Terwyl die minister van basiese onderwys en die president Wêreldonderwysersdag die afgelope Saterdag gevier het met die nasionale onderwystoekennings, is daar vir duisende onderwysers min om oor opgewonde te raak. Die voorgenome besnoeiing van onderwysposte hang soos ’n swaard oor die koppe van onderwysers en talle is erg getraumatiseer en hul moraal is laag.
Die regering se voorneme om duisende onderwysposte te snoei lei tot grootskaalse ongelukkigheid in onderwyskringe. In die laaste paar weke het verskeie provinsiale departemente aangedui dat hulle geldprobleme ondervind as gevolg van kwaai begrotings, die swak ekonomiese omstandighede van die land en finansiële wanbestuur van die vorige regering.
Tydens ’n mediakonferensie op 25 September het die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, gesê dit is ’n nasionale krisis. Volgens haar benodig die departement, afgesien van sy begroting, nog R120 miljard om sy verpligtinge tot 2027 na te kom. Sy sê alle provinsies word geraak en indien die departement van onderwys nie addisionele fondse kry nie, sal provinsies nie hul verpligtinge kan nakom nie. Dit geld nie net onderwysposte nie, maar beïnvloed ook die voorsiening van handboeke, leerlinge se vervoer en die voedingskema.
Na wat berig word, is 2407 poste in die Wes-Kaap en ongeveer 3400 poste in Gauteng in die gedrang. Ander provinsies mag selfs meer poste verloor. Volgens die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, sal die nasionale regering slegs 64% van die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms kan nakom. Dit plaas groot druk op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) om die tekort van 36% te befonds.
Die sekretaris-generaal van die Good-party, Brett Herron, wys egter daarop dat alhoewel op nasionale vlak minder geld beskikbaar was, elke provinsie steeds hul regmatige deel van die begroting ontvang het. In die Wes-Kaap se geval was dié begroting ’n onvoorwaardelike begroting van R62 miljard wat die provinsiale regering kan aanpas volgens hul behoeftes.
Arbeidswetgewing
Volgens die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) het die nasionale departement in Julie verlede jaar begin om met onderwysvakbonde te onderhandel. Hulle is toe ingelig dat die mandjie van poste in 2025 verminder sal word. Dié vakbond beweer dat die onderhandelingsproses strydig was met arbeidswetgewing, wat SADOU genoop het om ’n dispuut aanhangig te maak by die Raad van Arbeidsverhoudinge vir Onderwys (ELRC).
SADOU vat nou die Onderwysdepartement hof toe en dreig met ’n staking. Intussen het Maynier vakbonde gevra om eerder hande te vat met die ministerie in ’n gesamentlike soeke na ’n oplossing. Ek stem saam dat stakings nie die probleem van ’n begrotingstekort sal oplos nie. In ’n TV-program het Paul Sauer, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se hoofuitvoerende beampte, gesê die probleem is nie iets nuuts nie. Hy sê provinsiale departemente weet reeds meer as twee jaar hiervan en moes voorsiening gemaak het.
Oorvol skole
Die hele situasie hou verreikende gevolge in vir openbare onderwys. Dis veral oorvol, arm en sogenaamde “no-fees-skole” wat die meeste benadeel sal word.
Dit is algemene kennis dat Suid-Afrikaanse skole oorvol is. Juis daarom is die impak van die besnoeiing van poste op die werkslading van reeds oorwerkte onderwysers rede tot groot kommer. Ek, en baie kenners stem saam, glo 35 leerlinge behoort die maksimum te wees in die intermediêre en sekondêre fases. In die grondslagfase moet onderwysers individuele aandag gee om kinders te leer lees en skryf. In dié klasse is 25 leerlinge per klas vir my ideaal.
In ’n tyd waar onderwysers onder druk is om die leesvermoë van leerlinge te verbeter is dit ondenkbaar om so baie onderwysers uit diens te stel. Dit sal die oorvol klasse in arm skole verder vergroot en enige kans om ons geletterdheidsyfer te verbeter, of selfs net effektiewe onderwys aan leerlinge te bied, ondermyn.
Skoolhoofde vrees dat die reeds verswakkende dissipline verder agteruit sal gaan. ’n Mens hoef slegs die voorblaaie van koerante te lees om te besef dat dissipline op skool deur ’n krisis gaan. Met minder onderwysers beskikbaar is daar minder toesig. Dan praat ek nie eens van skolesport en kultuur wat ook onderwysers benodig nie.
Een skoolhoof met wie ek gepraat het sê dat hy tans 43 onderwysers op sy personeel het vir die 1200 leerlinge. Die getal poste moet nou verminder na 33, wat beteken dat dié hoof 10 onderwysers uit diens moet stel. Voormalige model-C-skole sal vermoedelik skoolfooie verhoog en hul ouers (wat reeds swaar dra om dié skole te laat werk) nog meer belas. Die meeste skole beskik egter nie oor die fondse om dié onderwysers te behou met ’n beheerliggaampos nie.
Lae moraal
Enigeen wat al skoolgehou het, weet dat ’n baie moeilike tyd wag nou op onderwysers, skoolhoofde en beheerliggame. Ek het eerstehandse kennis van die proses (as onderwyser, skoolhoof en kringbestuurder) en kan getuig van die negatiewe impak wat die besnoeiing van poste op die moraal van die onderwysgemeenskap het.
Kringbestuurders wonder hoe hulle die nuus aan die skoolhoof en sy personeel gaan oordra sonder dat verwyte na hulle geslinger word. Skoolhoofde word die teiken van onbillike kritiek deur onderwysers en ouers. Hulle word dikwels uitgekryt as meelopers van die regering. Onderwysers lê snags wakker en wonder: Is jy die een op wie die noodlot gaan val om aangewys te word as die “botallige” onderwyser?
Herontplooiing
Die minister hou vol dat die Onderwysdepartement nie onderwysers gaan aflê nie. Volgens haar beteken dit net dat onderwysers wat tans kontrakposte beklee, nie weer aangestel sal word as hul kontrakte einde Desember verstryk nie. Sommige permanente onderwysers sal herontplooi word en na skole verskuif word waar ’n geskikte vakature bestaan. Ek wonder egter of die minister die kompleksiteit van ’n skool verstaan. As voormalige skoolhoof weet ek dat die meeste kontrakonderwysers vakke onderrig wat onontbeerlik is vir die skool, ongeag of hy / sy ’n kontrakaanstelling is.
In tye soos hierdie is dit kuns- en musiekposte wat eerste onder die valbyl kom. ’n Onderwyseres met wie ek gepraat het dra eerstehandse kennis van wat dit beteken om as die botallige onderwyser aangewys te word. As musiekonderwyser is haar pos oortollig verklaar en moes sy wag om herontplooi te word. Die gewag en onsekerheid het te veel geword vir haar. Uiteindelik is sy na ’n private onderwysinstansie waar sy haar tans uitleef om ’n verskil te maak in die lewens van kinders afkomstig uit ’n arm gemeenskap.
Verlammende effek
Die hele proses het ’n verlammende effek op die onderwys. Dit ondermyn skoolhoofde se selfvertroue om hul personeel te lei en is uiters traumaties vir onderwysers. Hulle begin twyfel in hulself en hul vermoëns wat tot verlaagde moraal en verhoogde afwesigheid lei.
Dit alles werk negatief in op die leerlinge. Die tydsberekening kon nie slegter gewees het nie. Matrieks is pas klaar met hul rekordeksamen en begin binnekort met die voorbereiding vir die eindeksamen. Suid-Afrika kan nouliks ’n ongemotiveerde onderwyserkorps bekostig noudat leerlinge hul onderwysers se onverdeelde aandag die nodigste het.
Dit is raadsaam dat beheerliggame onderwysers bystaan met traumabehandeling en regshulp inroep om hulself en die skoolhoof met regsadvies te bedien. Uit ervaring weet ek dat FEDSAS ’n waardevolle diens verrig. Hulle beskik oor regsadviseurs wat spesiaal opgelei is hiervoor en die lidmaatskapfooi is minder as wat ’n prokureur jou sal kos.
“Education for all”
Te midde van al die negatiwiteit rondom onderwysposte, vind ek dit moeilik om studente te motiveer om onderwys as ’n loopbaan te kies. Talle jong onderwysers soek toenemend hul heil oorsee en die huidige krisis gaan dié exodus van onderwysers versnel.
Onderwysers is die hart van die onderwysstelsel. Dit is hulle wat verantwoordelik is vir ’n volhoubare samelewing. Sonder voldoende, bekwame onderwysers sal Suid-Afrika sukkel om gehalteonderrig te bied vir almal soos die Grondwet beloof.
Daarom is dit ’n ope vraag of dit die regte besluit was om geld te spaar deur onderwysers te besnoei. Gwarube het intussen ’n dringende ontmoeting aangevra met die minister van finansies, Enoch Godongwana, en dit is verblydend dat hy ingewillig het tot gesprek.
Ons is dit aan ons kinders verskuldig om eers alle ander moontlike alternatiewe te ondersoek.
- Michael le Cordeur is visedekaan in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Kommentaar
"Onnies"? Op LitNet? Mens sien sulke taalverskynsels daagliks op Netwerk24 en probeer stilbly.