
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: All the saints
Skrywer: Wesley Roodt
Uitgewer: Jacana
ISBN: 9781431436347
All the saints is ’n baie snaakse boek wat jou heerlik laat lag. Wees egter gewaarsku: Dit sal ook rowe oopkrap op plekke waar jy as ’n leser al vergeet het dat daar in die eerste plek ’n rou plek was.
Skole as negatiewe ruimtes
Skole in Suid-Afrika is nie noodwendig positiewe ruimtes nie. Theo Kemp se debuut, Skool, het dit mooi uitgebeeld.
Die Spud-reeks het met enorme hope humor gekyk na seunskole, maar nog eens was daar ’n donkerte aan die ervarings wat nie weggevee kan word nie.
Die ware Wilbur Smith was ’n skolier by dieselfde skool as die fiktiewe Spud. Smith het ruiterlik erken dat hy daardie jare gehaat het. Lees gerus ook Anthony Akerman se Lucky bastard. Akerman en Smith was in dieselfde skool. Akerman het sy skooljare daar gehaat.
Tog, voor ons té swartgallig word, moet ons noem dat Business Tech onlangs aangekondig het: “Michaelhouse has been named one of the best schools in the world.”
Wilbur Smith was daar; Anthony Akerman was daar. Die fiktiewe Spud se skool is sonder twyfel op Michaelhouse gebaseer.
En om eerlik te wees: Ek was ’n week lank daar as uitruilstudent. Vir my was Michaelhouse ’n wonderlike ervaring. Ek was in ’n stugge Afrikaanse skool waar rugby die hoofgod was. Naas mý skool, was Michaelhouse nie so erg nie.
Dus?
Dit hang af wie jy is in daardie omgewing.
All the saints beskryf dit baie mooi.
All the saints se Isaac Kingston
Isaac, of dan Izzy soos hy bekendstaan, is die hoofkarakter in All the saints. Hy wil baie graag eendag ’n prefek word daar in die seunskool wat sy ouers vir hom gekies het.
Die probleem is: Izzy is kunstig en hy is geensins sportief nie. In sy skool is rugby ook die hoofgod, net soos dit was in die skool waar ek 40 jaar gelede was. Izzy is in ’n seunskool in die Baai. Ek was in ’n gemengde skool in Pietermaritzburg. Hoofgod Rugby is orals eenders.
Wat doen ’n sagte, kunssinnige seun in ’n rugbyskool? Hy kry swaar.
Izzy is boonop gay, maar hy durf dit vir niemand vertel nie.
’n Interessante narratiewe tegniek
Ons ontmoet vir Izzy na hy reeds die skool verlaat het en ingeskryf het vir ’n kursus by ’n filmskool. Wanneer die studente dan die opdrag kry om hul eie storie op kamera te vertel, trek Izzy weg en hy hou gewoon nie op nie.
Daar is ook gesprekke tussen Izzy en die persoon wat hom afneem.
Op papier werk dit, want die ek-verteller is bewustelik besig om oor homself te praat. Dis dus ’n metateks, maar nie op ’n manier wat staat maak op literêre foefies nie. Hier is gewoon ’n verteller wat bewustelik en doelbewus sy verhaal vertel en dan kommentaar lewer op die verhaal wat hy vertel.
Fiksie, maar gebaseer op ware gebeure
Izzy se storie is fiksie en die skool waaroor hy vertel is ook fiksioneel. En tog ... Enige leser wat die Baai ken, sal weet dat hierdie fiktiewe skool sonder twyfel gebaseer is op Grey High School, waar Siya Kolisi ook was.
Wesley Roodt, die skrywer, het by die bekendstelling van die boek genoem dat hy sekere insidente nie bloot opgemaak het nie, maar wel aangepas het.
Daar is een vreeslike snaakse insident waar ’n “secret sauce” ter sprake kom. Lees gerus self. Dis flippen snaaks. Van belang is dat die personeel by Grey tot vandag toe nog mayonnaise beskryf as ’n “secret sauce”.
Jip. Daar het jy dit.
Diegene wat Roodt goed ken, sou dus van die karakters in die boek kon herken. Dis egter nie die punt nie. Hulle name en karakters is verander en hul stories is gefiksionaliseer. Ek was nie in Grey nie en het Roodt nog net by sy bekendstellings ontmoet, so ek het geen insae in die ware karakters nie. Dis nie nodig nie. Ek het die boek juis as fiksie geniet.
Izzy se skool is nie Grey nie.
Tog kan die vrae weer gevra word:
- Hoekom staan Grey in Port Elizabeth bekend as een van die land se topskole? Want dit is.
- Was Wesley Roodt egter gelukkig daar? Nee. Glad nie.
- Was Izzy gelukkig in sy fiktiewe skool? Ook nie.
Wesley was, soos Izzy, ’n sensitiewe seun wat nie in rugby belanggestel het nie.
Ons moet praat oor dié goed
Izzy is gay, en dis deels hoekom hy swaarkry. Maar daar is talle heteroseksuele seuns, en meisies, wat eweneens bitter swaarkry, of gekry het, as hulle nie sportsterre is in rugbymal-skole nie.
In my skool was die netbalspanne uitstekend. Hulle het nie getel nie.
Daarom, juis, beveel ek die roman aan.
Boeke soos hierdie een is belangrik. Izzy se storie is belangrik.
Daar is baie Izzy-karakters in ons skole. Nou nog. Hulle het ons hulp nodig.
Wesley Roodt het gekies om ’n fiktiewe karakter te skep wat uitpraat. Ek salueer Izzy dus as ’n fluitjieblaser!
Nie swaarmoedig nie
Ek wil afsluit deur te beklemtoon dat All the saints baie donker temas aanroer, maar nie verval in swaarmoedigheid nie.
Die boek is ligter as byvoorbeeld Louis Pretorius se baie goeie roman ’n Jaar in my lewe, maar dit belig die probleme in ons skoolstelsel baie deeglik.
All the saints is ook nie soos Spud nie.
Izzy is ’n unieke karakter. All the saints is ’n unieke boek.
Die einde bring enorme hoop.
Die Pulitzer-pryswenner, Viet Thanh Nguyen, ’n toenmalige vlugteling, sê in sy bundel To save and to destroy; writing as an other dat ’n oordrewe fokus op slagofferskap ewe problematies is as die ontkenning van ’n probleem. Izzy besef by geleentheid dat hy wel agentskap het. Izzy ontken nie die probleme in sy elite skool nie. Izzy kies egter teen die einde van die boek om nie meer bloot ’n passiewe slagoffer van die stelsel te wees nie.
Ek sê weer: Daar is baie hoop aan die einde van hierdie belangrike roman. Dis hoekom hierdie boek in elke skool se biblioteek tuishoort. Izzy mag uniek wees, maar sy storie gaan vir duisende jongmense baie bekend klink.
Ek weet Grey se biblioteek het reeds All the saints aangeskaf.
Doen dieselfde!
Lees ook:
Jeugroman of historiese roman? ’n Lesersindruk van Louis Pretorius se ’n Jaar in my lewe


