Katvis deur Annelie Botes: ’n lesersindruk

  • 2
Onthou! Daar is ’n bespreking van hierdie boek by vanjaar se Toyota US Woordfees. Klik hier vir die besonderhede.
Hier is die volledige Easy Equities-skrywersfeesprogram by die Woordfees.
Hier is die volledige program van vanjaar se US Woordfees.

Titel: Katvis
Skrywer: Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776095360

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

“Het jou, Katvis!” laat sommiges dadelik aan vroeër jare se animasiereeks Grootbek en Katvis dink. Grootbek het altyd slimmer as die woelige Katvis probeer wees. Deesdae gebruik Afrikaanssprekendes “katvis” as direkte vertaling vir die buzzword “catfishing”.

In 2018 al wou ’n Facebook-gebruiker op die groep “Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool” hoor watter Afrikaanse woorde daar vir die uitdrukking “catfishing” is. Ander groepslede het uiteenlopende voorstelle gehad: verkleurmannetjie, draaijakkals, aanlynswendelaar, wolf in skaapsklere, sak sarel, manteldraaier, tweegatjakkals, die Nederlandse “gokker” en dan ook katvis, mits die konteks duidelik gemaak is.

Volgens die aanlyn Oxford-woordeboek verwys die letterlike “catfishing” na “the activity of catching catfish”. ’n Informele en figuurlike betekenis verwys verder na “catfishing” as ’n proses waar iemand na ’n verhouding gelok word deur middel van ’n fiksionele aanlyn persona wat geskep word. Hierdie term is vanaf 2019 in die meer informele manier in gebruik geneem.

Annelie Botes was in die kol deur Katvis as titel en wegspringblok vir haar nuutste en laaste roman te gebruik. Dit wil eers voorkom asof die titel verwys na die protagonis, Marja, wat in ’n slagyster van gevangenisskap ná haar egskeiding beland. Eers later ontdek die leser dat Botes die term “katvis” metafories deur die teks gebruik.

Lesers het oor die jare lojale volgelinge en herlesers van Botes se romans geword, want sy skroom nie om jou reg tussen die oë met die harde werklikheid te slaan nie. Raaiselkind (2002) verwoord die  sonlig en donderweer wat outisme oor ’n gesin kan laat losbars. Thula Thula (2011) nuanseer die impak en realiteit van bloedskande en kindermishandeling. Ook dobbelary waaroor sy uit eie ervaring skryf, kom in Trippel sewe (1995) op die voorgrond. Ribbokvoete (1995) fokus weer op aborsie. Dus weet haar lesers dat sy nie terugdeins van moeilike temas nie.

Die resensies en lesersindrukke het op verskeie platforms begin verskyn kort ná Katvis se publikasie. Van die lesers het Katvis as Botes se beste roman tot op hede bestempel. Ander het weer hulle skok uitgespreek oor die barheid waarmee sekere tonele uitgebeeld word. Het hulle dit nie tog verwag nie? Die skrywer is dan immers Annelie Botes! Een leser waag dit selfs om voor te stel dat Botes se siekbed voor haar beenamputasie aanleiding tot die donker inhoud van die roman kon gee. Blote bespiegeling. Ander bestempel die hele verloop van die verhaal as ongeloofwaardig. Nou, die lekker ding van verhale is dat dit nie in die werklikheid geloofwaardig moet wees nie. Dit moet binne die konteks van die storielyn en karakters se leefwêreld sin maak en geloofwaardig wees.

Dit herinner my aan Willie Burger se artikel (Vrouekeur 2012) waar hy dit so mooi stel. Volgens hom kan die skrywer nie ’n roman skryf wat niks te doen het met kennis wat ons oor die wêreld het nie. Hy vestig aandag op die idee dat die kennis op ’n interessante manier in die vertelling herrangskik word deur middel van verbeelding. In hierdie geval het Botes goed gedoen. Sy het haar navorsing sonder twyfel nie te warm of lou nie, maar nét reg aan die leser voorgesit. Die onus rus dan by die leser en dié se verbeeldingswêreld.

Van die lesers was onseker oor die stomp slot van die roman. Hiermee stem ek saam. Ja, good for Marja, maar dit laat die leser met ’n gevoel van ongelukkigheid om die heeltyd hortend saam met die storielyn teen ’n berg op te sukkel. Bo gekom, is dit te mistig om die mooi uitkykpunt te geniet. Die slot is te gerieflik en ou Helmut se besluit maak ’n ander can of worms oop.

Botes klim ook op die trein van literatuur wat handel oor narsistiese eggenote. Dink maar aan So lyk ’n vrou (2022) van Ilse Verster wat van die rakke afgevlieg het. Daar is ’n rede waarom daardie tipe boeke so verkoop. Die tema is relevant. Hierdie keer word die label op Marja se eerste man, Gerhardus, gesit. Met goeie rede. Nie net is hy ’n patologiese leuenaar nie, maar hy neem deel aan seksorgies, rand haar aan, verneder en isoleer haar. Die ironie – Marja is sedert hoërskooldae nader gelok met geld, iets wat ’n skaarste in haar ouerhuis was. Sy is gekatvis tot binne haar huwelik.

Die einde van haar huwelik word stuk-stuk aan die leser openbaar. Ons as lesers weet sy het geld “gesteel” en in haar ouma se hoedeboks weggesteek het. Ons weet ook dat Gerhardus haar nie so vinnig sal laat gaan nie. Dit is daarom dat ons verneuk voel wanneer Marja noem dat dit moeilik was om van hom af weg te breek. Dit is iets wat die leser saam wou deurmaak en die detail voel!

Botes wend dramatiese ironie effektief aan wanneer Marja se planne om in die afgeleë Drakensbergwêreld ’n gastehuis te gaan bestuur darem net te netjies in plek val. Daarom is dit nie ’n skok toe sy katswink tot in die grillerige gomtor se solder geslaan word nie.

Die wyse waarop Helmut en sy huis verbeeld word, verdien pluspunte. Botes het dit reggekry om my genoeg uit te gross met die gemors in Helmut se huis dat ek my eie huis in die middernagtelike ure skoon geskrop het. Ou Helmut kry ook ’n plek in die leser se verbeelding met sy vuil naels, stank reuk en troebel teenwoordigheid. Die leser sien egter nie vir Marja baie duidelik nie. Haar innerlike wêreld word deurgaans meer helder en dra by tot die geslaagdheid van die verhaal, maar haar buitelyne bly dof terwyl haar woordeskat en praatwyse veel ouer as haar karakter is.

Die wenbestanddeel in Katvis is Marja se terugflitse na haar kinderjare en tyd saam met Gerhardus. Die Helmut-storielyn sou platgeval het as dit nie vir Forest Hill se staaltjies was nie. Uit haar dankbetuigings agterin die boek kan die leser aflei dat daar ’n werklike dominee Johan van Rooyen en suster Immelman is. Sy bedank ook vir Forest Hill se mense wat haar tussen hulle toegelaat het.

Uit ander lesersindrukke is daar verdeeldheid oor Forest Hill se vertellings. Dit is te verstane dat party lesers voel dat die Helmut-storielyn vertraag word as daar eers terug in tyd gegaan moet word, maar die karakters van Forest Hill is baie nodig. Ma Selina gryp die leser aan die hart. Sy probeer inpas by Marja se skoonouers en sy het sonder ophou gewerk sodat Marja die beste geleenthede kon kry. Dit kos Marja afsondering, gevangenisskap, uithongering en algehele verlatenheid om haarself emosioneel te stroop. Eers dan besef sy dat haar ma nie net die gom is wat Forest Hill se mense bymekaar hou nie, maar nog al die jare die gom was wat haar wat Marja is, se voete op die aarde gehou het.

Katvis verwys na baie meer as net Helmut of Gerhardus wat Marja in ’n strik laat beland het. Dit verwys na Marja se eie optrede ook. Eerstens om vir Gerhardus maande lank onder die indruk te hou dat sy nie bewus is van sy dubbele lewe nie, voordat sy hom finaal groet. Sy gebruik daardie selfde vaardigheid om vir Helmut te oortuig dat sy nooit sal vlug nie. Uiteindelik besef sy dat sy haarself al die jare probeer oortuig het dat sy nie by haar ma en tussen Forest Hill se volronde karakters hoort nie, maar dat al haar lewenslesse wel daar tussen hulle lê.

Annelie Botes is ’n besonderse skrywer. Sophia Kapp (2017) verwoord dit goed. Ek maak haar woorde op Botes van toepassing. Kapp sê: “’n Goeie skrywer is die een wat die generiese elemente aan die waarneming kan onttrek en dit aan lesers in die vorm van ’n storie kan aanbied waarin hulle raakpunte vind. Om in woorde te sit wat elkeen van ons in ’n bepaalde situasie ervaar en word en voel.” Die lesers wat van die roman hou of wel... dan nie hou nie, kan ten minste saamstem oor een ding: Hulle het elke situasie saam beleef en dit maak Katvis ’n unieke reis vir elkeen.

Bronnelys:

Argaïese Afrikaanse Uitdrukkings is cool. 2018. Facebook. www.https://web.facebook.com/groups/2550041835/posts/10155317367401836/?_rdc1&_rdr. (2 September 2023 geraadpleeg).

Burger, W. 2012. Die storie van letterkunde. Vrouekeur, 19 Junie.

Kapp, S. 2017. Tel jou woorde: Om ’n storie te maak. Maroela Media. www.https://maroelamedia.co.za./afrikaans/tel-jou-woorde-om-n-storie-te-maak/ (2 September 2023 geraadpleeg).

Lees ook:

  • 2

Kommentaar

  • Juanita Mulder

    Ek het Katvis uiters pynvol ervaar.
    Ek dink Annelie se pynlike ervaring met die amputasie van haar been het baie bygedra tot die donker dele in die roman. . .

  • annelie Botes

    Neem in ag dat ek bittersiek was tydens die skryf van Katvis. Maar my been is eers 6 maande ná voltooiing van die teks baie onverwags geamputeer. Tydens die skryfproses het amputasie nooit eens deur my gedagtes gegaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top