Katvis deur Annelie Botes: ’n boekbespreking | Toyota US Woordfees 2023

  • 4

Katvis
Annelie Botes

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776095360

Deel van die EasyEquities Skrywersfees op die Toyota US Woordfees was ’n gesprek oor Annelie Botes se nuutste roman, Katvis, wat vanjaar by Penguin Random House verskyn het. Maryke Roberts het die gesprek met Chris Botes, alias “die ou gryse”, Annelie Botes se man van die afgelope 47 jaar, gelei. Annelie sterk tuis aan na ’n hele paar operasies en kon nie die fees bywoon nie.

Die stofomslag verklaar: “Ná twaalf hellejare aan die sy van die narsissistiese patologiese leuenaar Gerhardus, kry Marja via die internet ’n pos as bestuurder van ’n gastehuis in die distrik van Maclear. Sy vlieg weg van haar armoedige grootwordjare en die leë vertoon van haar getroude lewe tot diep in die Oos-Kaap waar haar ma of eksman haar nie kan opspoor nie. Na ’n plek waar sy op ’n bergkrans wil sit, vir die grysduikertjies viool wil speel en tot verhaal kom.

“Toe sy in die afgeleë Drakensbergwêreld in ’n slagyster beland, besef sy sy sal die nuwe oorlog met haar gebrekkige kennis van sielkunde moet wen. Haar ankers is herinneringe aan ’n tuintjie met swaelstertskoenlappers, die klank van ’n viool en die diep medemenslikheid en sorgsaamheid van die mense van haar jeug, veral haar Selina-ma wat vetkoek en slaghoenders verkoop het om vir haar haar eerste viool te koop.

“Te midde van maandelange foltering en aftakeling ontdek sy dat sy ook die tierwyfie in haar ma geërf het.”

Die bespreking is voorafgegaan deur ’n hartroerende video waarin Annelie vertel dat sy nie gedink het sy sal “die geboorte van die boek aanskou nie. Toe ek hom in my hande hou, het ek geweet ek is nou gereed om dood te gaan”.

Sy het die boek in geweldige pyn geskryf en kort nadat sy die manuskrip ingedien het, het haar maande in intensiewe sorg begin. Sy vertel: “Ek het maande later in ICU wakker geword en die eerste kopie het saam met my man en seun opgedaag.”

Chris, dit kan nie maklik wees om te sien hoe jou geliefde so ongelooflik baie ly nie. Die operasie is agter die rug, maar dit was traumaties. Vertel ons daarvan, en hoe voel sy nou?

Dit vreet aan ’n mens en laat jou by tye hulpeloos voel. Daar is al vyf operasies agter die rug, maar daar lê ten minste nog een voor. Baie is verby, baie lê nog voor. Ek en sy probeer om elke dag te oorkom en te oorleef.

Hoe voel dit om voor feesgangers te sit wat na jul storie kom luister?

Klein, oor die ondersteuning van mense wat weet sy kan nie hier wees nie, maar haar nogtans ondersteun deur hier te wees en ook omrede van die vertroue wat in my gestel is.

Kom ons gesels oor Katvis. Vertel asseblief wat die betekenis van die woord katvis is, en waar het die idee ontstaan?

“Catfishing” is gewoonlik ’n internetslenter wat mens om die bos lei. In Die Burger in Januarie vanjaar is melding gemaak van ’n hofsaak waar vyf vrouens ’n boer van Graaff-Reinet aangekla het van verskeie wandade wat daarmee verband hou.

........
Opgee is nie op Annelie se agenda nie. Elke week herinner Annelie my daaraan dat ek eendag op haar groetdiens moet sê: “Sy het nooit ophou probeer nie.”
........

Annelie het die boek onder geweldige pyn geskryf – hoekom nie net tou opgooi nie? Almal sou verstaan het?

Opgee is nie op Annelie se agenda nie. Elke week herinner Annelie my daaraan dat ek eendag op haar groetdiens moet sê: “Sy het nooit ophou probeer nie.”

Annelie se boeke is sterk gewortel in navorsing en baie van die storielyne is op ware gevalle geskoei. Hoe lank het die boek geneem om te skryf?

Met navorsing, siekte en skryf so drie jaar. Die navorsing het wye draaie geloop, veral na Forest Hill, ’n woonbuurt in die Baai en die omgewing van Maclear, maar ook in die hart en siel van mense.

Sou haar eie fisieke pyn nie minder gewees het as sy nie ook soveel emosionele pyn met die storielyn en karakter moes verdra nie?

Annelie se tipe boeke dra elkeen sy eie pyn. Sy moet dit dra, want dis wat die boek vra.

Is die werklikheid nie donker genoeg nie – moet ons sulke donkerte lees en deel van ons maak?

Donkertes is ’n integrale deel van die lewe van menswees. Dit spreek tot haar en sy gee uiting aan die stories wat oor haar pad kom. Annelie skryf nie ontsnappingslektuur nie, sy skryf oor die lewe in al sy fasette.

Chris, het jy haar probeer uitpraat uit die boek uit?

Dit sou makliker wees om die son te oortuig om in die weste op te kom as om Annelie te oortuig om ’n boek halfpad te los.

Watter boodskap wil Annelie met hierdie boek oordra?

Soos die Bybel sê: “Wees nugter, wees wakker, want die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu.”

Chris Botes en Maryke Roberts (Foto: Clifford Roberts)

Hester van Staden skryf op 12 September op Facebook dat Katvis “die beste van die bestes is”. Maak sulke lofprysinge oor haar werk die pyn en ongerief die moeite werd?

Soos vir enige mens is lofprysinge ook goed vir Annelie se gemoed, maar pyn en ongerief was onafwendbaar deel van die pakket.

Die boek word afgesluit met ’n waarskuwing oor hoe om nie gekatvis te word nie. Hoekom die besluit om ’n werk van fiksie met die werklikheid af te sluit?

Toe die teks op 1 Oktober 2021 ingedien is, was Annelie reeds hondsiek. Van daar af het Penguin Random House en Melt Myburgh die proses in hulle hande geneem. Annelie het nooit bladproewe gesien nie. Sy was in ICU. As sy kon oor kies, sou sy die werklikhede voor in die boek gesit het en nie agterin nie.

Annelie skroom nie om donker temas oop te kloof nie. Hoe verseker mens dat jy nie die lig in jou eie lewe verloor nie?

Om donker temas oop te kloof is ’n karaktertrek van vreesloosheid. Dit bring die lig na vore. Die mensdom het lig so nodig. Om donker temas oop te kloof maak haar eie innerlike lig helderder. Soos die ou liedjie sê: “I can see clearly now, the rain is gone.” Ons is ook net gewone mense, met gewone dagtake soos wasgoed was en klere stryk. Dit normaliseer en balanseer ook die lewe tussen Annelie se lewe deur as skrywer en ons lewe as gewone getroude paartjie.

Vertel my asseblief van haar skryfproses. Hoe kry sy nuwe idees – het sy honderde Post-its wat oral opgeplak is? Is jy deel van elke proses, of vind dit in afgesondering plaas?

Annelie skryf net oor temas wat weier om haar te verlaat. As sy ophou maal en kolk oor iets, is daar nie ’n boek in moontlike wording nie. Annelie skryf nooit twee boeke gelyk in haar kop nie. Sy bepaal haar aandag by een boek en gee haar energie met presisie aan daardie boek. Sy het nie sakboekies of papiertjies in haar handsak of beursie nie. Dit is dalk hoekom ek haar boeke so goed ken, want sy bespreek dit tot malwordens toe met my.

Ek neem meer van die huishoudelike take oor sodat sy bedags meer kan slaap en snags kan werk. Annelie se beleid is dat ons huis ’n gewone huis is. As die voordeurklokkie of telefoon lui, as die kat kos soek, as die wasgoed van die draad moet af oor dit kom reën, beskou sy dit as doodgewone roetine en sy raak nie moerig daaroor nie.

........
Om donker temas oop te kloof is ’n karaktertrek van vreesloosheid. Dit bring die lig na vore. Die mensdom het lig so nodig.
........

Hoe hanteer sy kritiek en hoe voel sy oor kritiek?

’n Les van onskatbare waarde het Annelie by Dalene Matthee geleer. “Moet nie slegte kritiek of resensies vrees nie; leer daaruit. Wat jy wel moet vrees, is geen kritiek of resensies, want dit beteken die boek was ’n dowwe eier.”

Wat is die mooiste kompliment wat haar skryfwerk haar nog besorg het?

’n Storietjie het Annelie bereik van ’n geval in die Kalahari waar ’n ouma met ’n donkiekar drie dae gery het na die dorpskliniek met haar 13-jarige kleinseun wat almal gesê het “maansiekte” het. By die kliniek gekom, het sy vir die suster gesê die kind het daardie siekte wat hulle van praat op die radio. Doer in die vlaktes en klowe van die Kalahari, kon ’n ongeletterde vrou ’n diagnose maak deur te luister na die voorlesing van Raaiselkind en dít sal haar nooit verlaat nie.

Die “Ou Gryse” het nou al ’n karakter op sosiale media geword. Hoe voel jy daaroor dat jy betrek word by jou vrou se loopbaan, terwyl jy eintlik baie privaat is?

Ek beskou dit nie net as háár loopbaan nie, maar as óns loopbaan. Ons probeer om soveel moontlik dinge in tandem te doen.

Mense skryf op Facebook asof julle ou vriende is. Wat beteken hierdie wense, gebede en seëninge vir julle?

Meer, ver meer as wat enigiemand ooit sou kon raai. Wat vir my uitstaan, is die meelewing en omgee van mense, ten spyte van hul eie beproewinge, en die respek wat hulle teenoor Annelie wys. Dit is omgeemense nes die mense wat vandag hier sit.

Vanjaar was ’n traumatiese jaar vir julle, met baie beproewinge – een hiervan is verhuising na ’n aftreeoord. Vertel asseblief vir my daarvan en hoe julle voel oor dié volgende hoofstuk in jul lewe?

As gevolg van Annelie se gesondheidsprobleme het dit sin gemaak om na ’n aftreeoord te verhuis. Die geriewe wat beskikbaar is, maak die lewe net soveel makliker. Om te verhuis is glo een van die mees traumatiese gebeure in ’n mens se lewe, maar vir ons was dit ’n uitkoms en ’n absolute plesier. Ons sien uit na die pad vorentoe en glo en vertrou dat ons lewe vorentoe gaan verbeter.

Lees ook:

Elmarié Dercksen gesels oor "You had me at hello": ’n 2023 Toyota US Woordfees-gesprek

Die vorm van verlies: Gielie Hoffmann gesels met Eben Venter oor Decima by die Toyota US Woordfees 2023

Katvis deur Annelie Botes: ’n lesersindruk

  • 4

Kommentaar

  • Ek kan nie wag om die boek te lees nie! Annelie Botes se boeke is net ongelooflik om te lees, dit gryp jou vas en neem jou op ander paaie, plekke en mense. Jy word deel van daardie mense! Dit doen iets aan jou gees! Dankbaar vir nog 'n "Dalene Mathee".

  • Marina Jenkins

    Annelie Botes het die vermoë om soos ‘n warm mes deur botter te sny. Reg daar waar mens jou eie persoonlike wroegings, vrese en onsekerhede hou. Haar menswees maak dat ons kan vereenselwig met ‘n plek in ons wat met tye baie seer kan wees. Dankie vir Chris en Melt vir julle liefde en ondersteuning vir hierdie wonderlike vrou, sy maak my en ander se lewe beter

  • Elmarie van Kampen

    Ek gaan Katvis beslis vir my aanskaf, kan nie wag om dit te lees nie. Klink my Annelie het haarself oortref met hierdie een!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top