
Churchil Naudé (Foto verskaf)
Churchil veg vir Afrikaans op die strande, in die teatersale en boekbladsye.
Een van die debuutproduksies by die 30ste KKNK op Oudtshoorn vanjaar is Woordenaar, met Churchil Naudé, Jackie Lätti, Riku Lätti en Jannie van Tonder. Naudé behartig die teks en musiek en dis deur Kroeskop Produksies vervaardig.
Die feesprogram sing liries oor die produksie:
Woordenaar is ’n klank- en woordryke reis deur die lewe en grootwordjare van ’n seun wat van wit en swart afkomstig is. Sy begin in die velde en vlaktes van die Oos-Kaap en sy verwarrende en vreemde ervarings op die Kaapse Vlakte. Hy word letterlik gered deur die letter. Die woord in sy mooiste vorm. Hoe meer gedigte hy lees, hoe meer weet hy wie hy is. Die reis word begelei deur ’n orkes, deur sang en narratief en dra mens op vlerke tot reg aan die einde wanneer die verwarde seuntjie ’n man met ’n stem word.
Naudé is ’n Suid-Afrikaanse kletsrymer en digter van Mitchells Plain wat skerp sosiale kommentaar lewer in Kaapse Afrikaans. Hy het twee albums, Kroeskop vol geraas (2015) en Kroesifaaid (2018), en een digbundel, Drol innie drinkwater (2020), op sy kerfstok. Riku Lätti was die vervaardiger van Kroeskop vol geraas.
Theunis Engelbrecht skryf in Desember 2020 op Versindaba:
Churchil Naudé se woorde sny soos ’n lem deur die mees geharde harte. Hierdie unieke kunstenaar is nie net ’n rymkletser wat sy eie ego streel met ongekunstelde woorde nie, nee, hy is ’n digter in eie reg. Sy vlymskerp sosiale kommentaar draai nie doekies om nie. Hy spreek die waarheid soos hy dit sien. Sonder verskoning, sonder aansien des persoons. Sy kommentaar is onpartydig, maak nie saak of dit wit, swart of bruin mense aanspreek nie. Almal word oor dieselfde kam geskeer en soos hyself tereg sê, hy is gemeng en sy voorouers is beide die stigters van apartheid, sowel as die slagoffers van apartheid. Hy sien homself eerder as ’n mens met ’n opinie as ’n mens met ’n sekere velkleur wat ’n opinie het.
Koos Kombuis skryf oor Churchil:
My gunsteling-rap-ster is ’n nuwe kalant van Mitchells Plain met die naam Churchil Naudé (met een “l” om hom van Winston Churchill te onderskei). Hierdie ou kan nog groot gaan in ons taal se musiek; groter as Jack Parow, so groot soos Tafelberg.
Oor Drol innie drinkwater skryf LitNet op 10 Februarie 2021:
Met sy briljante albums Kroeskop vol geraas en Kroesifaaid het Churchil Naudé hom in die voorste linie van Suid‑Afrikaanse rap gevestig en nuwe, opwindende dimensies van Afrikaans ontgin. Partykeer is sy woorde soos die kartetse van masjiengewere, ander kere is dit weer balsem vir die siel teen ’n wêreld wat van sy trollie af geraak het. Hy vlek nie net ongeregtighede, blinde vooroordele, maatskaplike probleme en die stommiteite van die mensdom vlymskerp oop nie, maar dring ook deur tot diep in die hart van gewone mense se swaarkry en drome. Die stories bly by ’n mens spook lank nadat jy dit gelees en gehoor het.
Net soos Winston Churchill, laat Naudé ook die “ons sal nooit oorgee nie”-frase deur jou kop gaan. Hy sal nie ophou om te veg vir Afrikaans in al haar dialekte en as verbindingsmiddel tussen alle mense nie.
Naudé het in 2025 die Neville Alexander-prestige-eerbewys ontvang. Die raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) deel sedert 2015 hierdie eerbewyse uit om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936–2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.
By die oorhandiging is genoem dat Naudé die prys ontvang “vir iemand wat Afrikaans as ’n medium gebruik om maatskaplike samehorigheid en nasiebou te bevorder”. Hy is deur Susan Smuts, ’n beroepskunstenaar van Tulbagh, asook die vermaarde musikant, skrywer en resensent, Theunis Engelbrecht, benoem.
Ek vermoed ons almal hier weet hoe apartheid ook die Afrikaanse gemeenskap op grond van velkleur uitmekaargeskeur het. Al was daar sedert die Sestigers-beweging daadwerklike pogings om hierdie onnatuurlike skeiding te beveg en te oorbrug, is dit helaas vandag steeds ’n stryd wat gestry moet word. As mens na die kunstefeeste en sepies op TV kyk, na die skole, na sosiale geleenthede, ensovoorts, is daar beslis heelwat vordering gemaak met die heling, maar die pyn is nog nie iets van die verlede nie. En dis hier waar ons meen Churchil Naudé speel ’n ongelooflike rol. As rapper en digter draai hy nie doekies om oor hierdie wonde nie, oor rassisme, sosio-ekonomiese kwessies, negatiewe stereotipes [...] En oor destruktiewe houdings binne die groter Afrikaanse gemeenskap. Sy woorde sny. En genees.
Demografies gesproke verteenwoordig sy aanhangers ’n diverse Afrikaanse gehoor, en saam met Riku Lätti, doen Churchil onmeetbaar baie om Afrikaanse musiek as stem van protes en as stem van empatie te gebruik om te wys wat ons almal ook in gemeen het.
MR: Definieer ’n woordenaar – en hoekom is dit die regte naam vir hierdie vertoning?
CN: Ek het die naam Die woordenaar gekies, omdat dit vir my oor vakmanskap gaan. Die term kletsrym voel soms vir my ’n bietjie te lig , asof dit net kinderspeletjies met woorde is. ’n Woordenaar is soos ’n messelaar of ’n skrynwerker, iemand wat ’n ambag beoefen. Ek klets nie net nie; ek bou, ek skaaf en ek vorm woorde tot iets wat substansie het.
MR: Jy is al lank bekend as ’n baanbreker in Afrikaanse hip-hop. Hoe verskil Die woordenaar van jou vorige werk – tematies én musikaal?
CN: Ek sien Die woordenaar as ’n organiese uitbouing van my kreatiewe reis tot dusver. My vorige werk was die fondament; dit was die grondwerk wat my stem gevestig het. Hierdie produksie is die struktuur wat ek op daardie basis opgetrek het. Die DNS is dieselfde, maar die ontwerp is nou meer doelgerig, dieper deurdink en meer genuanseerd.
MR: Jou lirieke is persoonlik én polities. Watter temas staan sentraal in Woordenaar?
CN: Die temas is sowel persoonlik as polities. Sosiale kommentaar oor rassisme, sosio-ekonomiese kwessies en negatiewe stereotipes. Maatskaplike samehorigheid en nasiebou.
MR: Hoe word poësie, storievertelling en rap verweef?
CN: Dis soos ’n resep. Die storievertelling is die vleis en aartappels; die poësie is die speserye wat dit smaak gee; en die rap is die hitte onder die pot. In Die woordenaar is daar nie grense tussen hulle nie; dis ’n natuurlike “vloei” waar die woorde die ritme dikteer.
MR: Hoe verskil jou aanslag as jy nie alleen op die verhoog is nie? Wat bring Jackie, Riku en Jannie na die vertoning?
CN: Niks gebeur in ’n vakuum nie en niemand is ’n eiland nie. Riku Lätti hanteer die vervaardiging (saam met Kroeskop Produksies). Jackie Lätti is die gom wat alles bymekaar hou. Ons werk al jare saam en hulle is ook my proefkonyne; as ek nuwe materiaal het, toets ek dit eers op hulle.
MR: Die Afrikaanse taal is die fondasie van jou werk. Hoe speel jy in Woordenaar met taal – dialek, ritme, woordspeling?
CN: Ek hou daarvan om die taal te gebruik op maniere wat mense nie verwag nie. Ek meng straattaal met hoog-Afrikaans, of ek vat ’n ou bekende uitdrukking en gee hom ’n nuwe twist. Vir my is taal ’n lewende ding. Ek wil dit nie in ’n boksie druk nie; ek wil dit laat asemhaal en dalk selfs ’n bietjie laat sweet op die verhoog. Ek wil hê die woorde moet in jou ore val en jy moet dit op jou tong proe.
MR: Wat hoop jy neem feesgangers saam huis toe nadat hulle Die woordenaar gesien het?
CN: “Soos hierdie woord jou kneus, so sal hierdie woord jou genees.” Die werk is bedoel om as balsem vir die siel te dien en mense te laat nadink en die muntstuk self om te draai en sien hoe die ander kant lyk en hopelik te laat dink lank nadat die vertoning verby is.
- Die woordenaar is op 28 Maart om 16:30 en 29 Maart om 13:00 by die Absa Studio (Banketsaal) te sien. Die vertoning is in Afrikaans en geskik vir die hele gesin en duur 60 minute. Prys: R120 (vooraf), R110 (Vriende van die KKNK) en R135 (by die deur). Bespreek by https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1583587039

