Borrel, borrel, vele stof tot nadenke by Woordfees | Toyota US Woordfees 2023

  • 1

Jeff Grier en Caroline van Schalkwyk het feesgangers meer oor Suid-Afrikaanse Cap Classique vertel, wat al vir meer as 50 jaar op die tradisionele manier in die sjampanje-styl gemaak word

Die pas afgelope Toyota US Woordfees met sy feestema “Borrel” het by tye die vreugde laat oorborrel, soms die bloed laat borrel van verontwaardiging en woede en op ligter tye bloot die borrels in jou vonkelwyn gesit.

Ons skop die fees af met die Jazzart-dansteater se vertoning. Dis Suid-Afrika se oudste kontemporêre dansopleiding en -uitvoerende geselskap en hulle vier vanjaar hul 50ste verjaardag.

Die vertoning huldig vorige Jazzart-produksies wat die geselskap se kleurryke geskiedenis vier. Dis ’n samestelling van temas soos die verlede, aanvaarding en herskepping. Hoe vêr het ons nie gekom in 50 jaar nie? Die jong stemme vertel elkeen hul eie kort storie; hoe hulle verstrengel is in hierdie land, in Afrikaans, Xhosa, Engels, Zoeloe. Hoe die sproete op ’n gesig die konstellasies verteenwoordig; die are op ’n lyf die wortels van Afrika se bome. Ons is almal Afrikane, soos Thabo Mbeki destyds in sy 1996-toespraak “I Am an African” verklaar het. En hoe lekker om deel te wees van hierdie land met hierdie jong talent wat alle kulture, gender, gelowe oorbrug.

Reza de Wet se klassieke drama Mis is spesiaal vir Woordfees TV verfilm met Jane de Wet, Nicole Holm, Martelize Kolver en Laudo Liebenberg en dis as deel van die Woordfees Filmfees vertoon. ’n Ma en haar dogter moet noodgedwonge mis verkoop, nadat die man van die huis hul plaas in die Depressie verloor het. Hy sluit hom vir sewe jaar in die solder toe en sy dogter en vrou moet dieremis van boere versamel, verpak en as kompos verkoop om aan die lewe te bly. Maar elke jaar – op dieselfde aand – verdwyn ’n jong meisie van die dorp en almal is angstig. ’n Vriendin en jong, blinde polisieman daag by die gesin se huis op om deur die nag te waak tot die “moordenaar” toegeslaan het.

Dis ’n voorgeskrewe werk vir graad 12-leerders en die helfte van die saal is vol jong breine. Dis ’n wonderlike verhaal van die eenvoudige, moeilike lewe in die dertigs en konserwatiewe denke van daardie tyd.

Ons stap na die parkering en ’n ouer vrou is baie verontwaardig oor die film. “Dis loutere snert daardie. Dit gaan nie jong kinders aanmoedig om te lees nie!”

Ek het die vertoning geweldig geniet. Uitmuntende teks in die hande van uitstekende regisseurs soos Jaco Bouwer (film) en Wolf Britz (teater) met uitstaande akteurs is loutere genot.

Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog: Metha-Miré Viljoen, Marius Crous, Elmari Rautenbach, Marius Swart, Sonja Loots en Susan Louw

Deel van die EasyEquities Skrywersfees was ’n gesprek oor Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog, met Marius Crous (redakteur), Sonja Loots en Metha-Miré Viljoen wat met Marius Swart in gesprek tree oor dié huldigingsbundel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Feesgangers kon luister na ’n vooraf-opname van Marlene wat self voorlees en ’n paar van die deelnemers se vrae beantwoord.

Die ritmiese geklap van die Francois Toerien Show se komiese sketse en lekker lag het vir baie ’n welkome breek van ’n swaarmoedige nuusdag gebied. Die belaglike prys van ’n piepklein woonstel in Stellenbosch waarna almal smag – al is daar nie eers behoorlik plek om te sit nie – was beslis dié skets waarvoor die meeste mense geskaterlag het. Kabous Meiring is daarin te sien en gebruik Prontuit as verskeie sketse, met baie aweregse mense daarin. Sy help ook met die korrekte voornaamwoorde waarmee mense identifiseer en om Francois Toerien op die regte pad te hou tydens oudisies. “Ek is van die Oos-Rand, maar ek identifiseer as Real Housewive of the Winelands,” verklaar een karakter.

Die feit dat die vertoning nie by sy tydsduur gehou het nie, het ons egter ons plekke by die Nik Rabinowitz-vertoning, getiteld Rambunctious, gekos. Ons het vir ’n paar minute buite die tent gestaan en luister na sy kwinkslae, maar toe maar moed opgegee.

Die musiekvertoning van Skoonveld in die Adam Small-teater wat ook nie binne sy tydgleuf gebly het nie, het Shadow Boxing met 40 minute vertraag. Hier het mense later weggestap, omdat dit die Sondagaand darem net te laat sou maak.

Vir die handjievol mense wat wel gewag het, was dié 55-minute-vertoning ’n fees.

Shadow Boxing

Daniel Newton het ’n Fleur du Cap-toekenning gewen vir sy vertolking van Flynn, ’n swaargewigbokser in die skadu van sy pa wat self ’n bokser was. Die teks is deur James Gaddas geskryf. Flynn het geen respek vir sy pa gehad nie en het hom as ’n verloorder beskou. Hy word self ’n bokser, maar het soveel verwarrende emosies oor sy eie seksualiteit, sukses en selfkonfrontasie. Dis op die einde sy ondergang wanneer sy woede sy loopbaan ruïneer en hy ook as “verloorder” uit die kryt tree. Daniel was mede-vervaardiger saam met Mdu Kweyama wat ook die regisseur is.

Ek het die voorreg gehad om die gesprek met Chris Botes, alias “die ou gryse”, wederhelf van die bekende skrywer, Annelie Botes, te lei. Dit het oor haar jongste boek Katvis en oor die moeilike emosionele jaar wat hulle agter die rug het, gehandel.

Annelie het drie maal by die dood omgedraai en verskeie operasies ondergaan en kon weens haar swak gesondheid nie self by die bespreking wees nie. Die gehoor se deernis met hul situasie, hul ondersteuning vir haar werk en hul lof vir haar boeke het nie net vir my en Chris in trane gelaat nie, maar ook elke oog in die gehoor klam gelos.

Katvis is ’n swaar boek en soos Chris tereg opgemerk het, Annelie skryf nie “ontsnappingslektuur” nie. Haar boeke is almal op ware gebeure en baie navorsing geskoei en bied altyd hoop en lig aan die einde. Om iemand te “katvis” is om hulle in ’n internet- of advertensieslenter te vang en uit te buit. Lees ook meer oor hierdie onderhoud hier.

See muur

Nico Scheepers se nuutste toneelstuk, See muur, wat hy vertaal en geregisseer het, is deur Simon Stephens geskryf met Conradie van Heerden in die rol van Alex. Dit is in die US Museum-anneks opgevoer en die plasing van dié solostuk in ’n amper te klein vertrekkie bring die verpletterende uitwerking wat tragedie en verlies op die individu het, amper versmorend tuis. Die vloer is bestrooi met ou papierkoffiekoppies, koffievlekke, sigaretstompies en dieselfde wit en swart foto wat uitgesprei lê en teen die muur opgeplak is. Nico is amper deel van die gehoor waar hy in ’n stoel in die middelste ry sit – heel moontlik oor ruimtebeperking – treffend in sy teenwoordigheid. Soos een feesganger net voor aanvang van die stuk opgemerk het: “Alle werke van Nico is pragtig” en met hom daar beklemtoon dit half sy aandeel.

Die smagting na dit wat verlore is, dit wat ons nog nie verstaan nie, en die pyn van verlies, is omarm deur die wind wat onrustig aan die dakplate gewikkel het. Jy kon nie help om magteloos te voel oor die hoekoms en waaroms van die lewe en sy onregverdigheid nie.

Braam en die engel

Braam en die engel is Nico se ander nuwe werk en gebruik ’n kaalgestroopte seuntjiepop, Braam, met allerhande monsteragtige maskers, verslete doeke wat in die warm, sanderige wind waai waar Braam woon en ’n gevalle engel wat sy vlerke verloor om Braam op aarde te help. Die produksie is vir ons een van dié stukke waarsonder ons lewens armer sou wees – van die openingstoneel waar die verteller (Joanie Combrink) die dun doek met ’n kers afbrand om die verhoog te ontbloot. De Klerk Oelofse is soveel meer as Braam se stem en pophanteerder, hy wórd daardie verwarde, klein seuntjie wat sy plek in ’n baie onregverdige en hartseer wêreld soek, waar lag onbekend is.

Monsters

Monsters, die toneelstuk deur Niklas Rådström wat op ware gebeure gegrond is, waarvan Tinarie van Wyk Loots die regie, vervaardiging, stelontwerp en kostuums, asook die vertaling behartig het, het diep getref. Twee tienjarige seuns word ondervra ná die wrede mishandeling en moord van ’n tweejarige seuntjie, James Bulger. In die rolverdeling is Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete wat om die beurt die rolle van die speurder, James se ma en die ouers van die twee tienjariges speel.

Die een seun in die ware gebeure kom in November op vir parool in Engeland en dit maak hierdie stuk nog meer toepaslik.

Die dialoog is herhalend, verwarrend en hard. Almal praat meestal gelyk. Jy wil later jou ore toedruk. Die aantygings: “’n Kind is vermoor, gaan weer vermoor word. Dit het gebeur, gebeur tans en gaan weer gebeur. Is jy bereid om ’n getuie te wees, op te tree, of gaan jy altyd net ’n buitestaander wees?”; “dit kan my kind wees, dit kan jou kind wees, dit kan die kind wees wat jy in jou gedagtes sien as daar van ’n kind gepraat word” en “dit gebeur net met ander, met monsters, jy wat net kyk en niks doen nie is een van die monsters” speel alles af teen die té klein turkoois puffer-baadjie teen die kapstok.

Ons het doof geword vir nuus van hierdie aard; dit is al só deel van ons daaglikse nuus.

Applous voel onvanpas toe die akteurs afstap en nie terugkom nie.

Goed wat wag om te gebeur

Goed wat wag om te gebeur, die Afrikaanse weergawe van Philip Rademeyer se The Graveyard, ontgin dié sielkundige, emosionele en fisiese mishandeling verder. Philip het ook die regie, vertaling en stelontwerp behartig. Gideon Lombard, Antoinette Kellermann en Emma Kotze speel binne – en net buite – ’n raamwerk van wynbottels. Daarbinne staan ’n blou bank, bierbottels en ’n tassie met Lego.

Die blou bank is die vlot in ’n stormagtige see waarheen ’n seun terugkeer as sy lewe uitmekaarval. Hy het sy pa se gene in hom – die gene wat verwoes en met woorde en vuiste vermink. Hy vertel in gelukkiger tye vir sy meisie oor DNS en chromosome – elkeen ’n heelal vol moontlikhede – en dit wil lyk asof dit makliker is om te navigeer as die lewe self. Die pa se misbruik het ’n dramatiese uitwerking op almal en die ma sien net een uitweg vir haar en hom. Die seun en sy ma kom tot die slotsom dat sy ma nooit uit die huwelik weggeloop het nie, “want êrens is beter as nêrens”.

Die donker draad van mishandeling, ontnugtering met die wêreld en selfondersoek word nog verder getrek in Die vegetariër met Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt, Stian Bam en Melissa Myburgh. Dié stuk deur die Koreaanse skrywer, Han Kang, is deur Willem Anker verwerk en vertaal. Jaco Bouwer is regisseur, vervaardiger, stelontwerper en tegniese versorger.

Die vegetariër (Foto: Nardus Engelbrecht)

“Hulle was net nog ’n getroude paartjie tot sy ophou vleis eet. Só begin ’n reeks gebeure van toenemende fisieke en psigiese verset. Haar man, swaer en suster is getuies van hierdie enigmatiese reis en haar groeiende fantasieë wat toenemend plantaardige vorme aanneem,” vertel die feesprogram.

Laetitia Pople skryf in haar resensie: “[...] Die vegetariër is nie ’n ‘bring en braai’ partytjie nie. Dit wys dat die besluit om op te hou vleis eet ’n politieke besluit is met verreikende gevolge. Die hoofkarakter word herhaaldelik geestelik verkrag oor haar besluit.” Beslis die ouderdomsbeperking werd. ’n Stuk wat op die oog af baie voor die hand liggend oor ’n vrou se ophou-vleis-eet-besluit gaan, maar met diepere ontginning ’n metafoor vir ons samelewing is.

Hoe ’n samelewing iemand kan afsonder en uitskuif, is steeds sterk onder die soeklig in Bitterkomix 19: Hoe lank meen ons om hier uit te hou? – die titel van Bitterkomix se nuutste uitgawe, maar ook van ’n gesprek met die stigters.

Vir sommige feesgangers was dié vraag dalk verder van toepassing op Bitterkomix self, veral ná aanvalle wat Anton Kannemeyer na verwys as sy “de-platforming”. ’n Mens wonder hoe lank enigiemand wat skynheiligheid en dubbel-standaarde uitwys, die aggressie van hul teenstanders wil of sal verdra.

Kannemeyer en Conrad Botes is sedert die laat 1980’s reeds daarmee besig. Dit was hierdie tydperk wat gespreksleier Greg Kerr, voormalige hoof van Visuele Kunste aan die US, gekies het om mee te begin. Sy twee redes: Hy was destyds hoof van die Departement Visuele Kunste toe Botes en Kannemeyer studente daar was en “so baie is oor hul huidige stand geskryf,” het hy gesê.

“Mense se probleme met Bitterkomix het begin met ons derde uitgawe,” vertel Kannemeyer. “Dit was 1993 en ons het seksueel-eksplisiete inhoud begin gebruik.” ’n Jaar later, toe hul verhaal “Liefde & Missiele” in Gif Afrikaner Sekskomix verskyn het, het die poppe behoorlik begin dans. “Die een groot klagte was nie die inhoud nie, maar dat die teks saam met daardie inhoud Afrikaans was!

“Ons het by ’n vergadering probeer verduidelik dat die inhoud spesifiek ’n bespotting maak van mans se gedrag teenoor vrouens, maar mense wou nie luister nie. Hulle was blind van woede.”

Of Bitterkomix oor die jare ’n lesersmark geteiken het, het Botes gesê die teikens was die heeltyd net “heilige koeie”.

“Die groot leserstal het vanself ontstaan,” sê hy.

Oor die humor en satire in hul werk was dit nie net ’n manier om moeilike onderwerpe aan te pak nie, maar dit het hulle ook die regte waarde van die strokiesprent-medium laat besef. “Dit het ’n manier om jou in te trek, om die kyker onkant te vang,” sê Botes.

Die gesprek op Stellenbosch het verder talle ander onderwerpe aangeraak soos hoe Bitterkomix hulle vryheid gegee het om buite die beperkinge van die kunswêreld te tree, hulle sprong van strokiesprenttekenaars tot uitstalkunstenaars, hul verskillende style, die verminderde interaksie tussen die universiteit se departemente van Grafiese Kunste en Skone Kunste.

Uit Bitterkomix

Daar is ook gesels oor deugsein (virtue signalling) – “dit is die ergste vorm van die kunstenaar,” aldus Kannemeyer – en die brand van kuns deur studente by UCT: “Ek was verstom dat meer kunstenaars, joernaliste en mense in die bedryf nie in opstand hieroor gekom het nie.”

Volgens Kannemeyer dryf linkses ons na ’n plek waar vryheid van spraak onder bedwang is. “Linkses en regses is nader aan mekaar en dié in die middel probeer om sin daarvan te maak.”

Hy het die voorbeeld gebruik van een van sy eie ervarings waar ’n galerybesoeker tydens ’n oorsese uitstalling sy afkeer van Kannemeyer se werke uitgespreek het. Al het Kannemeyer en die galery-eienaar gepleit dat daar na die dieper betekenis van die werk gekyk moet word, is die werk later verwyder.

Conrad Botes en Anton Kannemeyer, in gesprek met Greg Kerr (link)

“Mense met geen kunsopvoeding is besig om uitstallings toe te maak,” het hy gewaarsku.

“Alles het verander sedert ons Bitterkomix begin het,” sê Botes. “Toe ons begin het, het ons een monster gehad. Nou is daar ’n ander.”

Darrel Bristow-Bovey

Hierdie ontnugtering met die wêreld en die liefde en die lewe duur voort as temas in Finding Endurance: Shackleton, My Father and a World Without End deur Darrel Bristow-Bovey, Tuis, ek’s liefie en Vincent: His quest to love and be loved.

Darrel was in gesprek met Marita van der Vyver. Hy vertel dat sy pa – wat dood is toe Darrel baie jonk was – vir hom vertel het hy was op Shackleton se skip. Darrel het eers baie jare later die somme begin maak en besef dis onmoontlik omdat die skip in 1915 gesink het. “My pa was ’n groot storieverteller en daar was maar baie leuens tussenin.” Hy het vertel dat deur sy soeke na die antwoorde op hoekom sy pa hierdie storie aan sy seun sou vertel, dit hom nie net gehelp het om sy pad na man-wees te vind nie, maar ook om die pad na sy pa en later ook sy ma te vind. “’n Mens wonder wat maak ’n lewe suksesvol, want my pa was allermins suksesvol en het nooit enigiets waaroor hy gedroom het, bereik nie. Miskien was dit die identifisering van ’n ander man wat in die oë van die samelewing gefaal het – Shackleton het nie sy eindbestemming in Antarktika bereik nie, maar al sy manskappe se lewens gered deur sy optrede.

“My navorsing en gevolgtrekking was toe presies die teenoorgestelde. Nie een van hulle was ’n mislukking nie. Ek het ook gevind dat my ma – ’n enkelouer – ook ’n heldin was wat vir 45 jaar van my lewe onsigbaar was. Ek het besef dat sukses nie gemeet kan word aan een gestelde doelwit nie.”

In Tuis, ek’s liefie

In Tuis, ek’s liefie, met Cintaine Schutte, Wessel Pretorius, Chrystal-Donna Roberts, Carlo Daniels, Amanda Strydom en Veronique Jephtas, verkies ’n vrou om moderne tye opsy te skuif en in die vyftigs te leef. Sy verklaar: “Ek is ’n feminis en ek kan kies om te doen wat ek wil” en “daar was soveel samehorigheid in die vyftigs”, terwyl sy haar man se pantoffels aandra en sy whisky skink, nadat sy die huis met suurlemoensap blink geskrop het en haar lipstiffie en hoëhakskoene netjies pas.

Dit blyk later duidelik te word dat sy na die vyftigs smag, omdat dit voel asof mans toe nog galant was, mense omgegee het en dinge eenvoudiger was... Dinge is egter nie altyd soos ons wil glo nie.

Haar ma duld dit vir ’n wyle tot sy tot-keelvol-lens toe verklaar: “Die vyftigs het nie eers so gelyk in die vyftigs nie. Dit was verskriklik. Ek kan nie glo enigiemand sal dit wil herleef nie. Dit was ’n vrou in die vyftigs: vreesbevange.”

Die stuk se regie (Janice Honeyman), stel en beligting (Wolf Britz) en kostuums (Mariechen Vosloo) is uit die boonste rakke. Die oorspronklike toneelstuk deur Laura Wade was 150 minute lank en dit voel asof daardie 30-minute-verkorting nie oordeelkundig aangepak is nie. ’n Hele paar sekondêre storielyne moes óf heeltemal gesny word óf behoorlik ontgin word. Ek hoop die toneelstuk speel homself nog in sy regmatige plek in: Daar waar dit al die pryse kan opraap. Dit was sekerlik ook die beste ooit dat Cintaine op die verhoog geskitter het. ’n Mens is amper jammer vir haar wanneer dié speletjie verby is en sy moet terugkom na die hede.

Vincent

In Vincent word die tragiese en kort lewe van Vincent van Gogh met gevatte vertellinge en die mooiste sang en voordrag deur Daniel Anderson geïllustreer. Die verwerkings van gewilde liedjies is verweef in die storie en vertel hoe hy telkemale in sy liefde verloën is (dalk omdat hy nie die tekens kon lees nie), maar hoe sy kuns en ’n diep begeerte om lief te hê en liefgehê te word hom terselfdertyd energiek en depressief gelaat het. Germaine Gamiet begelei Daniel op die klavier.

Trou Koek/Tert

Dinge lig effe vir ons week in Trou Koek/Tert met Elmé Oosthuizen en Margo Kotze as onderskeidelik ’n “koek” en ’n “tert” – preutser meisie en meer avontuurlustige meisie. Die preutser een staan op trou met “die perfekte man”. Hul lewe is uitgelê, alles is in plek vir hul vyfjaarplan, al ken hulle mekaar minder as ses maande. Soos die troudag nader haas, begin die twyfel inkruip en klein jakkalsies begin die (huweliks-) wingerd verniel. Aan die ander kant is die meer avontuurlustige meisie ook verlief en hoewel sy by talle troues “die beste strooimeisie is omdat ek alles kan reël”, is daar ook trouklokkies met haar droomman in die vooruitsig. Elkeen kan met hul versugtinge en twyfelinge identifiseer, want koue voete voor die Groot Dag is niks nuuts nie. Of soos “koek” tereg opmerk: “‘Ja’ dra soveel gewig.”

Eben Pienaar van NB Uitgewers, Etienne en Frederik de Jager, gespreksleier

Die boekbespreking van Etienne van Heerden se nuutste werk Gebeente, wat deur Frederik de Jager waargeneem is, verklaar sy nuutste boek is nie ’n opvolg op Toorberg nie maar eerder ’n “nasaat”, hoewel daar baie ooreenkomste is. Frederik beskryf die boek wat hy aanhoudend prys as merkwaardig: “Daar span ’n baie hoë boog tussen Toorberg en Gebeente.

Etienne vertel dat afgesonderde dorpies die plek van hoorsê en mites is en gesamentlike hoorsê die dorpswaarheid word. Hier moet die nuwe magistraat besluit of hy die hoorsê in sy hof gaan toelaat. En uiteindelik, watter reg is die regte reg? “’n Mens wat nie ingekoop het in die regstelsel wat op die bote gekom het nie, moet nou daaronder veroordeel word,” verklaar Etienne.

En dan is daar ook die kwessie van gemeenskaplike skuld wat ter sprake kom. Net soos in Monsters word ons almal aangekla van aandadigheid.

Etienne se beskrywings oor sy karakters – heelwat op mense geskoei wat hy sedert sy kinderjare teëgekom het – is só poëties dat jy die karakters in jou geestesoog kan voorstel. Die dorp se internet wat hy as die “vonkpyp” beskryf, is af en die dorp word al meer afgesonder en dis die teelaarde vir allerhande onheile.

A Midsummer Night’s Dream

A Midsummer Night’s Dream en Clara bring klassieke werke op toeganklike manier na feesgangers, sonder om afbreuk te doen aan dié klassieke skatte. Soos Herschelle Benjamin in sy resensie skryf: “Die jaarlikse tradisie van ’n William Shakespeare-stuk by die Maynardville-opelugteater in Kaapstad is ’n hoogtepunt op die plaaslike kunstekalender, dié keer by die Oude Libertas-amfiteater. En vanjaar se weergawe van A Midsummer Night’s Dream is ’n triomf deur die gesoute regisseur Geoffrey Hyland met ’n talentvolle rolverdeling op die verhoog wat as gedugte ensemble betower.”

Clara

Clara bring hulde aan die komponis-pianis Clara Schumann en is deur Riana Scheepers geskryf, waarin die pianis Nina Schumann en die aktrise Carla Smith die storie met musiek en storievertelling laat lewe kry.

Ramon Alexander (links) Sam Mathe (middel) en Chris du Plessis (regs)

Een van ons feeshoogtepunte was die gesprek “From the Smoky Jazz Halls of Yesteryear” met Chris du Plessis en Sam Mathe, skrywer van From Kippie to Kippies and Beyond, die eerste ensiklopedie van SA township-musiek. Die Kaapse jazzspeler Ramon Alexander het gaste op die klawerbord vermaak. Sam se boek is volgens Chris die “be all and end all” oor die era van Moeketsi se rokerige Sophiatown-jazz en die moderne weergawe van die Markteater se Kippies; die dertigs se marabi en trekarbeiders se maskandi. Dit vertel meer van sterre soos Spokes Mashiyane, Miriam Makeba, Hugh Masekela, Dollar Brand, Jimmy Dludlu en Thandi Klaasen.

Sam sê die reis was ’n epiese een, maar ’n baie lang een. Die gehoor se voete het lekker saamgetik terwyl verskeie voorbeelde uit dié musiekstyle gespeel is. Sam het verklaar dat die twee musiekstyle wat só deel van alle Suid-Afrikaners se weefsel is, is “pennywhistle jazz” en boeremusiek. Ons is meer eenders as wat ons verskillend is.

Tydens ons laaste middag by die Toyota US Woordfees skuil ons in die verkoelde flieksale van die Neelsie Cinema, waar die beste van die wêreld se kortfilms en dokumentêre films vertoon word. Ons verlustig ons aan insigte uit die Oekraïne, Japan, Chile, Pole en vele ander wêrelddele. Soms is sale gepak, soms is daar minder mense, maar dat die filmfees gewild is, is gewis. Jy kon ook 22 van die films wat by vanjaar se 11de Silwerskermfees gepremière het, by die Woordfees Filmfees gesien het. Alle films word met Engelse subtitels vertoon.

  • Foto’s: Clifford Roberts tensy anders vermeld
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top