Boklied en Verwelkingslied by die KKNK

  • 0

Fotograaf: Gys Loubser

By die KKNK kon ’n mens ’n spesiale Breytenbach-dompas koop. Daarmee kon jy vir nouliks meer as die prys van een teaterkaartjie beide Boklied en Verwelkingslied gaan kyk.

Die uwe het sy dompas gekoop en benut.

Ek was nog altyd lugtig om myself uit te spreek oor die werk van Breyten Breytenbach, want ek verstaan genoeg om te weet ek weet nie genoeg nie. Danksy Yves T’Sjoen se werk oor Breyten wat ek op Voertaal lees, leer ek nogal baie by kenners en hulle denke oor die Ou Bobbejaan (soos Breyten na homself verwys het) se werk. Soos alles in Breytenbach se oeuvre het ou bobbejaan meer as een betekenis. Dit sou na ’n kees kon verwys, maar dit beteken ook natuurlik “wyse mens” in Afrikaans.

Nou ja.

Nog een stukkie wysheid, dan sal ek vertel hoe ek die twee stukke ervaar het. In T’Sjoen se gesprek met Churchil Naudé het Naudé hierdie wonderlike opmerking oor Breytenbach gemaak: “Moenie sy boeke nadertrek as jy op soek is na antwoorde nie; trek dit nader as jy op soek is na vryheid.”

Ek gaan Naudé se wysheid as lens gebruik om die twee dramas mee te probeer lees.

Boklied

Ek het Boklied 30 jaar gelede gesien. Toe het ek nie veel daarvan verstaan nie. Ek het dus effens opgesien na die drie ure van stilsit, maar ek wou weer probeer.

Gelukkig het ek intussen meer oor Breytenbach se werk gelees, en slimmer mense het my vertel jy moet Breyten ervaar, nie altyd probeer verstaan nie. Hierdie keer het ek Boklied dus ingegaan met daardie behoefte om die stuk bloot te ervaar, al sou ek dit nie verstaan nie. Dié keer hét ek dus veel meer verstaan. (Of ... het ek?)

Kom ons wees eerlik: Boklied is grotesk en banaal. Juis daarom werk dit. Moenie antwoorde soek nie, soek vryheid. (Dankie Churchil.)

Ek is oud genoeg om NP-ooms met grys skoene, blinkerige pakke en breë dasse te onthou. Onder hulle stokstywe wysvingers sou hierdie stuk nooit in Suid-Afrika kon gespeel het nie. Die blote feit dat ons Boklied kan sien, en weer kan sien, is dus ’n ode aan ons vryheid in die nuwe Suid-Afrika. Breyten se ongure middelvinger aan die ooms is deurentyd sigbaar – soos ook die talle penisse wat rondgeswaai word op die verhoog. (Ja. As jy bang is vir naaktheid, sou jy liefs nie vir hierdie stuk ’n kaartjie wou koop nie.)

Boklied is ’n offer aan die teater; dis ’n teaterstuk oor die teater; dis ’n orgie wat met talle godsdienstige kodes speel – uit verskeie godsdienste.

In die 30 jaar wat verloop het sedert my eerste kennismaking met Boklied, kon ek meer oor Breyten se konsep van die Middelwêreld leer, ook oor sy uitbeelding van voëls (waaronder dié met vlerke). Die dood van die skrywer, om sy werk te laat lewe, verstaan ek deesdae beter. Ek het ander werke gesien waar die toneelstuk binne die toneelstuk belangrik is, ook waar die vryheid van toneelspel in ’n tronk ’n belangrike uitlaatklep vir emosies is.

En?

Ek het die visuele skouspel geniet, al moes ek vir ’n volle drie ure lank stilsit (dis pouses uitgesluit).

’n Deel van die genot was om De Klerk Oelofse te sien speel. Hy het sy rol as die groot regisseur van die banale orgie absoluut en ten volle syne gemaak. Deksels. Die man het die gehoor, en die spelers dus, in sy hande gehad. Sy gesigsuitdrukkings alleen was besonders.

’n Mens moet ook ’n lansie breek vir Hannah Borthwick, wat die onmoontlike rol van ’n sedelose vrou deeglik en lustig uitgespeel het – daardie Sharon Stone-oomblik is besonder netjies uitgevoer. Ntombi Makhutshi het eweneens nie op haar laat wag nie.

Keagon Cochrane verdien ’n warm jas ná hierdie speelvak. (Gaan sien die stuk as jy nie verstaan nie – hy moes sy priestergewaad – en álles wat hy aangehad het – uittrek. Obed de Koker se rol in die skadu van die groot regisseur is knap hanteer.

David Viviers se neurotiese vlerkman en Wian Taljaard se “I love it when you speak foreign”-karakter was besonder snaaks, presies soos dit hoort.

Ben Albertyn, wat byna nooit iets gesê het nie, en altyd in die agtergrond was, se broeiende teenwoordigheid was indrukwekkend, dalk juis omdat hy nooit op die voorgrond was nie. Jurgen McEwan, wat uiteindelik eers teen die einde die verhoog betree het, was ook nooit afwesig nie. (Sien, ek leer iets van Breyten se Zen!)

Soos 30 jaar gelede was Marthinus Basson weer die een wat die stel ontwerp het, en die regie behartig het.

Ek is bly ek het dit weer gaan kyk.

Verwelkingslied

Aan die een kant is Verwelkingslied ’n soberder, strak stuk met twee mense in ’n intellektuele tweespraak en dus baie anders as die orgie van Boklied. Tog is die ooreenkomste daar.

Dis ’n ouer Breytenbach wat homself hier in die rol van die reeds oorlede skrywer ingeskryf het, met ’n vermaarde aktrise wat vir oulaas na sy pype moet dans as die teenpool.

Dawid Minnaar het die skrywer gespeel. Daar was oomblikke waartydens hy baie soos Breytenbach self gelyk het daar op die verhoog. Teenoor hom was Antoinette Kellerman. Twee van ons land se roemryke akteurs, dus, in ’n stuk van een van ons grootste skrywers. Dit kon net lekker wees.

Dit was.

Kellerman het hier en daar oor ’n woord gestruikel, maar het haarself dan met grasie gekorrigeer. Ek het daar gesit en dink: Bliksem! Ek is dankbaar ek hoef nie al daardie woorde te onthou nie.

Soos Boklied speel Verwelkingslied in ’n tussenwêreld af. Breytenbach het dikwels oor die Middelwêreld gepraat.

Watter wyshede kan daar vir oulaas uit die pen van die dooie digter aan die gehoor gegee word? Die Ou Bobbejaan het geweet sy einde is naby en daarmee is hierdie woorde bewustelik aan ons, steeds in die ondermaanse, oorgedra. Gaan kyk maar self.

Hoewel Verwelkingslied stadiger en veel meer serebraal as Boklied is, is dit ook korter en meer intens. ’n Mens is nie bewus daarvan dat die tyd vinnig verbygaan nie, al sê spelers hulle is baie bewus van die gehoor se boude wat seer gesit word.

Woordryk? Báie.

Verstaanbaar? Vreemd genoeg, ja. Veral vir dié van ons wat al Breytenbach se oeuvre probeer lees het, is daar heelwat oomblikke waar ’n mens woorde, beelde of idees kan eien om jou deur die woordvloed te lei.

Die stel was indrukwekkend. Dit was gestroop, met ’n oop doodskis in die middel, plus ’n tafel en ’n stoel vir elke outeur aan weerskante. ’n Goudvis het op elke tafel in ’n bakkie rondgeswem. Lappe het van die dak gehang.

Op dié punt moet ’n mens noem dat Marí Borstlap en Tessa Louw die teks van Breyten vir die verhoog verwerk het. Borstlap het ook as regisseur diens gedoen en sy het die stel ontwerp. Hierdie hegte band tussen medeteksmaker, regisseur en stelontwerper het waarskynlik bygedra tot die afgerondheid wat ’n mens ervaar het. Verwelkingslied was ’n meersterklas in eenvoud te midde van die oorvloed woorde.

Minnaar se kostuum is sonder twyfel geskoei op Breytenbach se klerestyl – selfs die rooi velskoene het trots op die verhoog rondgeloop. Kellerman was in ’n helder rooi rok geklee, met ’n lieflike kleed, soos dié van ’n priester, wat sy by tye gedra het.

Wilken Calitz het gesorg vir die gestroopte klankbaan en Richard Thomson het ’n video geskep wat by tye agter die akteurs sigbaar was.

Die uiteinde is dat ek ná die tyd dankbaar was vir puik teater, puik akteurs en ’n grootse Afrikaanse letterkunde. Ek gee nie voor ek het alles verstaan nie, maar dis ook goed. Ek het die voorreg gehad om dit te erváár.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied – ’n psigedeliese padkaart na binne

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ʼn indruk van Boklied – wat betieken "nie-verstaanbaar"?

Suidoosterfees 2025: Verwelkingslied – ’n onderhoud met Antoinette Kellermann

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top