Die KKNK se kuns, en meer, in my truspieëltjie

  • 0

’n Voorbeeld van die KKNK se reWOLusie

Ons is geweldig bevoorreg om nasionale kunstefeeste te hê. Ek het reeds resensies geskryf van die toneelstukke wat ek by die KKNK gesien het. Hiermee dan ’n kort fotografiese oorsig oor my tyd by hierdie fees.

Ek fokus veral op die kuns wat ek gesien het. Om die kunsuitstallings te besoek by die KKNK, is heeltemal gratis.

Kuns by KKNK 2026

Lize Grobler was vanjaar die kurator van 2026 se visuelekunsteprogram. In hierdie kort beskrywing verduidelik sy haar idee agter vanjaar se kunsprogram – daar is selfs ’n gedig van Tom Dreyer ingesluit.

Hierdie enorme veer op ’n parkeerterrein naby die kunsgalery is deur Grobler self geskep.

Grobler was ook verantwoordelik vir hierdie werk. Dit is gemaak van die skagte van talle volstruisvere, vasgebind deur pypskoonmakers. Sy het die werk opgedra aan Luisa Pappalarado, bekend as die Verevrou. Pappalarado is deur Jan van Tonder in ’n roman verewig.

Ek het nogal gewonder of die afwesigheid van vere in hierdie beeld iets met die verlies van die mens te doene het.

In die grootste kunsgalery, gehuisves in die Prince Vincent-gebou, is talle feeskunstenaars wat tevore by die KKNK uitgestal het, se werk weer te sien in die uitstalling genaamd PLEK.

Ek het die uitstalling die Prince Vincent-gebou ’n paar keer besoek, maar die hoogtepunt was Saterdagoggend.

My maag is die rede.

Ek was bevoorreg om op te daag kort ná die amptelike opening. Die mense was reeds weg, maar oral het nog kos rondgestaan en die vriendelike assistente het ons aangemoedig om daarvan te eet. Jinne. Nie net was die uitstalling gratis nie, maar om sommer middagete ook te ontvang, was vir Sakkie ’n plesier.

By ’n volgende geleentheid was ek daar saam met Adéle Changuion. Henk Serfontein, verlede jaar se feeskunstenaar, was teenwoordig. Hier staan die drie van ons by ’n beeld van Claudette Schreuders, ook ’n vorige feeskunstenaar. Niemand anders nie as Lize Grobler het hierdie kiekie van ons geneem.

In hierdie werk van Léon D Snyman, getiteld LV/xi, is 66 afsonderlike klankstrome na 66 luidsprekers herlei. Die luidsprekers is in ’n kring geplaas. (My foto is ’n panorama.) Elf Suid-Afrikaanse tale is opgeneem in ’n vertaling van ’n Latynse gedig. Binne-in die kring is slegs klankgrepe gespeel. Die besoeker het hier dus ’n ouditiewe ervaring beleef tussen al die visuele kuns.

Nie alle kuns is noodwendig “mooi” nie en sommige werke sou ek huiwer om vir my eie huis aan te skaf. Maar hierdie een deur nomThunzi Mashalaba het my getref. Dit is baie groot. Die titel is In your absence, effort.

Die manier waarop Frans Smit en Lasse Thorst se uitstalling Heinde en ver byeengebring is, het my opgeval.

Die uitstalling Kans Karoo is deur Hannah Paton, in samewerking met ’n gemeenskapsprojek van die Barrydale Hand Weavers, geskep.

Kathy Robins se uitstalling Transitory homes was interessant.

Kobus la Grange se Mite-masjien het beelde en skaduwees gekombineer. Kobus het ons aangemoedig om met die ligte van die projektors te speel. Sodoende is nuwe beelde geskep. Toe ek hom bedank, sê hy: “Dankie dat jy deel geword het van my kuns. Daar loop ’n deeltjie van my kuns nou weg.”

Die kunswerk is deur Tafadzwa Tega.

Hentie van der Merwe het ’n baie interessante uitstalling gehad met die titel After De Jongh. Hy dekonstrueer Tinus de Jong se landskapkuns, want, sê Van der Merwe, landskapkuns is aandadig aan die skep van identiteit. Lees meer hier.

Ek het Akinbode Akinbiyi (Nigerië) en Abrie Fourie (Suid-Afrika) se uitstalling Passage – a song geniet. Die foto’s is kunstig, maar nie “mooi” nie. Lees gerus meer hier.

Die interessantste foto-uitstalling was egter vanjaar se Karookaarte-projek. Hier is historiese foto’s uit Oudtshoorn se geskiedenis opgeneem en slim rangskik. Die foto’s is fyn gekureer sodat opponerende stories uit die verlede naas mekaar geplaas is. In hierdie kiekie, wat ek geneem het, sien die kyker die room van die wit dorp wat Langenhovenstraat se naamgewing vier, teenoor ’n protesoptog van die stemloses.

Oor hierdie uitstalling, genaamd Spoel, is daar ’n toneelstuk opgevoer, wat ek ongelukkig nie kon sien nie.

Tyd is altyd ’n kwessie by so ’n fees. Ten spyte van die tyd wat ek aan die kuns afgestaan het, en die moeite om talle uitstalruimtes te gaan besoek, het ek nie eens alles gesien nie.

Straatkuns en meer

James Malgas is ’n kunstenaar uit die omgewing wat gereeld tydens die KKNK toegelaat word om ’n deel van die hoofstraat vir sy kuns te gebruik.

Hierdie stensilkuns herinner nogal aan die werk van Banksy.

Hierdie draadkunstenaar sê hy is gewoon bekend as Tatenda.

In die CP Nel Museum was daar ook ’n uitstalling deur plaaslike kunstenaars.

Selfs die advertensies was kunstig. Skandeer jy die QR-kode op hierdie plakkaat, bied dit afslag op besoeke aan talle besienswaardighede in en om Oudtshoorn.

Hierdie standbeeld ter ere van polisiehonde staan voor die polisiestasie. Die Verevrou, wat hier bo genoem is, het haarself volgens oorlewering voor die polisiestasie geskiet.

Historiese geboue, koffie en brandstof

Daar is baie te doen in Oudtshoorn. Gedurende die fees, en op ander tye, kan ’n mens bespreek om met ’n gids van die lieflike geboue in Oudtshoorn te besoek. Of jy kan gewoon deur die dorp stap en meer lees oor die geboue, soos hier kan op ’n drom waarin daar blomme geplant is.

Die CP Nel Museum is ’n besoek werd. Tydens die fees het hulle afslag gegee op die reeds goedkoop toegangskaartjie.

Afslag was gaaf, want jinne, dis duur om in die Klein Karoo te kom.

Presies ’n maand voor die aanbreek van die KKNK het Donald Trump besluit om bomme op Iran te gooi, wat ’n enorme styging in brandstofpryse veroorsaak het.

Ek kon voor die fees my bakkie nog volmaak teen net meer as R20 per liter, maar op 1 April is die dieselprys met meer as R7 per liter verhoog, wat gesorg het vir tekorte voor 1 April.

Die Mahindra is baie lig op brandstof – ek het 7,2 liter per 100 km gekry van Gqeberha na Oudtshoorn, dus het ek geweet dat ek op een tenk na Oudtshoorn en terug sou kon ry, indien nodig. Maar ... net om seker te maak het ek, vandat ek in Oudtshoorn opgedaag het, tog gaan soek na ’n lekseltjie diesel. Niks. Oral was die pompe leeg.

Ek het opgegee en het die bakkie ver van die verkeer onder ’n boom gaan parkeer. Toe loop ek in na die middedorp, by ’n vulstasie verby, en hier staan ’n Fortuner wat volgemaak word.

“Het julle dan diesel?” vra ek.

“Vir nou ja, maar nie meer vir lank nie.”

“My kar staan daar ...”

“Gaan haal hom!”

Ek het.

Gelukkig het Oudtshoorn uitstekende koffiewinkels. Die ouens by Beans about Coffee ken my nou al.

Daar is veel meer gratis vertonings as waarvan ek hier melding gemaak het. Enige iemand kan enige tyd in die ATKV-Kuierkol gaan sit. Gratis. Daar tree ’n lang rits kunstenaars op. Hier is Kruger & Tutu besig om die verhoor te vermaak.

RSG saai ook van die KKNK af uit en ’n mens kon rustig na hulle gesprekke sit en luister.

Ander resensies

Klik op die skakels om die resensies te lees van die stukke wat ek gaan kyk het.

Lees ook:

KKNK 2026: Die gebed van ’n halfmens – ’n onderhoud

Persverklaring: Stories onnerie DAK by KKNK 2026

KKNK 2026: Zonkie en die laaste boomhuis – ’n onderhoud

KKNK 2026: Sade in Hollandse kombuise – ’n onderhoud met Christine Hees

KKNK 2026: Elvis Blue oor Die lewe en die langpad – ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top