
Ek volg Churchil Naudé al lank.
Hy daag uit. Hy krap orals en laat ’n mens met ongemaklike vrae.
So hoort dit in ernstige kuns.
Roy Campbell het jare gelede ’n satiriese gedig geskryf oor “the firm restraint” waarmee Suid-Afrikaanse skrywers te werk gaan. Hy eindig die kort gediggie deur te sê dis alles goed en wel, “but where’s the bloody horse”? Bedoelende, kunstenaars is so besig om “restraint” te beoefen dat hulle nie by enige werklik belangrike goed uitkom nie.
Wel. Churchil Naude het nie daardie probleem nie. Hy saal ’n blerrie idee op en ry haar bloots, al die pad. Hy wys ons ook sommer waar die olifant in die kamer is (aangesien ons nou met Engelse metafore wil ploeg).
Woordenaar is ’n musikale reis deur armoede, tronke, rassisme en veel meer. Niks en niemand word ontsien nie. Ook nie kerk nie, al is dit ’n baie geestelike vertoning.
Agter ons het ’n groep skoolkinders gesit wat soms letterlike na hulle asems gesnak het as Naudé nou en dan kru woorde gebruik het.
Hy is relevant
So ’n ruk gelede het ’n groepie regses Afrikanerskap weer probeer wit maak met hulle lagwekkende “Afrikaner-verklaring”. Daarop het verskeie mense gereageer, Facebook-groepe is gestig, en briewe is geskryf.
’n Vertoning soos Woordenaar wys hoe verspot die debatte oor Afrikanerskap geword het. Dóén liewer iets, daar is soveel Afrikaners in nood, is wat die vertoning sê. Kyk wat ons moet doen om ons taal en die sprekers daarvan te red.
Naudé sê oor homself: Hy is drol in die drinkwater. Jy kan hom probeer ignoreer, maar hy sal nie verdwyn nie.
Die musiek en die gedigte
Die vertoning is gestroop. Naudé self verskyn in ’n kortbroek en kaalvoet.
Die musiek het ook ’n minimalistiese gevoel.
Wanneer Naude rap, is die musiek dikwels eenvoudige akkoorde ter ondersteuning van hom, hoewel Riku Lätti nou en dan sy vernuf op die vleuelklavier ten toon gestel het. Ander kere het die sang vervloei na “koortjies” – eenvoudige geestelike melodieë wat ons in kerke hoor. By tye sou Lätti een akkoord oor en oor speel op die trekklavier, net soos ’n mens in kerke hoor wanneer “koortjies” gesing word.
Jackie Lätti het Naudé bygestaan met sang en voorlesings; Riku het ook saam gesing; en Justy Witbooi was op die kitaar.
Dus?
Ek het die vertoning geniet, en ’n groot deel van die (te klein) gehoor het ook. Ná die tyd het iemand egter opgemerk dat die vertoning met die bekeerdes praat. Dis jammer. Veel meer mense moet Woordenaar kan hoor.

