
Feesmark-verhoog by KKNK 2025 © Hans van der Veen
“Die KKNK staan gereed vir ’n feestelike mylpaalviering wanneer ons hierdie naweek van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April drie dekades van kunste, kultuur en kreatiwiteit op Oudtshoorn vier én onthou.”
So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat vanjaar vir die 30ste keer in die Klein Karoo aangebied word. Theart sê die span beplan ’n heerlike partytjie vir besoekers, met ’n feesprogram van meer as 110 teaterproduksies in uiteenlopende genres met musiek, drama, komedie, dans en vele meer.
Ingesluit op die teaterprogram is verskeie debuutproduksies, met van gevestigde gunstelinge en ervare kunstenaars op die verhoog, tot opwindende nuwe stemme, wat werklik iets vir elke feesganger se smaak en belangstelling bied.
“Bykomend kan musiekliefhebbers uitsien na ’n omvangryke musiekreeks in die Feesmark, met twee musiekverhoë waar meer as 120 sangers en musikante, drie kore, ’n simfonieorkes en verskeie ander verrassing te sien is. Spesiale aandkonserte, die skouspelagtige Voluit Openingskonsert (28 Maart 20:00), Karoo Pops (29 Maart 20:00) en Kaktus (2 April vanaf 17:00) wat rockers van alle ouderdomme laat saamkuier – voeg ekstra glans tot die Feesmark-ervaring.”

Visuele kuns by KKNK 2025 © Hans van der Veen
Theart sê verder dat die KKNK ’n uitgebreide visuele kunsprogram, met onder andere ’n uitstalling deur al die vorige feeskunstenaars (PLEK), insiggewende gespreksreekse en Klein Karoo- en Leefstyl-ervarings vir feesgangers wat ook meer as uitvoerende kunste wil beleef, insluit.
“Daar wag ook hope vermaak op ons jonger feesgangers, met ’n ryk verskeidenheid kinder- en jeugaktiwiteite in onder andere die Feesmark se Klein KKNK-teater, wat die fees as ’n gesinsbestemming anker. Daar is ook ander verrassings in die Feesmark by die Absa Kuierkamer, Klein Karoo Agri se eerste Ekspo-area en die Checkers Kuierverhoog. Dit benewens ’n spesiale landbou-uitstalling, landbougesprekke en honderde stalletjies met kunsvlyt en smulfeeskos.

Diskoersgesprekke by die Netwerk24-feeskafee in 2025 © Hans van der Veen
“Selfs as finansies knyp, is gratis vermaak volop. Op die verhoog van die RSG en ATKV-Kuierkol is daar ’n propvol program van vroegoggend tot laataand, met regstreekse uitsendings op RSG. By die kykNET-leefarea in Baron van Reedestraat word storievertellings en gespreksreekse ingesluit, waaronder teatergesprekke met van die teaterikone en -vervaardigers op die fees. Vier boekstories word daagliks gratis by die ATKV-Boeke-oase by Exclusive Books aangebied, aktuele kwessies word soggens in die Netwerk24-feeskafee bespreek en onderhoude met bekendes word tydens Die Onderhoud gevoer.
“Daar is absoluut iets vir elkeen by vanjaar se 30ste KKNK. Ons nooi almal hartlik uit en sien daarna uit om voluit saam met almal fees te vier!”
KKNK 2026 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die volledige program vir die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

