Zubayr Charles se Haram is ’n waarskuwing aan almal, gelowig of nie: ’n lesersindruk

  • 5

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Haram
Skrywer: Zubayr Charles
Uitgewer: Kwela
ISBN: 978-0-7957-1124-4

Hierdie roman rig ’n baie onderduimse waarskuwing: As jy dink die storie raak glad nie jóú lewe of jóú regte nie, verstaan jy duidelik nie die einde nie.

Iets oor die storie – sonder om die einde weg te gee

Ons ontmoet Muhammad aan die einde van sy skoolloopbaan. Hy is besig om matriek te skryf.

Muhammad is ’n goeie seun. Hy is die trots van sy enkelma wat haar afsloof vir hom. As jong meisie het sy geval vir die attensies van ’n welaf vriend, het swanger geword en is versaak. Nou werk sy geweldige lang ure om aan Muhammad ’n goeie opleiding te gee.

In ruil is Muhammad bereid om sy skoolwerk ernstig op te neem en ná skool gaan hy ook na die madrassa, ’n geleentheid om die Koran en die fyner punte van die Islam te bestudeer. Ook by die madrassa werk hy hard en kan reeds, as die man in die huis, van hul gebede in Arabies lei.

Muhammad raak geborge groot in die Bo-Kaap. Dit is ’n Moslem-gemeenskap wat vir mekaar omgee.

Dinge verander wanneer hy een aand vir Riyaaz by ’n braai ontmoet. Die mooi man sien dinge in Muhammad raak wat hy tot nou toe nog nooit aan homself wou erken nie. Muhammad hou naamlik van mans; vroue laat hom koud. In die streng Moslem-gemeenskap waarin hy grootgeword het, is daar egter nie ’n manier dat hy ooit aan ander sal kan erken dat hy gay is nie.

Hoe nou gemaak met Riyaaz, wat ook ’n Moslem is en baie duidelik vir Muhammad wil inlei, ook inlyf, in die liefde en vreugde wat twee mans saam kan ervaar?

Lees maar self verder.

Muhammad val vir die mooi man en ontmoet vele ander mooi, gay Moslem-mans in sy soeke na vreugde en na homself.

Wanneer iemand by die skool skinder oor Muhammad se nuutgevonde vreugdes, word hy aangerand en verneder. Dit laat hom egter nie ophou nie. Inteendeel. Saam met ’n goeie vriendin, wat ook ’n buitestaander is, ontdek hy die vreugde van alkohol en die genot van dans in nagklubs. Seks met ’n paar mans bly helaas nie weg nie.

Om seks te hê met mans en om alkohol te drink is egter haram, of te wel verbode. Maar verbode volgens wie? En wat doen ’n jong man as Allah hom gay gemaak het in ’n wêreld wat alles waarna hy smag verbied?

Die angs en twyfel laat Muhammad in ’n psigiatriese hospitaal beland. Daar kry hy pille en leer hy tegnieke aan om sy fisiese en psigiese simptome te beheer. Die probleem is: Sy siel is siek. Hy weet wat hy doen, is sondig in die oë van Allah. Daaroor kan hy egter nie met enige een praat nie.

Die mooi en vergewensgesinde kant van die Islam

Ek het jare lank in ’n voorstad van Kaapstad gebly wat oorwegend deur Moslems bewoon is en het in my werk toegang gehad tot talle Moslem-huise, -besighede en selfs heilige plekke.

Ek kan sonder skrome sê dat daar ’n liefdevolle en navolgingswaardige medemenslikheid onder gewone, alledaagse Moslems is. Ek, as buitestaander, is toegelaat om deel te hê aan talle seremonies en is sonder uitsondering met deernis in Moslem-huise en by Moslem-geleenthede ontvang. Ek en my kamera is dikwels toegelaat om lieflike, intieme oomblikke vas te vang.

Die gesig van Allah as Ar Raheem, die gewer van barmhartigheid, en Ar Rahmaan, die genadige, is oor en oor aan my geopenbaar deur sy volgelinge.

Zubayr Charles se Haram speel direk in op Allah en die Moslem-gemeenskap se gewilligheid om te vergewe en om die verlore seun weer in hulle arms te ontvang.

Die donker kant van Islam (en ander gelowe)

Daar is egter ook ’n donker kant aan enige geloof wat nie ontken mag word nie. Die Islam is hierby ingesluit.

Die oomblik wanneer ’n dominee en/of ’n mullah hul heilige boek probeer verhef tot iets wat verhewe is bo die liefde van hulle god, dan is daar moeilikheid.

Ons sien dit steeds in die NG Kerk wat dit gewoon nie kan regkry om gay mense openlik te aanvaar nie, al was daar dominees soos Fritz Gaum, en talle ander, wat openlik verklaar het dat daar geen manier is om die Bybel te gebruik om gay mense te veroordeel nie. Dié soort intoleransie sien ons ook in die georganiseerde Islam. Vandag nog.

Op 15 Februarie 2025 is Muhsin Hendricks, ’n gay imam, vermoor, slegs enkele kilometers vanwaar ek nou sit en skryf.

Hoekom? Want hy was gay.

Daar is mullahs in Suid-Afrika en elders wat soos talle NG-dominees nie hulle koppe kan aanpas en gay mense kan aanvaar nie. Van hulle uitsprake oor gay mense kan tot geweld lei.

Die dilemma vir gay Moslems is dalk selfs groter as vir gay Christene of gay Jode. Waarom? ’n Deel van die antwoord lê in ’n ander moord wat onlangs gepleeg is.

Ayatollah Ali Khamenei is op 28 Februarie 2026 vermoor in ’n bombardement wat deur Donald Trump goedgekeur is.

Donald Trump en Ali Khamenei is twee gesigte van dieselfde muntstuk. Beide is verantwoordelik vir grootskaalse vergrype in menseregte.

Wat het Ali Khamenei en Donald Trump met Zubayr Charles se Haram te doen?

Dit mag vergesog klink om die vermoorde hoofleier van Iran en die opgeblase, egotistiese despoot aan die hoof van die VSA te probeer verbind aan ’n roman wat afspeel in die Bo-Kaap, maar dit is nie.

Ali Khamenei het sy lewe gewy aan die daarstel van ’n bloeddorstige, donker gesig van die Islam. Persië, soos Iran eens bekend genoem is, was eens ’n land van vrye denke en liberale idees. Vroue het baie regte gehad en alkohol was nie vreemd by partytjies nie. Toe kom Khamenei se voorganger, Ayatollah Ruhollah Khomeini, aan bewind en begin dadelik alles wat “liberaal” is, te teiken.

Vir ’n kort, maar besonder skerp insig in die brutale aanslag van Khomeini se stormtroepe, gelyk aan Trump se ICE-brigade, kan ek Marjane Satrapi se besonderse boek en tekenfilm Persepolis aanbeveel. Dis rof, maar dit vertel die verhaal van mense wat hulle regte verloor weens agente van die staat wat toegelaat word om brutaal te wees.

Khomeini en Khamenei se manier van dink oor die Islam is ekstreem, maar ongelukkig het die tentakels van hulle ekstreme sienings ook in Suid-Afrika kop uitgesteek.

Khomeini en Khamenei het veral mans die wêreld oor laat glo dat hulle vroue mag onderdruk. Afganistan is ’n puik voorbeeld. Die leiers se simplistiese sienings oor die onderdrukking van menseregte kon die kleinlike siele van gewone mans voed en hulle motiveer om ander te onderdruk, net soos met Trump se sienings die geval is onder regses hier in Suid-Afrika en in Europa.

Trump se invloed sal egter nooit so groot wees soos Khomeini of Khamenei s’n nie.

Muhsin Hendricks het teen sulke ekstremisme uitgepraat. Hy het verklaar dat Allah se liefde groot genoeg is vir almal, ook vir gay Moslems. Daarvoor is hy vermoor.

Khamenei was ook een van die mees gehate figure in die wêreld, selfs in die Moslem-wêreld. Hy is egter nie gehaat omdat hy ’n Moslem was nie, hy is gehaat omdat hy die Islam gebruik het om mense se regte weg te neem.

Donald Trump het nie opdrag gegee om Khamenei te bombardeer ter wille van Moslems nie. Trump gee nie ’n snars om vir Moslems nie, vra gerus die inwoners van Gaza.

Waarom sou Trump dan vegvliegtuie toelaat om ’n soewereine land aan te val? Dis maklik. Trump is besig om in die VSA te doen wat Khamenei gedoen het in Iran. Stukkie vir stukkie neem Trump die regte van mense in die VSA weg.

Aanvalle op Iran lei mense se aandag af van Trump se vergrype in die VSA.

Net die ander dag het Hermione le Roux berig oor die brutaliteit teen trans mense in die VSA. Ons almal weet ook wat ICE doen teen enige een wat nie aanpas en inpas by hulle idees nie. Soos Trump vurige ondersteuners in Suid-Afrika het, is daar ook mense wat Ali Khamenei se sienings van die Islam na Suid-Afrika wou bring.

En nou terug na Haram

Op dié punt wil ek noem: Ek gaan nie die einde van Haram weggee nie, maar as jy verder lees, sal jy die einde kan raai. Stop dus eers as jy die boek ten volle wil ervaar.

Aangesien ek in ’n Moslem-gemeenskap gewoon het, weet ek dat daar gay mans is wat met vroue getroud is. En ek weet van mans en vroue wat bitter ongelukkig is, en seksueel gefrustreerd, danksy hierdie praktyk. In my kortverhaalbundel Byna liefde het ek onder andere hieroor geskryf.

Daar is ook talle gay mans en lesbiese vroue wat Christelik grootgeword het en daarom hulself eens in ’n heteroseksuele huwelik bevind het, of steeds bevind.

Volgens die NG Kerk se “mullahs” sal God se liefde genoeg wees om gay mense in ’n heteroseksuele huwelik te laat floreer. Die NG Kerk se skrifgeleerdes beweer ook dat God sonder twyfel lief is vir gays, maar o hel, hulle moet asseblief tog net nie seks hê met iemand van hul eie geslag nie.

Dit wat ek hier oor die NG Kerk se heiliges sê, kan ongelukkig ook oor talle mullahs in die Islam gesê word. Dit is waarteen Haram protes aanteken. Allah se liefde is bo verdenking, maar die eise wat gestel word deur ménse aan gays, is onmenslik. Lees Haram as jy my nie glo nie.

Haram is ’n protesroman soos min

Daar is al heelwat geskryf oor gay tieners in Suid-Afrika. Louis Pretorius se baie knap roman ’n Jaar in my lewe is een daarvan. Dit ondersoek gay tieners binne die Christelike opset. Die haat en nyd van Christene kom ter sprake, maar ook die liefde van ander, selfs dominees, wat God se liefde predik, nie haat en teksversies nie.

All the saints deur Wesley Roodt is nog ’n onlangse roman wat die enorme uitdagings van ’n gay seun in ’n oorwegend Christelike skool baie goed uitbeeld.

Haram trap in hierdie voetspore. Uiteindelik moet die jong man in die verhaal egter alles verloën wat hy begeer, net om weer omarm te word deur die liefdevolle arms van die Islam in die gemeenskap waarin hy grootgeword het.

Waarom?

Talle mense is geskok deur die einde.

Kom ons wees eerlik. Zubayr Charles sê met hierdie roman se einde dat daar geen manier is vir ’n jong, gay seun om homself te wees en steeds in ’n gemeenskap van gelowiges omarm te wees nie.

Ja, daar is gay gelowiges in die Islam. Talle van hulle. Maar Muhsin Hendricks wat openlik homself was, wat openlik sy moskee oopgestel het vir gay Moslems, is vermoor.

Charles se einde mag vir kritiese lesers klink na ’n kapitulasie, maar dit is alles behalwe dit. Dit toon die walglike werklikheid waarmee gay mense moet saamleef as hulle steeds volgens die streng, ortodokse sienings van die heiliges wil funksioneer.

Daar is talle sulke mense.

Op bladsy 266 sê Charles, as skrywer, nie deur sy karakter nie: “I want readers to understand the struggles of these men.”

So, vir wie is hierdie boek geskryf?

As jy dink hierdie boek is slegs vir gays, dink weer.

As jy dink hierdie boek is slegs vir Moslems, dink nog ’n keer.

Ek wil afsluit met ’n interteks, ’n skakel na “First they came, die baie bekende Engelse vertaling van ’n gedig deur pastoor Martin Niemöller.

Niemöller was ’n Christen en selfs ’n ondersteuner van die Nazi’s. Toe hy egter begin preek teen die Nazi’s se vergrype in die kerk, is hy in hegtenis geneem.

Die vertaalde gedig eindig met:

And I did not speak out
Because I was not a Jew
Then they came for me
And there was no one left
To speak out for me.

Hier is my moderne weergawe van Niemöller se gedig na aanleiding van Zubayr Charles se Haram.

Eers het hulle gesê dis verkeerd om gay te wees
Ek het nie omgegee nie, ek is heteroseksueel

Toe het hulle Muhsin Hendricks vermoor
Ek het nie omgegee nie, ek is nòg gay nòg Moslem.

Toe Israel Gaza nog ’n keer bombardeer,
het ek varktjops gebraai.

Toe het hulle gesê dis verkeerd om trans te wees
ek het nie omgegee nie, ek is cis

Toe Trump sy ICE-bende loslaat in die VSA,
het ek ’n boek oor menseregte gekoop.

Toe hulle gesê het dis oukei as gay mans met vroue trou,
het ek my vrou se boud geknyp.

Toe Trump se bomwerpers Ali Khamenei vermoor,
het ek wyn gedrink.

Toe Zubayr Charles ... Wag, wag ... Help!
Iemand breek my deur af!

Lees asseblief Haram. Ook die bitter, bitter einde. Dink dan weer aan Zubayr Charles se woorde: “I want readers to understand the struggles of these men.”

Lees en kyk ook:

Haram

Haram deur Zubayr Charles: ’n resensie

Jeugroman of historiese roman? ’n Lesersindruk van Louis Pretorius se ’n Jaar in my lewe

All the saints deur Wesley Roodt: ’n lesersindruk

  • 5

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Dankie vir 'n uitstekende resensie/artikel. Ek het gay mense geken wat selfmoord gepleeg het weens die verwerping en liefdelose, haatdraende veroordeling wat hulle van die kerk beleef het. Ek het GEEN tyd vir enige kerk nie.

  • Dankie Izak. Dis méér as 'n resensie. Dis 'n statement. 'n Plek. Ek sit sáám met jou en luister na die gekap op die deur. Én, ons is nie alleen nie. Daar's baie meer in die kamer wat mekaar vashou. Dankie! Shalom!

  • Soveel mistastings, wanopvattings en woke sienings in hierdie meningstuk dat dit ure sal neem om die skrywer op die regte pad te probeer kry. Dus, maar net: sterkte, Izak. Jy is 'n ideale lolliepop vir die woke, liberale spookasemgemeenskap.

  • Annatjie Scheepers

    Dis 'n moeilike onderwerp. God het man en vrou gemaak. Die vrou as maat vir die man en ook natuurlik vir voortplanting.
    Die liefde tussen twee mans of twee vroue het dus net een doel en ek kan nie daarmee saamstem nie.
    Die Bybel praat van "mans wat met mans skandelikhede bedryf".
    Ek wonder ook wat die doring in Paulus se vlees was. Wat ookal, hy het daarteen geveg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top