
Baie jare gelede het Pieter Cilliers ’n Kas is vir klere geskryf. Die parallelle tussen sy biografie en Zubayr Charles se toneelstuk is besonder sterk.
Cilliers was ’n gay dominee wat regtig hard probeer het om God se guns te wen, in vroue belang te stel en ’n “goeie mens” te wees. Hy kon nie. Uiteindelik moes hy teenoor homself erken dat hy gay is. Hy het die diens van die kerk verlaat, maar nooit sy bande met die kerk versaak nie.
Baie jare later het hy ’n opgevolg geskryf, getitel Soeker. Hierin vertel ’n ouer, wyser persoon wat geword het van die jonger man wat ’n Kas is vir klere geskryf het. Soeker is in die teologiedepartement van Tukkies bekendgestel. Dit was ’n besonderse geleentheid. Ek het die voorreg gehad om dit by te woon. Die kerk (of is die Kerk) het die gay man in hulle binnekringe verwelkom.
Juis. Omdat.

Please, don’t call me moffie is deur die menseregte-aktivis Zubayr Charles geskryf. Hy het in die Islam grootgeword en dit sypel uit deur sy werk. Tydens die ongeveer een uur wat die stuk aan die gang is, ontmoet ons talle verskillende karakters. Elkeen is gay, elkeen is gelowig. Almal wroeg op hul eie manier met die vrae: Hoe kan ek ’n gelowige Moslem wees as sommige moellas beweer dis haram om te wees wie ek is? Waarom sou Allah my gay maak as hy nie gay mense liefhet nie? Waarom sou enige iemand kies om gay te wees en per definisie dus ook ’n verstoteling? Hoe gemaak as jy wil inpas, maar jy is wie jy is?
Anzio September glip moeiteloos van een karakter na die ander. Die gehoor weet dat hy ’n ander rol speel weens die klere wat hy daar op die verhoog aan- en uittrek, maar ook sy karakters se maniere van doen verskil. Elke karakter het ’n ander manier van praat, elkeen het ’n eie lyftaal.
Charles is ook die regisseur. Hy en September het die stuk tot ’n besonderse kykervaring geslyp.

Bo-Kaap-Engels
Charles het ’n besonder goeie oor vir die sonderlinge Engels wat in die Bo-Kaap gepraat word. Soos die Kaaps van die Bo-Kaap, is Engels aldaar deurspek van Arabies. Maar, soos Kaaps vryelik uit Engels leen, so leen Bo-Kaap-Engels vryelik by Kaaps.
Soos daar nie een taal is wat “Kaaps” genoem kan word, maar baie variante daarvan, so ook is Bo-Kaap-Engels baie anders as byvoorbeeld die Engels van Lansdowne of Mitchells Plain.
Dit is belangrik dat Charles hierdie woorde, sinne en segswyses vasvat in sy skryfwerk. Net soos ons vandag die wortels van Afrikaans kan verken uit tekste wat in die Bo-Kaap en die Oos-Kaap geskryf is, so sal ons agterkleinkinders oor ’n 100 jaar genot kan put uit die tale van Bo-Kaap – want dit word opgeteken.

Nie maklik nie, maar besonders
Ek volg Zubayr Charles al ’n hele aantal jaar. Hy het naamlik hier op LitNet van sy eerste skryfwerk geplaas.
Charles is ’n kunstenaar, ’n verkleurmannetjie wat telkens nuwe maniere vind om gewone mense se lewens uit te beeld. Sy werk is dikwels ongemaklik, maar belangrik.
Sy toneelstuk Mercy het byvoorbeeld gegaan oor die kwessie van genadedood.
Hy het ook onlangs The Battered Housewives Club in die Baxter opgevoer – ook deur hom geskryf.
Dan is daar natuurlik sy roman Haram, wat ’n hengse roman is, en sterk ooreenkomste toon met Please, don’t call me moffie. Om die waarheid te sê: Alles wat ek in my resensie oor Haram gesê het, kan ook toegepas word op Please, don’t call me moffie. Daar is naamlik ’n donker draad wat deur Please, don’t call me moffie loop: Iemand deel ’n video op ’n WhatsApp-groep van twee mans wat in ’n ongedefinieerde Moslemland doodgeslaan word omdat hulle gay is. Al die karakters in die stuk is gewalg daardeur, want waar is Allah se liefde in hierdie optrede te sien?
Sou iemand nog twyfel in die man se talent, hy het pas sy digdebuut gemaak met The sad boy’s starter pack and other poems, uitgegee deur Jacana Media.
Dis nie al nie. Charles se Afrikaanse toneelstuk Ek en jy, tot laat toe, open op 1 Mei by die Suidoosterfees.
- Fotografie: Jeremeo Le Cordeur
Lees ook:
Zubayr Charles se Haram is ’n waarskuwing aan almal, gelowig of nie: ’n lesersindruk

