KKNK 2026: Eugène Marais se siel in musiekteaterproduksie ontbloot

  • 0

Daniel Anderson (foto: Pierre Rommelaere)

  • Woorde: Maryke Roberts en Daniel Anderson
  • Foto’s: Pierre Rommelaere

Een van die musiekteaterproduksies deur Wêla Kapela Productions by vanjaar se 30ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is Die siel van Eugène Marais, met Daniel Anderson en Paul Ferreira op klavier, wat ook die musiekregie waarneem.

........
Een van die musiekteaterproduksies deur Wêla Kapela Productions by vanjaar se 30ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is Die siel van Eugène Marais, met Daniel Anderson en Paul Ferreira op klavier, wat ook die musiekregie waarneem.
........

Die teks en regie is deur Amanda Bothma en stelontwerp deur Wilhelm Disbergen.

Dis die produksiehuis se derde musiekteaterproduksie met Anderson in die rol van sanger en verteller. Die ander twee was die bekroonde Vincent: his quest to love and be loved en The tramp. Lees gerus meer oor my gedagtes hieroor: https://www.litnet.co.za/borrel-borrel-vele-stof-tot-nadenke-by-woordfees-toyota-us-woordfees-2023/ en https://www.litnet.co.za/daniel-skitter-as-charles-chaplin-en-the-tramp/.

Anderson is ook bekend vir Mad about the boys, ’n kabaret wat hom gehelp het om sy vermoëns as solokunstenaar te vestig.

Oor die nuutste aanbieding in die rol van Marais, die volgende: “Die stuk bied ’n dramatiese reis deur die innerlike wêreld van een van Suid-Afrika se mees komplekse en tragiese literêre figure. Hierdie kabaret speel af teen die agtergrond van ’n onstuimige tydperk in die Afrikaner- en Suid-Afrikaanse geskiedenis.

“Marais, ’n onwaarskynlike Afrikanerheld, pas nie netjies in die boksie van die tradisionele ikoon nie – en juis dáár lê sy betekenis. Die stuk volg sy metamorfose van ’n sjarmante jong joernalis en charismatiese student in Londen tot die gebroke, verslete man in sy latere jare,” luidens die feesprogram.

Eugène Nielen Marais (9 Januarie 1871 – 29 Maart 1936) was ’n Afrikaanse en Engelse skrywer en het die klassieke Afrikaanse gedig “Winternag”, wat allerweë as dié eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig beskou word, geskryf.

Anderson speel die rol van Marais en word op die klavier deur Ferreira begelei. Hulle het staande ovasies in hul vorige stuk ontvang, The tramp, wat die lewe van Charlie Chaplin as fokus gehad het.

Anderson het sy literêre en musiektalent al van ’n jong ouderdom ontwikkel. Hy het in Oos-Londen grootgeword en bring graag hulde aan sy stemafrigter, Leoni Armour, en sy drama-onnie, Marc Williams, wat hy steeds sy mentor noem. Saam het hulle al onvergeetlike musiekteater geskep. Vincent het drie Naledi-toekennings en die Standard Bank Ovation Award Bronze by die Nasionale Kunstefees ontvang.

Sy eerste rol as ’n kind was in Elvis-impersonasies en later het hy uitgebrei na ’n wye spektrum van teater- en musiekproduksies.

Hy het ’n ATCL-diploma in musiekteater van Trinity College London met lof verwerf en is later in ’n BA in film- en televisieproduksie aan CityVarsity (met ’n fokus op produksie) opgelei. Hy het ook cum laude-honneurs vir drama en koor ontvang gedurende sy opleiding.

Paul Ferreira en Daniel Anderson (foto: Pierre Rommelaere)

Vrae vir Daniel:

MR: Hierdie produksie vorm deel van die 30ste viering van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Wat beteken dit vir jou om ’n werk oor so ’n invloedryke figuur by só ’n mylpaalfees aan te bied?

DA: Wat ’n ongelooflike eer om hierdie ikoniese Afrikaanse literêre figuur by hierdie glansryke verjaardaguitgawe van die KKNK te vier. Natuurlik is dit ’n massiewe viering van die Afrikaanse taal op sigself – om dit saam met ’n ikoon soos Marais te doen is uiters spesiaal. Maar dit is soveel meer as dit vir my; dit is ’n viering van kultuur en vermaak in Suid-Afrika in die algemeen.

........
Wat ’n ongelooflike eer om hierdie ikoniese Afrikaanse literêre figuur by hierdie glansryke verjaardaguitgawe van die KKNK te vier. Natuurlik is dit ’n massiewe viering van die Afrikaanse taal op sigself – om dit saam met ’n ikoon soos Marais te doen is uiters spesiaal. Maar dit is soveel meer as dit vir my; dit is ’n viering van kultuur en vermaak in Suid-Afrika in die algemeen.
.........

Die stuk, dink ek, weerspieël ons nasie se merkwaardige vermoë om gevoelens oor die dinge wat ons lewendig laat voel, in transendentale woorde om te sit en dan toe te laat dat daardie woorde die harte van ander raak. Dit is immers wat Marais so goed gedoen het. Om die geleentheid te hê om hierdie woorde op ’n platform soos die 30ste KKNK te sing en te praat, wel, wat ’n groot voorreg!

MR: Die siel van Eugène Marais neem gehore op ’n “dramatiese reis deur die innerlike wêreld” van Marais. Hoe het jy jou voorberei om só ’n komplekse en tragiese figuur geloofwaardig te vertolk?

DA: Ter voorbereiding het ek in die literatuur self geklim – dit wat Marais só beroemd gemaak het. Daar is iets so verfynd, maar tog so gebroke en melancholies omtrent sy werk. Ons is gelukkig om die gedigte en sy ander literêre werke as ’n portaal na die gedagtes van Marais te hê. Ek het ook gevind dat die delf in sy diep verbintenis met die natuur ’n dieper begrip van die man moontlik gemaak het: Hy het gevoel dat hy meer deur die natuurlike wêreld verstaan is as deur sy medemens.

MR: Marais was ’n onwaarskynlike Afrikanerheld wat nie in ’n tradisionele boksie pas nie. Wat het jou die meeste verras of geraak tydens jou navorsing oor hom?

DA: Dat hy as een van Afrikaanse letterkunde se kosbaarste juwele gevier word, terwyl hy eintlik ’n Engelse seun van die Kaap was – ’n afstammeling van die Franse Hugenote. Dit mag dalk onbenullig voorkom, maar dit beteken dat hy ’n bewuste keuse gemaak het om in Afrikaans te skryf en die jong taal te bevorder. Dit spreek tot die outonomie van Marais se karakter en van sy verstommende individualisme in alles wat hy aangepak het. Ek dink ook sy vermoë om ’n siel in elke lewende wese te vind is uiters spesiaal. Wanneer ons die wêreld deur só ’n lens begin sien, word ’n hele alternatiewe wêreld vir ons oopgemaak.

MR: Die produksie volg Marais se metamorfose van ’n jong, charismatiese joernalis tot ’n gebroke man. Hoe benader jy hierdie emosionele boog as sanger én verteller op die verhoog?

DA: Ek was uiters gelukkig om met ’n aantal karakters te doen te kry wat verander van hoopvolle, voornemende jong mans oor wie die lewe op een of ander manier die oorhand kry. En tog skyn hul briljantheid steeds deur. En ek dink dis net hoe ek dit probeer benader – deur vas te klou aan hul onmiskenbare genialiteit en te wys hoe hul persoonlike lewensreis in ’n mate in direkte teenoorgesteldheid daarmee ontvou het. Van Gogh en Marais is veral soortgelyk in daardie opsig. Dit is ook belangrik om daarop te let dat hoewel ons kan simpatiseer met die tragiese gebeure in Marais se lewe (spesifiek met betrekking tot sy verslawing aan morfien), hy nooit ’n slagoffer van sy eie storie was nie. Ons wil hierdie mense vier vir hul ongelooflike bydraes tot die wêreld, maar ook vir mense wys dat hulle menslik was – net soos ek en jy.

MR: Jy werk weer saam met Amanda Bothma as teksskrywer en regisseur. Hoe het julle kreatiewe verhouding oor die jare ontwikkel – en wat maak hierdie samewerking besonders?

DA: Wat ’n voorreg om saam met hierdie ongelooflike vrou te werk, daaruit te groei en net die lewe saam met haar te beleef. Amanda en ek het mekaar 16 jaar gelede ontmoet – toe ek 10 jaar oud was. Ek het John gespeel in haar musiekproduksie van Peter Pan. Wat gevolg het, was jare waarin Amanda my wonderlike geleenthede gegee het om te speel, en so kon ek as ’n kunstenaar groei. Nou werk ons nou saam om nuwe vertonings te skep en ook ons baie besige, klein produksiemaatskappy, Wêla Kapela, te bestuur. Amanda het soveel dinge vir my geword: ’n mentor, ’n medewerker, ’n vriendin en ’n moeder. Ek dink dis wat ons werk so spesiaal maak. Ons gee diep om vir mekaar en daarom is wat jy op die verhoog sien, die resultaat van ’n samewerking waar beide partye werklik die beste vir die ander wil hê.

MR: Jou vorige musiekteaterproduksies, soos Vincent: his quest to love and be loved en The tramp, het ikoniese, komplekse mansfigure ondersoek. Is daar ’n tema of aantrekkingskrag tot sulke karakters in jou keuses?

DA: Ek dink daar is net iets so teatraals aan hierdie karakters: Die uiterstes van hoogte en laagte in hul lewens sorg vir boeiende storievertelling. Maar ook, hulle is meer soos jy en ek as wat ons sou dink: gebrekkige, brose mense wat die wêreld ervaar op dieselfde manier as ons. Dit maak hulle herkenbaar en katarties om op ’n verhoog te sien.

MR: Jy het staande ovasies ontvang vir Vincent en The tramp. Skep dit ekstra druk wanneer jy ’n nuwe historiese figuur soos Marais aanpak?

O ja!! As span stel ons ’n baie hoë standaard vir onsself; ons ontwikkel en jaag daardie standaard voortdurend na. Mense voel geraak deur die stories van Vincent en Charlie Chaplin en natuurlik wil ons soortgelyke reaksies sien op enige nuwe storie wat ons vertel.

MR: Met Paul Ferreira as musikale regisseur en pianis op die verhoog, hoe beïnvloed die lewendige begeleiding jou spel en interpretasie?

DA: Jy kry lewendige begeleiding op die verhoog en dan kry jy Paul se lewendige begeleiding. Dis net ’n hoër vlak van briljantheid. Paul is die mees betroubare persoon wat ek nog ooit ontmoet het – op die verhoog en van die verhoog af. Paul is altyd daar, standvastig en o so sensitief vir die storievertelling.

MR: Jy het reeds op tienjarige ouderdom begin optree en selfs Elvis-impersonasies gedoen. Hoe het daardie vroeë verhoogervaring jou gevorm as kunstenaar vandag?

DA: Ek was bevoorreg om van jongs af soveel tyd op die verhoog deur te bring. Ek het nog altyd gedink dat selfvertroue die eerste stap in enige regte rigting is en om van jongs af op ’n verhoog te wees, voor ek selfbewus was, het my geleer dat die verhoog ’n veilige ruimte kan wees. Dit is steeds. Ek dink ook dat die hele Elvis-ding werklik instrumenteel was. Om ’n charismatiese, energieke kunstenaar met so ’n volronde stem na te boots het beslis blywende indrukke gelaat.

MR: Jy bring graag hulde aan jou mentors, soos Leoni Armour en Marc Williams. Watter lesse van hulle dra jy steeds saam wanneer jy ’n rol soos Marais aanpak?

DA: Hierdie mense was bewakers van my instrumente (stem vir sang en liggaam vir toneelspel). Ek is gelukkig dat hulle steeds in my hoek is. Hul benadering tot hierdie werk was nog altyd uiters professioneel. Hulle het my ook geleer om altyd die werk bo die self te stel en om voortdurend te wil leer en groei. Leoni se streng roetines rondom stemgesondheid verseker dat ek aand na aand konsekwente stemopvoerings kan lewer, en Marc se liefde vir meesleurende storievertelling dra my deur die moeilike tye.

MR: Marais het die ikoniese gedig “Winternag” geskryf. Hoe werk julle met sy poësie en taal in die produksie om dit vars en toeganklik vir ’n moderne gehoor te maak?

DA: Die poësie van Marais is só ikonies en só geliefd dat ons dit baie delikaat in die ontwikkeling van die produksie moes hanteer. Dis belangrik om die materiaal toeganklik te maak vir ’n moderne gehoor, maar ook om die tradisionele essensie te eerbiedig wat dit in die eerste plek so gewild gemaak het. Ons het die poësie hanteer deur middel van toonsettings wat deur verskeie (uitstekende) Suid-Afrikaanse komponiste gedoen is. Verder het ons die toonsettings geneem en die musiek herrangskik in terme van styl en gevoel, sodat dit perfek land in wat dit in die storie moet sê. Hier kan dit ’n dubbele doel dien: Dit ontbloot Marais se ongelooflike tekste, maar herkontekstualiseer dit ook in sy eie storie en help om die storie te laat vloei. Dit laat gehore toe om die poësie met – miskien – effens ander betekenis te hoor en daarom is dit die poësie self wat hulle in Marais se storie intrek.

  • Die siel van Eugène Marais speel op 28 Maart om 19:30, 29 Maart om 16:30 en 30 Maart om 12:30 in die Laerskool Wesbank-teater (Vredestraat) in Afrikaans en Engels en duur 65 minute.

Kaartjies kos R150 (vooraf), R135 (Vriende van die KKNK) en R165 (by die deur). Koop jou kaartjies hier.

Lees ook:

Woordenaar by die KKNK: Churchil veg vir Afrikaans

Borrel, borrel, vele stof tot nadenke by Woordfees | Toyota US Woordfees 2023

Daniel skitter as Charles Chaplin én The Tramp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top