
https://kknk2026.kknk.co.za/en/toneel/sade-in-hollandse-kombuise/
Yolanda du Toit praat met Christine van Hees voor die KKNK oor Sade in Hollandse kombuise.
Christine, jy is ’n baie veelsydige kunstenaar. Van aktrise, musikant en stemkunstenaar. Het jy ’n gunstelingmedium?
Sjoe, mens kan mos nie kies watter een van jou kinders is jou gunsteling nie. Daar is soveel om uit elk te put en te geniet, maar as ek moet kies vir die oomblik, dan sal ek sê teater. Dit bevat immers meeste daarvan en sodoende hoef ek nie te kies nie. In alle erns is teater iets besonders weens die verhouding met die gehoor. Die onmiddellikheid is iets baie spesiaals.
In Sade in Hollandse kombuise vertolk jy die rol van Susan. Kan jy ons meer vertel van die karakter, asook waaroor die produksie handel?
Susan is ’n Afrikaner wat slegs Engels praat, kwansuis uit gerieflikheid, maar daar is tog ander motiverings. Sy besluit dus om na die sade van Afrikaans en haar mense te kyk. Watter sade groei in haar en watter dele van Afrikaans het wortelgeskiet? Sy voel nie soos ’n boeremeisie nie. Susan probeer opdiep wie sy is en waar sy hoort, te midde van die sade en onkruid van haar Afrikaanse erfenis en besmette geskiedenis. Dit word versterk deur haar familie wat ’n paar maal verskynings maak. Gooi dan ’n bietjie geskiedenis en grootword in die mengsel en dit word ’n ware smeltkroes van identiteit en haar soeke na behoort. Dit is hier waar sy kontras, konfrontasie en kleur in haar begrip van Afrikaans ervaar. Susan verken kosse, musiek en tradisie in oomblikke van lag en rou kwesbaarheid. Die produksie vra dus wat is die resep vir Afrikanerwees? Is daar ooit een? Deur die verloop van die produksie praat sy al hoe meer Afrikaans.
Wat is jou opinie oor: Mens koester in jou moedertaal. Het Susan self besluit om net Engels te praat, of het sy so grootgeword? Dink jy dit is moontlik vir ’n Afrikaner om hul moedertaal “af te skud”?
Susan is ’n “Albany best of both”; sy het heeltemal tweetalig grootgeword en kan dus kies. In haar jong grootmenslewe kies sy Engels vir toeganklikheid, sowel as ander redes wat verder in die produksie verken word. Afrikaans is ’n taal met soveel kleurvolle uitdrukkings en spraakbeelde dat dit naas onmoontlik is om af te skud. Sommige probeer, maar dit werk nie altyd nie. Dis die bittereinders wat Afrikaners is. Dit sal aan jou kleef soos die knapsekêrels in die bosveld.
Jy het die produksie geskryf. Is dit die eerste produksie wat jy skryf?
Ek het al geskryf aan en vir verskeie ander projekte, meestal vir film en televisie, maar hierdie is my eerste vollengte produksie.
Dit word beskryf as ’n Ovation-bekroonde produksie; jy is seker baie trots daarop? (Waar was dit nog te sien?)
Ek is. Dit is ’n wonderlike eer om langs soveel ander ongelooflike produksies te kan staan. Sade was ook deel van Vryfees se Snelstroom-vertonings, wat ’n aanlyn platform vir teater was tydens Covid, sowel as by POPArt-teater in Johannesburg.
Jy het gespesialiseer in Klassieke Stem en Musiekteater. Dus is jy nie ’n nuutjie by teater nie. Tog is hierdie ’n solo-opvoering. Vind jy die rol van Susan uitdagend? Wat is die uitdagings om ’n eenvrouvertoning te doen?
’n Solo-opvoering se grootste uitdaging is juis dat dit alleen opgevoer word, wat beteken daar is niemand om die energie te skep en te dra nie, en dus verg dit baie stamina. Susan is uitdagend, omdat sy so goed kan wegkruipertjie speel met haarself en dié om haar dat daar dan baie grys areas is met kompleksiteit en teenstrydighede. Sy is ook nie alleen in die produksie nie – daar is verskeie ander karakters wat verskyn deur die verloop van die produksie wat ander uitdagings bied.
Is dit makliker as jy self die teks behartig én die rol vertolk?
Ja én nee. Dis moeilik om van die teks te laat gaan as jy self die rol vertolk, want daar is ’n groot hunkering om by te voeg, uit te haal en te verander. Tot ’n mate kan ek, maar gelukkig hou my wonderlike regisseur Campbell Meas my in toom.
Wat spesifiek van hierdie produksie het jou aangegryp om dit tot uitvoer te bring?
My eie worsteling en nuuskierigheid oor Afrikaans- en Afrikanerwees het daartoe gelei dat ek meer vrae gevra het. Ook in gesprekke met ander vriende en mense het dit daartoe gelei dat ek begin skryf het, en toe ek weer sien, is daar ’n produksie in my midde.
Wat is die hoogtepunt vir jou? Enige laagtepunt of dele wat jy moeiliker ervaar?
Die hoogtepunt is so moeilik om te kies, want daar is soveel dele wat ek regtig geniet het. Die moeilike dele is die konfrontasie, belewing en aanvaarding van die realiteite van ons geskiedenis, as beide slagoffer en oortreder, en die kwesbaarheid van menswees.
Sal die gehoor met die produksie kan identifiseer?
Die produksie is ’n soeke aan eie behoort en identiteit, veral in terme van kultuur, so dis daarom vir enigiemand wat al ooit met dié vrae geworstel het. In Afrikaans of in Engels. Mens kan ook vereenselwig met baie van die karakters en bietjie verlekker in die mooi van Afrikaans en erkenning gee aan die donker. Menswees is kompleks en dalk nog meer so in ’n land met soveel kulture en geskiedenis. Daarom is dit ook ’n lekker produksie om Afrikaans te geniet vir wat dit is, koeksisters, onkruid en al.
Koop kaartjies vir Sade in Hollandse kombuise.
Lees ook:
KKNK 2026: Eugène Marais se siel in musiekteaterproduksie ontbloot
KKNK 2026: Elvis Blue oor Die lewe en die langpad – ’n onderhoud

