deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is en wat uitnemende en onafhanklike Afrikaanse skole wil daarstel en uitbou. Die naam MOS het, benewens die afkorting, ook konnotasies met die plant “mos” wat orals groei en met min vogtigheid kan gedy. Dit het ook ’n konnotasie met die unieke Afrikaase woordjie “mos”, soos in “Dis mos nou Afrikaans”.
Moedertaalonderrig is die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee, maar met Afrikaans in skole wat onder druk is, besef Afrikaanssprekendes toenemend dat hulle self die leisels sal moet neem. Rolspelers in die Afrikaanse gemeenskap het daarom bymekaargekom en ’n drieledige strategie beraam om sodoende ’n volhoubare Afrikaanse onderwyspyplyn wat vanaf kleuterskool tot tersiêr strek, daar te stel. Die eerste hiervan is die stigting een jaar gelede van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON). Die tweede is voortgaande gesprekke met regeringsleiers oor die plek van Afrikaans in openbare skole. En die derde is die MOS-inisiatief, wat ten doel het om, benewens Afrikaanse onderrig in openbare skole, te verseker dat Afrikaanssprekende kinders uit alle gemeenskappe in die toekoms altyd die voorreg van moedertaalonderrig sal geniet.
Die MOS-inisiatief gaan van voor af ’n netwerk van volhoubare, enkelmedium, onafhanklike Afrikaanse skole skep wat regoor Suid-Afrika bedryf sal word – oop vir almal, gemeenskapsgerig, bekostigbaar en met hoë standaarde en innoverende leer. Hierdeur wil hulle verseker dat Afrikaans as onderrigtaal, vanaf graad R tot 12, nie verlore gaan nie, en dat kinders die geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik.
MOS-inisiatief: ’n Proaktiewe alternatief
“Dit lyk onwaarskynlik dat die huidige regering die politieke wil het om elkeen se reg om in openbare onderwysinstellings onderrig te ontvang in die taal van sy/haar keuse te beskerm. Ten spyte hiervan bied Afrikaanse openbare skole steeds onderwys van uitstaande gehalte met van die beste suksessyfers in die land, maar die risikofaktor word al groter. Skole word dikwels gedwing om om te skakel na dubbelmedium wat die gehalteonderrig in Afrikaans negatief beȉnvloed.” – aldus Roedolf van der Westhuizen, MOS se nuwe uitvoerende hoof.
Volgens van der Westhuizen is daar verskeie faktore wat tans die langtermyn- volhoubaarheid van hierdie skole onder druk plaas en die MOS-inisiatief wil pro-aktief ’n alternatief daarstel wat nie in kompetisie is met openbare skole nie, maar parallel daarmee ontwikkel, ondersteun en uitbou. Dit sluit in die besit en bedryf van onafhanklike, enkelmedium Afrikaanse skole, in die preprimêre, primêre, en sekondêre fases, om so die vloei binne die breë pyplyn te handhaaf. MOS wil verseker dat “elke Afrikaanse kind bekostigbare toegang tot ’n goeie Afrikaanse skool het”.
Die MOS-strategie
Die koop en bedryf van bestaande skole en kleiner, enkelmedium Afrikaanse skole wat veg om oorlewing maar gehalteonderrig bied; en daarna die bou van nuwe skole.
- MOS ding nie mee met bestaande Afrikaanse openbare skole nie, maar fokus eerder waar daar nie meer voldoende Afrikaanse skole is nie.
- Die gebruik van saadkapitaal (voorsien deur die TAO) om ander beleggings te lok met die belofte van goeie opbrengs op kapitaal asook ’n Afrikaanse onderwysdiwidend.
Die struktuur
MOS sal bestaan uit:
- ’n houermaatskappy met drie filiale:
- ’n eiendoms-/beleggingsmaatskappy (kommersieel);
- ’n bedryfsmaatskappy wat die bestuur van skole sal hanteer; en
- ’n dienstemaatskappy wat sekuriteit en ander dienste aan skole sal voorsien.
Direksie en uitvoerende hoof
Die direksie bestaan uit Theuns Eloff (voorsitter), Eric Wasserman (finansiële kundige, voorheen van Absa), Quinton Adams (bekende Wes-Kaapse sielkundige en entrepreneur) en Debra Meyer (dekaan by UJ en trustee van die TAO).
Die MOS-inisiatief se uitvoerende hoof is die entrepreneur, Roedolf van der Westhuizen. Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester, met ’n passie vir Afrikaanse onderwys.
“Die bou en daarstel van ’n Afrikaanse onderwyspyplyn wat oor 17 jaar moet strek, gaan nie oornag gebeur nie, maar ons sien uit na die uitdaging. Die behoefte is groot en dit is elke Suid-Afrikaner se reg om in sy/haar moedertaal onderrig te word.” – Theuns Eloff
Kommentaar
Hierdie is 'n baie nodige inisiatief omdat niemand sal omsien na die behoud en ontwikkeling van Afrikaans nie, behalwe die sprekers self. As opvoedkundige myself, wil ek ook die hoop uitspreek dat die aard van die beplande skole wyd genoeg sal wees om die ouers van die leerlinge te motiveer om op 'n nouer manier betrokke te wees by die onderrig. Om net een saak te noem wat aandag nodig het: Die herinstelling van die gesinsgesprek om die etenstafel waar nie net die taal nie, maar ook die verhoudings en die integrasie van die leerinhoud by die gesinskultuur gevestig en bevorder sal word. Naas moedertaalonderrig behoort die versterking van gesinne deur middel van gesprek in Afrikaans die hoogste voorkeur te geniet.
Hulle wat voorloop met hierdie inisiatief, moet asseblief in ag neem dat elke kind in die eerste plek lid is van 'n gesin en graag wil presteer om vir Pa en Ma gelukkig te maak. My private ondersoek het aan my getoon dat by verre die meeste matrieks wat elke Januarie in die nuus is omdat hulle sewe of meer onderskeidings gekry het, self verklaar dat hulle inspirasie gekom het van hulle ouers of selfs 'n broer of suster. Goeie gesinsverhoudings is die waarborg vir 'n suksesvolle en uitnemende skoolloopbaan.
In vandag se Die Burger (25/07/2019) is ook 'n artikel deur dr Theuns Eloff oor die MOS-inisiatief. Uitstekende nuus en hóóg tyd. Elke Afrikaanse ouer behoort dit, nie net te verwelkom nie, maar ook te ondersteun. Ek self sal navraag doen oor hoe ek daarby betrokke kan raak.
Geen sinvolle onderwys in Afrikaans in Suid-Afrika het 'n toekoms solank dit van die staat afhanklik is nie.
Ek saluut julle vir jul poging om Afrikaans lewendig te hou in ons skole. Ek het einde Mei 2018 uit diens getree na 13 jaar as Afrikaanse vakadvisuer. Die meeste skole bied Afrikaans as eerste addisionele taal a.g.v. die druk van buite. Ek wens julle alle sterkte toe.
Goeie naand. Ek is 'n LSE (Leaning Support Educator) en het tans 'n affiliasie van ECD Edu-build. Ek hou daarvan dat julle Afrikaans lewendig wil hou in ons skole en sal graag betrokke wil raak.
Ek is 'n pensioenaris wat graag my kleinkind wil help. Ek wil net weet wat kos dit.