KKNK 2026: Zonkie en die laaste boomhuis – ’n onderhoud

  • 0

Anel Wood praat met Naomi Meyer oor Zonkie en die laaste boomhuis, wat een van die dae by die KKNK op die planke is.

Anel, jy is die skrywer en regisseur van die ATKV-produksie wat binnekort by die KKNK te sien is: Zonkie en die laaste boomhuis. Waarom is dit die titel?

Ek het gedink aan ’n plek waar die hoofkarakter sou kon vergader met al die diere en insekte wie se stories sy vertel, en toe dink ek ’n boomhuis is perfek, want insekte en diere en plante kan dit “huis” noem. Die verhaal handel ook oor natuurbewaring, en die titel bring tuis dat dinge wat die natuur vir ons moontlik maak en wat die mens koester, soos ’n boomhuis, nie meer sal bestaan as ons nie na die natuur omsien nie. Die woorde “laaste boomhuis” gee ook daardie nostalgiese gevoel van toe ons nog kinders was en kon buite speel. Hoe lyk die wêreld sonder sulke wonders?  

As 'n boom verdwyn, verdwyn so baie dinge. Suurstof in die lug, woonplek vir voëls, speelplek vir kinders. Wat het jou die idee vir die kinderteaterstuk gegee?

Ek voel dat kinderteater altyd opvoedkundig van aard is, en omdat ons graag grootmense ook van voor af wou aanraak en inspireer om soos ’n kind na die wêreld te kyk en om te sien, het dit sin gemaak om hierdie onderwerp van natuurbewaring deur middel van kinderteater aan te pak. Ouers en grootouers bring die kleinspan om die produksie te sien, maar hopelik stap die grootmense ook betowerd en aangeraak uit die teater.

Ons sien elke dag dinge rondom ons wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Bome byvoorbeeld. Die spinnekoppie in die kamer se hoek (soos julle ook in die persverklaring noem). Blare. Plante. Goggas. Diere. Hoe gaan Zonkie almal weer vars na die alledaagse laat kyk?

Baie kinderproduksies fokus sterk op die vermaaklikheidsaspek met helder kleure en spektakel en lawwe karakters en aksies, maar ek wou hê dat gehore werklik meegevoer moet kan word deur hierdie styl van vertelling wat meer emosioneel, magies (betowerend) en inspirerend is. Zonkie se meegevoel met die karakters op die verhoog word ’n weerspieëling van die empatie wat ons in die gehoor wil tuisbring. Met daardie nuwe uitkyk op iets so klein soos ’n greintjie grond, so gevaarlik soos ’n spinnekop, lelik soos ’n hadeda of kosbaar soos ’n voëltjie se vlug kan kinders en grootmense uitstap en die verhale onthou soos wat hulle verder omgaan met die natuur.

Wie is Zonkie? Wie is daar nog in die produksie?

Zonkie is die spreekbuis vir die diere en insekte in die natuur wat skuiling soek in Zonkie se boomhuis. Zonkie word vertolk deur Cindy Swanepoel, wat ses ander karakters se stemme en manipulasie op die verhoog hanteer. Karakters sluit in Ruan die Rot, La-dee-da die Hadeda, Knetter die Eekhoring, Uilbertus die Uil, Luma die stadmeisie en Madam Skadu die Straatkat. Zonkie kan deur ’n vroulike óf manlike akteur vertolk word, omdat Zonkie soos ’n enigma is, nooit self praat nie, maar net die diere, plante en insekte se verhale vertel, boodskappe wat universeel is. Die ATKV wil ook graag kunstenaars bemagtig, so ons het gedink dat ander akteurs ook die vaardighede kan leer en as Zonkie kan optree en werk as ons die karakter neutraal hou. Gehoorlede kan op dié manier ook almal, ongeag ouderdom of geslag, met Zonkie identifiseer en in die regte wêreld ’n spreekbuis of helpende hand vir goggas en diere word. Cindy speel die rol van Zonkie by die KKKNK

Wat gebeur in die storie – sonder om alles van die intrige te verklap, maar net as 'n lusmaker?

Wanneer die eens pragtige Stad van Groen verander in die gryse Stad van Grom, waag ’n jong meisie en haar vriende, Knetter die Eekhoring, Uilbertus die Uil en Madam Skadu die Straatkat, alles om ’n enkele saadjie te laat groei met die hoop om weer plantlewe en suurstof in die stad te herwin. In ’n tweede verhaal vertel La-dee-da die Hadeda van ’n dapper voëltjie se vlug ten spyte van die gevare in die lug. Die verhale prikkel die lagspiere, die verbeelding én die hartsnare en betower met fabelagtige handgemaakte karakters, geskep deur die enigmatiese kunstenaar Imile Wepener.

Hou jy ook van rympies skryf? Miskien kan jy aan die lesers verklap waarom ek jou dit vra – en sommer enkele van die rympies uit die teaterstuk deel?

Ek hou van rympies skryf, omdat dit ’n unieke faktor aan ’n teks of verhaal verleen en mens laat voel asof elke gebeurtenis, woord of gevoel by mekaar uitkom. Dit gee ’n toon en ritme aan ’n verhaal wat emosie sterk kan oordra of ekstra komies kan wees, en lesers en gehore geniet stories in rymvorm geweldig baie wanneer dit werk.

“Vaderland! Vervlaks! Foei man!
Lees, die teken! Spoedvrate is verban!
Ai tog, foeitog, g’n wonder niks groei of lewe hier nie –
nie ’n enkele plantjie of selfs ’n wurm of ‘n mier nie!”

“... maar hier is niks grond, net sement in die stad
en die hoë geboue is in die son se pad!
Niks kan hier groei nie,
Nie eers gras vir ’n koei nie!”

Kinderteater word maklik afgeskeep. Mense onderskat kinders. Waarom is dit belangrik dat kinders van kleins af blootstelling kry aan goeie teaterstukke, waar hulle ingelok word deur die vermaak – maar ook uitgedaag word om te dink, en saam met die karakters op die verhoog te ondersoek en te ontdek en vrae te vra?

Toe ek ‘n kind was, het teater my wêreld vir altyd verander. Ek het bewus geword dat daar krag in storievertelling is, dat dit mens se hart kan roer, kan vermaak en mens kan inspireer en leer. Kinderteater en storievertelling is nie net belangrik vir jong kinders nie, maar vir elke liewe mens – dit is waar ons ’n spieël vir onsself en vir die wêreld kan ophou, en kan leer of ontvlug of nuut word. Selfs mense in die korporatiewe wêreld kan uitstap met nuwe idees vir bemarking, of alledaagse mense kan uitstap met ’n nuwe uitkyk om beter met hul medemens of met die natuur om te gaan. Die krag van teater is eindeloos en vir almal van waarde.

........
Kinderteater en storievertelling is nie net belangrik vir jong kinders nie, maar vir elke liewe mens – dit is waar ons ’n spieël vir onsself en vir die wêreld kan ophou, en kan leer of ontvlug of nuut word. Selfs mense in die korporatiewe wêreld kan uitstap met nuwe idees vir bemarking, of alledaagse mense kan uitstap met ’n nuwe uitkyk om beter met hul medemens of met die natuur om te gaan. Die krag van teater is eindeloos en vir almal van waarde.
........

Wat was vir jou die lekkerste deel van die skryf van die stuk?

Dis so lekker om elke karaktertjie se persoonlikheid te ontdek met die skryfproses. Omdat die styl van die produksie ook magies van aard is, kon ek my verbeelding regtig inspan, wat ’n wonderlike ontvlugting is.

Wat is vir jou die lekkerste deel daarvan om die regisseur te wees en die teks te sien lewend word?

Dit was ’n groot uitdaging om die teks en visie te laat werk met dit wat die rekwisiete en stel toelaat. Ek moes heelwat herskryf om by die stel aan te pas, maar dit het baie gehelp om die stelontwerper, Imile, ook as verhoogbestuurder saam met ons in die repetisiekamer te hê, want hy kon ook aanpassings maak soos ons gevorder het. Wanneer die moeilike, tegniese uitdagings eers uit die pad is, is dit die heel lekkerste om te hoor hoe karakters se persoonlikhede lewe kry in die verskillende en kostelike stemme waarmee Cindy vorendag kom, asook om oomblikke te ervaar wat mens se hart aanraak.

Ek sien die boom by die KKNK opkom, en dan groei en rank dit regoor die land. Deel asseblief met ons lesers praktiese kwessies: Wanneer is dit by die KKNK?

Zonkie en die laaste boomhuis bestaan uit drie verhale wat almal saam ‘n 45-minute-produksie opmaak en byna enige plek kan speel. Elke verhaal kan ook op sy eie vertoon vir korter optredes, so die produksie is aanpasbaar en geskik vir ‘n menigte verskillende geleenthede of funksies. Bespreek gerus by yesanelwood@gmail.com.  

Hier is nog inligting oor die produksie.

Lees ook:

Woordenaar by die KKNK: Churchil veg vir Afrikaans

KKNK 2026: Eugène Marais se siel in musiekteaterproduksie ontbloot

KKNK 2026: Elvis Blue oor Die lewe en die langpad – ’n onderhoud

Press release: Lemoene, lemoene, lemoene debuts at Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) with upcoming run at Suidoosterfees

KKNK 2026: Sade in Hollandse kombuise – ’n onderhoud met Christine Hees

Persverklaring: KKNK se 30ste viering skop dié naweek af

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top