
Agtergrondprent: Gerd Altmann op Pixabay
- Dianne du Toit Albertze skryf indrukke oor hierdie stuk wat vanjaar weer by die Woordfees op die planke was.
In 1998 sê Breyten Breytenbach aan Mail & Guardian dat mense nie veronderstel is om Boklied te verstaan nie. Hy voeg by dat hul slegs agteroor moet sit en luister na die ritmes en om die beelde te absorbeer. Dit is presies hoe ek die opvoering benader het as gehoorlid – om dit slegs te ervaar. Ek dink enige persoon wat probeer sin maak, sal net verder in ’n maalkolk afdwaal en dalk nog meer deurmekaar raak. Dit is juis in onverstaanbaarheid dat dit sinvol raak – die politieke allegorie, spot met sensuur en toegang, sowel as in die skoonheid en ontvlugting van taal.
Ek het die heropvoering van Boklied by die Toyota Stellenbosch Woordfees bygewoon met ’n klein groep gehoorlede, wat al minder geraak het met elke pouse. Ek was alte dankbaar hiervoor – om ’n smoke break te kan vat om die woorde en beelde te verteer. Dit het gevoel soos ’n psigedeliese reis; wel slegs ’n figuurlike een. Daar was ’n mede-gehoorlid vasgenael in die eerste ry wat duidelik op iets lekkers was en deur verskeie emosies – soms uitspattig – gegaan het, van ’n senuweeagtige gekekkel tot ’n rouklaag soos wat ek laas by ’n vriendin van my se begrafnis in Kamieskroon gehoor het. ’n Hees getjank. Ek wens ek kon ook so skrou. Dalk is ek al te veel ge-desensitize, maar ek was meegevoer soos toe ek nog ’n laaitie was en die sirkus op Springbok een keer elke twee jaar deur ons dorp getoer het.
Dis dalk ook die naaste wat ek kan kom aan ’n vergelyking uit my eie lewe met dit wat ek tydens Boklied aanskou het. ’n Skou, inderdaad. Ek het nog nooit ’n toneelstuk soos dié in my lewe ervaar nie. Die naaste was Babbel, die slotstuk in Nicola Hanekom se trilogie wat ek êrens op ’n bergpas in Oudtshoorn gekyk het. Maar daai was PG teenoor hierdie toneelstuk – al het daai stuk my tog vreeslik laat snik. Dit was ’n ander mooi. Hanekom ryg mens se binneste uit met ’n tussenspel van verhoogde spraak en toeganklike taal. Met Boklied vervreem Breytenbach skaamteloos sy kykers/lesers. Tog laat dit mens alles behalwe koud.
Dalk ook te danke aan die spelers, ’n verstommende ensemble, wat veel tekstuur en subteks na die lae en lae digte poësie bring. Almal is nie altyd ewe hoorbaar nie, wat jammer is, want mens mis van die verbeeldingryke verse, maar dit doen ten minste geen afbreek aan die sin maak wat soms ook mal maak word nie. Dit is ook nogal ’n moontlikheid om te kyk na die gegewe: ’n spul psigiatriese pasiënte of bandiete in ’n tronk vir die criminally insane.
Aan die begin is daar ’n wag/bewaarder, gespeel deur die nimlike Ben Albertyn, wat elkeen stip tog woordeloos reguleer. Het ek my verbeel of het hy anderkant die tralies ook ’n teks voor hom gehad waarmee hy elkeen se bewegings en spreekbeurte monitor? Moontlik ook ’n alter ego van die skrywer. ’n Innerlike regisseur. Later transformeer hy in die gestalte van ’n mummy-engelfiguur wat bo die tronk/malhuis/sirkus stap en die skouspel bewoë aanskou.
Snaaks genoeg was dit juis Albertyn wat vir my die sterkste uitgestaan het. In sy woordeloosheid was hy totaal weerloos en het hy gedien as ’n skadu of spook van Breytenbach self. Sy spel is fyn soos naaldwerk: elke beweging en emosie leesbaar. Die res is weer ’n spul uitgerafelde garings, met De Klerk Oelofse se Maker wat gereeld die toon en energie moes aangee, soos een wat aflos hardloop. En dit doen hy. Hy koggel en hekel soos ’n harlekyn van ouds. Die ses ander spelers in die hok/sel/siekesaal is elkeen op hulle eie wentelbaan. Farenj (Wian Taljaard) praat skoon in brabbeltaal – ’n hectic uitdaging waarmee die speler interessante keuses maak. Destyds is die rol deur Antoinette Kellermann vertolk, toe sy nog ons voorste drag king in Afrikaanse teater was. En volgens gehoorlede en kritici wat die eerste speelvak in die neëntigs beleef het, was sy nogal ’n treffer en ’n charmer, omtrent Grethe Fox, wat daai tyd Madonna vertolk het, se lyfie verorber. Ek kan dink dat juis die homoërotiese ondertoon daarvan bygedra het tot nog meer vermaak en veelvlakkigheid.
Gender-bending en fluïed geslagtelikheid is een van die vele temas hier ter sprake. Wanneer David Viviers se camp karakter in sy wit pak in ’n voëlliggaam verander, dan wil Isis, vertolk deur Ntombi Makhutsi, weet of hy ’n “trassie” is, ’n konsep waarmee Viviers rondspeel in sy vertolking. Speel doen elkeen ten minste ook genoeg van. Tot die regisseur in die gehoor, vars en vlymskerp vertolk deur Jurgen McEwan, wat gereeld kommentaar uit die gehoor gee, of met sy gespierde lyf by die trappe af kom vlieg om deel te neem.
Regdeur vergeet nie een van die spelers dat hulle moet pret hê nie en as kyker raak ons saam met hulle opgewonde, maar met die spul fallusse moet mens ook nie te opgewonde raak nie. Dit is egter nie ’n darkroom of fetish club nie. Dit bly teater, ’n gedeelde ervaring met gereelde oë om jou waarmee ons as kykers mekaar ook dophou, dalk uit skaamte of dalk om juis ’n getuie te soek van die absurditeit. Iemand om jou te herinner dat jy nie droom nie. En om eerlik te wees, was ek by tye nie seker nie. Marthinus Basson verstom met beelde en klank – dat dit groter en wyer voel as teater, meer soos visuele kuns met voete, soos ’n optog gevul met luidsprekers en ’n spul mense wat mekaar nie ken nie, maar gedwing voel, geroep om saam te staan vir iets. Basson verander Afrikaanse teater in iets heiligs. Hy verander Open Window Film Studio in ’n kerk. Boklied word die Bybel. En soms is die prente wat hy skets, so oorweldigend dat jy as kyker slegs jou oë moet toemaak soos een wat bid en die woorde inlaat om in jou te woon.
’n Aantal ietwat verloopte toneelspelers kom bymekaar in ’n tyd van krisis in ’n geslote ruimte – ’n gestig, ongebruikte saal of dalk net ’n gevangenis. Weg van die sogenaamde “normaliteit” daar buite besin hulle oor die liefde, lewe en dood. Saam, onder ’n wolk van politieke realiteit in ’n tyd van onafwendbare verandering, speel die hand vol digters ’n oorlewingsritueel uit in die tradisie van die eerste Griekse dramas, of “Bokliedere”. Soos in Aristophanes se komedie Die voëls onderhandel die lotjie ’n moontlike toekoms onder ’n nuwe orde, maar rituele verg bloed, ’n skerp mes en ’n sondebok… Boklied is die digter Breyten Breytenbach se opspraakwekkende eerste drama. Dig. Omvattend. Skreiend. Snaaks. Oorweldigend.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ʼn indruk van Boklied – wat betieken "nie-verstaanbaar"?

