
Ek hou daarvan as ’n stuk my uitdaag. Dié een het. Dis anders. Maar dit is ook baie pret.
In breë trekke is hier twee storielyne wat gelyk loop. Die eerste is dat die regering ’n nuwe wet wil instel wat mense beperk tot die praat van 140 woorde per dag. Jip Dis dit. Wanneer jy 140 woorde oorskry, word jy geskok deur ’n mikroskyfie wat in jou lyf ingebou is. Jou slimhorlosie tel nie meer net treë nie. Dit tel nou ook jou woorde.
Die tweede storielyn handel oor ’n paartjie wat met mekaar moet leer kommunikeer, voor die nuwe wet, en daarna.
Die stuk spring rond in tyd en die akteurs wissel naatloos van dag tot dag, ook heen en weer van voor die wet tot na dit in werking getree het.
Aktiewe, sensuele teater
Die verhoog is totaal gestroop, afgesien van ’n staalplatform waarop die akteurs dikwels loop, maar die stuk self is nie gestroop nie. Inteendeel, daar is ’n besonder passievolle verhouding wat op die verhoog uitgebeeld word, en al is daar geen naaktheid nie, raak die aksie warm en by tye erg sensueel – soos dit tussen twee verliefdes hoort.
Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene is ’n genotvolle stuk.
Mienke Ehlers speel ’n sterk, aktivistiese jong musiekkunstenaar uit ’n gegoede agtergrond. Dean John Smith speel ’n prokureur wat sake veel meer klinies sien.
Die twee laat die vonke spat op die verhoog.
Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene is lekker teater, al is die onderwerpe wat aangeraak word, uitdagend.
Die mag van ’n regering, menseregte en (moontlike) sensuur
Soos sprake oor die nuwe wet opbou, maak die jong prokureur dit af as só bisar dat dit waarskynlik nooit wet sou kon word nie.
Sy passievolle meisie stem nie saam nie. Sy is woedend en reël verskeie optogte en betogings teen die voorgestelde wet.
In hulle gesprekke noem sy die wet sensuur. Die prokureur sê dit is nie. Mense sal steeds mag sê wat hulle wil; hulle sal nou net minder moet praat.
Hy verduidelik dat die regering beweer woorde maak ander seer en indien mense minder woorde mag gebruik, sal geweld ook afneem.
Dis baie interessant om hierdie redenasie te hoor, want in die VSA word menseregte tans al hoe meer weggeneem, skynbaar om almal veilig te hou. Hier te lande is vele groepe wat ook vra vir die absurde idees uit die VSA.
Hierdie stuk speel egter met metafore – dit gaan oor die reg van mense om te kommunikeer. Maar as een reg eers verlore gaan, wat dan?
Onderliggend aan al hierdie kwessies is natuurlik ook ons drang om verbind te wees aan die internet. Weet mense wat ons slimfone en slimhorlosies aan ander oor ons vertel?
Die prokureur uiter nie die woord “Orwellian” verniet as ’n deel van sy 140 nie.
Interkulturele verhoudings
Die jong prokureur het arm grootgeword, met ’n enkelma. Sy meisie ken net bevoorregting. Hulle gesels baie oor hul verskille en erken die noodsaak om mekaar te leer verstaan. Met die nuwe wet wat eers broei, en dan skielik wet word, moet hulle nog harder werk aan hulle maniere van kommunikeer.
Die punt is egter: Enige verhouding is interkultureel, so sê my geliefde altyd. Enige twee mense kom uit verskillende huise waar sekere aannames gemaak is oor wat van ’n ander verwag word.
Hierdie stuk is dus ook ’n metafoor wat handel oor die manier waarop mense oor hul vriendskappe én intieme verhoudings gesels.
’n Goeie vertaling
Die teks is aanvanklik deur die Brit Sam Steiner geskryf as Lemons, lemons, lemons, lemons, lemons, en is al in verskillende ander tale verwerk. Kanya Viljoen het die stuk in Afrikaans vertaal, en het seker gemaak dat dit ook eg Suid-Afrikaans is. Sy het ook die regie en die ontwerp gedoen.
Rynhardt van Blerk was verantwoordelik vir die klankontwerp.
Unusual Bones het die stuk vervaardig in samewerking met die KKNK.
Tel jou woorde
Ons ken die uitdrukking: “Tel jou woorde”, ’n metaforiese manier om te sê ons moet mooi dink oor wat ons vir ander sê.
Dit is hoegenaamd nie verkeerd om ’n wag voor jou mond te hê nie, is ’n ander uitdrukking. Die twee karakters beeld baie mooi uit dat sommige woorde dalk nie gesê moet word nie. Dit gebeur voor die wet afgekondig is en daarna.
Ek beveel Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene aan. Dit is vreemd, maar baie pret en dit laat ’n mens dink.

